
Sedert 1950 ken die Duitse Boekhandel, ’n organisasie wat uitgewers en boekwinkels verteenwoordig, jaarliks die Duitse Vredesprys toe aan ’n skrywer of verdienstelike persoon wat internasionale verhoudinge, vrede en menslikheid bevorder. Die gesogte prys is vergelykbaar in aansien met die Pulitzer-prys in Amerika.
Die oorhandiging van die prys val gewoonlik saam met die jaarlikse Frankfurtse boekefees in die herfs. Die pryswenner, wat gewoonlik in die lente reeds aangekondig word, lewer dan ’n rede in die beroemde Pauluskerk, waar die eerste demokratiese onderhandelinge van die Nasionale Raad in 1848 plaasgevind het. Dit is ’n imposante geleentheid en ’n kulturele hoogtepunt wat deur die groot TV-kanale gebeeldsend word.
Beroemde persone wat die prys tevore gekry het, is onder andere Albert Schweizer, Hermann Hesse, Karl Jaspers, Ernst Bloch, Susan Sontag, Václav Havel, Jürgen Habermas, Martin Walser en Orhan Pamuk. Dit maak duidelik hoe uitgelese die wenners van die prys is.
Vanjaar is die prys aan Navid Karmani, die skrywer en oriëntalis, verleen vir die brûe wat hy tussen die Westerse wêreld en die Midde-Ooste en Islam bou. Sy ouers het as vlugteling uit Iran (destyds Persië) Duitsland toe gekom. Hy is in 1967 in Siegen gebore en het reeds op die ouderdom van 15 vir ’n plaaslike koerant sy eerste artikels begin skryf. Na skool het hy filosofie, drama en oriëntalisme studeer in Keulen, Kaïro en Bonn. Sy doktorale tesis is in Engels vertaal en het onder die titel God Is Beautiful: The Aesthetic Experience of the Quran verskyn. Van 1996 tot 2000 het talle bydraes van hom in die kultuurbylaag van die Frankfurter Allgemeine Zeitung verskyn.
Die volgende huldiging deur Hubert Spiegel van sy werk waarvoor hy met die Vredesprys vereer word, het in die Frankfurter Allgemeine Sonntagszeitung van 15 Junie 2015 verskyn:
Europa se bloederige heining
Mens kan nie die werk van Navid Kermani in een sin opsom nie. Indien mens kon, sou daardie sinnetjie iets in dié rigting wees: “Gelowe het hulle eie estetika.”
Die persoon aan wie die Vredesprys van 2015 toegeken is, is ’n denker en skrywer, ’n estetikus en filosoof, ’n woordsmid en digter. Navid Kermani is egter ook ’n empirikus, ’n joernalis en reisende – iemand wat dinge self moet sien, gesprekke met mense moet voer en daarvoor vat hy die langpad. Sy jongste boek, Schöner neuer Orient (Pragtige nuwe Oriënt) (2003), dra die ondertitel “Berigte van stede en oorloë” en gaan oor Egipte, Iran, Pakistan, Tadjikistan, Indonesië, Israel en Palestina.
Twee jare tevore het hy in “Iran: die revolusie van kinders” ’n reis na Offenbach beskrywe. Hoekom juis Offenbach? Die Irannese kunstenaar Parastou Foruhar, wie se ouers op 22 November 1998 deur die geheime diens in Teheran vermoor is, bly daar. Kermani het haar gevra om die moordnag in besonderhede vir hom te skilder, ook waar haar ouers met messe gesteek is en hoeveel keer. Hy wou elke besonderheid weet en het verder uitgevra, en na die tyd vertel hoe hy hom geskaam het oor sy uitvraery.
Dis gebore uit ’n behoefte om feite aan die lig te bring sonder om empatie met die verteller op te offer – en dis wat Kermani se boeke kenmerk: ’n dors na kennis en empatie. Die skaamte wat hy as uitvraer ondervind, is toe te skryf aan die feit dat hy in die menswees van ander indring, in hulle pyn en leed, en sy eie menslikheid nie daardeur oorboord kan gooi nie. Die dogter van die vermoordes antwoord omdat sy wil hê dat die wêreld van die lot van haar ouers moet ervaar, dit wat die Irannese staat haar ouers aangedoen het.
Waarom wil Kermani sulke bloederige besonderhede weet? Om dieselfde rede as wat hy in die herfs van 2005 die Spaanse enklawe van Ceuta aan die kus van Noord-Afrika besoek het in die nag toe honderde vlugtelinge wat na Europa toe wou kom, besluit het om die doringdraadheinings storm te loop. Die meeste het nie deurgekom nie, ’n paar wel, en sommige het hulle lewens in die doringdraad verloor. Toe Kermani daar by die heining staan en die bloed van mense sien, het iets met hom gebeur wat alle ander berigte oor vlugtelingkatastrofes sedertdien in die skadu stel – of dit nou 200, 400 of 600 is. Dis net getalle en ons sien nie die gesigte van die vlugtelinge nie en ken nie hulle name nie. Daarom vergeet ons hierdie getalle weer so vinnig. Die bloed aan die doringdraadheining, aan die grense van Europa, is nie so maklik om te vergeet nie.
Empatie, menslikheid, solidariteit, moraal en verantwoordelikheid: dis vir Kermani begrippe wat lewend is en wat met ’n eiesoortige sin-likheid deurdrenk is. Kermani se fynsinnige waarneming van die onderskeide en ambivalenthede, wat mens moet kan benoem om dit uit te hou, spruit uit sy konkrete ervaringe. Ook die politiek is vir hom ’n sinestesie. Dis moontlik dat hierdie beskouing sy oorsprong het in Kermani se studie van Islam en oriëntalistiek, waarmee hy baie aansien verwerf het. Intussen het hy goed twee dosyn boeke en talle publikasies daaroor die lig laat sien. Sy aanslag is dikwels vars en buitengewoon.
Sy eerste roman, Das Buch der von Neil Young Getöteten (Die boek oor dié wat deur Neil Young gedood is) (2002), speel met ’n mistiese resepsie uit die Koran wat Kermani in sy boek Gott ist schön (God is mooi) (1999) beskryf het: diegene wat deur die Koran “gedood word”, is mense wat by die aanhoor van ’n Koranvers nie bekeer word of huil nie, nie in vervoering raak en skree nie, maar eenvoudig doodgaan. As opskrif vir die hoofstuk kies Kermani ’n sinnetjie uit Dostojewski se Idioot: “Die wêreld word deur skoonheid gered.” Hy volg ’n soortgelyke aanslag in sy jongste roman, Große Liebe (Die groot liefde), wat die verliefdheid van ’n 15-jarige in die era van die protesbewegings vir vrede in die 1980’s in Duitsland verweef met die liefdeslirieke van ’n Persiese mistikus uit die 12de eeu.
Dostojewski, Neil Young en die Koran, die mistici en vredesoptogte in die Hofgarten van Bonn, die Irak-oorloë of die debat oor die besnydingsverbod, Afghanistan, Iran en IS – Navid
Kermani het sy eie styl gevind om tussen die kulture te wandel en tussen hulle te bemiddel.
Vir sy werk is hy reeds met die Breitbach-prys vereer en verlede jaar het die parlement hom uitgenooi om vir die afgevaardigdes ’n feesrede te hou ter viering van die 65ste herdenking van die Grondwet van 1949 se bestaan. Hy het met ’n verrassende stelling begin: Indien menswaardigheid onaantasbaar sou wees, soos die Grondwet dit formuleer, dan hoef die staat homself nie te verplig om dit te beskerm nie. Die Grondwet, aldus Kermani, begin dus met ’n poëtiese element, die paradoks.
Kermani is in 1967 in Siegen gebore as seun van Irannese vlugtelinge en het sowel Duitse as Irannese burgerskap. In teenstelling met Svetlana Alexijewitch en Liao Yiwu, aan wie die Vredesprys meer onlangs toegeken is, word Kermani se lewe nie deur die staat waarin hy lewe, bedreig nie. Maar hy weet en sê dat hierdie staat bedreig is as die mense wat daarin lewe, hulle nie tot hierdie staat – ten spyte van kritiek – beken en die vryheid wat gewaarborg word, na waarde skat nie. Toe die Islam-kenner Annemarie Schimmel 20 jaar gelede met die Vredesprys vereer is ten spyte van heftige kontroverse daaroor voor die toekenning, het sy in haar rede vir Friedrich Rückerts aangehaal, wat gesê het dat poësie “die moedertaal van die mensheid” is. Wêreldklas poësie was vir Rückert wêreldklas versoening.
Die sitaat van Kermani oor die estetiek van gelowe verwys nie uitdruklik na versoening nie, maar hy gaan uit van die verwagting, naamlik die insig dat gelowe hulle aanhangers nie soseer deur argumente oortuig nie, maar mense met die uitstraling van die poësie in die geskrifte, die klank daarvan, en met die rituele, die kleur en reuk van godshuise aan ’n geloof bind. Hierdie skrywer-filosoof wys ons wat ’n kritiese intellektueel vandag moet kan doen en kan bewerk.

