LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
______________________________________
Jan Braai
Jan Scannell – beter bekend as Jan Braai – se groot passie is vleis en vleisbraai. Jan het Nasionale Braaidag eiehandig ’n jaarlikse kuieren kosfees gemaak deur Erfenisdag nieamptelik te herdoop tot Braaidag. Die een aktiwiteit wat alle SuidAfrikaners saambind is immers om kos oor oop vure te kook.
______________________________________
Opsomming
'n Versameling van Jan se beste vegetariese resepte en nog baie nuwe kinkels, alles op die vuur. As jy iets soek vir vleislose Maandag, jou nuwe vegetariese skoondogter moet onthaal, of die kleinkinders moet kosgee is daar geen rede waarom jy nie kan braai nie. Met Jan se liplekker braaibroodtjies, potjies, kerrie, brode, burgers tot poedings sal selfs die vleiseters terugkom vir nog 'n skeppie!
______________________________________
Uittreksel
Gekaramelliseerde nektariens met pikante jogurt
Die naam sê alles. Onthou, die regstreekse hitte van die kole laat die suiker in die vrugte karamelliseer, wat dit selfs soeter maak. Geniet!
Wat jy nodig het
(vir 4 mense)
6 nektariens
2 sopies bruinsuiker
Vir die pikante jogurt:
1 koppie dubbelroom-jogurt
½ teelepel fyn kaneel
3 kardemompeule
LAAT WAAI!
- Fyn kaneel is maklik – koop dit net.
- Met die kardemom maak jy só. Breek die peule oop en gebruik ’n stamper en vysel om die saad tot ’n fyn poeier te maal. As jy nie ’n stamper en vysel het nie, sit net die saad op ’n snyplank en rol met ’n wynbottel daaroor terwyl jy liggies daarop druk tot hulle fyn is.
- Meng die speserye met die jogurt.
- Skil die nektariens, sny in die helfte en haal die pitte uit.
- Braai die nektariens op ’n rooster oor die kole tot bruin en haal van die vuur af.
- Strooi suiker oor en sit weer oor die kole. Hou aan braai en draai elke nektarien om sodat albei sy kante kans kry om kole toe te kyk, totdat die suiker smelt en begin borrel.
- Bedien die gebraaide nektariens met pikante jogurt.
EN …
Jy kan ook perskes gebruik vir die resep, watter een ookal in seisoen is.




