Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die vertes in deur Zirk van den Berg

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Zirk van den Berg

Zirk van den Berg is in Namibië gebore, het grootgeword in Suid-Afrika, en woon deesdae in Nieu-Seeland. Hy debuteer met ’n kortverhaalbundel, Ekstra dun vir meer gevoel, en daarna verskyn ’n roman, Wydsbeen. Nobody Dies is sy eerse Engelse roman, vertaal as ’n Ander mens. Halfpad een ding en Half of One Thing verskyn saam in 2014. ’n Ander mens word dan ook in Desember 2018 as film uitgereik.


Opsomming

Die vertes in
Zirk van den Berg
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708824

Duits Suidwes-Afrika, 1905. ‘n Tyd van oorlog en beroering.

Die tengerige Siegfried Bock kom as soldaat na die protektoraat om sy staal te wys. Maar hy word gou ontnugter toe hy vergrype aanskou wat hy nie kan vergeet nie. Lisbeth Löwenstein is hier om met ’n man te trou wat sy skaars onthou, ’n setlaar wat vir haar armlastige ouers geld gestuur het om haar tot vrou te neem. Mordegai Guruseb ontsnap uit ’n konsentrasiekamp waar gevangenes van ontbering omkom. Maar kort voor lank word sy vryheid weer bedreig. En dan is daar die mislukte dokter Albert Pitzer wat homself ’n wetenskaplike ag en hoop om data te versamel wat sy teorieë staaf. Alvaus Luipert, ’n plaaslike skoolmeester, duld egter nie sy arrogante aannames en vernederende metodes nie.

In die uitgestrekte, majestueuse landskap van Duits Suidwes-Afrika word dié vyf mense se lot vervleg en elkeen se menslikheid word tot die uiterste beproef.


Uittreksel

Siegfried skuif die kleiner kiste onder sy bank in, langs sy rugsak. Hulle klink hol, maar is verbasend swaar.

Toe die man met die Homburg-hoed uiteindelik oorkant Siegfried plaasneem, mompel hy dat hy nie hierdie kolonialers verder sal vertrou as wat hy hulle kan gooi nie. Hy lyk nie na die soort man wat enigiemand kan rondgooi nie. Hy is groot maar lomp, en lyk na die akademiese tipe, omtrent veertig jaar oud. Hy herinner Siegfried aan die vriende wat by sy pa kom kuier het, geleerde mense. Na maande tussen soldate is hy lus vir ’n ander soort gesprek. “Is dit u eerste keer in Suidwes?”

Die man het reeds ’n boek oop op sy skoot, sy vingers streel oor die blykbaar blanko blaaie. Wie lees nou ’n leë boek? Dan sien Siegfried dat die blaaie vol is van potloodskrif, waarvan die meeste tot byna niks vervaag het.

“Ja, en hopelik die laaste.” Die man maak die boek toe, maar hou die plek met sy vinger. Dan verwissel hy van hande, sodat hy sy gunstelingvinger kan rondswaai. “Hierdie dorp,” sê hy, en wys vaagweg deur die venster, “is ’n Petri-bakkie.”

Siegfried wonder of hy reg gehoor het.

Die man moet sy weifeling verkeerd interpreteer, want hy verduidelik: “ ’n Petri-bakkie, ’n vlak glashouer wat wetenskaplikes gebruik om byvoorbeeld bakterieë te kweek. Hierdie dorp is só. ’n Hawe, hotel, bank, dokter, kerk, skool –”

“Moenie die stasie vergeet nie.”

“Ja. Alles wat jy nodig het om kultuur te laat groei ... maar geen kultuur nie.”

’n Portier verskyn weer by die deur met ’n breë glimlag en ’n klein houtkrat. Hy sit die krat neer om as trap te dien, en hou sy hand uit vir die jong wit vrou agter hom.

Sy lyk ietwat verleë, maar gebruik in elk geval die trappie. “A, herr doktor Pitzer! Kan ek hier kom sit?”

Hy was dus reg, dit is inderdaad ’n geleerde man, besef Siegfried met ’n mate van genoegdoening.

“Fraulein Löwenstein!” Doktor Pitzer forseer ’n glimlaggie en skuif op om vir die meisie plek te maak.

Sy glimlag vlugtig in Siegfried se rigting en neem haar plek in langs die man, wat sy knypbrilletjie begin poleer – om jou beter te kan sien, my kind. Die vrou neem die inisiatief en hulle twee ruil strammerig gemeenplase uit, oor die weer en reisplanne en wat hulle in die onmiddellike toekoms te wagte kan wees.

Met haar aandag elders, vat Siegfried sy kans om die vrou te bekyk. Sy het ’n treffende gesig, aan die skraal kant. Haar oë is helder, grys, en dik swart hare wys onder haar hoed. Die portier gee vir haar ’n klein handkoffer wat sy onder die sitbank inskuif, agter haar voete. Sy stof haar baadjielapelle af – grys met ’n pers skynsel – trek haar romp reg en sit met haar hande op haar skoot gevou, en kry dit reg om verbouereerd te lyk sonder om ’n spier te verroer.

Siegfried het daardie uitdrukking al vantevore gesien, eenkeer op die skip toe hy ’n deur vir haar oopgehou het. Dit was toe dat hy besef het sy is van die werkersklas, en ongewoond aan hoflike behandeling. Met ’n van soos Löwenstein kan sy dalk Joods wees. Sy kom uit die ooste van die ryk, Silesië of daar rond, raai Siegfried, en is waarskynlik hier om ’n prostituut te word. Hy sal wed dat daardie uitrusting die beste is wat sy nog ooit gedra het. Oor ’n paar maande loop hy haar dalk in Windhoek raak, en sy sal maar te bly wees om hom sy sin te gee vir die prys van ’n maaltyd. Om dit omtrent haar te weet, maak hom ongemaklik, hoewel hy besef dat dit as gevolg van sy eie swakheid is en nie hare nie.

Toe sy medepassasiers uiteindelik na sy kant toe kyk, vra Siegfried: “Is u hier om ons troepe te dokter, of ...”

“Ek is nie daardie soort dokter nie,” sê die welgeklede man, half geïrriteerd. “Ek is ’n wetenskaplike.”

Die spoorwegbeampte van vroeër draf oopmond langs die trein, klap in die verbygaan die deure toe. Mense roep, ’n fluitjie blaas, ’n vlag word geswaai en dan sidder die trein. Sal die twee lokomotiefies hierdie vrag aan die loop kan kry? Siegfried is vir ’n oomblik bekommerd dat sy avontuur gaan ophou nog voordat dit eens begin het. Die trein ruk vorentoe, steek vas, en begin dan weer stadig beweeg.

Hy merk dat doktor Pitzer na sy sakhorlosie gluur. Die trein vertrek byna twintig minute laat.

* * *

Waar hy op die dak lê, kyk Mordegai met toenemende angs hoedat meer en meer van die wêreld sigbaar raak. Hy wil steeds niks sien nie, want hy wil nie gesien word nie. Partykeer knyp hy sy oë toe, in ’n onsinnige poging om ander in die proses te verblind. Hy bid vir ’n god waarin hy nie glo nie: Asseblief, laat ons tog net ry ...

Dan kom daar ’n geroep en ’n beroering onder die soldate. Die trein onder sy maag skud van baie voete se gestamp. Rook blaas uit in die tanende mis en die reuk van brandende steenkool waai oor Mordegai. Die trein ruk. Hy gryp na vashouplek wat dalk nie goed genoeg sal wees as die trein eers ry nie. Nog ’n siddering en dan kom die geluid van staalwiele wat op staalspore rol ... Hulle beweeg.

Hy hou sy kop omlaag totdat hulle uit die dorp is. Hy is verlig om van die konsentrasiekamp af weg te kom, maar is bekommerd oor sy onmiddellike oorlewing. Hy kan enige oomblik van die dak af foeter. Hulle ry nie vinnig nie, omtrent soos ’n perd op galop, raai hy, maar dis ’n hele ent grond toe en die wêreld hier rond is van die klippe besaai. In elk geval, selfs al sou hy die val oorleef, is daar omtrent honderd gewapende Duitse soldate op die trein wat hom maar te graag sal wil skiet. Sy plan is om van die trein af te kom as hulle eers in die berge is. Om dit ongesiens te doen, sal moeilik wees. As hy dit regkry, sal hy kan wegkruip en iewers water kry. Hy het net ’n paar dae se loop verder suid grootgeword. Dis nie ’n slegte plek nie, as jy weet hoe om in die veld te oorleef.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top