Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

  • 2

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Armand Aucamp

Armand Aucamp is ’n A-lys-celeb in Suid-Afrika. Hy het die hoofrol in die fliek Ballade vir ’n enkeling en in die supergewilde reeks Die Boekklub vertolk. Meer onlangs was hy te sien in Stroomop. Hy is ook die seremoniemeester by die Afrikaans is Groot-konserte en is binnekort te sien in verskeie Afrikaanse flieks en TV-reekse. Armand het ook ’n enorme teenwoordigheid op die sosiale media en het tienduisende volgelinge.

Saam met Du Toitskloof Wyne gaan hy oor die volgende paar maande gereeld kaal kook – hou dus die pers dop vir optredes in jou omgewing.


Opsomming

Armand kook kaal
Armand Aucamp
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799384727

Oor Armand kook kaal skryf niemand anders nie as Tim Noakes. “Sonder twyfel een van die beste laekoolhidraat-kookboeke ter wêreld. Armand verskuif grense!”
Armand is inderdaad deesdae egter ’n ernstige aanhanger van die Noakes se laekoolhidraatleefstyl (LKHV), want ’n model moet dikwels hemp uittrek vir ’n foto. Dan moet jy goed lyk.

Aanvanklik het Armand Aucamp gedink Noakes is gek, maar aangesien hy gesukkel het om gewig te verloor, probeer hy toe hierdie nuwe denkwyse en hy begin kook self gesonde kos. Oor ’n paar jaar het Armand 100 laekoolhidraatresepte, wat banting- of keto-vriendelik is, gekook en neergeskryf.

Stap-vir-stap, en met pragfoto’s daarby, wys Armand jou hoe om smuldisse te skep uit heel, gestroopte bestanddele sonder om die skaal te laat ly.


Uittreksel 

Kos het nog altyd my lewe regeer. Ek was ’n knaagdier wat aanhoudend iets in die kies gehad het. As ek nie elke twee tot drie uur geëet het nie, het ek hangry (hungry and angry) geword en daarom het ek altyd kospakkies met my saamgedra.

My gewig was nog nooit buite beheer nie, maar ek was ook nog nooit werklik trots op hoe ek gelyk het nie. En as akteur verwag almal van jou om ’n six-pack te hê. Ek onthou hoe ek tydens die verfilming van Ballade vir ’n enkeling myself uitgehonger het om seker te maak ek het darem één maagspier vir daardie handdoektoneel!

Vandag, vyf jaar later, kan ek nie glo hoe my lyf, my gesondheid en my kop omgeswaai het nie. Ek is sowat 8 kg ligter, ek het meer spiermassa en minder liggaamsvet. My vel, hare en naels is kerngesond. Ek het nie dieselfde skete en kwale as baie van my vriende wat ook in hul dertigs is nie, ek slaap heerlik, my gesondheid is onverbeterlik en my energievlakke is deur die dak. Dis ál hoe ek hierdie boek kon skryf en al die mal spertye kon haal. Wat is my geheim? Banting en keto. Van eersgenoemde het jy seker al baie gehoor, van laasgenoemde minder. Albei is basies diëte wat min koolhidrate en baie (goeie) vet bevat – vandaar die term laekoolhidraat-hoëvet (LKHV).

Die sogenaamde ketogeniese dieet (of keto) is in ’n neutedop presies soos banting, behalwe dat dit sterk daarop fokus om jou liggaam in ’n staat van ketose te kry. Ketose gebeur wanneer jou selle nie meer op glukose staatmaak vir energie nie, maar eerder op ketone. Ketone is byprodukte wat afgeskei word wanneer jou liggaam vet vir energie afbreek. En hoe kry jy jou lyf sover om dit te doen? Jy eet min koolhidrate en baie (goeie) vet.

As ek maar destyds geweet het dis nie die botter wat ek moes vrees nie, maar die dekselse piesang!

Soos die meeste ander Suid-Afrikaners het ek in 2014 van banting te hore gekom danksy die hele omstredenheid oor professor Tim Noakes se sogenaamde “kosrevolusie”. Ek het dit begin navors en baie gelees daaroor sodat ek Noakes se lawwe argumente kon weerlê.

Die waarheid was: Ek kon nie. Hoe meer ek gelees, ondersoek en geluister het, hoe meer het ek besef hy is dalk net reg. Dit het my só ontstel, want brood, pasta en pizza was my léwe, dêmmit! Maar teen Oktober 2014, ná ’n magdom navorsing en leeswerk, moes ek teësinnig toegee dat Noakes reg was en ek verkeerd.

Ek het my trots gesluk en begin bant. Ek het avo’s begin eet, heel eiers, spekvleis, skaaptjops, dubbeldik-volroomjogurt, gesmelte kaas oor groente. En hoe heerlik was dit nie! Dit het my verstom hoe baie ek vet geniet het! My lewe lank het ek my daarvan weerhou: margarien pleks van botter, hoenderborsies sonder vel, tjoppies sonder vetjies, gestoomde brokkoli sonder kaas. Nou kon ek aan alles smul wat nog altyd verbode was. En die beste van alles was: Ek het gewig afgeskud pleks van aangesit!

Nog ’n aangename verrassing is dat dit glad nie duur is nie. Mense dink dit kos baie om te bant, maar omdat ek nie meer kort-kort honger word en peusel nie, spaar ek geld!
Toe ek anders begin eet het, het ek natuurlik ook anders begin kook. En dit was net so ’n revolusionêre ontdekking! Kos en kosmaak was nog altyd vir my ’n passie en die banting- en keto-bestanddele het ’n nuwe wonderwêreld vir my oopgesluit. Ek het met nuwe, opwindende kombinasies begin eksperimenteer en met die wonderlikste geregte vorendag gekom! Gou het ek besef dis geen straf om te bant of te keto nie. Dis nie sinoniem met onthouding of weerhouding nie. Inteendeel, dis ’n ontploffing van kleur, geur en smaak!

In die vier jaar sedert ek hierdie leefwyse begin volg het, het ek letterlik honderde resepte bymekaar gemaak, aangepas of uitgedink. En nou wil ek my 100 gunstelingresepte deel, sodat almal kan sien hoe heerlik en maklik dit is om te keto of te bant.

Ek hoop dit inspireer jou om ook jou lyf, kop en kombuis om te keer! Dit is vir my ’n eer dat jy hierdie boek hoegenaamd oopgemaak het. Ek hoop dit ontsluit nou vir jou ’n skatkis van gesond leef en lekker eet en dat jy oor ’n paar jaar ook sal terugkyk en dink:

Wow, hoe het ek óóit anders geëet?

Dankie dat jy my vergesel op hierdie “Ballade van ’n keto-ling”!

Armand

Kaas-en-kruie-bekerbaksel

Jy het nodig: Een koffiebeker
Voorbereiding: 2 minute
Bak: 1 minuut

Bestanddele
1 E klappermeel
2 E amandelmeel
1/4 t bakpoeier
varsgemaalde sout en peper
1 eier
1 E room
1 E botter, gesmelt
1/2 fetawiel
1/4 k mozzarella
1 t oreganum

Metode
1 Sif al die droë bestanddele in ’n mengbak en roer met ’n houtlepel.

2 Klits die eier, gesmelte botter en die room in ’n bakkie en voeg by die droë bestanddele. Roer deeglik deur met ’n houtlepel. Voeg laastens die mozzarella en feta by die mengsel en roer.

3 Gooi die mengsel in ’n groot koffiebeker of klein bakkie en sit dit vir 1 minuut op hoog in ’n mikrogolfoond.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top