
Agtergrondprent: https://pixabay.com/photos/nature-sea-waves-ocean-water-aqua-2384/; omslag: https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780798183307
Dryf
Cecilia Steyn
Human & Rousseau
ISBN: 9780798183307
............
In Dryf deur Cecilia Steyn word twee tieners deur geheime gekonfronteer; geheime wat so streng bewaak word dat die gekarring in ’n soeke na die waarheid selfs lewensbedreigend kan wees. Soos die voorplat van die boek beweer, is die keuse daar: swem of sink in die diep waters. Of, soos die titel suggereer, dryf … bly bo en oorleef.
.............
In Dryf deur Cecilia Steyn word twee tieners deur geheime gekonfronteer; geheime wat so streng bewaak word dat die gekarring in ’n soeke na die waarheid selfs lewensbedreigend kan wees. Soos die voorplat van die boek beweer, is die keuse daar: swem of sink in die diep waters. Of, soos die titel suggereer, dryf … bly bo en oorleef.
Caleb wil weet hoekom sy pa, ’n professor in oseanografie, verdwyn het en hoekom daar geen spoor van hom te vinde is nie. Sy ma en oom glo sy pa is dood, maar Caleb weet diep in sy binneste anders. Wat is die rol van sy oom in sy pa se verdwyning? Het sy “adrenalienbelaaide” pa iets ontdek wat hy nie moes nie? Sy pa en sy oom is immers “teenoorgestelde pole. Een wil die aarde bewaar en die ander gee nie om dat hy dit vernietig nie.”
Freya word deur haar twee ma’s gestuur om by ’n tante, Miss Marian, te gaan bly terwyl hulle oorsee is vir ’n laat wittebrood. Freya, eens ’n swemkampioen, kan hulle nie vergesel nie weens chroniese-moegheidsindroom wat haar swak en weerloos laat. Hoekom is daar mense op die dorp Stormwater wat haar onwelkom laat voel? Hoekom het die besope Kaptein vir haar gesê sy is vervloek soos haar pa? Wat presies is die storie agter haar herkoms?
Saam beland die twee tieners op die idilliese klein kusdorp in hul soeke na antwoorde, en hulle bevind hulle midde-in ’n gevaarlike avontuur. Die twee se reis lei egter ook tot selfontdekking en ’n ontluikende eerste liefde. ’n Ekokritiese aanslag maak van Dryf boonop ’n ideale voorbeeld van klimaatfiksie of “cli-fi” vir die jeug.
............
Saam beland die twee tieners op die idilliese klein kusdorp in hul soeke na antwoorde, en hulle bevind hulle midde-in ’n gevaarlike avontuur. Die twee se reis lei egter ook tot selfontdekking en ’n ontluikende eerste liefde. ’n Ekokritiese aanslag maak van Dryf boonop ’n ideale voorbeeld van klimaatfiksie of “cli-fi” vir die jeug.
..............
Caleb en sy vriende staan op die punt om te vertrek op hulle postmatriek-wegbreek. Dit is ’n vakansie waarna Caleb, Mateo en Ebert al lank uitsien, maar na ’n besoek van sy skatryk oom wat besig is “om aansienlike volumes geologiese eksplorasiewerk aan die Wildekus te doen [soos] seismiese opnames, gravitasie-magnetiese eksplorasiewerk”, verander Caleb sy vakansieplanne summier. Nadat sy oom sy pa van diefstal van navorsingsgeld, verskaf deur Orion Energie, beskuldig en Caleb en sy ma ’n dreigement ontvang dat hul lewens in gevaar mag wees, besluit Caleb om sy pa in Stormwater te gaan soek. Sy ma mag nie van sy besluit weet nie, want sy sou hom nooit toelaat nie, maar hy gaan antwoorde soek – kom wat wil.
Met hulle aankoms op die lughawe ontmoet Caleb en Freya reeds toe hy haar red nadat sy voor ’n motor inloop. So kry die leser ook vir die eerste keer met Anathi Xhamela te doene, want dit was haar “ouerige wit Polo met die Dalmatian op die agterbank” wat so amper die ongeluk veroorsaak het. Anathi se pa is Kaptein, Caleb se pa se vriend en vertroueling, en Caleb hoop dié man sal hom in sy soektog kan help.
Op pad deur die dorpie sien Freya vir Iamanga raak; die geheimsinnige vloekvrou met die deurdringende, potblou oë wat “in die see gebore is en in die see sal doodgaan”. Dié rare vrou is een wat met wolke en weerlig speel, omdat sy uit ’n familie van hekse stam. Die mense van die dorp is bang vir haar, vertel Anathi aan Caleb en Freya, want die inwoners glo as hulle haar verjaag, sal sy die dorp in die see laat verdwyn.
’n Verhaal vol avontuur ontvou. Dis ’n spanningsvolle riller gevul met dreigende gevaar en asemrowende oomblikke van veg of vlug. Daar is volronde karakters en elemente van misterie – alles teen die agtergrond van ’n magies mooie, wilde seekus. Ek sou heelparty van die karakters in die verhaal beter wou leer ken. Daar is Miss met die “dowwe oë” en die grys vlegsel oor die skouer in haar wiegende boomhuis. Daar is die liggies aangeklamde, befoeterde Kaptein wat meer weet as wat hy wil voorgee. En dan is daar Iamanga, die vrou met die lang “dreads” waarin daar skulpe en vere pryk, met die kyk wat jou “tot op die been oopkloof”.
Dit is egter nie al nie. Dit is ook ’n meesleurende omgewingsverhaal – een vol mites en legendes en magiese natuurkragte. Die skoonheid van die natuur word beskryf in momente soos: “Toe Freya haar kop draai, sien sy hoe die groot blou water diep asemhaal. In en uit. In en uit. Stadig kom sy regop. Daar’s so baie dolfyne in die branders. Sy het nog nooit so iets gesien nie. Hulle speel en seil deur die water […] Party is laf en spring bo die golwe uit.” Daar is ook “[…] die reënboog van kleure tussen die rotse. Geel, pers, oranje en rooi anemone en seewaaiers wat wieg in die ligte stroom. Krappe, seekatte en sandhaaie skarrel na hulle wegkruipplekke onder die rotse wanneer hy [Caleb] oor hulle swem.”
In Dryf vind jy egter nie net mooi natuurskrywery nie. Onverantwoordelike uitbuiters se binnedringing van die ongerepte natuur aan die Wildekus word voorgestel. Verteenwoordigend van hierdie misbruikers van die natuur is karakters soos Caleb se oom met sy seismiese ontginning van die kusgebied. Hierdie inmeng in die natuur se gang veroorsaak vreemde natuurverskynsels wat potensieel gevaarlik vir mens en dier kan wees. Omgewingsboodskappe wat die teks na lesers kommunikeer is opgesluit in teksgedeeltes soos “[…] so dood soos ’n dodo, soos my pa altyd gesê het. Dan het hy my herinner dis wat gebeur as mens nie na die natuur kyk nie.” Caleb se woorde bied ’n blik op die omvang van omgewingskade wanneer hy verwys na “meteorologiese oorlogvoering”, eksperimente wat “gletsers laat smelt” en “atoombomme [wat] die atmosfeer ingestuur” word. Daar is “dooie water” wat “onderwater tsunamis” tot gevolg kan hê. In Dryf is daar ’n herkenbare gesprekvoering tussen die mens (die skrywer, die leser, die karakters in die verhaal) en die natuur (die natuurlike omgewing ter sprake en wat as verhaalmilieu dien).
.........
Met Dryf vestig Steyn haarself as ’n bedrewe, veelsydige skrywer en verras sy lesers van haar heerlike liefdesverhale met ’n uitdagende en bevredigende speurverhaal.
............
Met Dryf vestig Steyn haarself as ’n bedrewe, veelsydige skrywer en verras sy lesers van haar heerlike liefdesverhale met ’n uitdagende en bevredigende speurverhaal. Dryf is ’n verhaal wat die leser mag bybly en laat nadink oor die vervlegtheid tussen mens en natuur en oor hoe lank dit nog moontlik sal wees om onbevange in die see te kan dryf asof jy “tussen skitterende sterre sweef”. Dit is ’n boek wat oud en jonk ewe moeilik sommer net sal kan neersit.

