
Droomland 2026 (Spoegwolf en Hiram Koopman)
Allée Bleue Wynplaas, Franschhoek – 31 Januarie 2026
“Onder die vlaggies. Onder die bome. Onder die invloed.”
In my geestesoog is ek ’n buite-aardse wese wat pas deur die aarde se atmosfeer breek. My eerste waarneming is dié van warm, flikkerende lig. Daarna kom die klanke. Ritmes wat nie net gehoor word nie, maar gevoel word. Die musiek het ’n magiese aantrekkingskrag. Daar’s ’n gewemel van mense en ek weet onmiddellik: Ek wil daar wees. Ek transendeer van bo die wolke tot in die polsslag van die Wes-Kaapse Wynlande, en só beland ek in Droomland.
Dis hier, tussen die wingerde en die berge, waar ’n fees ontvou wat tegelyk plaaslik en universeel is. Die somerson is geniepsig en glad nie skaam nie. Gesinne sit op komberse met oopgeslaande piekniekmandjies, kinders lag, vriende kuier, wyn vloei vrylik. Oral hoor jy klanke wat roep: Kom luister, kom sing, kom dans saam. Vreemdelinge word vriende en die tyd taan in Droomland.
Droomland Fees is gebore uit ’n eenvoudige maar kragtige idee: om mense toe te laat om te droom en deur musiek bymekaar te bring. Easy Agency, ’n vooraanstaande feesvervaardiger, verstaan dat geleenthede soveel meer is as byeenkomste – dit is ervaringsgeleenthede. In 2022 snoer Spoegwolf kragte saam met Easy Agency om geboorte te skenk aan Droomland Fees – ’n alternatiewe musiekfees wat ruimte skep vir samesyn, verbeelding en ontvlugting.
“Die fees in Pretoria was so ’n groot sukses dat ons dit moes huis toe bring,” vertel Danie opgewonde. En huis toe het dit gekom – na die Boland, waar Afrikaner-gasvryheid en plesier hand aan hand loop. Die samesyn hier is tasbaar: ’n viering van Afrikaner-wees, maar ook van inklusiwiteit; ’n plek waar niemand veroordeel word nie en almal welkom is.
Onder die Afrika-son, met die wynlande as agtergrond, word die wêreld se sorge vir ’n rukkie afgeskud. Musiek neem oor. Dit neem ons na ’n droomwêreld waar ons enigiets kan wees en enigiets kan ervaar.
Die groei van Droomland is ’n storie op sy eie. Die Loftus Park-geleentheid in Pretoria het reeds meer as 10 000 kaartjies verkoop, terwyl die Kaapse fees vanjaar na ’n groter terrein moes skuif om plek te maak vir meer as 2 500 besoekers. Dit is ’n suksesverhaal soos min, en tog bly die ervaring opvallend intiem.

Kruger & Tutu
Die 2026 line-up bevestig hierdie veelstemmigheid: Kruger & Tutu, Van Der Aven, Volk, GString, Jaakie, Droomsindroom, Early B, Fokofpolisiekar, Sossi en Spoegwolf sorg vir ’n oorvloed van klank en ritme. Almal arriveer vir hul gunsteling band, maar smelt uiteindelik saam in een gedeelde ervaring.

Early B
Kruger & Tutu se droom om die fees te open word hier bewaarheid, want dit is Droomland. Early B betree die verhoog met selfvertroue; sy Afrikaanse rap is skerp, ritmies en onmiskenbaar plaaslik. Die skare spring op en af, hande in die lug, lirieke teruggeskree in ’n kollektiewe ritueel.

Droomsindroom
Droomsindroom, ’n alternatiewe pop-duo, verskaf groot vermaak op die verhoog. Met hulle groot treffer “Hey Sonneblom” word die skare saamgesnoer in sang.

Fokofpolisiekar
Dan bars Fokofpolisiekar los. Ongetemde energie. Mikrofone wat deur die lug sweef en weer gevang word, handstande, akrobatiese spronge, sweet en pure adrenalien. Die verhoog word ’n speelgrond en die gehoor ’n medepligtige.

Danie Reënwolf van Spoegwolf
Spoegwolf se optrede is energiek en intens – ’n emosionele storm. Danie Reënwolf verskyn in ’n geskeurde blou T-hemp en transformeer in ’n ander persona, rou en onverskrokke. Wanneer hy oor die versperrings klim en tussen die skare beweeg, gaan dit mal. Dis intiem, dis wild, dis Afrikaans op sy beste!
Wanneer die laaste note wegsterf en die son oor die wingerde sak, bly die gevoel nog lank talm. Droomland Fees is nie bloot iets wat bygewoon word nie; dit is ’n herinnering dat daar steeds plekke is waar mens mag droom, mag glo en net kan wees.
Droomland is kuier saam met lekker mense, sonder pretensie.
- Fotografie: Yolanda Saayman

