Droogte: waar sal ons hulp vandaan kom?

  • 4

“Summertime, and the living is easy.” Of so beweer die liedjieskrywer.

Somer, veral hier kort voor Krismis, is ’n tyd vir braaivleis, bier, waatlemoen en spanspek, dalk ’n lekker slaai. Dis ’n tyd vir sorgvry lewe. Bowenal, dis ’n tyd om met ete en drinke ons geliefdes te bederf.

Elke liewe ding waarmee ons ons borde vul, seekos uitgesluit, word gegroei deur ’n boer wat sy of haar hande stompies werk om ’n oes voort te bring. En dis droog. Stedelinge verstaan dalk nie hoe na aan die aarde, en hoe in voeling met die weer, ’n boer moet wees nie. Maak nie saak of jy met vee boer of vrugte of groente of gewasse nie, jy het reën op sy tyd nodig. Soms kom die reën nie.Dan bly die lug blou. Die aarde bars. Die dam se bodem bak hard.Die leivore is droog. Daar is geen water in die krip nie. Die vee het nie meer voer nie. Die werkers bly by die huis, want daar is niks om te doen nie.Waar jy trap, is daar net stof. 

Tot jy die vee moet skiet, want hulle sterf. Die oeste misluk.Die skure staan leeg. Die reserwefondse, as daar enigiets is, word opgebruik. Die werkers moet gaan. In Habakuk 3 praat die skrywer hiervan: “Selfs al sal die vyeboom nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan. Al het die olyfoes misluk en lewer die landerye niks op nie. Al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg, tog ten spyte van alles, sal ek my verbly in die Here. Ek sal juig oor God wat my verlos.”

’n Mens bid vir daardie tipe geloof,maar die realiteit is, dis skaars. Nie almal het daai tipe ten-spyte-van geloof nie. Nie almal kan staande bly teen die aanslae van die lewe nie.As die boer gelukkig is, kan hy dalk iewers anders werk kry. Baie is nie so gelukkig nie. Baie is nie so aanpasbaar nie. Dis dan wanneer mens begin lees van selfmoorde. Of gesinsmoorde.

En vir die res van die land? Eers styg die kospryse.Alles word duurder. Dan word dit onbekostigbaar. Op ’n dag kom jy in die winkel, en sekere produkte is net nie meer op die rakke nie.

Ons het almal die afgelope tyd geleer om met minder water klaar te kom, om nie so te mors met ons kosbaarste besitting nie. Maar wat as die kos opraak? Wat as die water opdroog?

Ek was ’n paar jaar gelede in Zimbabwe. Winkels se deure is oop, maar mens word begroet deur ry op ry leë rakke. Dis nie dat die kos duur is nie. Daar is eenvoudig niks nie. Predikante en dokters moet in die lande werk, want daar is nie kos nie. En niemand het geld om vir professionele dienste te betaal nie.

Natuurlik was ons in Suid-Afrika al deur droogtes, baiekeer gevolg deur vloedrampe. Ons is daardeur, en ons het oorleef om die verhaal te vertel.

Maar dié droogte is anders. Ons sien konvooie met trokke wat voer aanry vir boere wat die swaarste getref word deur die droogte. Gift of the Givers skenk kiloliters water. Ons plaaslike radiostasie, Radio Disa, het ’n fondsinsamelingspoging gehou en kos, klere en geld ingesamel. Ander instansies het hul eie droogtehulpfondse. Ons sien mense hande bymekaar sit en help waar hulle kan.

Wat ek nog nie gesien het nie, is dat die regering ’n reddingsplan saamstel om boere te help. 

Dis stil soos die graf. Wat het geword van die droogtehulp wat elke ander regering nog aan boere beskikbaar gestel het? Daar is bailouts vir Eskom en SAA en elke ander instansie wat net die land droogbloei met geen omkeer of einde in sig nie. Maar boere? Nee wat.

Waar dink hulle het Bosasa se pakke hoender en vleis vandaan gekom? Dis Suid-Afrikaanse boere wat dit geproduseer het.

Wat is die rede hoekom die regering hande gevou sit? Goed, kom ons wees redelik. Dalk besef hulle nie daar is ’n krisis aan die ontwikkel nie. Dalk fokus hulle nou eers daarop om die steenkool droog te kry voordat hulle kan werk aan voedselproduksie.

Dalk is daar tydelike kontantvloei-probleme. After all, daar is baie monde aan die trog en die spaarvarkie is redelik leeg.

Is dit sinies om te dink dat dit dalk as ’n maklike uitweg gesien word om landhervorming te laat geskied? As die huidige boere almal bankrot is, kan die plase mos maklik van hande verwissel. Maar dit sou tog cutting your nose to spite your face wees, of hoe? En Cyril sal dit nie doen nie?

Cyril, hy van Ramaphoria, van Thuma mina-faam. Hoekom stuur hy niemand om die boere te help nie?

Die redes maak nie regtig saak nie. ’n Mens kan spekuleer, maar dit help nie die boere nie. Dit help nie ons land nie. Wat nou nodig is, meer as ooit tevore, is dat mense moet saamspan en help waar hulle kan. Vind ’n organisasie wat hulp verleen. Bied vrywillige dienste aan. Skenk geld. Skenk goedere. Ek het.

Doen iets. Dis nie nou die tyd om vinger te wys en in klein rassistiese kampies van ons teenoor hulle te gaan nie. Dis nie nou die tyd om agteroor te sit en selfvoldaan te begin reël vir visas na Nieu-Seeland of Australië nie. Plaas druk op die politici om hul werk te doen. Herinner Ramaphosa aan sy beloftes.  

As ons kies om te bly, bly dan met hart en siel en werk daaraan om ons land beter te maak.

 

  • 4

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Wie het geld om ammunisie te mors op brandsiek skaap of bok? Sny hul sommer keelaf en verkoop die velle.

  • Gefrustreerde Honger Stadsvark

    Uitstekende artikel!

    Mense wat vir die ANC gestem het moet nou die voorbeeld stel en die leiding neem:

    “Plaas druk op die politici [lees ANC] om hul werk te doen. Herinner Ramaphosa aan sy beloftes.”

    ANC-ondersteuners, plaas nou druk op jul verkose politici! “Just do it. Just show us the results”.

  • Gustaf Claassens

    Raak-gevat Bettina. Die regering en sy plunderaars sal eers agterkom hoe ernstig die boere se situasie is wanneer hulle met hul hande vol opgerolde note in Woolworths opdaag net om te vind dat die rakke leeg is. Presies soos in Zimbabwe waarna jy tereg verwys het.

    Afgesien van voedselproduksie is dit die gemoedstoestand van die boer en hul werkers wat mens diep raak en ontstel. Nie net gaan dit oor die boer as boer nie, maar veel meer ook oor die boer as mens. Verslaentheid en 'n gevoel van magteloosheid het deel van hul daaglikse bestaan geword. Self die moed-inpraters se motivering taan. Vir diegene wat vrywillig hulp verleen kan natuurlik nooit genoeg dankie gesê word nie.

    Intussen gaan die lewe aan en hopelik is daar uitkoms. Sterkte en voorspoed aan al die manne en vroue van die Grond en dankie ook aan skrywers (soos Bettina hier) wat die aandag vestig op swaarkry van ons boere.

    Of mens op die heer Ramaphosa kan reken is effens vergesog. As hy wou, kon hy al ingegryp het. Hy het nie!! Wat hy wel gedoen het is om die helfte van sy werkers op sy plaas af te dank kort voor kersdag. Die biljoener President voel dat hierdie werkers hom nou te veel kos......... Dit sê alles van en oor die President.

    HIER IS 'N GEDIGGIE WAAROP EK ONLANGS AFGEKOM HET WAT DALK BESKRYWEND IS VAN DIE HUIDIGE SITUASIE'

    As die suring verlep - C.Louis Leipoldt

    As die suring verlep en die tulp nie meer bloei nie;

    As die somer se groen met die droogte vergrys;

    As die panwater sak dat jy nie meer kan roei nie,

    En die koning-flamink na die noorde verreis;

    As die Piet-my-vrou-stem, wat die bos het laat lewe,

    Verstom in die stilte van najaar se krag,

    En die bergswael se bont vir die laaste maal swewe

    Oor 'n veld wat verstik na die wintervog smag,

    Is dit grondig bewys dat die groen en die geure

    Wat somer gegee het, vir ewig vergaan?

    Dat die kou nie kan skilder met net soveel kleure

    Soos die voorjaar gebruik het oor weiland en laan?

    Daar is sap in die stamme, en krag in die blare,

    Nog diep in die hart van die hout opgevou;

    En nog bloed vir die lewe bewaar in die are

    Van die bol van die blom wat sy lewe behou.

    As die jare verby spoed en die skemering nader,

    Die donkergroen swart van die uiterste nag -

    En die skimme van gister-voor-gister vergader,

    En die misstap van vroeër sy vergelding verwag;

    As die goue skaal breek en die vensters gesluit word,

    En die donker daarbuite tot binne-in dring;

    As die lied wat so lief deur die winde gefluit word

    Geen aalmoes van troos tot die martelaar bring -

    Is dit geldige getuienis dat wat die verlede

    Geskenk het, tot niks in die duister vergaan?

    Of nog verder bewys van kraggewende vrede

    Vir die siel wat sy eie beproewing verstaan?

    Die foute van gister, die duur ondervinding,

    Die namiddag-swakheid - dit tel by die som

    Van lewe wat loop tot sy eind'lik' verslinding

    Aleer hy tot kragtiger lewe ontblom.

  • Droogtes kom voor vandat die aarde bestaan en is 'n onlosmaaklike deel daarvan.
    Ons lees in die Bybel die verhaal van die 7 jare van voorspoed en 7 jare van hongersnood en die voorsorgmaatreêls wat toe getref is.

    In Australia het skaapboere ook deurgeloop onder droogte maar van die boere het
    toe hulle damme begin skrop en die swaar lae modder waarin hul skape vasgeval het as hul kom drink,verwyder tot die kleilaag weer sigbaar was.

    Dit het my laat dink en ek weet nie of dit enigsinds 'n haalbare oplossing is nie.
    Ons weet dat bogrond deur erosie weggevoer word en in ons riviere en damme beland.

    Was daar nie dalk in 'n geleentheid om die bogrond uit ons leë damme te verwyder nie en sodoende die kapasiteit te verhoog nie en die grond wat verwyder is weer aan boere beskikbaar te stel nie.

    Dit sou 'n ideale werskeppingsgeleentheid gewees het,maar as 'n leek op die gebied weet ek nie of dit 'n haalbare opsie is nie.Dalk kan mense met meer kennis
    ons hieroor inlig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top