Drie in ’n ry

  • 0

Foto: Canva.com

“Is daar nog hoop vir my?” (Ps 39:8)

Die eerste was Martin. 
Toe ek daardie Sondagaand nege-uur in die steel van die pypsteelerf oploop na die huis teen die berg, was ek gevul met angstige verwagting. Ek het sopas ’n oproep by my huis gekry dat daar huismoles by die Pieterses was en ek moet kom. Naby die huis was daar polisiekarre en blou ligte. Meer as net huismoles.
By die trappe het ’n konstabel my ingelig: “Die outjie het homself met ’n haelgeweer geblaas. Oom moet nie gaan kyk nie, dis net breins oraloor.” 
Die ouers was in trane, die pa half aggressief. Die hoofpolisieman moes hom aanspreek.
Die ma het vertel dat hulle nog die aand in die kerk was. By die diens het ek bekendgemaak dat tannie Violet van Rensburg die middag oorlede is, twee weke nadat sy miergif gedrink het. Martin was glo erg ontstel daardeur. Twee van sy eie maats het onlangs ook selfdood gepleeg. “Wat help dit tog?” het hy gesê. 
Ek het niks gedoen of gepraat nie. Nog so ’n uur daar gesit. Maar ek het geweet ek sou die begrafnis drie dae later moes hou. “Is daar nog hoop vir my?” was die teks.

Die tweede was Francois. 
Francois en sy gesin het net agter die pastorie gebly, ook op ’n pypsteelerf. 
Hy was eksentriek, vol vreemde idees en baie krities. Hy het nie in die opstanding geglo nie en was hewig gekant teen die regering van die dag. Hy het male sonder tal ná kerk met my kom redeneer oor my preke. 
Hy het as tegnikus by die mediese fakulteit gewerk. 
Op ’n Vrydagoggend so elfuur het my klokkie gelui. Voor die deur was ’n polisieman en die hoof van Francois se departement. Francois het homself so negeuur in sy werk se badkamer geskiet. 
Ek moes die nuus aan sy vrou oordra. Daar loop ek en die departmentshoof en die polisieman in die pypsteel op na die huis. 
Die vrou het die deur oopgemaak en toe sy ons sien het sy sommer flou geword. 
Ek moes hom begrawe en die teks was: “Is daar nog hoop vir my?”

Die derde was Stefan. 
Stefan, sy vrou en twee seuns was die perfekte gesin in die gemeente. Orals aktief, Stefan, ’n leierdiaken. 
Maar toe begin sy vrou, Alet, se luste dwaal, nes haar ma twintig jaar tevore. Sy het sommer weggeraak, dae aaneen. Pogings om haar te keer, het alles vererger. 
Sy is toe na ’n psigiatriese hospitaal toe. Daar het sy glo die liefde van haar lewe ontmoet ... 
Niemand het dit eintlik geweet nie, maar Stefan het dit baie sleg gevat. 
Die oggend agtuur is ek deur die polisie na Stefan se huis ontbied. 
Van ver af kon ek die pyp uit die uitlaatpyp sien en dat die linkeragterdeur oop was. Stefan se liggaam het nog in die kar gelê, vergas. 
Ek moes die kinders by die skool gaan sê. Toe ek hulle die nuus meedeel, het die jongste ineengestort. 
By die begrafnis het Stefan se muurbalmaat, Willie, ’n muurbalballetjie in die graf gegooi terwyl hy sy maat verwyt. 
Alet en haar nuwe vriend was ook daar, by die graf. 
Min sou enige een toe weet dat Alet ses maande later ook sou selfdood pleeg. 
Ek het die drietal voltooi met die teks: “Is daar nog hoop vir my?”

Gelukkig moes ek nooit weer ’n selfdoodslagoffer begrawe nie.

Lees ook 

Moord hier naby

Herinneringe van Hermanus

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top