Drie hoera’s vir huishulpe

  • 1

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Vir die meeste mense was 2020 net een groot pandemieverwante misoes, met inperkings, aandklokreëls, drank- en tabakverbod en bisarre regulasies oor watse klere mens mag aantrek wat uitstaan. Moenie eens praat van die Slag van die Woolworths-hoender en die skermutselinge rondom strande nie.

Tussen al hierdie onsinnighede is daar op 19 November 2020 ’n saak in die Konstitusionele Hof beslis wat verreikende implikasies vir ’n miskende groep mense in ons land het. In Mahlangu et al vs Die Minister van Arbeid et al, saaknommer CCT 306/19, is beslis dat huishulpe, wat voorheen nie beskerming onder die Wet op Vergoeding vir Werkbeserings en Siektes geniet het nie, nou terugwerkend na 27 April 1994 beskerm word.

Die uitspraak het nie destyds veel nuusdekking gekry nie. Daar was te veel polisievergrype, Rage-partytjies, kort-voor-Kersfees-tweede-vlaag-vrese om oor te berig. Dis jammer, want hierdie hofsaak gaan vele lewens ingrypend verander.

Onlangse statistieke van die Departement van Arbeid dui daarop dat daar meer as een miljoen huishulpe werksaam is in Suid-Afrika. Anders gestel, omtrent 8% van die totale arbeidsmag is huishulpe. Dat hulle nou regsbeskerming geniet in geval van werksbeserings, is ’n reusagtige stap vorentoe. In my nuwe boek, Onverskrokke vroue: uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag, wat op 15 Junie 2021 verskyn, wy ek ’n hoofstuk aan die posisie van huishulpe en ander vroue wie se arbeidsbeskerming gebrekkig is.

Ons hoor gereeld hoedat werkgewers na hul huishulpe as deel van hulle familie verwys, maar vergoeding en regsbeskerming het nie altyd daai oënskynlike sentiment gevolg nie. Toe minimumlone vir huishulpe vasgestel word, was die protes van werkgewers se kant vinnig en negatief. Toe groot dele van die ekonomie gesluit is weens Covid-regulasies, kon huishulpe in daardie eerste maand of wat ook nie gaan werk nie. Of hulle steeds hul lone betaal is, het algeheel afgehang van die goedhartigheid van hul werkgewer.

Indien hulle aan diens beseer was, kon huishulpe nie eis nie. Vir mediese sorg moes hulle in die toue by die staatshospitale gaan wag. Betaling van lone terwyl hulle met die werksverwante besering of siekte van diens was, was nie verseker nie.

Mahlangu verander dit. Op Woensdag 10 Maart 2021 het die Vergoedingskommissaris regulasies uitgereik wat die nuwe, beskermde posisie van huishulpe uiteensit. Onder andere kan huishulpe nou mediese koste eis , hul families kan begrafniskoste eis, en in gevalle waar familielede afhanklik was van die huishulp as broodwinner, kan hulle nou ’n onderhoudskoste eis vir kinders tot op ouderdom 18. Ouers van huishulpe wat afhanklik van hulle was, kan ook nou eis. Huishulpe wat medies ongeskik verklaar is as gevolg van beserings aan diens, kan nou van die Vergoedingskommissaris eis.

In die spesifieke feite van hierdie saak het die huishulp in haar werkgewer se swembad verdrink in die loop van haar diens. Haar afhanklike dogter het van die Vergoedingskommissaris probeer eis. Die eis was onsuksesvol, omdat huishulpe uitgesluit was van die definisie van “werknemer”, soos wat die vergoedingswetgewing vereis. Die dogter het toe die Gautengse Hooggeregshof genader, en van daar is die saak na die Konstitusionele Hof.

Ons lees gereeld van huishulpe wat aangerand en soms gedood word wanneer inbrekers hul werkgewers se huise binnedring. Sulke gevalle sal waarskynlik nou deur die nuwe regulasies gedek word.

Daar is ander, meer alledaagse voorbeelde van tipiese beserings. Huishulp skuif ’n rusbank om beter te kan stofsuig en maak haar rug seer. Sy gly op ’n nat vloer en skuif haar knie uit. Sy sny groente en die skerp mes sny haar vinger af. Die voorbeelde gaan aan. Sulke gevalle word potensieel nou gedek deur die wetgewing.

En dis terugwerkend na 1994 van krag, wat beteken dat enige werker wat sedert die eerste demokratiese verkiesing beserings opgedoen het, of familie waar die werker aan diens gedood is, nou kan eis.

Wat moet werkgewers doen? Daar rus nou ’n verpligting op persone wat huishulpe in diens het om by die Vergoedingskommissaris te registreer deur vasgestelde dokumentasie voor te lê.

My hoop is dat werkgewers regtig daad by die woord sal voeg en hulle huishulpe, dié wat “soos familie” is, sal registreer. Dit beskerm werker én werkgewer. My vrees is dat baie werkgewers, in ’n misplaaste woede omdat daar nou ’n ekstra administratiewe las op hulle geplaas word, weier om te registreer en hul werkers van daardie beskerming ontneem.

Intussen kan ek net in dankbaarheid drie hoera’s vir huishulpe uitroep. Hierdie beslissing en die regulasies wat vandeesweek uitgereik is, is ’n reuseverligting vir baie mense.

  • 1

Kommentaar

  • Soos in alle beroepe is daar 'n minderheid werkgewers wat nie die registrasie gaan doen nie. Die meeste sal daardie vorms invul en hoop dat dit nie sal wegraak nie. Ek weet nie van een persoon wat ek ken wat nie hul huishulp tydens die grendeltyd nie betaal het nie. Myne kom een keer 'n week en ek het haar ses maande betaal sonder dat sy gewerk het. Sy het altyd met 'n taxi gekom, maar ek het besluit om haar eerder te gaan haal en weg te bring om haar nie onnodig aan die virus bloot te stel nie, want haar man het kanker. As sy kos nodig gehad het, het ek ook gestuur. Haar kleindogter het ek gehelp met vraestelle en boeke vir haar matriekvakke, want die biblioteke was toe al plek waar hulle internet kon gebruik. Baie dankbaar dat sy goed geslaag het en ook al ingeskryf is by die Departement van Vervoer vir 'n internskap. Hoera ook vir die werkgewers wat die tweede myl saam met hierdie vroue en hulle families stap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top