drie bossies sewejaartjies

  • 3

matrassewejaartjies

i.

blinkwit sneeu die blomme. sewe dae. sewe jare.
die berg is ’n ewigheid en ons slaap sewe nagte saam.

ii.

blomkombers is my matras en daar lê my ding.
dit sneeu, en dis november: kyk hoe skyn my papier!

iii.

dekades al en ons vergaan nie. skutblaar. blomkop.
maak my jou lêplek vol somer gestop. ek sal hier bly, en sag.

iv.

onthou dié desember as jy op sneeu slaap met drome vol
vuur. brand maar, beminde. ons kom weer met die son.

v.

die kewers is trommels, dik van stuifmeel en seks. stop
jou arms vol blomme, jou oë vol sonlig, jou leë sloop vol mooi.

vi.

sonderling, die sneeu in blom. die dag kweek ’n somer.
die bossies maak spons. ons dip en dommel, sluimer sommer hier.

vii.

ons sal die somer inmaak en geduldig wees, saam – tydsaam
soos saad. januarie is die maand, die maand van ons matras.

 

skaapoorbossie

die son kom op die onverwelkbare son
heg die horison met goud onafslytbare goud

wie’t ons so gemaak en so gelaat skaap?
wie’t ons verstrooi en bid ons tot blom?

ewige aanhangsels word wakker teen mekaar
stingel en blaar word ons wakker teen mekaar

op ’n heldergeel oggend ’n dofgoue oggend
’n silwerwit oggend ’n plain pienk oggend

onsterflike oggend onverganklike dag
blywend die wind ewigdurend lag saad

eindelose lente groei ’n warm seisoen, my duim
en my voorvinger lui die klokkie van jou oor

van blaar geen haas nie jy loof hom met jou wol
goeiemôre jong songod jy’s my beste bossie jags

 

poprosies

soek die term

“strandveld” “sewejaartjie” “strooiblom”
val ’n rooisewejaartjie soos ’n aarbei op jou oog
sê die skerm “behou hul kleur indien gedroog”

“veral in blomtyd EN DIT IS NOU!” skrou een
webwerf wat antwoord dié waarskuwing oor skape
wanneer jy vir google vra: "is 'n poprosie 'n sewejaartjie?"

te veel poprosies kan skape blind of semilam maak,
malkopbewegers wat dronk raak en draai tot hulle omdop,
emmerskop, fluit-fluit vir altyd (EN DIT IS NOU!).

wanneer jy veral in blomtyd vir skape vra
“is 'n poprosie ’n sewejaartjie?”

sê die stilte

“… moordenaartjie …”

 

Lees al die Mondig-gedigte hier:

Mondig

 

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top