Dowe gode deur Dibi Breytenbach: ’n lesersindruk

  • 0

Dowe gode
Dibi Breytenbach
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799389814

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Dibi Breytenbach se roman Dowe gode (2018) speel af in ’n plattelandse gemeenskap van KwaZulu-Natal waar daar (danksy die regering en amptenare wat hul pligte versuim) min tot niks geriewe en gereedskap aan die polisie of hospitaal verskaf word nie. Dit, die groeiende aantal plaasaanvalle en inbrake veroorsaak dat spanning en haat tussen verskillende rasse- en kultuurgroepe in die roman vermeerder.

Dibi se roman handel egter nie net oor hierdie temas nie, maar is ’n uitbeelding van hoe mense hierdie spanning en haat tot hul eie voordeel misbruik. Dit is duidelik sigbaar in die plaasaanval wat deur kaptein Aella O’Malley van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek word. Wat eers as ’n gewone plaasaanval voorgekom het, ontvou later in iets groters, soos dit daar in die boek se opsomming op die agterblad gestel word:

Wie gebruik militêre aanvalswapens om mense te beroof?

Die roman speel af oor ’n kwessie van drie dae. Daar word baie aandag geskenk aan die regte prosedures van ’n ondersoek, sodat die saak nie in die hof uitgegooi sal word nie. Die ondersoek word dikwels vertraag weens die tekort aan polisie-offisiere of weens politiek onder die polisie-offisiere. Hierdie vertragings word deur die verteltempo uitgebeeld. O’Malley moet gereeld haar ondersoek staak om bewysstukke te gaan oplaai, postmortems te aanskou, gevangenes te ondervra, of polisieverklarings te voltooi. Herhaaldelik voel dit of die wêreld teen haar gekant is. Aan die einde van die roman versnel die verhaal se tempo soos leidrade met mekaar verbind en verbreek word. Die roman eindig deur alles aan die leser te verduidelik, maar daar is steeds ’n mate van ’n onopgelostheid tussen sekere karakters, wat ’n aspek van realisme aan die roman verleen.

Wat Dibi Breytenbach se skryfstyl betref: dis ongelooflik beskrywend. Sy dra die beeld aan die leser oor deur ’n situasie op ’n alternatiewe manier aan te bied. Woorde word gebruik wat nie noodwendig gewoonlik met daardie spesifieke situasie verbind sou word nie, maar wat uiters effektief is, soos die natuurverwante woorde in die volgende uittreksel:

Diep plooie keep vore in die smal spasie tussen sy skerp neus en dun lippe en lê soos merkers uitgekerf tussen sy ruie wenkbroue. Jare se omgang met moordenaars, rowers en verkragters het die erosieslote daar getrek. (70)

Dibi Breytenbach | Foto: verskaf

Verder toon Breytenbach goeie beheer in haar vertelling van gebeurtenisse, veral in die aksietonele. Die gebeurtenisse word logies en ordelik aan die leser uiteengesit. Niks voel geforseerd of deurmekaar nie. Dit maak dit maklik om te volg, want die leser word deur die keuse van woorde gelei soos al die sinne semanties verbind word aan mekaar. Daar word ook gewissel tussen Breytenbach wat aan die leser beskryf wat gebeur en die kere wat daar aan die leser gesê word wat besig is om te gebeur.

’n Knal skeur die stilte aan skerwe. Die geknetter van outomatiese geweervuur doof haar woorde uit. Haar man staan met sy rug na haar gekeer, jaggeweer teen sy skouer gelig. Sy vingers krul om die sneller. (9)

Nie een keer word daar uitdruklik gesê hy skiet of mense skiet op hulle nie, maar tog weet die leser dit is besig om te gebeur.

Die ooglopende tema van die roman is die dood. Dit word selfs op die voorblad van die roman beklemtoon met die onderskrif: “Die dood is ’n eiegeregtige kosmiese grap.” Hierdie tema word met ’n effens siniese perspektief benader, veral deur die hoofkarakter, Aella O’Malley. Sy wonder dikwels waarom mense mekaar so haat en waarom hulle mekaar so leed aandoen. ’n Goeie uitbeelding hiervan sien ons wanneer sy toesig hou oor die slagoffers se postmortem:

Is dit hoe mense geword het? Soos ’n swerm duiwe of ’n trop springbokke op die savanne wat onrustig snuif as hulle gevaar op die wind ruik, kortstondig uitmekaarspat wanneer een uit die trop geplunder word, om maar uiteindelik hulle neuse in die soetgras te laat sak en voort te wei tot die volgende keer. (195)

Die vraag oor die dood en die doel van die lewe word tydens dié proses bevraagteken en ook soos sy aan haar oorlede man dink. Die dood is vir haar soos “’n eiegeregtige, kosmiese grap” (17). Dit néém net, sonder om te dink wat die nagevolge daarvan sal wees. “Hy vat sonder aansien, help homself roofsugtig aan hoop en vreugde en steel selfs die stilte wat die vrede kussing” (17).

Hierdie tema van die dood sluit ook aan by die tema van dowe gode, wat die titel van die roman vorm. Breytenbach speel met die idee dat verskeie karakters in die roman telkens ’n geloof het, kerk toe gaan of tot ’n god bid, maar dat daar ten spyte daarvan steeds wrede goed in die wêreld gebeur. Dié perspektief kan in die volgende uittreksels gesien word:

Die boere moet net kalm bly, dink sy ... Hulle voel van God en mens verlaat, sonder hoop op uitkoms of verlossing. (27)

Bid werk nie, wil Aella sê. Die Volkers het getrou elke Sondag in die Lutherse Kerk aanbid en kyk waar lê hulle nou. (176)

“Wat beteken dit?” vra sy. “Wat?” “Mon Dieu.” Die Fransman frons. “My God. Dit beteken my God.” “Swets jy of bid jy?” Die Fransman se frons verdiep. “Ek weet nie.” ’n Wrang glimlag trek aan sy mondhoeke. “Ek het lank gelede gebid, dink ek. Toe ek ’n kind was. Tot ’n verskeidenheid gode ... Dit het nie gewerk nie. Nie een luister na my nie.” Aella knik stadig. “Na my ook nie.” (196)

Verder speel musiek ook ’n groot rol in die roman. Die hoofkarakter het ’n voorliefde daarvoor en haar man was selfs ’n musiekonderwyser gewees. In die roman word musiek hoofsaaklik as ’n tipe terapie gebruik deur beide die karakters Aella en dr Singh. Aella, wat na elke dag die geweld en gruweltonele wat sy gewaar, uitspeel op haar klavier by haar huis, en dr Singh, wat Mozart en Bach aansit terwyl sy met die postmortems besig is. Die woorde van Mozart se Requiem en Bach se Mattheuspassie skep ’n sombere atmosfeer en lewer kommentaar op die tragedie:

“Requiem aeternam dona eis, Domine,” sweef die koorsang deur die kilte en oor die drie lakenbedekte liggame wat op die lykskouingstafels lê. Gee aan hulle ewige rus, Here. Aella se lippe vorm die woorde onwillekeurig. (174)

“Sit dit harder,” sê dokter Singh met stywe lippe. Helder klank styg uit die radio se luidsprekers, deur die sonstrale wat oor Henno Volker se koue lyf skyn en vul die droewige ruimte. Viool en altviool, dwarsfluit en hobo treur wonderskoon in die taal van die son en maan, sterre en planete; die taal van die lewendes en die dooies. “O Lamm Gottes, unschuldig,” sing ’n koor die eerste woorde van Bach se Matteheuspassie. “Erbarm dich unser, o Jesu,” sing die koor – ontferm U oor ons, o, Jesus. (181)

Hierdie temas is selfs op die voorblad van die roman sigbaar. Op die voorblad kan mens ’n ligte afbeelding van ’n musiekblad uitmaak en ’n dowwe uitbeelding van voëls wat moontlik die duiwe en valk kan verteenwoordig. Die vrou op die voorblad is heel moontlik Aella. Haar oë is toe en haar hare hang bo haar kop asof sy in ’n droom is. Dit kan na haar emosionele toestand verwys of moontlik daaraan dat sy haarself oorgee aan haar omstandighede. Die geweer wat duidelik teen haar heup sigbaar is, beklemtoon die geweld in die roman. Dit kan egter ook haar ongemak met die geweer en waarvoor dit staan verteenwoordig.

Ten slotte: Lank laas het ek ’n Afrikaanse boek gelees wat die taal so mooi benut en uitbeeld. Breytenbach se gebruik van woorde is so gepas en op ’n manier nostalgies. Dit is nie noodwendig ouderwetse woorde nie, maar dis woorde wat al deur sommige Afrikaanssprekendes vergeet is. Die storie van die roman handel oor ’n hele paar sensitiewe en moeisame temas. Breytenbach het dit egter reggekry om op ’n elegante en eerlike manier oor hierdie temas te skryf, wat reg aan die verskeie temas laat geskied. Verder is die roman maklik om te lees, moeilik om neer te sit. Ek sal beslis op die uitkyk wees vir ander romans deur Dibi Breytenbach.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top