Die musiekduo Douvoordag, bestaande uit die egpaar Jattie en Ilse de Beer, maak die afgelope jaar groot golwe in die plaaslike musiekbedryf. Jattie beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Jattie. Hoe is dinge?
Lekker LitNet! Goeie openingsvraag – gaaf dat julle vra. Dinge is wild, maar ook wild lekker hierdie kant.
Baie geluk met die voortdurende sukses van Douvoordag se debuutalbum, Die avontuur. Volgens ’n mediaverklaring tree jy en Ilse, ook nou eggenote, al sedert 2008 saam op as ’n band. Waarom dan die lang wag (10 jaar!) voor ’n volledige debuutalbum uitgereik is? ’n Mens sou dink dit is makliker om ’n debuutalbum aanmekaar te slaan, met al die werk wat daar ingaan (en ook in die gepaardgaande optredes), voordat ’n mens trou en kinders kry – julle het dit andersom gedoen. Was daar ’n spesifieke vlak of merker wat julle as band wou bereik voordat die album geskep is, of wat was die denkrigting?
Dankie! Ek sou dink dit is beslis makliker om dinge af te skop voor trou en kinders – ons was redelik ver in die pad af toe ons besef ons het ’n paar dinge wat ons graag wil sê; ’n boodskap, if you will. Dit was nie iets wat ons kon forseer of vinnig ryp maak nie. Soos ons aangegaan het, het dit duideliker geword wat ons wil sê. Geen spesifieke merker vir ons as band nie, maar ons wou meer as ’n “produk” maak. Ons wou iets skep wat op ’n manier ons lewenstories vasvang en wat vir ons relevant sou bly oor die jare. Ek glo dis die tyd en groei agter die projek wat dit eindelik spesiaal gemaak het.
Die album is lekker divers – daar is heelwat opgewekte, upbeat liedere (soos die titelsnit, “Die avontuur”), asook die stadiger, meer intieme snitte soos “Skaduwee van die berg” en “Hier tussen ons”. Was dit ’n opsetlike poging om ’n tipe vloei in die album te skep, of is dit bloot ’n versameling onafhanklike liedere? Hoe sou jy die “storie” van die album beskryf? Wat dink jy is die waarde van ’n volledige album deesdae, in die digitale era waar dit makliker is om enkelsnitte en musiekvideo’s te share, te like en so aan?
Ek dink nie dit was intensioneel nie, maar die album is seker op ’n manier maar ’n refleksie van die lewe – tye van op en tye van af. Ons het wel doelbewus variasie in die album ingewerk om dit interessant te hou. Die speelorde is noukeurig gekies om dit ’n album te maak wat mens van voor tot agter kan deurluister en wat jou dalk saam op “Die avontuur” kan neem ...
Die kernstorie van die album gaan oor ... die ontdekking van wat uiteindelik regtig belangrik is en waarop jy jou kosbare tyd en lewe spandeer. Landsberghoek is byvoorbeeld vir my broers en suster geskryf en praat oor die tye wat ons as kinders saam op my ouma se plaas gehad het ... Dit praat oor die waarde van familie.
Dit is nie meer noodwendig slim om albums te maak uit ’n inset/uitset kosteperspektief nie (lang verduideliking vir ’n ander dag), maar dit bly steeds goed vir ’n kunstenaar om ’n body of work te hê wat mense digitaal kan kry as hulle dalk iets van jou op die radio hoor. Ek onthou hoe ek as tiener albums gekoop het en dit totaal op geluister het, gewonder het oor die betekenis van die songs en die skrywers, en op ’n manier ’n verhouding met elke song ontwikkel het – daarin lê die mooigeid van ’n album, ongeag die praktiese implikasies. ’n Album bly die beste formaat om ’n storie deur jou musiek te vertel – dis die tipe ding waarmee ’n handjie vol luisteraars ’n hegte band vorm en vir lank diep kan geniet.
Jy is ’n bedrewe en besige liedskrywer – jy het al liedere vir Izak Davel, Dans Dans Lisa, Len Muller en vele meer geskep. Hoe ervaar jy die verskil in liedskryf wanneer jy vir ander skryf en wanneer jy vir jou eie groep skryf? Is daar ’n meer berekende aanslag wanneer ’n mens vir ’n ander kunstenaar se styl skryf? Hoeveel moeiliker of makliker is die proses wanneer jy weet jy skryf ’n lied wat jy self gaan opneem en uitvoer? Of is dit ’n geval van appels met pere vergelyk? Ook, hoe werk daai liedskryfproses by jou, van begin tot einde?
Ek gaan met ’n plan te werk as ek vir ander skryf. Die belangrikste ding is dat ’n song vir gehore geloofwaardig moet wees as die kunstenaar dit sing. Met ander woorde, dit moet stryk met hul boodskap, melodie, lirieke, produksiegenre, persoonlikheid, handelsmerk, ens. Ek probeer so skryf dat dit meer as ’n liedjie vir hulle is, maar uiteindelik iets is wat aandag trek en hulle loopbaan sal versterk (die ultimate doelwit vir alle kunstenaars). As ek vir Douvoordag skryf, is daar nie ’n “boks” nie, wat dit vir my baie lekker maak. Daar is nie perke tot hoe ek uitdrukking wil gee nie, maar daar is ook meer pressure omdat my eie liedjies vir my so persoonlik kan wees en ek dit nie verkeerd wil kry of die geleentheid wil mis om presies die regte emosie vas te vang nie. Dis makliker in die sin dat ek nie uit iemand anders se perspektief hoef te dink nie, maar dis moeiliker omdat mens heelwat meer krities is oor die musiek wat jy self wil vrystel.
Ander beroepskrywers het dikwels ’n resep of proses. Vir my werk dit nie so nie – elke liedjie is anders. Soms eers ’n liriese idee, ander kere ’n melodiese “hook”, ander kere blaker ek alles saam uit. Ek begin gewoonlik by die koor en lê die kernidee van die song neer, en dan kleur ek die verse in. Die brug kom meestal laaste. Soms sal ek ’n melodie oor ’n chord structure sing en die eerste woorde gebruik wat in my kop inkom tot daar iets is wat uitstaan en bruikbaar is. Met dié proses sing ek meestal nonsens en ek is seker Ilse het al op kere gedink ek is totaal van my kop af.
Geloof is ’n deurlopende tema in julle musiek, soos in julle jongste enkelsnit, “Skrapnel”. Sou jy Douvoordag as ’n geestelike groep beskryf? Voel jy dat Douvoordag hierdie aanslag moet aanpas afhangende van die venue of fees waarby daar opgetree word? Is daar ’n poging om met een voet in die pop-mark en een in die geestelike mark te staan, of hoe sou jy julle aanslag in hierdie opsig beskryf?
Nee, Douvoordag is nie ’n geestelike groep nie. Ons is wel mense wat glo, en iets van onsself sal altyd oordra na die musiek. Ons uitgangspunt was nog nooit om ’n produk te maak vir ’n mark nie (geestelik of pop, ens). Ons het maar net geskryf wat ons ervaar. Wat mense op die album hoor, is bloot hoe ons oor dinge dink en voel.
Soos vroeër gemeld, tree jy en Ilse al ongeveer 10 jaar lank saam op. Dit moet ’n unieke uitdaging wees om jou eggenoot as enigste kollega in die band te hê! Dink jy kreatiewe verskille en ander vorme van konflik wat natuurlik tussen enige band-lede voorkom, word anders hanteer (of moet anders hanteer word) as ’n getroude paartjie die hele band is? Hoe werk die probleemoplossing binne Douvoordag in daardie opsig? Was daar al oomblikke waarin julle gedink het dit sal beter wees om julle professionele en persoonlike lewens eerder apart te hou?
Nee! Alles is altyd rooskleurig! 😳😁 Ek dink nie ons hanteer konflik as sulks anders as ander groepe wat nie getroud is nie, maar daar’s ’n dieper connection in die sin dat ons weet ons is saam in hierdie ding en ons speel die lang game. Mens gee minder maklik op op mekaar. Ons verskil, maar om saam te werk is uiteindelik ’n voordeel omdat ons sterkpunte as individue juis in verskillende areas tot reg kom. Ons het beslis al oorweeg om dinge anders te doen, maar meer uit die logistieke uitdagings wat ons het.
Douvoordag is nog ’n jong band in terme van vrystellings, maar julle het ’n rits benoemings vir toekennings ingepalm – onder meer vir ’n paar Ghoemas, en ook ’n SAMA-toekenning. Wat dink jy beteken hierdie soort benoemings (en die gepaardgaande publisiteit) vir ’n jong groep? Is dit suiwer positief, of maak dit dinge moeiliker in terme van self die band se trajek bepaal? Veral wanneer daar ’n besige lewe tuis is (met ’n jong seun) kan dit seker uitdagend wees as die navrae vir optredes, onderhoude en dies meer begin instroom ... Dink jy sulke benoemings plaas druk op ’n groep (en Douvoordag spesifiek) vir toekomstige vrystellings en optredes – dat alles van hier af pryswenner-musiek moet wees? Of hoe internaliseer julle dié soort blootstelling?
Dit is beslis ’n hupstoot wat jou handelsmerk en blootstelling betref en ons ervaar nie regtig druk as gevolg daarvan nie – ek dink grotendeels omdat ons uitgangspunt nog nooit was om toekennings in te palm nie, maar om goeie musiek te maak. Solank ons aanhou om goeie musiek vry te stel wat (in ons oë) egtheid het en van goeie kwaliteit is, sal ons tevrede wees. Ek dink jong kunstenaars moet nie onder die illusie wees dat die toekennings vir jou ’n loopbaan sal uitkerf nie. Dit kom alles terug na interaksie met mens se luisteraars en die gereelde vrystelling van kwaliteit musiek. Ons verwelkom optredenavrae en groei wat ons skedule aanbetref – dis ’n groot voorreg om mens se musiek vir gehore te kan bring! En ons laat dit werk by die huis. Ons het ’n great ondersteuningsnetwerk van familie en vriende wat baie lief is vir ons twee klein seuntjies en graag help (as hulle nie kan saamkom na ’n optrede nie).
Na al die jare, en meer onlangs vir die albumverwante optredes, het jy sekerlik ’n magdom onvergeetlike ervarings opgebou. Is daar enige herinneringe wat vir jou uitstaan as hoogtepunte? Enige oomblikke wat mense sukkel om te glo as jy dit oorvertel, of gebeure wat jy wens eerder nie plaasgevind het nie?
’n Klomp surreal oomblikke op die pad, maar dit wat my altyd die meeste bybly met optredes, is die vriendskappe wat gemaak word. Ons speel meestal saam met ’n paar besonder begaafde “session”-musikante met wie ons verhoogervarings kan deel. Musiek maak het ’n manier om ’n klomp vreemdelinge in vriende te verander.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Jattie de Beer in, en vir Douvoordag, in so verre jy dit kan beheer?
Ek is tans besig om baie tyd in my opnameateljee te spandeer met die vervaardiging en skryf van liedjies vir ander kunstenaars. Die hele proses van skep bly vir my maar een van my groot liefdes! Vir Douvoordag is ons ook besig om aan splinternuwe materiaal te werk wat seker vroeg in 2020 vrygestel sal word. Douvoordag is ook besig om aan opwindende projekte saam met ander kunstenaars te werk, maar meer daaroor in 2020. J
Wat is die sin van die lewe?
Ek kan hierdie vraag nie anders beantwoord nie as om te sê dat die sin van die lewe is om God te verheerlik deur al die dinge af te leer wat nie jy is nie, en ten volle te lewe as wie Hy jou gemaak het om te wees. Irenaeus het gesê: “The glory of God is man fully alive.” Daarmee saam om die Koninkryk van God te bring in ons alledaagse lewe en ander mense lief te hê – ons verhoudings is al wat ons saam met ons kan vat.