Dot Serfontein: 30 April 1925 – 4 November 2016

  • 3

Dot Serfontein was aanvanklik die vrou van Willem Krog, daarna die ma van vyf kinders (een van hulle Antjie Krog), en nog later die ouma van meer as twee hande vol kleinkinders. Sy was die dogter van Kootjie Serfontein en sy vrou, pionierboere van Erfdeel, Kroonstad. En uiteindelik het sy volksbesit geword.

“Ek ken die hartklop van die Vrystaatse veld en die verhale van sy mense,” het sy gesê, en “ek skryf nie om ou geskilpunte op te rakel nie, maar onder meer om te bewys dat daar omstandighede is waaronder stryd en neerlaag en dood die kiem van lewe kan dra”.

In haar outobiografie, Vrypas, het hierdie geliefde skrywer prontuit en eerlik, en op haar kenmerkend selfironiserende wyse, oor die wêreld van haar voormense, oor haar loopbaan, haar gesin, en haar skryfwerk besin. Eerstehands ervaar ’n mens haar hier as individu: altyd besig met bestekopname oor die dinge wat haar as Afrikaner en vrou definieer. Sekerlik nie altyd polities korrek nie, maar nooit word sy betrap sonder vlymskerp redenasie en vreeslose moed van die oortuiging nie. As agtergrond het sy in die 67 hoofstukke byna 80 jaar tot haar krediet, met ingrypende gebeure op sosiale, politieke en ekonomiese vlak. Sy kan persoonlike ervarings en oortuigings spieël teen die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie van 1914, die Groot Depressie, die verkiesing van 1948, en die (vir haar generasie, dikwels ontstellende) realiteite van die negentigerjare en daarna. In Vrypas lê sy haar lewenswaardes en haar hart bloot, háár weergawe van ’n belangrike stuk familie- en landsgeskiedenis.

Haar akademiese opleiding ontvang sy, na ’n hoërskoollewe in Kroonstad, aan die Universiteit van Pretoria. Met ’n BA-graad en ’n Hoër Onderwysdiploma in die sak begin sy in 1948 as Engels-onderwyser klasgee aan die Sentrale Hoërskool in Bloemfontein. Sy kon ook die kinders met Duits, Suid-Sotho, Afrikaans en Nederlands help. Net ’n jaar later word sy as vroueredaktrise van Die Volksblad aangestel. Hierdie draai in die joernalistiek, weliswaar maar kort, beteken later jare in haar skryfwerk vir haar baie: “Om te weet dat een goeie woord die werk van tien kan doen,” leer sy daar, en ook om onder druk te kan skryf.

Baie jare later skryf haar skrywer-kleindogter Susan Samuel-Van Rooyen met begrip en bewondering oor ’n ouma wat tegelyk kon boervrou wees, kinders grootmaak, en daarmee saam produktief kon skryf en gehaltewerk kon publiseer.

Susanna Jacoba Serfontein was ’n Boervrou. Sy’t met Appaloosa-perde geboer, en met ander diere ook, soos die hoendertjies, wat “amper (haar) mense” was; sy’t met liefde geboer, en haar man en kinders en hulle gesinne het hierdie liefde enduit ervaar.

Maar sy het ook, en veral, met woorde en hulle intrinsieke inhoud geboer. ’n Woord het sy bepaalde en bepalende betekenis gehad, sy presiese plek in die sinne en paragrawe wat sy geskryf het, byna 20 boeke vol. Wanneer ’n skrywer se werk deurlopend goeie kritiek van gerekende medeskrywers ontvang, dra dit ’n eiesoortige en bestemmende gewig. Met die verskyning in 1969 van die bundel essays Systap onder die juk het Hennie Aucamp onmiddellik die waarde daarvan besef: die oopmaak van ’n deur, met ’n uitsig op wat volkserfenis moes word. Gedugte skrywers soos André P Brink, Henriette Grové, JC Kannemeyer, Hilda Grobler, Cecile Cilliers en Petra Müller het nog in Serfontein se leeftyd hulde gebring aan haar vermoë om vlymskerp en stilisties begaafd met woorde en inhoude om te gaan. Selfs vir iemand soos Karel Schoeman het sy ’n rol gespeel in die ontdekking van die volle lading van die begrip Vrystaat en wat dit eens beteken het: “... en deur die besef is my verhouding tot die gebied onnoemlik verander en verdiep".

Haar eerste skryfwerk, meestal kortverhale, word in Sarie Marais gepubliseer. Hierop volg ’n vervolgverhaal, “Liefde in die kwepertyd”, wat tweeweekliks verskyn, en daarna ook as ’n eerste publikasie, in 1960, in boekvorm. Verskeie titels volg hierop: Tiendes van anys, Water op Mispah, So min blomme, Onder skewe sterre, en Sonder klein trou.

Juis in aansluiting by haar eie skryfwerk het sy ’n pleidooi gelewer vir die “gewone” tydskrif- en radioskrywers wat nie hulle lesers vervreem het nie. Hierdie skrywers was mense soos Kas van den Bergh, Doc Immelman, Alba Bouwer en Audrey Blignault, almal mense met doodgewone beroepe, en waarskynlik juis daarom goed toegerus om vir die “gewone” leser te kon skryf.

Toe Antjie Krog met die herdruk van drie van haar ma se romans in 1985 (So min blomme, Onder skewe sterre en Sonder klein trou) die voorwoord daarvoor skryf, begin sy as volg: “Almal was op Dawid McClaglan verlief”. Want Dot het geweet hoe ’n storie inmekaar moet steek: die doenighede op die klein dorpie Laval, en die hebbelikhede van sy inwoners, en die gróót teenwoordigheid van die trein en die hele spoorwegmilieu wat daarmee saam kom, het lesers gevange gehou. En die nugterheid waarmee die skrywer die alledaagse, ook die romantiek daarvan, meedoënloos ondermyn het, was mos vir ons, die lesers, bekend: “They lived happily ever after” werk in die praktyk dikwels maar anders – “Ja jong, daai huwelik kan mos nou nie anders as om ’n strontpul af te gee nie.” Dot Serfontein het die lewe geken, en haar karakters, en sy’t nie graag vir haar lesers gelieg nie.

Ook nie in die bundels met sketse en essays wat sy geskryf het nie: Systap onder die juk, Ek is maar ene, Amper my mense en Galery van reënmakers. Met ’n liefdevolle blik op die mense van haar landstreek, en altyd getemper met ’n sekure aanvoeling vir die realiteit, het sy oor die aard van die haar mense geskryf. Hulle halsstarrighede, twislus en hebbelikhede was nie aan haar onbekend nie. Maar sy het geweet waar dit vandaan kom, en kon om dié rede met geneentheid en humor daaroor skryf. Haar beste vertellings word dus ook altyd iets veel groters as net stilistiese woordkunswerk, want dit speel af teen geslagte van mense, werklikes en opgedroomdes, mense uit die “landskappe van (haar) lewe ... en die land van (haar) liefde”, die Oos-Vrystaat. En dis nie net haar karakters wat onder die vergrootglas beland nie. Sy was self ook aan die ontvangkant van satire en ironie.

Hoewel JC Kannemeyer by geleentheid opgemerk het dat Dot Serfontein waarskynlik een van die Afrikaanse letterkunde se onderskatte skrywers was, was daar ook etlike erkennings wat sy wel die voorreg gehad het om te ontvang. Die Oranje Vrouevereniging ken in 2005 ’n oorkonde aan haar toe; in 2011 het Kroonstad se Dameskring ’n oorkonde aan haar oorhandig vir haar besonderse skryftalent en haar bydrae tot Afrikaans en ons kultuurgeskiedenis; in dieselfde jaar word haar handdrukke verewig in beton by Foxwood House in Houghton as deel van die program Sandra op ’n drafstap; Solidariteit Helpende Hand vereer haar vir haar bydrae tot die Afrikaner-erfenis; in 2012 ontvang sy die Kuns Onbeperk-toekenning vir haar lewensbydrae; en by die KKNK en Stellenbosch Woordfees word woordkunsproduksies van haar werk gedoen.

Ander monumente van Dot Serfontein wat bly staan, is haar roman oor die Anglo-Boereoorlog, Rang in der staten rij; die Serfontein-atlas; die monumentale werk oor haar hartsdorp, Keurskrif vir Kroonstad; bloemlesingbundels: Vertel! Vertel! en Deurloop; twee beginnersleesboeke, en ’n roman in Sotho, Tjhao Thiane.

Is daar enige werklik paslike wyse waarop ’n mens iemand soos Dot Serfontein kan groet? Wíl ’n mens haar groet? Haar beste werk sal as herinnering bly van iemand wat die kosbaarheid van die geskrewe woord nie onderskat het nie en dit haar lewensroeping gemaak het om skryfwerk van kwaliteit, en hartswarm leesgoed na te laat. Kom ons laat háár die groetwerk doen:

Diegene vir wie sy lief was, en wat sy geken het, het sy ’n leeftyd lank gegroet. Vir ons ander het sy in Rang in der staten rij iets daarvan nagelaat: “Ek groet die duisende naamloses, mans, vrouens, kinders en perde wat vir die Vrystaat geveg het, 1899–1902.”

 

Erkenning: Verskeie bronne in NALN se versameling is by die opstel hiervan gebruik.

  • 3

Kommentaar

  • Lekker om dit alles te lees oor n merkwaardige vrou. En te onthou wat ander groot geeste by Volksblad - waar ek ook 36 jaar gewerk het - van haar vertel. Sy het spore ook daar gelaat. En toe kom haar dogter Antjie ook daar n draai maak in my tyd.

  • Avatar
    Sonia Joubert (gebore Serfontein)

    Dit is 'n groot leemte wat Dot Serfontein laat. Ek was bevoorreg om een van, in my opinie, haar mooiste en belangrikste werke te kon lees, en die woorde te bewaar in my hart: Die Serfontein Atlas. My nooiensvan is Serfontein. My Oupa Kootjie en Ouma Nakkie het met soveel liefde en trots gepraat van die dag wat Dot Serfontein hulle besoek het om inligting te kry vir die Serfontein Atlas. Sy het op so pragtige manier die geesdrif, talente en maniertjies van die Serfonteins in pen neergelê, dit bly my by tot vandag toe. Wat 'n wonderlike voorreg om deel te wees van hierdie, plat op die aarde, vriendelike en soms sportiewe familie. My erfenis is vir my mooi. En deel daarvan is Dot Serfontein. Al het ek haar nooit ontmoet nie, voel dit, deur die Serfontein Atlas, of ek haar geken het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top