Dooie See: dodemars of omkeerstrategie?

  • 3

Foto: ORTAL op Pixabay

Throughout history, the Dead Sea basin has served as a source of refuge and inspiration for followers of Judaism, Christianity and Islam. Today, the religious significance of the Dead Sea is being overshadowed by its rapid disappearance. Institutional, social, gender and economic issues related to water management options for the Dead Sea basin are thus far more complex than what is currently envisioned by engineers and policy makers. These issues need to be addressed adequately to achieve equitable and sustainable water management. (Lipchin 2006)

1. Inleiding

Die Jordaanrivier-dreineringsgebied vorm ’n unieke en delikate varswater-ekosisteem. Dit strek vanaf die Libanese Hoogland en Hermonbergreeks tot by die Dooie See oor ’n afstand van 223 km in ’n noord-suid-rigting. Die hoogte van die watervlak van die Dooie See word (tans) aangedui as 437 meter onder seevlak en is gevolglik die laagliggendste landmerk op aarde (Sevil en Gutiérrez 2023). Die soutkonsentrasie van die water is ongeveer 340 gram per liter. 

Die Dooie See-gebied ondervind deesdae ernstige omgewingsprobleme soos ’n afname in die watervlak, toenames in die soutgehalte van die water en die ontstaan van sinkgate op die oewer. Dit is van kardinale belang om die oorsaaklike faktore van die verskynsels te ondersoek en doeltreffende aksieplanne saam te stel om die Dooie See en die Jordaanrivier-skeurvallei as natuurlike bates te bewaar en doeltreffend in stand te hou.

Die relatief vinnige afname oor die afgelope paar dekades in die watertoevoer vanaf die Jordaanrivier na die Dooie See en die gepaardgaande sinkgatkrisis kan volgens Popperl (2018) indirek gekoppel word aan twee belangrike historiese dispute oor die Dooie See-vallei se ekonomiese hulpbronne. Eerstens het die Britse Mandaatregerings in Palestina en Jordanië reeds in 1920 prospekteerregte aan die Joodse nyweraar Moshe Novomeysky toegestaan om potas en ander minerale in die Dooie See-omgewing te ontgin. In 1952 het die Israelse regering Novomeysky se belange oorgeneem, die bedryf gesentraliseer en Dead Sea Works Ltd gestig. Hierdie nywerheid pomp soutwater op ’n groot skaal van die noorde na verdampingspoele in die suide ten einde minerale te ontgin.

Die tweede kwessie handel oor Israel en Jordanië se voortdurende mededinging om waterregte vir die verkryging van water uit die Jordaanrivier. Hierdie dispuut het aanleiding daartoe gegee dat etlike miljoene kubieke meter water jaarliks vanaf die See van Galilea uitgekeer word na die Israelse nasionale waterkanaalstelsel (“National water carrier”) onderkant die Degania-dam.

Professionele waterbestuur is van kardinale belang om te verseker dat die beskikbare en kosbare waterbron regverdig versprei word tussen die belanghebbende oewerlande (veral Israel, Jordanië en die Palestynse gebiede, sowel as Libanon en Sirië in ’n mindere mate), terwyl die ekologiese balans van die Dooie See-ekosisteem steeds gehandhaaf word. Die Jordaanrivier, wat die hoofbron van water vir die Dooie See se toevoer is, beleef ’n beduidende afname in watervloei wat onder andere verband hou met menslike aktiwiteite soos streeksbevolkingsaanwas, landbouontwikkeling en huishoudelike gebruik. Daarom is dit noodsaaklik om weldeurdagte waterbestuur-aksieplanne saam te stel om sodoende verdere meningsverskille en konflik te voorkom. Indien die drastiese agteruitgang van die Jordaan-sisteem sou voortduur, sal dit ernstige geopolitieke implikasies vir alle belanghebbende partye inhou en die risiko om die (gevaarlike) vrugte daarvan te pluk, gaan ’n onaangename realiteit word.

Volgens Nissenbaum (1993) kan die ekonomiese belang van die Dooie See-streek gesien word in veral sy historiese rol met betrekking tot toerisme, nywerheidsontwikkeling en landbou. Die Dooie See-gebied lewer landbouprodukte soos sout, potas en bromied, asook suikerriet, dadels en balsem. Asfaltneerslae word vanaf die vroegste tye vir waterdigtingsdoeleindes en ander godsdienstige rituele soos mummifisering gebruik. Die water van die Dooie See beskik oor terapeutiese en medisinale eienskappe, en hierdie hipersoutwaterbron (water met ’n hoër soutgehalte as seewater) is besonder gewild onder toeriste.

Die dalende watervlakke en omgewingsagteruitgang hou egter ’n bedreiging vir alle sektore in. Daarom kan die bestudering van die potensiële toekoms van die Dooie See waardevolle insigte bied vir die bevordering van volhoubare ekonomiese ontwikkeling en die beveiliging van individue en groepe wat op die streek se hulpbronne staatmaak. In hierdie verband het die fisiese geograaf Ibrahim Oroud (2023) ’n hipotetiese energiebalanseermodel, wat op ’n maandelikse tydsinterval van 800 jaar gebaseer is, getoets. Dit doel van die studie was om die toekomstige (gesimuleerde) hoogte van die watervlak, die totale wateroppervlakte en watertemperatuur van die Dooie See te voorspel onder verskillende scenario’s soos wisselende varswater-invloei en ’n wye spektrum atmosferiese veranderlikes. Projeksies dui daarop dat die Dooie See in die rigting van ’n verkleinde hipersoutwarmwatermeer (“dwarfed hypersaline hot lake”) ontwikkel. Die tydperk wat nodig is vir die Dooie See om ’n kwasistabiele ekwilibrium te bereik, strek oor honderde jare. Simulasie en vooruitskattingsdata soos bogenoemde behoort egter altyd as benaderde inligting hanteer te word, weens die kompleksiteit van die sisteme wat ter sprake is, die lang integrasieperiode wat betrokke is en onsekerhede wat veroorsaak word deur variasies in die plaaslike klimatologiese veranderlikes.

Die Dooie See-streek bevat ’n magdom geologiese en argeologiese artefakte, wat waardevolle insigte in die aarde se ontwikkelingsgeskiedenis en antieke beskawings bied. Dit is terselfdertyd ’n artefak van tektoniese aktiwiteit. Verdere navorsing deur klimaatkundiges en die omgewings- en geowetenskappe is bepalend om vorige klimaatstoestande, veranderinge in die landskap en menslike geskiedenis te verstaan, en sodoende begrip van die omgewing se geskiedenis en die betekenis daarvan vir die toekoms te bevorder. 

Die Dooie See-area word voortdurend aan aardverwarming en klimaatsveranderinge soos gewysigde reënvalpatrone en stygende temperature blootgestel. Die oppervlaktemperatuur van die Dooie See-gebied styg met ongeveer 0,6 °C per dekade (Kishcha 2018). Klimaatsveranderinge behoort noodwendig ’n verdere impak te hê op die soutwatermeer en die omringende karsttopografie, net soos die geval is met vergelykbare streke, byvoorbeeld die Groot Soutmeer in Utah.

Die doel van hierdie artikel is om enkele gesigspunte rakende die dalende watervlak van die Dooie See te bespreek en die vraag te stel of ’n ommekeer in hierdie eskalerende natuurramp ’n haalbare moontlikheid is.

2. Sinkgat-ontwikkeling

Volgens Sevil en Gutiérrez (2023) is die ontwikkeling van sinkgate geomorfies van aard. Kortliks gestel is dit ’n proses waardeur die aarde se oppervlak verander word deur fisiese en chemiese faktore. Sinkgate is verantwoordelik vir toenemende ekonomiese verliese wêreldwyd. Die voorkoms van sinkgate in die hoogs dinamiese soutrots (karst) van die Dooie See is ’n treffende voorbeeld van die wyse waarop menslike gedrag die risiko vir sinkgatontwikkeling verhoog. Sedert 1980 word die kusgebied van die Dooie See deur die ontstaan van duisende sinkgate gekenmerk omdat die vlak van die soutwater aanhoudend daal. Die relatief vinnige ontwikkeling van sinkgate in die Dooie See-omgewing bied ’n buitengewone geleentheid om hul evolusie te bestudeer. Die evolusie van die morfometrie en verspreiding van sinkgate bied belangrike inligting waarop risiko-assesserings vir toekomstige tendense gebaseer word. 

Sevil en Gutiérrez (2023) doen multitemporale kartografiese ontledings in ’n spesifieke sektor aan die wes-oewer van die Dooie See. Die databasis maak voorsiening vir lug- en satellietbeeldmateriaal, hoëresolusie- driedimensionele fotogrammetriese modelle, en veldwerk. Die sinkgate wat deur hierdie navorsers gekarteer is, dui op enkelvoudige, klein, relatief vlak en halfsirkelvormige sinkgate wat binne groter sinkgatbekkens gesetel is. Van 2005 tot 2021 het 702 nuwe sinkgate verskyn in die gebied waarin die opnames gemaak is. ’n Gemiddelde insakkingskoers van 45 cm/jaar is bereken vir die karstgebied waar sinkgate voorkom.

Daar is tans meer as 5 000 gekarteerde sinkgate in die Dooie See-gebied (Yizhaq, Ish-Shalom, Raz en Ashkenazy 2017). Hierdie sinkgate word hoofsaaklik langs die rand van ’n soutlaag waargeneem wat tydens die Plio- (jongste) Pleistoseenepog neergelê is. Die groter Lisanmeer (voorloper van die Dooie see wat 70 000 tot 15 000 jaar vC tot by die See van Galilea gestrek het) het gedurende hierdie epog teruggetrek en sodoende is die huidige kleiner Dooie See gevorm (Frumkin, Ezersky, Al-Zoubi, Akkawi en Abueladas 2011). 

Daar bestaan twee (en dikwels botsende) denkrigtings oor die oorsake van die ontstaan van sinkgate in die Dooie See-gebied (Ezersky en Frumkin 2013). Die een standpunt is dat die sinkgate struktureel gekontroleer word en beperk is tot tektoniese foutlyne, op grond van waarnemings en data verkry deur middel van seismiese opnames. Hiervolgens is die sinkgate dus basies foutlyn-geïnduseerd.

Die tweede verklaringsmodel beklemtoon dat sinkgate ontstaan as gevolg van die oplossing van ondergrondse soutlae weens van die verplasing van hipersoutagtige (“hypersaline”) grondwater deur brak/onversadigde grondwater met ’n laer soutgehalte (Frumkin ea 2011). Dit kom daarop neer dat aggressiewe (of onversadigde) grondwater wat uit aangrensende en onderliggende Judea-waterdraer na die laerliggende Dooie See dreineer en op hierdie wyse sinkgatvorming bevorder. 

ʼn Grafiese illustrasie van die geomorfologie van die area is beskibaar by https://agupubs.onlinelibrary.wiley.com/doi/full/10.1002/2017JF004219.

Sinkgatvorming word in aansluiting hierby indirek bevorder deur die skerp afname in die Dooie See se watervlak (met ’n daling van 34 meter oor die afgelope 50 jaar en wat meer onlangs toegeneem het met ’n tempo van meer as 1 meter per jaar).

Laastens, wat die doeltreffende monitering van sinkgatvorming in die Dooie See-streek betref, beveel Ezersky ea (2014) die volgende werkswyse aan: “Only a careful ground monitoring policy, year after year, coupled with geophysical measurements could allow the setting up of a predictive model concerning the propagation of hazards.”

3. Verdamping

Shafir en Alpert (2011) voer ’n panverdampingstudie uit in die omgewing van Sodom aan die kus van die suidelike Dooie See. Natuurlike verdamping is ’n belangrike metrologiese parameter wat veral die industriële sektor in die Dooie See-gebied betref.

Die resultate van die studie dui daarop dat panverdamping oor die afgelope jare met 20% tot 25% toegeneem het. Die oorsake word aan veranderende globale en plaaslike klimaatstoestande toegeskryf. Globale veranderinge verwys na die effek van aardverwarming, waardeur die frekwensies van sommige sinoptiese sisteme in die streek gewysig is. Die plaaslike oorsake het te make met die dalende watervlak van die Dooie See wat ’n afplatting in die frekwensie van die plaaslike Dooie See-bries tot gevolg het. Die Dooie See-bries temper normaalweg die plaaslike klimaat in die gebied.

Mediterreense seewinde het mettertyd die Dooie See-gebied binnegedring en die neutraliserende effek van die Dooie See-bries verplaas, waarop verhoogde verdamping gevolg het. Volgens die navorsers was die afplatting van die plaaslike windfaktor die dominante oorsaak van verhoogde verdamping tussen 1970 en 1990. Die temperatuur het gevolglik gestyg en die relatiewe humiditeit het afgeneem. Tans speel aardverwarming egter die deurslaggewende rol in die toenemende verdampingstempo, terwyl die plaaslike faktore van sekondêre belang is.

4. Doeltreffende waterbestuur in die Jordaanriviervallei 

Die natuurlike vloei van die Jordaanrivier na die See van Galilea word beraam op 50–550 miljoen kubieke meter jaarliks (Katz 2022). Hierbenewens ontvang die rivier gemiddeld ’n verdere 300 miljoen kubieke meter jaarliks deur direkte reënval, direkte invloei van oppervlakwater en fonteinwater. Dit is dan ook min of meer gelyk aan die volume water wat deur verdamping verlore gaan. Die laerliggende gebiede van die Jordaan (tussen die See van Galilea en die Dooie See) word gevoed deur kleiner aansluitende riviere soos die Yarmuk. Die totale jaarlikse afvoer van die Jordaan na die Dooie See word op 1 200–1 350 miljoen kubieke meter per jaar beraam.

Die Jordaanriviervallei verkeer tans onder intense waterdruk (“hydric stress”). Wat die assessering van die situasie verder bemoeilik is die beperkte aard van die diverse inligtingsbronne en datastelle wat vir navorsingsdoeleindes beskikbaar is en wat die betroubare interpretasie daarvan uiters bemoeilik. Die verkryging van betroubare en langtermyndata in verband met die klimatologie asook waterbeskikbaarheid en -gebruikspatrone is ’n bykans onbegonne taak (Comair, Gupta, Ingenloff, Shin en McKinney 2013).

Becker, Lavee en Tavor (2012) stel voor dat die 300 miljoen kubieke meter water wat jaarliks uit die See van Galilea via ’n kanaalstelsel na die sentrale dele van Israel gepomp word, aangevul word met water vanaf ontsoutingsaanlegte aan die kusstrook van die Mediterreense See. Dié oplossing behoort te voorkom dat die watervlak van die See van Galilea voortdurend verlaag word. Gevolglik sal meer water in die Jordaanrivier-dreineringstelsel geplaas word en terselfdertyd ’n groter afvloei na die Dooie See voorsien.

Teen hierdie agtergrond het Israelse waterbeplanners reeds begin om ’n omgekeerde nasionale waterkanaalstelsel te ontwerp (Katz 2022). Die idee is dat ontsoute seewater met behulp van ’n pypleiding (geleë direk langs die kanaalstelsel wat water vanuit die See van Galilea na die binneland vervoer) vanaf die Mediterreense kus na die See van Galilea vervoer word. Daar bestaan egter kwaliteitsverskille tussen ontsoute water en die water van die See van Galilea in terme van suurgehalte en ander parameters. Ontsoute water kan dus nie direk in die See van Galilea ingelaat word nie. Daar is toe besluit om die ontsoute water in ’n droë loop (“wadi”) vry te laat, waarna dit oor ’n paar 100 meter met behulp van gravitasie na die See van Galilea vloei. In die proses absorbeer die ontsoute water minerale en op dié wyse verander die chemiese samestelling op weg na die See van Galilea. ’n Kunsmatige standhoudende sytak van die Jordaan word dus geskep waarby die Jordaanvallei en die Dooie See gevolglik met betrekking tot invloei geweldig baat vind.

Die doel met innoverende waterbestuur in die Jordaanstreek (Comair ea 2013) behoort aan die volgende kriteria te voldoen: 

(a) om eerbied en respek vir water by die verbruiker te bevorder; om verminderde verbruik aan te moedig; om die verbruik van water beter te kontroleer; om water meer doeltreffend te gebruik; om onkonvensionele waterbronne te benut; en om die gebruik van gesuiwerde gryswater te bevorder. 

(b) om die die kwaliteit van bestaande data- en inligtingproduksiestelsels te verbeter ten einde die huidige inligtingswanbalans reg te stel. 

Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat waterbestuursplanne vertolk moet word in terme van die komplekse konteks van hierdie ariede omgewings, intense behoeftes aan meer water vir plaaslike, stedelike en landelike verbruik, diepgaande kulturele en polities-ideologiese geskilpunte, agterdog, gemilitariseerde grense, gebrek aan vertroue en die gereelde opwelling van dispute tussen die belanghebbende oewerlande.

Planne om die Mediterreense See met die Dooie See, of die Rooi See met die Dooie See, te verbind bestaan reeds vir meer as 100 jaar (Katz 2022). Volgens Comair ea (2013) bly dit steeds ’n belangrike en relevante oorweging vir die noodsaaklike toevoeging van addisionele water tot die sisteem. Die plan om ’n kanaalverbinding tussen die Rooi- en Dooie See te finaliseer is egter gedurende Junie 2021 eensydig deur Jordanië gekanselleer omdat Israel (volgens Jordanië) nie werklik belangstelling in die plan toon nie. Die inisiatief is jare lank vertraag deur burokratiese struikelblokke, finansieringskwessies, besware deur omgewingskenners en ’n gebrek aan ’n behoorlik funksionerende regering in Israel oor ’n periode van twee jaar op daardie tydstip. 

Volgens ’n resente aanlyn artikel (22 Junie 2022) deur Nir Hasson in Haarets/Israel News het die Israelse Ministerie van Omgewingsake weereens ’n dringende beroep op die Israeli-regering gedoen om hierdie infrastruktuurprojek weer af te stof en spoedig op ’n snelbaan te plaas.

5. Slotperspektief

Is dit moontlik dat ’n sinvolle ommekeer bewerkstellig kan word? Is die terugkeer na die paradysagtige landskap wat in Genesis 13:101 beskryf word vandag haalbaar? “Lot het rondgekyk na die vrugbare vlaktes van die Jordaanvallei in die rigting van Soar. Die hele gebied was waterryk, soos die tuin van die Here of die vrugbare Egipte.”

’n Simplistiese antwoord op hierdie vraag is onmoontlik weens die aard van die komplekse sisteme waarmee daar hier gewerk word. Verskeie kwessies soos fisiese, chemiese, geopolitieke, militêre, ekonomiese, sielkundige en antropologiese faktore dra almal proporsioneel by tot die instandhouding van ’n veelkantige dilemma. Hierdie faktore dreig om die status quo en gevolglik die ”dodemars” van die Jordaanrivier-Dooie See-ekosisteem in stand te hou.

Deur eenvoudig groter hoeveelhede water aan die Jordaankom te voorsien, hetsy via kanaalverbindings vanaf die Rooi See en/of Mediterreense See, behoort tydelike verligting vir die Dooie See te bied, maar dit is nie noodwendig ’n volhoubare langtermynoplossing nie. Die kern van die probleem is gesetel in die verbruikers se geïnternaliseerde houdings teenoor doeltreffende waterbestuur en -verbruik. In aansluiting hierby wys Lipchin (2006) daarop dat die sentralisasie van die Joraanrivier se waterbestuurstelsel beleidmakers forseer om deur ’n dowwe lens (“clouded lens”) te kyk na die wyse waarop verbruikers op die huidige waterbestuurbeleidsrigtings reageer. Dié kortsigtigheid voorkom dat nuwe beleidsrigtings soos die afwenteling van mag na plaaslike owerhede (mits gekenmerk deur deeglike, voldoende en professioneel bestuur) oorweeg word. Die watergebruikkultuur van gemeenskappe behoort as die fondament te dien waarop gewysigde en volhoubare waterbeleidsrigtings gebou word. In kort: Verhoog die volume water wat tot die sisteem toegevoeg word en wysig daarmee saam die huidige watergebruikpatrone met behulp van weldeurdagte opleidingsprogramme, dan is ’n geleidelike en realistiese ommekeer van die dodemars wel moontlik.

Eindnota

1 Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling. 2016. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Bibliografie

Abelson, M, Y Yechieli, G Baer, G Lapid, N Behar, R Calvo en M Rosensaft. 2017. Natural versus human control on subsurface salt dissolution and development of thousands of sinkholes along the Dead Sea coast. Journal of Geophysical Research: Earth Surface, 122(6):1262–77. doi:10.1002/2017JF004219.

Becker, N, D Lavee en T Tavor. 2012. Desalinate or divert? Coastal non-market values as a decision tool for an integrated water management policy: The case of the Jordan River basin. Ocean & Coastal Management, 64:27–36. https://doi.org/10.1016/j.ocecoaman.2012.04.008.

Comair, GF, P Gupta, C Ingenloff, G Shin en DC McKinney. 2013. Water resources management in the Jordan River Basin. Water and Environment Journal, 27(4):495–504. doi:10.1111/j.1747-6593.2012.00368.x.

Ezersky, M en A Frumkin. 2013. Fault-dissolution front relations and the Dead Sea sinkhole problem. Geomorphology, 201:35–44. https://doi.org/10.1016/j.geomorph.2013.06.002.

Ezersky, MG, LV Eppelbaum, A Al-Zoubi, S Keydar, AR Abueladas, E Akkawi en B Medvedev. 2014. Comments to publication of D Closson and N Abu Karaki “Sinkhole hazards prediction at Ghor Al Haditha, Dead Sea, Jordan: ‘Salt Edge’ and ‘Tectonic’ models contribution” – a rebuttal to “Geophysical prediction and following development sinkholes in two Dead Sea areas, Israel and Jordan, by: Ezersky, MG, Eppelbaum, LV, Al-Zoubi, A, Keydar, S, Abueladas, A-R, Akkawi E, and Medvedev, B”. Environmental Earth Sciences, 71(4):1989–93. https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1007/s12665-013-3019-2.

Frumkin, A, M Ezersky, A Al-Zoubi, E Akkawi en A Abueladas. 2011. The Dead Sea sinkhole hazard: Geophysical assessment of salt dissolution and collapse. Geomorphology, 134(1–2):102–17. https://doi.org/10.1016/j.geomorph.2011.04.023.

Katz, D. 2022. Basin management under conditions of scarcity: The transformation of the Jordan river basin from regional water supplier to regional water importer. Water, 14(10):1605. https://doi.org/ 10.3390/w14101605.

Kishcha. 2018. Steady shrinking of the Dead Sea as a result of climate change in the Eastern Mediterranean. Joint Event on 5th World Conference on Climate Change & 16th Annual Meeting on Environmental Toxicology and Biological Systems, Londen.

Lipchin, C. 2006. A future for the Dead Sea basin: Water culture among Israelis, Palestinians, and Jordanians. Fondazione Eni Enrico Mattei Working Papers, artikel 97. http://services.bepress.com/feem/paper97.

Nissenbaum, A. 1993. The Dead Sea — an economic resource for 10 000 years. Hydrobiologia, 267:127–141. https://doi.org/10.1007/BF00018795.

Oroud, IM. 2023. The future fate of the Dead Sea: Total disappearance or a dwarfed hypersaline hot lake? Journal of Hydrology, 623:129816. https://doi.org/10.1016/j.jhydrol.2023.129816.

Popperl, S. 2018. Geologies of erasure: sinkholes, science and settler colonialism at the Dead Sea. International Journal of Middle East Studies, 50(3):427–48. DOI: 10.1017/S002074381800082X.

Sevil, J en F Gutiérrez. 2023. Morphometry and evolution of sinkholes on the western shore of the Dead Sea. Implications for susceptibility assessment. Geomorphology, 434:108732. https://doi.org/10.1016/j.geomorph.2023.108732.

Shafir, H en P Alpert. 2011. Regional and local climatic effects on the Dead-Sea evaporation. Climatic Change, 105(3–4):455–68. DOI 10.1007/s10584-010-9892-8.

Yizhaq, H, C Ish-Shalom, E Raz en Y Ashkenazy. 2017. Scale-free distribution of Dead Sea sinkholes – observations and modeling. Geophysical Research Letters, 44(10):4944–52. doi:10.1002/2017GL073655.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top