
“Doodskoot” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Doodskoot
Wim Pienaar hou in ’n stofwolk voor die hekkie stil, spring uit sy motor nog voordat dit behoorlik tot stilstand gekom het en storm in die tuinpaadjie af na die voordeur.
Die polisiekonstabel wat op die stoep staan, tree voor hom in. “Jammer, meneer, maar jy kan nie hier ingaan nie.”
“Jy kan my nie keer nie; dis my pa se huis.” Hy probeer haar systap, maar sy blok hom netjies deur hande op die heupe reg in die deuropening te gaan staan.
Konstabel Lesego roep oor haar skouer: “Sersant, kom help gou hierso.”
Dan aan Wim: “Dis nou ’n crime scene – no entry.”
Sersant Molefe stap haastig na buite. “Môre, Wim.”
“Asseblief, Sersant. Ek moet hom sien.”
“Jammer, Wim. Ons kan jou nie in die huis toelaat nie. Forensies is besig met hul ondersoek.”
“Is hy nog —?”
“Ja. Die patoloog sal die liggaam verwyder nadat haar voorlopige ondersoek afgehandel is.” Sersant Molefe se hand beweeg tot op Wim se skouer en gee dit ’n bemoedigende druk. “Ek is regtig jammer oor jou pa.”
“Dankie, Sersant. Sal ek hom kan sien voordat julle hom wegneem?”
“Ek weet nie of dit ’n goeie idee is nie. Hy is in die gesig geskiet; dit lyk nie mooi nie.”
Wim skud sy kop in ontkenning. Hoe kon die bliksems dit aan sy pa doen? Sy pa, die sagmoedige man met die groot hart. Altyd daar vir almal – nooit suinig om ander te help wat swaarkry nie.
Hy besef dat hy nooit weer sy pa sal sien nie en werktuiglik vryf sy hand deur sy kuif – ’n gebaar wat hy as kind aangeleer het wanneer hy onseker of verward voel.
Hy wonder hoe sy stiefma die situasie hanteer. “Waar is tannie Rina?”
“Die ambulans het haar hospitaal toe geneem. Sy ly erg aan skok en haar gesig is sleg verrinneweer – haar neus vermoedelik gebreek.”
Wim se hangskouers spreek boekdele wanneer hy omdraai en stadig na die ou peperboom stap waar Sanna, die Pienaars se jarelange huishoudster, in die koelte sit en snik. Hy sak langs haar op die gras neer. “Sanna ...”
“Ai, Wimpie, dis ’n sware dag.”
“Is so, Sanna.”
“Wimpie, my hart is in stukke gebreek. Dis my grootmaakkind daai. Hierdie twee ou hanne het vir Henkman versôre vandat hy ’n pap babatjie was. Hoekom het die tsotsi nie net alles gevat nie? Hoekom my kind doodmaak?” Sy vee ergerlik met haar voorskoot oor haar oë.
Wim weet dis vir haar net so swaar soos vir hom. Sy het as jong meisie destyds by sy oupa-hulle begin werk en Henk grootgemaak toe sy ouma met sy pa se geboorte oorlede is.
Wim sê-vra: “Tannie Rina het oor die foon gesê jy het hulle vanoggend gekry. Dit moes ’n helse skok vir jou gewees het.”
“Ekke het myself asvaal geskrik. Toe ek hier kom, was als nog stil, net die kombuisdeur het oopgestaan. Ek het ingegaan en niemand gesien of gehoor nie. Toe het ek in die gang af geloop tot by die kamer. Ek sien die baie bloed en ... ” haar stem breek. “En vir Henk ... hy, hy ...” Rou snikke ruk deur haar lyf.
“Shhh, dis oukei, jy hoef nie te vertel nie.”
“My Henkie-kind het daar gelê in sy bed,” wurg sy die woorde tussen snikke uit. “Sy kop flenters geskiet. Baie bloed. Orals.” Sy sluk hoorbaar, hervat dan. “Rina het op die grond langs die bed gesit. Haar hande en voete vasgebind met cable ties. Haar gesig vol bloed. Sy sê die tsotsi het haar gesig teen die muur geslaan sodat sy die kluis se sleutel en kode vir hulle moes gee. Toe vat hulle die gewere en nog ander goeters en loop.” Sy vee werktuiglik met haar hand oor haar wange.
Henk woel die sakdoek uit sy broeksak en prop dit in haar hand.
Sersant Molefe en ’n skraal brunet stap nader. “Wim, dis die patoloog, dokter Annie Roux.”
Haar handdruk is koel en onpersoonlik. Haar stem saaklik. “Ek is jammer oor u verlies.”
“Dankie.”
“Ek verneem u wil die oorledene sien, maar ek sal u ten sterkste afraai. Onthou hom liewer soos hy was.”
Met ’n kopknik in hul rigting draai sy om en stap na haar bakkie terwyl die liggaam, toegemaak in ’n lyksak, uitgedra en in die voertuig gelaai word.
“Dis beter dat jy eers huis toe gaan, want hier is niks wat jy nou kan doen nie. Forensies sal nog ’n hele ruk besig wees. Ons het reeds vir Sanna ondervra, so sy kan ook maar gaan.”
Wim se hand vou om Sanna se elmboog en hy help haar regop. “Kom, ek sal jou by die huis gaan aflaai. Daarna wil ek eers ’n draai by die hospitaal gaan maak. Hoor of tannie Rina iets nodig het. Molefe, sal julle asseblief die huis sluit wanneer almal klaar is? Ek sal die sleutel môreoggend by die polisiestasie kom haal.”
***
“Middag, Kaptein.”
“Middag, sersant Molefe. Kom jy nou van die Pienaars se plot af?”
“Ja, Kaptein. Dit lyk maar lelik daar.” Molefe bring hom vinnig op hoogte van sake.
“En mevrou Pienaar?”
“Sy is baie getraumatiseerd en in die hospitaal opgeneem.”
“Enige leidrade?”
“Niks op die oog af nie, Kaptein. Dit lyk baie soos die vorige drie inbrake by die plotte in daardie omgewing. Maar elke keer eskaleer die vlak van geweld. Die eerste keer het hulle die mense net vasgebind. By die tweede inbraak is die slagoffers geskop en geslaan en by verlede week s’n het hulle die man en vrou met ’n warm strykyster gebrand. Nou het hulle doodgemaak.”
“Julle beter hulle baie vinnig aankeer. Die media gaan ons braai wanneer hulle van Pienaar uitvind. Hy was gewild onder almal in die omgewing.”
“Kaptein, die probleem is dat daar op nie een van die tonele leidrade gevind is nie. Die skelms weet beslis hoe om die polisie te ontduik en hulle spore goed dood te vee.”
“Traak my nie hoe julle te werk gaan nie. Vang net die wetters, en vinnig ook.”
“My manne is tans besig om die mense in die omgewing te ondervra. Ons hoop maar iemand het iets gesien of gehoor wat ons kan help.”
“Kon mevrou Pienaar julle enige inligting gee wat julle kan opvolg?”
“Nie regtig nie. Sy sê daar was drie van hulle. Een bietjie geset, die ander twee lank en maer. Hulle het swart klere gedra en balaklawas opgehad. Chirurgiese handskoene gedra. Hulle het in hul eie taal met mekaar gepraat, en in gebroke Engels met haar.”
“Dit gee ons nie veel om mee te werk nie.”
Molefe krap sy kop. “Ek weet nie hoe ons hierdie bliksems gaan vastrek nie, Kaptein.”
***
Wim stap Rina se kamer binne, gaan sit op die stoel langs haar bed. Haar oë gaan oop en sy draai haar kop in sy rigting. Hy deins terug toe hy haar vernielde gesig sien. Simpatie wel in sy binneste op, ten spyte van die feit dat hulle twee nie juis ooghare vir mekaar het nie.
“Hallo, Tannie.”
“Ja, dag,” groet sy kortaf. Nie eens die verlies van sy pa kan haar vriendeliker teenoor hom laat optree nie.
“Ek is so jammer dat dit met tannie moes gebeur.”
“Asof jy werklik omgee.”
Wim probeer sy bes om vriendelik te bly. “Wat sê die dokter?”
“My neus is gebreek en verder is dit darem net kneusings. Dokter wil my oornag hou vir observasie.”
“Kan Tannie asseblief vir my vertel wat gebeur het?”
“Ek het alles vir die polisie gesê. Gaan vra hulle as jy so graag wil weet.”
“Asseblief, Tannie. Ek probeer net verstaan waarom hulle my pa koelbloedig doodgeskiet het.”
“Jy is seker spyt dat hulle my nie eerder geskiet het nie.”
“Tannie —”
“Toe hy hulle in die kamer gewaar, wou hy regop kom. Toe skiet hulle hom. Hulle het aangedring op die ... kluis se sleutel ... en die k-kode en toe ek dit nie vir h-hulle wou g-gee nie, het hulle my g-gesig aanhoudend ... dit was verskriklik ...” haar skouers begin ruk.
“Ek is jammer dat ek tannie weer deur die trauma sit. Dis net dat ek probeer sin maak van alles, maar dis so moeilik.”
“Hulle het ... het hom ...” Sy hyg na asem, begin histeries huil.
Wim lui die klokkie, steek dan sy hand na haar uit, vryf oor haar arm. “Raak rustig, asseblief. Probeer liewer slaap.”
“Hoe moet ek slaap as ek die inbraak heeltyd herleef en weet my man is doodgeskiet!” gil sy.
’n Suster stap die kamer binne, ’n blink bakkie met ’n spuitnaald in die hand. “Ek dink jy moet liewer gaan. Jy ontstel haar. Dokter het gesê sy moet rus.”
Daardie nag kan Wim nie slaap nie. Iets pla hom, maar hy kan nie sy vinger daarop lê nie. Hy weet dis iets belangriks, maar dit bly hom ontwyk.
“Flippen hel, dink, Wim,” praat hy hardop met homself, “dit kan dalk baie belangrik wees.”
Vroegoggend gaan hy na die polisiestasie en vra om Sersant Molefe te sien.
“Hallo, Wim. Jy is seker hier vir die sleutels?”
“Dit ook, ja, maar vertel my asseblief van die inbraak.”
“Ek kan jou nie inligting gee nie; die ondersoek is in ’n sensitiewe stadium.”
“Asseblief, Sersant. Iets voel net nie vir my reg nie. Waarom my pa sonder waarskuwing koelbloedig doodskiet?”
“Daar is die laaste ruk baie inbrake in die omgewing. ’n Bende wat spesifiek die plotte target. Die MO van die inbraak by jou pa-hulle stem ooreen met die ander. Dis net die vlak van geweld wat elke keer vererger.”
“Wat het hulle alles by my pa-hulle gesteel?”
“Vuurwapens, juwele en geld wat in die kluis was. Jou pa se selfoon en skootrekenaar. Hul beursies. Mevrou Pienaar se ringe.”
“Het hulle nie die groot platskermtelevisie in my pa-hulle se kamer gevat nie? En waarom net my pa se selfoon?”
“Mevrou Pienaar sê sy het haar selfoon ongemerk onder haar kussing versteek.”
“En haar skootrekenaar?”
“Dit was in die eetkamer. Sy het vroeër die aand daar gewerk en dit daar gelos. Die inbrekers het seker nie deur al die vertrekke gesoek nie.”
“Met my pa dood en tannie Rina vasgebind in die kamer het hulle al die tyd in die wêreld gehad om die hele huis te plunder.”
“Ons ondersoek elke moontlike leidraad en sal die skuldiges nog vastrek.”
“Julle beter. Ek soek vergelding vir die onsinnige moord op my pa.”
Wim is diep in gedagte wanneer hy die polisiestasie verlaat. As hy net kan onthou wat in sy onderbewussyn kriewel.
Hy gaan laai Sanna op en ry na die plot.
“Ons moet die huis regkry voordat tannie Rina ontslaan word, Sanna. Dit sal haar te veel ontstel om alles so te sien.”
“Is reg so, Wimpie.”
Wim stap deur die huis, probeer die inbraak visualiseer. Die kombuisvenster word met ’n baksteen stukkend geslaan en een inbreker klim deur die venster. Hy sluit die kombuisdeur van binne af oop vir die ander. Hulle stap gang-af na die hoofslaapkamer waar sy pa-hulle lê en slaap. Waarom het sy pa-hulle nie wakker geword van die brekende glas nie?
Toe hulle by die kamer ingaan en sy pa wakker word en wil opspring, skiet hulle hom en rand tannie Rina aan. Daarna vat hulle die buit en waai. Maar hulle los die yslike platskermtelevisie net daar? En waarom nie die res van die huis leegdra nie?
Die enigste logiese verklaring waaraan hy kan dink is dat hulle te voet was en nie ’n klomp goed kon saamdra nie. Dit beteken hulle moet moontlik in die omgewing bly. Hy moet tog onthou om dit aan Molefe te noem.
“Die beddegoed en matras sal nooit skoonkom nie. Ons moet dit verbrand.” Wim ruk soos hy skrik toe Sanna skielik agter hom praat.
“Sorry, Wimpie. Kom ons dra dit eers buitetoe dat jy dit kan brand terwyl ek die klere terugpak in die kaste. Ek weet nie waarom die tsotsi alles so moet uitgooi en dan niks vat nie.”
Saam dra hulle die matras en beddegoed na buite en sit dit in ’n oopte neer. Wim gaan haal ’n bottel brandspiritus in die kas met skoonmaakmiddels, gooi dit oor alles uit en steek dit aan die brand. Terwyl hy na die vlamme staar, tref dit hom soos ’n vuishou in sy maag. Hy pluk sy foon uit. Gelukkig het hy Molefe se nommer gister gestoor.
“Sersant, ek dink ek weet ...” Wim hou op met praat toe Sanna op ’n stadige drafstappie naderkom, arms swaaiend soos ’n windlaaier.
“Wimpie, kom gou!” gil sy.
“Ons praat later, Sersant.”
“Wag, wat dink —” maar Wim druk die foon dood en drafstap tot by haar.
“En nou, Sanna? As dit lyk of jy ’n spook gesien het?” Hy besef wat hy sopas gesê het. “Jammer, ek het dit nie so bedoel nie,” vra hy vinnig om verskoning.
“Kom kyk,” hyg sy.
“Wat?”
“Kom net, Wimpie. Jy sal jou oë nie glo nie.”
Sanna beweeg met ’n skilpaddraffie terug huis toe met Wim wat vinnig langs haar stap. In die motorhuis wys sy na die kisvrieskas teen die agterste muur.
“Ek wou kom vleis uithaal om te kook dat daar kos is vir Rina wanneer sy huis toe kom. Toe ek die boonste mandjie uithaal om die hoender in die onderste mandjie te vat, sien ek dit.”
“Wat?” vra hy en stap vinnig na die vrieskas.
“Kyk self.”
Verstom staar hy na die inhoud.
“Ons moet alles net so los en sersant Molefe dadelik laat kom.”
***
Molefe buk oor die vrieskas, trek die swart sak se bek wyer oop en gee ’n uitgerekte fluit. “Dit gee ’n totaal ander geur aan die gebeure, Wim.”
“Dinge begin nou vir my sin maak, Sersant.”
“Ja, vir my ook.”
Wim draai na Sanna. “Ek en sersant Molefe gaan eers ry. Alles moet net so gelos word. Klim solank in; ek sal jou vinnig by jou huis gaan aflaai. Ek sluit net eers hier.”
***
“Wat soek jy nou weer, Wim?” vra Rina kortaf toe hy die kamer binnestap. Sy sit reeds aangetrek op die stoel. “En jy? Het jy nie moordenaars om te vang nie?” byt sy in Molefe se rigting.
“Dis wat ek probeer doen, Mevrou,” kom dit bedaard van Molefe.
“Jy sal dit nie regkry deur in my kamer rond te hang nie.”
“Mevrou Pienaar, ek is hier om u te arresteer vir die moord op u man, Henk Pienaar.”
“Is jy mal? Kyk hoe lyk ek? Ek is aangerand deur die moordenaars! Ek is die slagoffer. Wim, praat met die man. Hy het nou wraggies al sy varkies verloor.”
“Jammer, Tannie Rina, maar ek dink die slag het jy te ver gegaan.”
“Julle is stapelgek. Daar is geen bewyse teen my nie.”
“Wim het ’n baie interessante vraag gehad. Hoe kon die inbreker u oorlede man met sy eie vuurwapen geskiet het as jy eers nadat hy reeds dood was, die sleutel en kode van die kluis aan die vermeende inbrekers oorhandig het?”
“Julle is waansinnig. Ek was deurmekaar van skok. Een het ’n mes teen Henk se keel gehou terwyl die ander een my aangerand het. Eers nadat ek die sleutel en kode aan hulle gegee het, het hulle die vuurwapens uit die kluis gevat en Henk geskiet toe hy een van hulle wou oorrompel.”
“So u het ’n vals verklaring afgelê? Dis strafbaar, het u geweet?” smaal Molefe.
“Ek was getraumatiseerd. Deurmekaar. In pyn. Ek sê mos nou vir julle hoe dit gebeur het.”
“Verduidelik dan asseblief aan ons hoe u oorlede man se selfoon en skootrekenaar, beide julle beursies, die kontant en juwele, asook die vuurwapens, onder andere die haelgeweer waarmee u man geskiet is, in die vrieskas in julle motorhuis beland het?”
“Hoe moet ek weet? Die inbrekers het my aangerand en vasgebind en toe my man geskiet.” Trane stroom oor haar wange. “Ek gaan jou aankla vir wreedheid teenoor ’n arme slagoffer, Molefe. Jy sal nooit weer in die polisie werk wanneer ek met jou klaar is nie.”
“Mevrou, ek vermoed u het u eie gesig herhaalde kere hard teen die muur gestamp sodat dit moet lyk asof u aangerand is.”
“Dis verregaande!”
Wim buk dreigend voor Rina, kyk haar stip in die oë. “Is dit so, Tannie Rina? Het jy my pa geskiet?”
“Glo jy nou ook die twak wat Molefe opdis? Maar hoe dan anders. Jy het nog altyd net die slegste van my gedink.”
“Almal weet Tannie het net met my pa getrou oor sy geld. En toe Tannie nie langer kon voorgee nie, besluit jy om die vlaag inbrake in die omgewing te gebruik en so van my pa ontslae te raak. Nogal vindingryk. Dan kan Tannie skatryk erf en ’n nuwe lewe begin, terwyl die moordenaars nooit opgespoor word nie.”
“Julle is almal van julle wysie af. Ek was lief vir Henk.” Sy staan op en begin in die rigting van die deur stap. “Ek gaan nie langer na hierdie gekkespul luister nie.”
Molefe stap voor haar in, haal die boeie van sy belt af en glip dit vinnig om Rina se gewrigte.
“Mevrou Pienaar, ek neem u in hegtenis vir die moord op u man, Henk Pienaar. U het die reg om te swyg. Alles wat u sê, kan in ’n hof teen u gebruik word.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

