Dood van ’n bankrower – Allan Heyl (1951–2020)

  • 1

Allan Heyl, die laaste oorlewende lid van die Stander-bende wat Suid-Afrikaners se verbeelding in die tagtigerjare met ’n reeks waaghalsige bankrooftogte aangegryp het, het op 17 April 2020 gesterf. Heyl het die afgelope jaar ’n stryd teen kanker gevoer.

Allan Heyl in aksie as motiveringspreker (Foto: Laevelder)

Ek het Allan Heyl leer ken toe ek betrokke was by die publikasie van sy boek, Bank robber – My time with André Stander, wat in 2018 verskyn het. Wanneer hy my nie op die naam genoem het nie, was dit “meester” of “meneer”. Sy Afrikaans was keurig en foutloos – hy het immers in Bloemfontein grootgeword.

Heyl was ’n hoogs intelligente man wat nie gehuiwer het om mens met lang Shakespeare-aanhalings te vergas nie. En hy was sjarmant – soos ’n wegkommotor wat buite ’n bank luier. Toe ek hom die eerste keer ontmoet het, het hy by al my kollegas in die kantoor omgestap en geselsies aangeknoop. Vir vroue het hy ’n waarderende oog gehad.

Allan was ’n lewensgenieter wat gehou het van lekker eet. Die eerste keer dat ek hom vir ete uitgenooi het, het ek gevra watter restaurant hy in gedagte het. Allan het sonder blik of bloos hoog geskiet – hy het ’n “Bacchusfees” by ’n eksklusiewe restaurant in Saxonwold voorgestel, maar het dadelik laer gemik toe ek verduidelik het dat my begroting dit nie toelaat nie.

Ons eerste ete-afspraak moes gekanselleer word nadat Allan se verflenterde motor hom in die steek gelaat het. Kennelik was die dae wat hy saam met André Stander en Patrick Lee McCall in ’n Porsche onder geregsdienaars uit gejaag het, verby. Uiteindelik het ons in ’n steakhouse in Rosebank gaan eet, en Allan het met genot weggelê aan ’n allegaartjie van al wat vleisgereg is. Dit wat hy nie kon klaarmaak nie, het hy ingepak om huis toe te vat. Ek het sommer ’n ekstra hoofgereg bestel wat by sy doggy bag gevoeg is.

Daar was ’n aura van ontbering aan Allan. Finansieel het dit broekskeur gegaan. Die motiveringspraatjies wat hy regoor die land gelewer het, het hom net-net aan die lewe gehou. Kommunikasie was ’n probleem, want Allan se lugtyd was altyd gedaan en hy moes lang boodskappe met sy bonkige vingers op sy foontjie tik. Die stewige voorskot wat hy vir Bank robber ontvang het, was soos manna uit die hemel, maar dit het net tydelike verligting gebring.

Ná die publikasie van die boek het Allan eksemplare uit die hand verkoop tydens praatjies wat hy gereël het. Op dié wyse kon hy ’n groter opbrengs uit verkope kry. Maar die ongeluk het hom gery. Na ’n boekverkoopsessie in ’n noordelike provinsie het hy al die geldjies wat hy gemaak het, verloor. Iewers langs die pad het hy die geld op die dak van sy motor neergesit, het hy later verduidelik, en dit net daar vergeet toe hy met ’n vaart wegtrek.

Die skryf van Bank robber was vir Allan ’n uitdaging. Hy het nie ’n rekenaar gehad nie, en kon eers wegval nadat ek ingestem het om my ou skootrekenaar vir hom te leen. Gegewe Allan se reputasie as een van Suid-Afrika se berugste boewe, het my uitgewer-kollegas met ’n vonkel in die oog gewonder of ek ooit weer my skootrekenaar sou sien.

My rekenaar het wel weer by my uitgekom, maar nie sonder vele vertragings en omswerwinge nie. Een van Allan se verskonings was dat hy dit in Mpumalanga by ’n girlfriend vergeet het. Boonop was die girlfriend op besoek aan Botswana, en die rekenaar kon nie by haar huis gehaal word nie. Ek het egter nooit getwyfel dat ek my rekenaar sou terugkry nie, want Allan se paroolbeampte het hom met ’n valkoog dopgehou. Die geringste oortreding sou hom blykbaar terug in die tjoekie besorg.

Allan het hom aan die skryfproses oorgegee. Die skrywery was bepaald ’n katarsis-ervaring en op die ou einde het Allan drie maal meer as die verlangde aantal woorde gehad. Ek vermoed hy het hom verbeel hy is Winston Churchill, maar anders as die staatsman was Allan se prosa gedrae, formeel en omslagtig. En soos ek gevrees het, het Allan knap voor die inleweringsdatum gebel met die idee dat die boek eintlik twee of drie volumes moet beslaan.

Dit het mooipraat gekos om hom te oortuig dat dit nie kon gebeur nie. Die uitgewershuis moes ’n “fixer” aanstel om Allan se prosa helder en binne die woordbeperking te kry. Tydens dié proses het die primadonna binne Allan vlerke gekry. Hy was diep verontwaardig dat ’n redakteur aan sy woorde durf sny het, en die boektitel waarop uiteindelik besluit is, was vir hom ’n bron van frustrasie. Ongelukkig moes die mark waarvoor die boek bedoel was deurentyd in gedagte gehou word.

Die eerste ding wat mens agtergekom het wanneer jy met Allan gesels, is dat daar ’n horde mites rondom die Stander-bende bestaan. Om die waarheid te sê, daar was nooit ’n “bende” nie, en André Stander was nooit die leier van die sogenaamde bende nie. Dié persepsies is deur die media geskep, en Allan het dit as “fake news” afgemaak. In Suid-Afrikaners se koppe is stories vasgelê, soos dat die “bende” dieselfde banktak sommer twee keer op een dag beroof het – binne die bestek van ’n paar uur. Hierop het Allan verontwaardig gereageer: “Meester, dink jy ons sou so onnosel wees om terug te keer na ’n plek wat wemel van polisiemanne op soek na ons?”

Erge depressie was Allan se konstante metgesel. Hy kon maklik moedeloos raak, maar sy gemoed het vinnig gelig as mens hom met ontluisterende humor terg. Dikwels het hy grappies per WhatsApp aangestuur, en hy het ’n voorliefde vir Casper de Vries-video’s gehad.

Die swart hond was van kindsbeen af in Allan se skaduwee, maar meer dikwels het Allan in die skadu van dié hond geleef. Hy het my vertel hoe hy Bloemfontein ná skool verlaat het en vir maande lank in ’n hotelkamertjie in Wynberg, Kaapstad tuisgegaan het. Dit was die dae toe dit algemene gebruik was om ’n hotelkamer op semi-permanente basis as blyplek te huur. By sy ouerhuis was almal onder die indruk dat Allan werk in die Kaap gekry het en dat hy ’n loopbaan aan die opbou was. Die waarheid was dat ’n verlammende depressie Allan verhoed het om soggens uit die bed op te staan.

Toe geld vir huur betaal opdroog, het die hotelbestuurder met groter dringendheid aan Allan se deur begin klop. ’n Lewensveranderende oomblik het aangebreek toe hy met ’n swaar gemoed verby ’n bankgebou gestap het. Binne ’n flitssekonde het Allan besluit om die bank binne te gaan en te maak of hy ’n wapen onder sy baadjie hou. Die verskrikte bankteller het die geld in ’n sak geprop en Allan is met adrenalien in die are by die gebou uit. Dit was die maklikste ding op aarde om ’n bank te beroof, het hy besef. En dit was die begin van ’n reis wat hom ’n plek in die annale van Suid-Afrika se geskiedenis besorg het.

Allan het die binnekant van tronkmure geken langer as wat dit vir Nelson Mandela die geval was. Maar hy het volkome gerehabiliteer en hy het deernis en verwondering vir die mensdom gehad. Altyd nederig, altyd vriendelik, maniere onberispelik. En elke aand het hy ’n daggazolletjie gerol om die swarigheid van die lewe af te weer.

Ná sy vrylating het hy die smalle weg sekuur bewandel onder die wakende oog van ’n bejaarde suster wat hom sonder seremonie in toom gehou het. Tot aan die einde was hy versigtig vir haar.

Met Heyl se afsterwe het ’n deur wat op ’n skrefie oop was, finaal toegeklap.

  • 1

Kommentaar

  • Ek was bitter jammer om te hoor van Allan Heyl se afsterwe. Ek was van kind af gefasineer deur stories van die "Stander Bende". Ek het dadelik sy boek gekoop to dit gepubliseer is. Ek het gehoop om Allan een dag te ontmoet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top