Donker water
Martin Steyn
LAPA Uitgewers, 2024.
ISBN: 9781779860064
Kyk, ek was nog altyd ’n gretige leser van Martin Steyn se boeke. Met sy eerste twee, Donker spoor (2014) en Skuldig (2015), het hy sy lesers meegesleur met speurwerk om wrede reeksmoordenaars op te spoor. Swartval (2016), wat by die laaste sin van Skuldig aanhaak, was anders: ’n Meisie is ontvoer, en sy is so teenwoordig in elke sin en toneel van die boek dat die leser haar kloustrofobiese gevangenskap begin beleef. Losprys (2018) is ook weer anders: Dit handel ook nie oor ’n moord nie, maar oor ’n ontvoering – maar dis juis die motivering vir die ontvoering wat hierdie verhaal so dwingend maak, so inweef in die werklikheid van die lewe in Kaapstad.
En toe kom die grendeltyd en die groot Steyn-stilte. Ek was daarom baie opgewonde toe ek hoor sy vyfde boek verskyn vanjaar, en ek was so ongeskik haastig om te lees dat ek ’n e-boek in die hande had nog voor die papierboek via die verspreidingskanale op ’n winkelrak kon beland.
Was dit die moeite werd? O ja.
Steyn verras sy leser weer eens. Dit is nóg ’n anderster soort boek – nie eers ámper jou tipiese polisieroman nie.
Laat ek verduidelik: Twee jong latte besluit om by die polisie aan te sluit om "rigting in die lewe" te kry. Die hooffiguur, Alex Steytler, se pa is onbekend – die polisie bied struktuur aan sy lewe. Sy beste vriend, Marcel Pyper, wil nie soos sy pa ’n uroloog word nie, daarom is hy in die polisie. Maar albei is op die spanne wat die Kaapse treine patrolleer – nou nie die opwindendste polisiewerk wat roem en ’n loopbaan in die vooruitsig stel nie. Daarom droom Pyper daarvan om by die polisie se duikeenheid aan te sluit, en dit sal vir hom lekkerder en makliker wees as Alex dit saam met hom doen.
Alex hou van duik, en duik dikwels saam met Pyper aan die Kaapse kus, maar sy passie lê nie so diep nie. Hy begin egter, en daarom voer hy dit deur: Pyper is daardie soort vriend wat jou jou weerstand laat oorkom om hom gelukkig te hou.
En so beland hulle in ’n reeks situasies wat hulle ontwikkeling as polisieduikers aandui. Hulle eerste toets. Hulle eerste duik om ’n liggaam uit die water te haal. Al die praktiese ondervinding van hulle seniors wat hulle kan toepas terwyl hulle die aakligste werkies onder die polisieduikerson moet doen.
Na ’n ruk begin die leser wonder oor die boek: Dis dan nie so ’n styfgespande snaar soos wanneer ’n speurspan ’n spesifieke misdadiger probeer vastrek nie. Dit lees amper soos ’n bundel kortverhale: sketse en vertellings van duikepisodes.
En dan besef jy wat hierdie boek se goue draad is. Eintlik twee: Alex se vriendskap met sy buurvrou Trisha (en gaan dit iets meer word of nie?!), en Alex se vriendskap met Pyper. Steyn slaag daarin om hierdie twee se gesprekke so natuurlik aan te bied dat jy voel jy sit by hulle en besef hulle is boesemvriende wat korswel en spot en moeilikheid soek en saam lag. En om hierdie twee redes lees jy gulsig verder.
Steyn slaan op ’n kol jou asem weg. Jy sit daar met pieringoë en jou hart in jou hand en kyk hoe hy dieper in Steytler se emosionele wese inboor en vir jou die verskrikking en die vreugde van menswees blootlê.
Die skryfwerk bevat vele pragtige beskrywings wat my laat lekkerkry het. Soos: “Passasiers stroom uit [die trein] soos wildebeeste van die Serengeti.” Of: “Die man lyk soos ’n slaaiblaar wat heeldag op ’n kas gelê het.” Of: “Die branders kom uit soos ’n staatsklerk, traag en futloos.” Of: “Die enjin se grom is soos die eerste sluk bier ná ’n lang dag se harde werk.”
Sulke beskrywings raak nooit te veel dat dit aangeplak voel nie, maar dit beeld Steytler uit as ’n oplettende persoon met ’n kreatiewe element – en dit bepaal weer sy reaksies op gebeure in die roman, daardie sensitiwiteit wat uit sy grootwordjare kom.
.........
Steyn se navorsing oor duik kom deeglik voor – ervare duikers sal beter weet, maar ek vertrou hom. Sy uitbeelding van die Kaapse landskap laat ’n Wes-Kaapse leser uiters tuis voel – en dit versterk ook die geloofwaardigheid van die uitbeelding.
............
Steyn se navorsing oor duik kom deeglik voor – ervare duikers sal beter weet, maar ek vertrou hom. Sy uitbeelding van die Kaapse landskap laat ’n Wes-Kaapse leser uiters tuis voel – en dit versterk ook die geloofwaardigheid van die uitbeelding.
Donker water is dus ’n anderster soort polisieroman wat die leser iets laat verstaan van polisie-eenhede waarvan ons maar min weet. In sy slotnota sê Steyn dat hy graag weer by Steytler sal wil gaan inloer. Dan sou ons dalk ’n meer tradisionele polisiestorie kon kry – maar dis nie te sê nie – Steyn het ons nou al meermale verras, en ek dink nie al sy verrassings is al opgebruik nie. Ek wag met vraatsugtige gretigheid op die volgende boek oor Steytler.
Lees ook: