Dobbelary: Enkele gesigspunte

  • 0

 

Foto-erkenning: https://cdn.pixabay.com/photo/2015/10/23/15/28/game-bank-1003151_960_720.jpg

Gambling may be defined as a reallocation of wealth, on the basis of deliberate risk, involving gain to one party and loss to another, usually without the introduction of productive work on either side. (Cuturas en Kozak 2010:1091)

 

Samevatting

.............
Dobbelary is ’n gedragspatroon wat met ’n uiteenlopende spektrum gesigspunte, moreel-etiese oorwegings, teoretiese beskouings en navorsingsbevindings geassosieer word. Die tradisionele betekenis wat aan geld gekoppel word, word gedurende die dobbelproses totaal omvorm en na ’n denkbeeldige en gevaarlike “heelal van toeval” verplaas.
...............

Dobbelary is ’n gedragspatroon wat met ’n uiteenlopende spektrum gesigspunte, moreel-etiese oorwegings, teoretiese beskouings en navorsingsbevindings geassosieer word. Die tradisionele betekenis wat aan geld gekoppel word, word gedurende die dobbelproses totaal omvorm en na ’n denkbeeldige en gevaarlike “heelal van toeval” verplaas. Eties gesproke is vertrekpunte soos verdraagsaamheid teenoor individuele regte van dobbelaars totaal onversoenbaar met ’n antidobbelary teleologiese filosofie van opoffering. Probleemdobbelary is aanvanklik as ’n impulsbeheerversteuring geklassifiseer, waarna dié psigiatriese diagnostiese entiteit na die kategorie vir verslawingstoestande verskuif is. Goedgekontroleerde en portuurgeëvalueerde navorsing oor dobbelverslawing word wêreldwyd gedoen.

 

Inleidend

Dobbelary word in baie kringe beskou as ’n (dikwels omstrede) “ontspanningsaktiwiteit” wat so oud soos die berge self is. Die aanspraak word verder gemaak dat handelinge of gedrag wat met dobbelary gepaardgaan, die afskeiding van die neuro-oordraer dopamien stimuleer. Die proses vind (onder andere) in die hipotalamus van die brein plaas. Die produksie van dopamien lei na die ervaring van aangename subjektiewe emosies, soos gelukkigheid, opwinding en tevredenheid. Hierdie soort emosies word gevolglik met die fisiese handeling van dobbel geassosieer en kan dus selfs sekere gedragsmodifikasies soos preokkupasie met dobbel tot gevolg hê en ’n geneigdheid om toenemend met al groter wordende bedrae geld weddenskappe te waag.

Dit grens egter aan ooroptimisme om te verwag dat die psigofisiologiese basis vir ’n komplekse verskynsel soos patologiese dobbelary so eenvoudig sal wees. In hierdie verband sê Rash, Weinstock en Van Patten (2016): “The phenomenon of addiction is far too complex to be mediated by a single neurocircuit.” Volgens Sadock en Sadock (2003) behoort baie meer goedgekontroleerde navorsing oor die verwantskap tussen probleemdobbelary en biologiese faktore onderneem te word. Enkele voorbeelde van eksperimentele werk wat reeds belangrike bevindings opgelewer het, is die volgende:  Betroubare aanduidings bestaan dat serotonergiese regulatoriese disfunksionaliteit by probleemdobbelaars aanwesig is, terwyl lae monoamienoksidasievlakke reeds in bloedplaatjietellings van chroniese dobbelaars geïdentifiseer is.

Dobbelverslawing kan net sowel ’n simptoom wees van ’n persoon se onderliggende psigopatologie en kan nie sonder meer as ’n “aansteeklike sosiale siekte” gebrandmerk word nie (Shani, Fong, Leung, Law, Gavriel-Fried en Chhabra 2014).

...........
Wettige dobbelary hou verskeie ekonomiese voordele in, soos belastingheffings deur die staat. Verder deel dobbelinstansies en -gemeenskappe in die voordele van dobbelopbrengste in die vorm van finansiële winsneming. Daar is egter ook die “verplasingseffek” waartydens die vraag in ander sektore van die plaaslike ekonomie afplat as gevolg van die bekendstelling van casino-dobbelary.
.............

Wettige dobbelary hou verskeie ekonomiese voordele in, soos belastingheffings deur die staat. Verder deel dobbelinstansies en -gemeenskappe in die voordele van dobbelopbrengste in die vorm van finansiële winsneming. Daar is egter ook die “verplasingseffek” waartydens die vraag in ander sektore van die plaaslike ekonomie afplat as gevolg van die bekendstelling van casino-dobbelary.

Die Sun International Groep se inkomste vir die 2021-boekjaar het byvoorbeeld tot R7,8 miljard gegroei , wat ’n styging van 29% verteenwoordig (Mocke 2022). Dit word geraam dat die algehele wêreldwye dobbelmark (insluitende casino’s soos Las Vegas, Monte Carlo, Macao, Goue Kus, Groot Koraalrif, Windsor en Niagara) teen 2023 op $525 miljard te staan sal kom.

...........
Ek het die geleentheid gehad om vroeg in die tagtigerjare ’n interessante gesprek te voer met ’n groep professionele dobbelaars (bekend as ’n junket-groep)  in Las Vegas, Nevada voordat dobbelary amptelik binne die grense van Suid-Afrika toegelaat is.
...........

Ek het die geleentheid gehad om vroeg in die tagtigerjare ’n interessante gesprek te voer met ’n groep professionele dobbelaars (bekend as ’n junket-groep)  in Las Vegas, Nevada voordat dobbelary amptelik binne die grense van Suid-Afrika toegelaat is. Junketgroepe onderneem op uitnodiging georganiseerde besoeke aan die casino’s in Nevada, en kan tot 13% van die besettingskoers uitmaak. Die groeplede ontvang gratis akkommodasie, kos en drank. Indien die groeplede nie groot bedrae verwed nie, is die junketbedryf nie lonend nie. Volgens die inligting in ’n 1995-dobbelimpakstudie wat voor die Amerikaanse senaat gedien het, moes individuele lede op daardie stadium reeds minstens $2 500 per persoon aan dobbelary spandeer voordat die betrokke casino hoegenaamd enige wins uit dié stelsel maak. Onderspandeerders word nie weer as lede uitgenooi nie (United State Senate 1995).

Die onderstaande opmerkings oor die belewing van die dobbelbedryf is verkry deur middel van ’n onderhoud wat ek onlangs gevoer het met ’n persoon wat bykans vier dekades in die Suid-Afrikaanse dobbelbedryf werksaam was:

I was in the gaming industry from 1980 until 2019 (39 years). I started as a croupier, then a tables training manager and then a group tables specialist (recruitment and training). In November 1979 Sun City opened its doors. In those days being a croupier was unheard of in South Africa. It was like show business, glamorous, extraordinary, and an absolute adrenalin rush. Sun City was our very own “Hollywood and Vegas” and we were the “celebs”. Never worked so hard or had so much fun in my life. Initially it was stimulating to train as a dealer but it was not a walk in the park. The chip skills, arithmetic, standing for long hours and multitasking are skills that take a lot of dedication to master, whilst being an entertainer and maintaining high levels of customer service at the same time.  Once the “honeymoon phase” is over you operate on motor skills. Dealing with intoxicated players who are losing and become abusive becomes second nature. Until labour laws were introduced in South Africa, we worked long hours, double shifts, two weeks on with two days off and then two weeks on with four days off. It was not unusual to work 18 hr shifts flat out through peak seasons. We had a low basic salary, so to earn well our customer service had to be top notch in order to make tips. We were machines! What I found most interesting were the people, customers and colleagues in the gambling industry.  A crazy assortment of the best and worst of humans. Like any other vice, there are always problems. A mix of alcohol and gambling is toxic. Nowadays we have laws in place to monitor problem gamblers under National Responsible Gaming and the onus is on the operator to monitor, report and ban problem players.  Pathological gaming is an issue of concern but there are avenues for customers to seek help (eg counselling and self-banning). Gaming management are equipped to identify any potential problems arising in a player’s habits. The casino industry is vastly different compared with the ’80s and ’90s. Labour laws dictate hours, working conditions, wages etc. Huge casinos don’t offer the personal touch of the old days, and a more “factory” business exists now.

Abbot (2017) doen verslag oor die Wêreldgesondheidsorganisasie se forum oor dobbelverwante kwessies wat 26–28 Junie 2017 in Genève gehou is. Die kernbevindings was soos volg:

  • Oor die afgelope paar dekades is ’n massiewe en ongeëwenaarde groei in die kommersiële dobbelbedryf waargeneem.
  • Dié groei het gepaard gegaan met ’n skerp toename in probleemdobbelary.
  • Dit wil voorkom asof sosiale skade wat meegebring word deur probleemdobbelary, van dieselfde omvang is as die skade wat major depressie en alkoholmisbruik/afhanklikheid meebring.
  • Dobbelversteuring word psigiatries geplaas in die kategorie verslawings en verbandhoudende steurings en is die enigste niemiddelafhanklikheidsversteuring wat in dié spesifieke kategorie ingesluit word.
  • Ten spyte van die globale toename in morbiditeit en sosiale skade asook die lankbestaande erkenning van dobbelary as ’n geestesgesondheidsrisiko, word dobbelary nie as ’n openbaregesondheidskwessie met prioriteit gesien nie.

Dobbelary, en meer spesifiek probleemdobbelary, is ’n komplekse verskynsel wat verband hou met ’n wye spektrum psigososiale en biologiese faktore. Die doel van hierdie artikel is om die fokus te plaas spesifiek op dobbelversteuring (gambling disorder) as ’n diagnostiese entiteit deur kortliks te verwys na die simptomatologie van dobbelversteuring, enkele verbandhoudende teoretiese beginsels, en ’n seleksie van onlangse navorsing oor die onderwerp.

Dobbelversteuring as ’n diagnostiese entiteit

In die vyfde (en mees onlangse) uitgawe van die Diagnostiese en Statistiese Handboek vir Geestesiektes (DSM-5) word die diagnostiese benaming patologiese dobbelary na dobbelversteuring gewysig, onder andere om die stigma daaraan gekoppel te verminder (Substance Abuse and Mental Health Services Administration 2016). Die breë groepering waarin die entiteit dobbelversteuring tans geplaas word, is middelafhanklikheid/verslawingstoestande terwyl dit voorheen binne die breë groepering impulsbeheerversteurings verskyn het.

Vier (of meer) van die volgende simptome moet vir ’n periode van 12 maande of langer by ’n persoon aanwesig wees: preokkupasie met dobbel; die wedgeldbedrag word voortdurend aangepas en verhoog om vir die toenemende opwinding te vergoed; herhaalde mislukkings in pogings om die dobbelgewoonte te staak; hoë vlakke van rusteloosheid en irritasie; dobbel dikwels wanneer die dobbelaar terneergedruk of depressief voel; dobbel intens na groot verliese om gelyk te speel (chasing losses); vertel leuens aan die gesin, familie en terapeute oor dobbelgewoontes; vertroebeling van gesin- en/of werksverhoudings as gevolg van dobbelgewoontes; vertel blatante leuens ten einde finansiële hulp of lenings vir wedgeld te bekom.

Sadock en Sadock (2003) wys daarop dat die misbruik van middels soos alkohol en ’n breë spektrum dwelmmiddels dikwels met die voorkoms van ’n dobbelversteuring geassosieer word. In die psigiatriese praktyk word toestande soos gemoedsversteurings, aandagtekort/hiperaktiwiteit, antisosiale gedrag, en grens- en narsistiese persoonlikheidsdisfunksie ook dikwels as komorbiditeite waargeneem.

Dit is belangrik om tussen sosiale dobbelary en kliniese dobbelversteuring (DV) te onderskei. Sosiale dobbelary vind plaas binne die konteks van ’n vriendekring of vriendskapsbande en gewoonlik tydens spesiale geleenthede. Aanvaarbare bedrae wedgeld sowel as moontlike verliese word vooraf bespreek en vasgestel. DV is ’n diagnoseerbare entiteit met spesifieke kriteria op grond waarvan ’n diagnose gemaak word.

In die navorsingspraktyk word dikwels fyner onderskeidings gemaak tussen subgroepe dobbelaars op grond van die frekwensie van dobbelary: (a) niedobbelaars – het nog nooit meer as vyf keer per jaar in enige gegewe jaar gedobbel nie; (b) laerisikodobbelaars – het meer as vyf keer per jaar in enige gegewe jaar gedobbel, maar voldoen aan geen DSM-5-kriteria vir dobbelversteuring nie; (c) riskante dobbelaars – voldoen aan een of twee DSM-V kriteria vir dobbelversteuring (d) probleemdobbelary, voldoen aan drie of vier DSM-5-kriteria vir dobbelversteuring; (e) kliniese dobbelversteuring – voldoen aan vier of meer DSM-5-kriteria (Moghaddam, Yoon, Dickerson, Kim en Westermeyer 2015).

Oormatige dobbelary wat kenmerkend is van ’n persoon wat in ’n maniese fase verkeer, word verder onderskei van DV omdat die gedrag episodies van aard is en normaalweg volg slegs nadat groot bedrae geld gewen is. ’n Depressiewe fase volg hierna wanneer groot opeenvolgende finansiële verliese daarna aangeteken word.

 

Teoretiese perspektiewe

...........
Die rol van toeval en die aanwending van geld vorm twee sentrale bestanddele van enige dobbelaksie (Bjerg 2009). Indien ’n dobbelaar ’n gegewe bedrag sou verwed op die uitkoms van ’n roulettewiel byvoorbeeld, word die gewone betekenis wat geld in ’n kapitalistiese ekonomie aanneem, “uitgelig” en volgens die skrywer verplaas na ’n “heelal van toeval” (universe of chance).
.............

Die rol van toeval en die aanwending van geld vorm twee sentrale bestanddele van enige dobbelaksie (Bjerg 2009). Indien ’n dobbelaar ’n gegewe bedrag sou verwed op die uitkoms van ’n roulettewiel byvoorbeeld, word die gewone betekenis wat geld in ’n kapitalistiese ekonomie aanneem, “uitgelig” en volgens die skrywer verplaas na ’n “heelal van toeval” (universe of chance). Die belangrikheid van vaardighede word heeltemal deur blote toeval uitgeskakel en oorheers. Die tradisionele konsep en betekenis van geld word op ’n radikale manier uitgedaag. Sommige individue benader dobbel op ’n verantwoordelike wyse as bloot ’n gewone interessante tydverdryf en as ’n aspek van alledaagse lewensbedrywighede. Vir ander hou die ekstase van wen of verloor, asook die dramatiese vloei van geld wat uitsluitlik bepaal word deur die onverklaarbare rol van toeval, soveel trauma in dat dit lei tot ’n verwringing van hul persepsie van rasionaliteit. Dié situasie ontwikkel tot kompulsiewe dobbelary.

Die primêre verantwoordelikheid vir ingeligte keuses ten opsigte van deelname aan dobbelary is primêr by die individu geleë, met ander woorde daar is ’n interne lokus van kontrole, aldus Shafer en Ladouceur (2021). Die blaam vir probleemdobbelary behoort nie uitsluitlik voor die deur van sosiale strukture soos die dobbelbedryf geplaas word nie. Die dobbelbedryf stel wel verskeie voorkomende en rehabiliterende maatreëls beskikbaar om verantwoordelike dobbelary by kliënte aan te moedig, maar die finale besluit berus primêr op ’n fundamentele menslike handeling wat op ’n wilsbesluit neerkom. Tussen die prikkel (die beskikbaarheid van dobbelfasiliteite) en die finale respons (verantwoordelike of onverantwoordelike dobbelgedrag) is daar ’n ruimte. In daardie ruimte figureer ’n individu se selfbeheersing om wilsbesluite uit te oefen. ’n Realistiese en verantwoordelike wilsbesluit gaan gepaard met sielkundige groei en vryheid wat die uiteindelike respons op die prikkel(s) betref.

Die teorie van beplande gedrag (TBG) (St Quinton 2020), wat aanvanklik ontwikkel is om konsepte oor verbruikersgedrag te verklaar, word dikwels gebruik om meer insig te verskaf oor dinamika wat met probleemdobbelary verband hou (Miller 2015). Die TBG is  ’n poging om probleemdobbelary as ’n komplekse verskynsel op ’n eenvoudige, basiese wyse te verklaar sodat die teorie deur middel van eksperimentele navorsing verder getoets kan word. Die model maak voorsiening vir drie sielkundige faktore wat die intensie om te dobbel beïnvloed, naamlik houding teenoor dobbelary, die invloed van subjektiewe norme, en waargenome gedragsbeheer. Hiervolgens word ’n persoon se intensie om te dobbel sowel as werklike dobbelgedrag direk beïnvloed deur ’n positiewe (of negatiewe houding) teenoor dobbelary, die rol wat afkeuring/goedkeuring deur portuurgroepe, die gesin, die familie en omgewing speel, en ’n persoon se vertroue in sy eie vermoë om doeltreffende selfbeheer uit te oefen.

Dobbel omvat komplekse gedragspatrone en kan nie volgens een enkele toeretiese benadering sinvol verklaar word nie. Die leser word derhalwe verwys na die kwalitatief-gegronde teorie van McCormack en Griffith (2012), die teorie van selfdeterminasie (Rodriguez, Neighbors, Rinker en Tackett 2015), die dobbelarybeperkingserosieteorie (gambling restraint erosion theory) (Orford 2012), sowel as ’n verskeidenheid sosiologiese modelle, gebaseer op die werk van Max Weber oor rasionalisasie (Levy 2010), wat verdere voorbeelde is van teoretiese modelle wat gebruik word in navorsing oor probleemdobbelary.

Martin ea (2010) het byvoorbeeld die geldigheid van die TBG met behulp van ’n groep studente as steekproef (N=785) getoets. Die faktore waarvoor die teorie voorsiening maak, het die intensies en dobbelgedrag (spesifiek die frekwensie van dobbelpogings) van die studente akkuraat voorspel. Daarteenoor toon Miller en Howell (2015) se studie dat die TBG nie ’n betroubare voorspelling (deur middel van strukturele vergelykingsmodellering) lewer van ’n groep tieners se werklike dobbelgedrag nie. Die studie dui daarop dat houdings, norme en waargenome kontrole intensie om te dobbel akkuraat voorspel, maar nie noodwendig werklike dobbelgedrag nie.

Teorieë is egter nooit staties nie, en word gereeld deur nuwe inligting en konsepte aangevul en bygewerk. ’n Punt van kritiek teen die TBG is dat die model nie vir die invloed van emosionele prosesse voorsiening maak nie (St Pierre, Derevensky, Temcheff en Gupta 2015). Die hipotese is dat negatiewe geantisipeerde emosies (soos skuldgevoelens en verwyte) ’n bydraende rol kan speel in die deelname aan hoërisiko- of verslawende aktiwiteite, veral omdat individue geneig sal wees om gedrag te vermy wat na afloop van deelname aan riskante aktiwiteite tot die ervaring van negatiewe emosies aanleiding kan gee.

 

Voorbeelde van navorsing oor kliniese dobbelvesteuring (DV)

Rash, Weinstock en Van Patten (2016) wys op grond van hul oorsigstudie op die sterk verband tussen genetiese samestelling en die ontwikkeling van DV. Die proporsie variabiliteit wat aan genetika toegeskryfbaar is, wissel van 0,50 tot 0,60 en vergelyk goed met die genetiese koerse vir alkohol en die opiate. Genetiese faktore word veral geassosieer met die latere fases van die verslawingsproses (byvoorbeeld tydens verlies van selfbeheer), terwyl omgewingsfaktore ’n groter rol speel in die vroeë stadia, soos die aanvanklike blootstelling aan dobbel en eksperimentering wat daarmee gepaard gaan. Riskante omgewingsfaktore soos kinderverwaarlosing, rolmodellering deur ouers wat self dobbel, kulturele aanvaarding van dobbelary, asook die gerieflike ligging van casino’s en die aantreklike aard van pryse wat gewen kan word, word in die literatuur aangedui.

Die voorkoms van DV in die VSA is gedurende 2021 op 0,8% van die bevolking geraam (Brazeau en Hodgins, 2022). Omdat dobbelary so gewild is en terselfdertyd aanleiding gee tot finansiële en sielkundige probleme, is dit uiters belangrik dat assesseringsinstrumente verskillende vlakke van probleemdobbelary betroubaar identifiseer en klassifiseer. Die indeks vir probleemdobbelary is ’n onlangse en prominente psigometriese instrument op hierdie gebied. Die vraelys bestaan uit 17 items wat direk gebaseer is op die diagnostiese kriteria van die DSM-5. Die vraelys is voltooi deur 959 middelklas Amerikaanse burgers met ’n mediaanouderdom van 37 jaar, verteenwoordigend van beide geslagte en wat deur die aanlyn platform TurkPrime gewerf is. Uit die totale groep is 33% van die response as laerisikogevalle geklassifiseer, 33% as subdrempelrisikogevalle (sub-threshold), 17% as lig problematies, 10% as beslis problematies en 7% as ernstig problematies. Die interne konsekwentheid van die vraelys is as 0,89 en die toets-hertoets-betroubaarheid as 0,84 aangedui. Omdat beide hierdie indekse, sowel as die akkurate klassifikasie van gevalle, dui op aanvaarbare psigometriese eienskappe van die indeks vir probleemdobbelary, ondersteun die resultate van hierdie studie die voortgesette gebruik van die instrument.

’n Besluit deur ’n persoon om behandeling vir DV te ontvang kan deur verskeie struikelblokke gekortwiek word. Wieczorek en Dabrowska (2018) identifiseer verskeie sielkundige struikelblokke wat die volgende insluit: weiering om te aanvaar dat dobbel tot ’n kliniese versteuring kan ontwikkel; onbekendheid met rehabilitasiedienste; ’n opvatting dat die dobbelversteuring self opgelos kan word sonder enige professionele hulp; die skande en ontnugtering wat met ’n dobbelprobleem gepaardgaan; weiering om te erken dat ’n dobbelprobleem aanwesig is; gebrek aan begrip van die behandelingstegnieke; vorige negatiewe ervarings met behandelingsmetodes.

Die doel van (Wieczorek en Dabrowska 2018) se studie was daarop gemik om te bepaal wat motiveer mense wat met DV gediagnoseer is, om behandeling te ondergaan. Die navorsers gebruik ’n steekproef bestaande uit Poolse pasiënte (N=30) wat in Warskou gehospitaliseer is, asook 60 professionele persone wat deel vorm van die hulpverleningsprogram. Die professionele groep het psigiaters, algemene praktisyns, sielkundiges en maatskaplike werkers ingesluit. Semigestruktureerde onderhoude is met beide die pasiënte en die praktisyns gevoer. Die resultate dui op die belangrikheid van interne sowel as eksterne motiewe wanneer deelname aan behandeling vir DV oorweeg word. Die negatiewe gevolge wat gepaardgaan met ’n geskiedenis van chroniese dobbelary raak so intens dat die situasie nie meer geïgnoreer kan word nie. Die dobbelverslaafde kan eenvoudig nie meer alleen die geassosieerde problematiek hanteer nie. Gesins- en familiekonflik, sowel as finansiële krisisse en skuld, was die eksterne faktore wat die grootste rol gespeel het in besluite om vir behandeling aan te meld. Gedurende die behandelingsproses is eksterne blaamplasing dikwels suksesvol tot ’n groter interne lokus van kontrole verplaas, wat die prognose sodoende verbeter het.

’n Moontlike leemte in die metodologie van die studie was dat chroniese dobbelaars met geen rekord van vorige behandeling nie, of behandeling wat geweier is, nie in die studie ingesluit is nie.

Dit is bekend dat dobbelary ’n gewilde tydverdryf onder adolessente is (Calado, Alexandre en Griffiths 2017). Hierdie literatuurstudie oor adolessente se dobbelgewoontes en -gedrag is gemotiveer deur die wêreldwye neiging om die wettiging van dobbelary uit te bou en te versnel, asook die beskikbaarheid van nuwe metodes soos aanlyndobbel wat toenemend ontwikkel word. Die studie fokus op navorsing wat sedert 2000 wêreldwyd gepubliseer is. Die ontleding toon aan dat twee studies in Noord-Amerika, een in Suid-Amerika, een in Asië, vyf in Oseanië en 35 in Europa uitgevoer is. Die bevindings word baseer op die inligting wat in die 44 gepubliseerde artikels vervat is. Die resultate dui daarop dat 0,2 tot 12,3% van die deelnemers aan die kriteria vir DV voldoen het. Die laagste voorkoms van probleemdobbelary kom voor in Brasilië en Denemarke en die hoogste insidensie in Albanië. Die skrywers kom tot die gevolgtrekking dat die hoë voorkoms in Albanië moontlik verband hou met die kultuur en maatskaplike omstandighede in Oos-Europa en die Balkanstate, omdat die beskikbaarheid van maatskaplike dienste en multiprofessionele gesondheidsdienste daar meer beperk is as in die res van Europa.

Stein, Pretorius, Stein en Sinclair (2016) het die voorkoms van selfmoord-ideasie ondersoek by ’n groep Suid-Afrikaanse dobbelaars wat met dobbelversteuring gediagnoseer was. Die deelnemers (N=92) het die Suid-Afrikaanse Nasionale Program vir Verantwoordelike Dobbelary se hulplyn tussen Maart 2011 en Desember 2012 om hulp geskakel. ’n Retrospektiewe analise van die groep se lêerinhoude is gedoen. Daar was 32 mans en 60 vroue. Die ouderdomme het gewissel van 19 tot 72 jaar, met ’n gemiddelde van 41 jaar. Die resultate dui daarop dat selfmoord-ideasie beduidende verband hou met geslag (vroue was meer geneig tot selfmoordgedagtes en -idees), ongetroude status en werkloosheid. Intensiteit van dobbelgedrag, en komorbiede psigiatriese toestande, spesifiek depressie, asook ’n familiegeskiedenis van psigiatriese versteurings het ook betekenisvol met selfmoord-ideasie gekorreleer.                        

 

Eties-morele aspekte

Cuturas en Kozak (2010) se vertrekpunt is dat dobbelgedrag ’n veelfasettige verskynsel is. Omvattende navorsingsprojekte wat die mees relevante vakgebiede insluit (byvoorbeeld ekonomie, regte, sosiologie, biologie en sielkunde), lewer normaalweg die beste navorsingsresultate. Wat moraliteit en dobbelary betref, is daar twee uiteenlopende vertrekpunte. Eerstens kan ’n persoon doen met sy eiendom wat hy wil, behalwe as hy/sy as gevolg van dobbelary nie ander sosiale verpligtinge kan nakom nie. ’n Betreklik klein wedbedrag in ’n dobbelspel benadeel niemand direk nie en die opbrengs word normaalweg vir goeie doeleindes in gemeenskappe aangewend. Die motief is dus om ander te help en nie blote gierigheid nie. Om ’n weddenskap te wen of te verloor op grond van blote toeval is nie ’n immorele daad op sigself nie. Dit is egter immoreel om geld op die spel te plaas wat benodig word vir gesinsbehoeftes, of om geld vir iemand anders te leen om te verwed of om oneerlik in die dobbelspel te wees.

..........
Om ’n weddenskap te wen of te verloor op grond van blote toeval is nie ’n immorele daad op sigself nie. Dit is egter immoreel om geld op die spel te plaas wat benodig word vir gesinsbehoeftes, of om geld vir iemand anders te leen om te verwed of om oneerlik in die dobbelspel te wees.
...........

Shani ea (2014) verwys na hierdie benadering as die etiek van verdraagsaamheid. Die etiek van verdraagsaamheid stel individuele regte bo enige gemeenskaplike of kollektiewe belange. Die individu se reg om te dobbel word aanvaar, solank dit nie bots met die regte van ander individue nie, ten spyte van potensiële negatiewe gevolge vir hom-/haarself of vir die samelewing in die geheel.

Tweedens is daar moraliste (Cuturas en Kozak 2010; Shani ea 2014) wat die standpunt handhaaf dat die dobbelaksie op sigself immoreel is, hetsy die dobbelaar die wedgeld kan bekostig of nie. Die etiek van opoffering, wat ’n teleologiese filosofie is, verwerp die argument van bekostigbaarheid van wedgeld, omdat onderskeid getref word tussen ryk en arm. Dit wat as moreel aanvaarbaar vir rykes beskou word, word terselfdertyd as immoreel vir armes bestempel. Om te argumenteer dat dit moreel regverdigbaar is om te wen (omdat dit bekostig kan word) en immoreel om te verloor (dit kan nie bekostig word nie), kom neer op ’n drogredenasie. Dobbelspel is op sigself antisosiaal omdat die wenner se ekstase en plesier voortvloei uit die verloorder se verliese en tragedies. Geluk vir die wenner impliseer ellende en ongelukkigheid vir die verloorder.

Die etiek van opoffering handhaaf die voorveronderstelling dat die hoofdoel van openbare beleidvorming die handhawing en bevordering van maatskaplike welsyn en groepbelange is. ’n Sterk antidobbel standpunt word gehandhaaf omdat dobbelary met negatiewe persoonlike en sosiale gevolge verband hou.

 

Bibliografie

Abbot, M. 2017. The epidemiology and impact of gambling disorder and other gambling-related harm. Discussion paper. Auckland, Nieu-Seelnd: WHO Forum on Alcohol, Drugs and Addictive Behaviours.

Bjerg, O. 2009. Too close to the money. A theory of compulsive gambling theory. Culture & Society, 26(4):47- 66. DOI: 10.1177/0263276409104968.

Brazeau, BW en DC Hodgins. 2022. Psychometric evaluation of the NORC diagnostic screen for gambling problems (NODS) for the assessment of DSM-5 gambling disorder. Addictive Behaviours, 130, Julie, 107310.

Calado,F, J Alexandre en MD Griffiths. 2017. Prevalence of adolescent problem gambling: a systematic review of recent research. Journal of Gambling Studies, 33:397–424.

Cuturas, A en B Kozjak. 2010. Business ethics and gambling. Zagreb: University of Zagreb, Faculty of Economics and Business.

Levy, M. 2010. Toward a Weberian theory of gambling: the rationalization of legal gambling in Israel. International Gambling Studies, 10(3):89–97. https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/14459795.2010.516761.

McCormack A en MD Griffiths. 2012. Motivating and inhibiting factors in online gambling behaviour: A grounded theory study. International Journal of Mental Health Addiction, 10:39–53. DOI 10.1007/s11469-010-9300-7.

Miller, R en G Howell. 2015. A test of the theory of planned behavior in underage lottery gambling. ANZMAC 2005 Conference: Consumer Behaviour. https://www.researchgate.net/publication/267959579.

Mocke, L. 2022. Sun International SunBet oes spelers in. Aanlyn weddenskappe, dobbel help groep herstel. Die Burger, 15 Maart, bl 13.

Moghaddam, JF, G Yoon, DL Dickerson, SW Kim en J Westermeyer. 2015. Suicidal ideation and suicide attempts in five groups with different severities of gambling: Findings from the National Epidemiologic Survey on Alcohol and Related Conditions. The American Journal on Addictions, 24:292–8. DOI: 10.1111/ajad.12197.

Orford, J. 2012. Gambling in Britain: the application of restraint erosion theory. Addiction, 107(12):2082–6.

Rash, CJ, J Weinstock en R van Patten. 2016. A review of gambling disorder and substance use disorders. Substance Abuse and Rehabilitation, 7:3–13.

Rodriguez, LM, C Neighbors, DV Rinker en JL Tackett. 2015. Motivational profiles of gambling behavior: self-determination theory, gambling motives, and gambling behavior. Journal of Gambling Studies, 31:1597–1615. https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1007/s10899-014-9497-7.

Sadock, BJ en VA Sadock. 2003. Synopsis of Psychiatry. Behavioral Sciences / Clinical Psychiatry. Philadelphia: Lippencot, Williams & Wilkins.

Shafer, HJ en R Ladouceur. 2021. Moving away from individual responsibility: a comment. Journal of Gambling Studies, 37:1071–8 https://doi.org/10.1007/s10899-021-10046-x.

Shani, A, LHN Fong, D Leung, R Law, B Gavriel-Fried en D Chhabra. 2014. Ethics of gambling? Tourism Recreation Research, 3 (3):453–86. DOI: 10.1080/02508281.2014.11087011

Stein, GN, A Pretorius, DJ Stein en H Sinclair. 2016. The association between pathological gambling and suicidality in treatment-seeking pathological gamblers in South Africa. Annals of Clinical Psychiatry, 28(1):43–50.

St Pierre, RA, JL Derevensky, CE Temcheff en R Gupta. 2015. Adolescent gambling and problem gambling: examination of an extended theory of planned behaviour, International Gambling Studies, 15(3):506–25, DOI: 10.1080/14459795.2015.1079640.

St Quinton, T. 2020. A reasoned action approach to gambling behavior. Cogent Psychology, 7(1). https://doi.org/10.1080/23311908.2020.1857104.

Substance Abuse and Mental Health Services Administration. 2016. Impact of the DSM-IV to DSM-5 Changes on the National Survey on Drug Use and Health [Internet]. Rockville (MD): Substance Abuse and Mental Health Services Administration (US); 2016 Jun. Table 3.38, DSM-IV to DSM-5 Gambling Disorder Comparison. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/books/NBK519704/table/ch3.t39.

United States Senate. 1995. One hundred fourth congress. First session on S. 704 to establish the gambling impact study commission. Riverside: University of California Library.

Wieczorek, L en K Dabrowska. 2018. What makes people with gambling disorder undergo treatment? Patient and professional perspectives. Nordic Studies on Alcohol and Drugs, 35(3):196–214.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top