DJ Opperman 100 jaar: Dorothea van Zyl se bydrae

  • 1

Die digter DJ Opperman sou op Maandag 29 September 2014 honderd jaar oud geword het. Onlangs het die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch 'n feesvieringsgeleentheid in die Wilcocksgebou op die kampus aangebied waar sy menslike nalatenskap geëer is. Dorothea van Zyl (organiseerder en aanbieder van die aand) deel haar bydrae by dié geleentheid.

Hartlik welkom by hierdie viering van Dirk Opperman se lewe vanaand. Hoewel Opperman op 29 September 100 jaar gelede gebore is, dit wil sê oor ’n week, val hierdie herdenking saam met sy sterfdag op 22 September 1985, 29 jaar gelede. Ons huldig hiermee saam ook sy merkwaardige vrou, Marié Opperman, met haar sterk en aangename persoonlikheid, wat hom deur baie jare gedra het.

Dit is vir ons ’n voorreg om hierdie twee belangrike dae te herdenk in die saal waar Opperman se oudstudente hom die eerste keer leer ken het as dosent. Ons dank aan ons kollegas wat die saal en fasiliteite gratis beskikbaar gestel het vir die geleentheid.

Baie dankie ook aan Jana Hattingh, Woordfeesprojekbestuurder, en Liana Roos, departementele kantoorbestuurder, vir hulle groot aandeel in die aand; asook die assistente, klank (Creative Gear); Francois Retief van iono.fm, wat ’n potgooi kom maak van die aand; Jacques Ensink vir die foto’s, ens. Die Power Point- (flits-) aanbieding, potgooi en foto’s sal agterna beskikbaar wees op die webwerwe van die Departement Afrikaans en Nederlands en die US Woordfees.

Baie welkom aan alle kollegas, studente, lede van die publiek, onder andere aan Caro Wiese vir haar belangstelling en bydrae tot die genot van die aand. Baie welkom veral aan ons deelnemers, naamlik (in volgorde van optrede):

Dorothea van Zyl, assistent, magisterstudent van Opperman

Louise Viljoen, wat praat namens die Departement waarvan Opperman deel was

Trienke Laurie, Opperman se oudste dogter en ook ’n digter

André P Brink, onder meer samesteller van Groot verseboek ná Opperman. Opperman het van Brink se romans met sy studente bespreek.

Lina Spies, student, assistent en kollega, wat ’n proefskrif oor Opperman se poësiegeskryf het, en self ’n bekende digter

Chris van der Merwe, verbonde aan UK, assistent van Opperman

Etienne Britz, jare lank saam met Opperman in die Departement Afrikaans en Nederlands in verskillende hoedanighede

Johann Nel, wat ’n seleksie van Opperman se verse lees

Diederi Lippstreu, Opperman se jongste dogter

Wium van Zyl, assistent van Opperman vir twee jaar, en magisterstudent, wat ’n gedig lees wat na Opperman se begrafnis geskryf is                               

Ronel de Goede, in Opperman se letterkundige laboratorium, en self ’n digter

Bertie du Plessis, in verskillende hoedanighede nóú betrokke by Opperman gedurende sy tyd in die Departement: student, het waargeneem in Opperman se plek met sy eerste groot siekte, hom geteken, ens

Joan Hambidge, Opperman se laaste assistent; digter, wat ’n spesiale gedig vir die geleentheid geskryf het.

Van al my dosente op Stellenbosch het Opperman (’n gepaste naam, want hy het as groot gees bo sy tydgenote uitgetoring) die grootste vormende invloed op my as letterkundige uitgeoefen.

Voorgraads het ek altyd heel voor gesit in die groot saal van die Wilcocks-gebou, want Opperman was nooit ’n vlot spreker nie en moes destyds boonop klas gee sonder ’n mikrofoon. Sy soms hortende woorde het egter die Afrikaanse poësie so insiggewend ontsluit dat dit nog jare later as rigtinggewers in my eie lesings sou dien.
As derdejaar in sy letterkundige laboratorium, as honneursstudent, as sy assistent én magisterstudent het ek nader kennis gemaak met Opperman se ratse intellek. Met enkele verrykende en verreikende sinne is die koers van ’n studie of bespreking meermale herbepaal. Dit is by ons ingegrif dat lomp woordherhaling onaanvaarbaar is en woordekonomie belangrik. En die enigste vereiste wat ooit aan die letterkunde gestel mag word, is dat geen vereistes gestel mag word nie – ’n mens praat van “verwagtinge”.

Dit was ’n voorreg om Dirk Opperman en sy eggenote, Marié, as mense te leer ken tydens kuiers by hul huis. In die laat 1979’s, na sy “heropstanding”, was dit ’n belewenis om te sien hoe dinamies hy kon wees.

Ook omdat Opperman deur die jare as dosent en mentor telkens klippe uit my pad help rol het, was dit ’n voorreg om op 22 September, die herdenking van sy sterfdag, en ’n week voor sy 100ste verjaarsdag, vir hom ’n spesiale aand op Stellenbosch te kon aanbied, met verskeie sprekers wat kom vertel het hoe hy ook húlle lewens aangeraak het.

Sprekers is telkens tussendeur aangekondig en die program het met tussenposes verskyn as deel van ’n Power Point- (flits-) aanbieding saam met feite oor Opperman se lewe, loopbaan, publikasies, ens. Dit was ’n informele, vrolike tipe aand, met ’n kaleidoskoop van sprekers en indrukke om die digter, dramaturg, dosent, kritikus, keurder en veral die mens Opperman se lewe te vier.

Ek wil vanaand veral twee staaltjies vertel. Dis wel interessant hoe klein menslike trekkies dikwels langer in die geheue bly steek as ernstige dinge wat gesê word. So kan ek onthou hoe ek en Wium as studente ons lank verkneukel het daaroor dat mev Marié Opperman verstik het een aand toe ons as studente by die Oppermans onthaal is (’n wonderlike tradisie in daardie jare). Hy klap haar toe op die rug en sê “Silly haas!”

Verder het ons lekker gelag in ons honneursjaar, toe Annette Theron (en later ook WEG Louw self) ons vertel hoe die vier ou grotes – die professore Opperman, WEG Louw, Willem Kempen en Meyer de Villiers (wat die studente ewe oneerbiedig Meyer Miv genoem het) – by ’n puntevergadering besluit om een stoel op te skuif. Die onhandige Meyer de Villiers skuif toe met stoel en al – en daar verdwyn WEG Louw plotseling heeltemal uit die oog soos hy op die grond gaan sit (sy weergawe was dat hy gelukkig so fiks was van sy daaglikse swem op Sondraai dat hy onmiddellik weer veerkragtig opgebons het!). Opperman het glo daarna die hele tyd soos ’n ondeunde skoolseun sit en giggel!

Ter afsluiting van my deeltjie, ’n kort en baie gepaste fragment uit ’n gedig van Zandra Bezuidenhout, ons eie Stellenbosse geleentheidsdigter:

Intussen klink die Groot-Groot-Gees
in verseboeke, lesingsale en programme;
enkeles hoor snags in dennenaalde
die geruis van fyn stellasies woord.

Laat dit vanaand ook so wees. Lekker luister – ons hoop daar is vanaand iets aanwesig van die Groot-Groot-Gees van DJ Opperman.

Lees ook Wium van Zyl se bydrae.
Lees ook Etienne Britz se bydrae.
Lees ook Joan Hambidge se bydrae
.
Lees ook Chris van der Merwe se bydrae.
Lees ook Lina Spies se bydrae.

DJ Opperman 100 jaar: In klank en beeld.

 

  • 1

Kommentaar

  • Dorothea,
    Ek glo dat jy miskien sal belangstel. Ek het 'n eerste uitgawe van "Periandros" (1954) Daar is slegs 50 eksemplare gedruk deur Nasionale Boekhandel. Dirk het die boek onderteken en aan Miggie/Wiggie 'n boodskap geskryf vanuit Kraaines op 16 Julie 1954.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top