DJ Opperman 100 jaar: Chris van der Merwe se bydrae

  • 0
DJ Opperman (bron: Wikipedia)

Die digter DJ Opperman sou op Maandag 29 September 2014 honderd jaar oud geword het. Onlangs het die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch 'n feesvieringsgeleentheid in die Wilcocksgebou op die kampus aangebied waar sy menslike nalatenskap geëer is. Chris van der Merwe deel sy bydrae by dié geleentheid.

Toe ek by Opperman klas geloop het, was hy vir ons ’n lig in die duisternis. In ’n tyd toe literêre kritieke meestal impressionisties was, het hy ’n groot indruk op ons gemaak met sy enorme belesenheid en gegronde literêre oordeel. Dis nie dat daar geen kritiek op sy lesings was nie. In die voorgraadse jare was die klasse so groot dat daar nie ruimte was vir die studente om self te ontleed en selfstandige denke te ontwikkel nie. Jy het maar mooi geluister wat die professor sê en in die eksamens en toetse probeer om dit so getrou moontlik weer te gee. Ek kon nie anders as om dit te vergelyk met my Engels-kursus nie, waar ons naarstig “practical criticism” beoefen het en waar ons geleer het om ’n eie, gemotiveerde oordeel te vorm oor wat goed is en wat swak is. Ons was in die Engels-klasse soos wat Gerard Reve van homself gesê het: “Ik weet niet alles, maar ik heb een mening over alles.” Dit het ons nie in die Afrikaans-klasse gekry nie.

Maar in my honneursjaar in Afrikaans-Nederlands was dit ’n ander storie. Ons was net drie in die klas, toe kon ons oefening kry in literêre ontleding en kon ons Opperman van naby meemaak as dosent en mentor. Hy het ons geweldig beïndruk met sy kennis en insig. Wat meer is, hy het sy kennis in samehangende gehele oorgedra. Ons het nie net geleer van individuele literêre tekste nie, maar ook van oeuvres, strominge en periodes. Ons het geleer van literêre teorie, van Wellek en Warren, en van “the amount and diversity of material integrated”. Hierdie dinge het ons nie by Engels gekry nie, en dit het my ’n lewe lank bygebly.

Daardie jaar was vir my die belangrikste jaar van al my studiejare. Dit het my ’n belangrike besluit laat neem. Ek was toe die assistent van Meyer de Villiers, dosent in taalkunde, en my plan was om verder in die taalkunde te studeer. Dit is deur Opperman se toedoen dat ek besluit het om my meestersgraad in die letterkunde te doen. Dit is nou nie dat ek gedink het taalkunde is nie interessant nie, maar die ryke veld waar Opperman my ingelei het, het ’n onweerstaanbare aantrekkingskrag vir my gekry.

Ek wil vanaand vertel van drie terloopse opmerkings wat Opperman gemaak het wat in my geheue bly vassteek het. (Laat dit ’n waarskuwing wees vir dosente en onderwysers – studente en leerlinge onthou dikwels jou terloopse opmerkings beter as die dinge waarop jy soveel klem gelê het. Wees versigtig met wat jy so in die verbygaan kwytraak.) Die eerste opmerking was op ’n dag in die honneursklas. WEG Louw het die oggend Patrick White se roman Riders in the chariot in Die Burger bespreek (Louw was toe kunsredakteur van die koerant). Ons drie honneursstudente het niks nie, of min, van Patrick White geweet, en Opperman het ons gemaan om ’n lysie te maak van boeke wat ons wil lees en behoort te lees. Wanneer jy ’n boek op die lys klaar gelees het, kan jy dit deurstreep, het Opperman gesê. Ek het my lysie gaan maak en White se roman daarop geskryf. Eers lank daarna het ek by Riders in the chariot uitgekom, en dit was een van die groot leeservarings in my lewe – danksy Opperman se lysie.

Die tweede terloopse opmerking: Opperman het ons geleer dat as daar ’n bepaalde suggestie in ’n gedig voorkom, ons dit moet onthou, maar nie ons ontleding daarop baseer nie – nie wanneer daar slegs een so ’n suggestie is nie. Wanneer daar ’n tweede suggestie met dieselfde strekking is, dra die twee saam groter gewig. Maar dit is eers as daar drie tekens is wat in dieselfde rigting wys, dat jy ’n ontleding op grond daarvan kan maak. Vir jong studente, wat so maklik persoonlike assosiasies op ‘n gedig afdwing, was dit goeie raad. Dit gaan nie om wat jy vir die gedig wil sê nie, maar om wat die gedig vir jou wil sê.

Die derde terloopse opmerking is gemaak op die aand dat daar van Duke Erlank afskeid geneem is. Opperman was die spreker, en hy het genoem dat Erlank die eerste was wat ’n belangrike waarneming in verband met Raka gemaak het. Erlank het naamlik daarop gewys dat Raka aan die einde van die epos, nadat hy vir Koki verslaan het, uit ’n waterbak drink – dat hy nie meer soos vroeër uit watergate gesuip het nie. Dit beteken, het Erlank gesê, dat Koki tog in ’n sekere sin die laaste woord gekry het – die primitiewe Raka het onder die invloed van die beskawing van Koki begin kom; ’n nuwe fase in die ontwikkeling van primitiwiteit tot beskawing is aan gang gesit.

En toe het Opperman ’n woord gebruik wat ek nie kon vergeet nie. Hy het gesê Erlank het iets raakgesien wat al die “teksluise”gemis het. Dit was ’n interessante beeld – in ’n sekere sin het Opperman van ons teksluise gemaak: hy het ons geleer om ons aandag op die teks alleen te rig; om te vergeet van dinge buite die gedig om, soos die skrywer of die leser; om te probeer om so veel betekenis as moontlik uit die teks te haal. Maar die beeld het ook die suggestie van ’n waarskuwing bevat: wees versigtig om nie so te suig en te suig aan die teks dat dit later bloedloos agtergelaat word nie.

Vanaand wil ek dan my klein hulde aan DJ Opperman bring – die man wat my gelei het na ’n loopbaan in die Letterkunde, en wat my geleer het van die waarde én die beperkings van teksluise.

Lees ook Wium van Zyl se bydrae.
Lees ook Etienne Britz se bydrae.
Lees ook Joan Hambidge se bydrae
.

Lees ook Lina Spies se bydrae.
Lees ook Dorothea van Zyl se bydrae
.
DJ Opperman 100 jaar: In klank en beeld.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top