
Ma skryf matriek, wat Dinsdagaand in Gqeberha se Savoy-teater geopen het, was twee uur van onverdrote pret. Selfs my liewe Engelssprekende vriendin, Melissa, het haar gate uit geniet, al het sy die advertensie verkeerd verstaan. Melissa werk by ’n baie bekende skool en het gedink die storie sal handel oor “a typical helicopter mom, one of those we deal with every day”.
Toe nie.
Die storie

Emercia de Lange as Bella en Cobus Lombard as Sias
Sias Taljaard is die ondervoorsitter van die Pampoenraad. Hy is dus ’n belangrike man, in sy eie oë.
Sias se vrou, Bella, het hy swanger gemaak voor sy matriek kon skryf. Nou, terwyl hy hoop om eendag die voorsitter van die Pampoenraad te word, pla dit hom dat sy vrou nie so geleerd is as hy nie. Hy het immers sy BCom behaal terwyl sy doeke geruil het.
Sy dilemma is nou ooglopend: ’n Belangrike man se deugdelike vrou moet haar mond hou wanneer hy doktore en professore oornooi, maar gaste hou daarvan om met Bella te gesels.
Gelukkig het Bella ’n aantal ander deugde: Sy kan kos kook. Haar soetkoekies is voortreflik. Sy is ook die ma van ’n dogter op universiteit en ’n seun in matriek.
Maar ai, dan maak sy haar mond oop.
Nadat haar man, die gemelde ondervoorsitter van die Pampoenraad, haar weer eens verkleineer ná nog ’n voortreflike partytjie, besluit Bella dis nou genoeg: Sy gaan nou haar matriek skryf.
Bella maak haar spaarvarkie daarvoor leeg. Wanneer ’n slim doktor, die hoof van ’n korrespondensiekollege, boonop aanbied om haar privaat te onderrig, is die saak reg. Bella begin werk aan haar matriek.

De Lange en Daneel Strydom as doktor Smal
Dis ook nie te lank nie, of Bella begin die foute in die slim doktor se studienotas raaksien. Sy is toe nie so dom soos almal gedink het nie.

De Lange en Mariné Botha as die skindertongbuurvrou
Alles gaan goed, tot die besonder sexy buurvrou onraad vermoed oor die man, die heer doktor, wat so gereeld kom inloer.
Meer gaan ek nie sê nie. Gaan kyk die stuk self; kaartjies is te koop deur Quicket.
Julle gaan lag.
Amateurs? Hulle is baie deeglik afgerig
Om komedie goed te doen is moeilik. Hierdie span het dit reggekry. Ma skryf matriek is deur die ATKV-tak PEAAT opgevoer.
PEAAT staan vir Port Elizabethse Afrikaanse Amateur-toneelvereniging.
Moenie die fout maak om amateur aan swak gelyk te wil stel nie. Hierdie ouens het baie hard gewerk en die regisseur, Marlene Thomasse-Pieterse, het hulle tot ’n gedugte ensemble geslyp.
PEAAT se akteurs is boonop mense wat gereeld hulle liefde vir die verhoog kom uitspeel. Hulle mag dus ander werke ook hê, maar elkeen van hulle verstaan wat dit verg om ’n rol goed te vertolk.
Hierby is Thomasse-Pieterse ’n professionele teaterafrigter en regisseur. Onder haar spelleiding was die spelers se tydsberekening baie oortuigend. Komedie staan of val by die akteurs se vermoë om op presies die regte oomblik die regte woorde te spreek, of aksies te neem. Thomasse-Pieterse het dit in hulle ingedril.
Ruan Wessels ook op die verhoog
Ruan Wessels het die tienerseun, Neelsie, gespeel wat ook matriek probeer deurkom, saam met sy ma. Ruan is geen amateur nie en is bekend vir sy rolle in televisie- en filmproduksies soos Hoofmeisie, Kampterrein, Binnelanders en Wyfie.

Ruan Wessels as die tienerseun, Neelsie, met De Lange
Dit was nogal interessant dat sy rol betreklik klein is. Hy doen dit egter bitter goed, al het hy minder as ’n week gelede by die groep aangesluit.
Ek het na die tyd vir hom gevra of hy al tevore in ’n Afrikaanse klug gespeel het. Nee, maar hy het wel al saam met David Minnaar en André Stoltz in ’n Engelse klug gespeel.
Dit is lekker om so ’n talentvolle akteur saam met die minder-bekende gesigte op die verhoog te sien, maar in alle eerlikheid was hy gewoon deel van ’n puik ensemble.
Hoe was dit om met hierdie ouens saam te span? wou ek na die tyd by hom hoor. Sy antwoord was dat die res van die akteurs dit duidelik geniet het, en die gehoor ook. Daarom was dit vir hom ook ’n heerlike, positiewe ervaring.
Kon hulle dus die gehoor hoor? Jip, hulle kon, sê hy; en veral wanneer hulle agter die skerms was, kon hy na die gehoor se reaksie luister.
Oud maar steeds so deksels relevant
Ek het ook die gehoor geniet. Kort na die stuk begin het, kon ek twee mense met mekaar hoor gesels oor watter tydvak hier gedek word. Dit beteken twee dinge: Een, die gehoor is gefassineer. Twee, dit maak minder saak, want die stuk is steeds relevant.
Ons leef nou weer in ’n tyd waarin genderstudies al hoe meer misken word, want oranje trolle het dit weer aanvaarbaar gemaak vir mans om hulself as verhewe te beskou. Dit is die man se brein wat belangrik is, word ons vertel deur die ondervoorsitter van die Pampoenraad, terwyl dit sy vrou is wat hul seun met sy huiswerk moet help.
Hierdie stuk deur Louis de Villiers, eens ’n hoogleraar in chemiese patologie, moes iewers in die sestigerjare geskryf gewees het – ek kon nie uitvind wanneer nie, maar hulle praat nog van voet as ’n afstandaanduider. Talle van die rade waarmee hier gespot is, kom uit die jare sestig as deel van die sosialistiese wit droom.
Ons weet egter dat hierdie stuk opgevoer is deur Truk (nóg ’n Raad) en in 1975 en deur Frans Marx verfilm is.
Ma skryf matriek steek behoorlik die draak met die diknekke uit die Afrikanermiddelklas, ook die Afrikaner se desperate liefde vir grade en titels. Diegene wat PG du Plessis se veel latere komedie, ’n Seder val in Waterkloof, onthou, sal weet hoekom hierdie stuk so goed die kol getref het. Dit is dan ook geen wonder nie dat Frans Marx beide stukke in films verwerk het.
Waar PG du Plessis ons na die Afrikaner-adel se voorkamer geneem het, neem Louis de Villiers se stuk ons na die sit- en eetkamer van die Afrikaner-middelklas.
En dis die punt. Ons kén die mense op die verhoog.
Al is die kleredrag van toeka, al is die stel keurig saamgestel uit oudhedewinkels, en al is woorde soos matesis nie meer in gebruik nie, is hierdie stuk weer totaal relevant in vandag se lompe teruggryp na die opheffing van platpotige patriargie.
Oor die woord matesis dalk die volgende opmerking: Jané de Wet, die verhoogbestuurder, het my vertel die groep het gewonder of hulle die term na wiskunde moet verander. Gelukkig het hulle nie. Almal in die gehoor kon dit verstaan en die effens verhewe klankie daaraan spot weer goedig met vandag se Afrikaners wat alte bang is vir ’n Latinisme in ons mooi taaltjie. Ons slim mense dink mos dis ’n anglisisme.
Meer nog: Een van die matesisprobleme moes met loglyste opgelos word. Nou ek het nog met loglyste gewerk, maar die meeste van die gehoor was veels te jonk daarvoor. Hulle het egter toneel verstaan.
Ek onthou ook nog die dae van die Vleisraad en die Wolraad; Dinsdagaand het die Pampoenraad my laat skater. Daardie rade was die Nasionale Party se sosialistiese pogings om pryse te reguleer. Die meeste mense in die gehoor sou, weens hul ouderdom, nie hierdie verwysings gesnap het nie, tog het dit hoegenaamd nie saak gemaak nie. Die gehoor het gelag vir Sias Taljaard en doktor Smal se selfvoldaanheid. Dít het almal verstaan. Middelklas Afrikanermans wat hulself verhewe ag bo ander, is ongelukkig in 2025 steeds so relevant as in die jare sestig.
Rolverdeling
Ek is nie seker wie vir die rolverdeling verantwoordelik was nie, maar die spelers is goed gekies.
Emercia de Lange in die hoofrol het simpatie gewek én mense laat lag. Dit was ’n rol wat baie harde werk geverg het, en wragtie, dit was goed om haar dop te hou. Applous aan die “ma”.
Cobus Lombard het absoluut die rol van die selfvoldane ondervoorsitter van die Pampoenraad sy eie gemaak. Ek het hom baie geniet.
Daneel Strydom was deeglik snaaks as die benepe, maar vryerige doktor Smal.

De Lange en Melandri Koekemoer as Annatjie
Melandri Koekemoer as Annatjie, Sias en Bella se dogter, het ’n moeilike rol gehad, want soms moes sy totaal simpel wees, ander kere ’n verliefde student, en net daarna weer die ondersteunende dogter. Sy was baie geloofwaardig.
Ruan Wesels, as die tienerseun, was lekker om waar te neem, en Riaan Erasmus het die klein rol van Johan, wat na die dogter gevry het, deeglik benut.
Mariné Botha, as die skindertongbuurvrou, het die gehoor om haar slanke pinkie gedraai.
Die radiostemme van die sepie, wat voortdurend as spieël van die aksie op verhoog ter sprake gekom het, is gespeel deur Jané de Wet, Christie Swanepoel en Liano Rossouw.
Alicia Botha was die telefoonstem.
Die stel en die kostuums
Ma skryf matriek verg ’n groot, realistiese stel, wat met liefde en oortuiging deur David Jordaan en Alicia Botha aanmekaargesit is. Die meubels is keurig versamel.
Die stuk het ook geweldig baie kostuumverwisselings vereis, en nogeens het almal se klere oortuig.
Dewald Vermeulen het die klank en beligting behartig, terwyl Jané de Wet die verhoogbestuurder was.
Melandri Koekemoer was verantwoordelik vir ’n baie mooi program, wat ongelukkig by keuriger taalversorging kon gebaat het.
Chris Gertsch en Bianca Strydom het die fotografie behartig.
Outyds? Nee, dis lekker vir nou
Ons is deesdae bederf om wêreldklas stukke in Afrikaans op ons kunstefeeste te sien.
Ek weet egter daar is mense wat steeds dink Fritz Steyn se Die wildsboudjie is die hoogtepunt van Afrikaanse toneel. Gelukkig stem nie almal saam nie.
Maar dan kom oorrompel ’n klug soos hierdie jou en jy besef: Daar is redes waarom Shakespeare so graag komedies geskryf het, en ook waarom PG du Plessis se komedies mense in hul duisende na die teater gelok het.
Aan die begin van die stuk nooi ’n stem jou om jou selfoon af te skakel en van jou probleme te vergeet terwyl jy jou kan verlustig in die Taljaard-gesin se dilemmas. Ek kan dit nie beter stel nie.
My vriendin Melissa, wat uit ’n teatergesin kom, het die gehoor se belewenis van die stuk net soveel geniet as ek. Sy stem saam, dit is waaroor teater gaan: ’n Heerlike komedie is vermaak vir almal, maar wys ook vinger.
Bespreek nou. Ma skryf matriek is vet pret en die Savoy-teater is ’n besonder goeie ruimte om dit in te beleef.
Kaartjies kan by Quicket gekoop word, of bespreek word by 082 632 4858. Maak ’n draai as jy in of naby die Baai woon.
- Fotografie: Izak de Vries


Kommentaar
Baie geluk PEAAT, die talentvolle spelers en die alombekende Marlene Thomasse-Pieterse. Laat my weer terug dink aan die 80's met Kanna ko huistoe, Andorra, Drie Engeltjies op Duiwelseiland en vele meer! Doen gerus so voort.