Dis 2019. Maak dit regtig nog saak as ’n mooi man gay is?

  • 17

Foto van Armand Aucamp deur Edrea du Toit van Rapport

(Geskryf na aanleiding van die reaksie op Armand Aucamp se onthulling.)

Sinkronisiteit. Wanneer toeval nie toevallig is nie. Hierdie afgelope week was vir my ʼn studie in sinkronisiteit.

Heel eerste doen ek ʼn reeks opvoedkundige video’s oor menseregte. Onder andere praat ek oor diversiteit, verdraagsaamheid, om ander se waardigheid te eerbiedig, regte wat in die Grondwet beskerm word, ens. In die gender-komponent praat ek oor gender as ʼn sosiale konstruk: manlikheid, vroulikheid, hoe daar van die geslagte verwag word om op te tree.

Kort daarna word ek tydens ʼn radio-onderhoud oor my regswerk gevra oor my mening of kerke mense behoort uit te sluit op welke grond ook al. Die kort weergawe van my antwoord: Nee. (Gaan luister gerus na Lizelle de Bruin se Sondagoggend-program op RSG vir die volledige gesprek.) Maar ek werk ook al lank genoeg met kerke om te weet dis nie heeltemal so eenvoudig nie.

ʼn Dag of wat daarna lees ek verskillende berigte oor twee groot Amerikaanse kerke wat op die punt staan om te skeur oor die keuse van individuele gemeentes om hul kerke oop te stel vir gay leiers. Die een is die Uniting Methodist Church, veronderstel om ultraverlig te wees. Die ander, verrassend genoeg, is die Mennoniste.

Saterdag eet ek en twee vriendinne in ʼn gesinsrestaurant op my tuisdorp – een van daais met die aparte speelkamer vir kinders. Daar is een seuntjie van seker so 2, hoogstens 3. Hy speel so half lusteloos met die speelgoed, en ek kom agter hy is verveeld. Hy sou veel eerder met maatjies wou speel. My een vriendin, self die ma van twee volwasse seuns, ken die seuntjie en sy ma. Dis ook nie lank nie of die ma kom soek haar kind. My vriendin probeer haar gerusstel met woorde met die strekking dat hy rustig is, hy speel nou lekker met die pop.

My aandag was tot op hierdie oomblik nie regtig by hulle gesprek nie. Die ma se reaksie het my laat opkyk. “Nee!” roep sy uit, “tog nie pop nie. Hy mag nie pop speel nie.” En sy’s met ʼn vaart speelkamer toe om die pop te gaan afvat.

Die kind is 2. Of 3. Sulke klein kindertjies het nog geen konsep van seksualiteit nie. Sy keuse om met die pop te speel was net omdat daar nie ander interessante speelgoed, of speelmaatjies, was nie. Nie dat ek dink dis aanduidend van iets fout as seuntjies pop speel of dogtertjies karretjies ry nie. Ek dink wel daai ma het haar kind iets geleer: Mamma ignoreer my, maar as ek met poppe speel, kry ek aandag by Mamma. Hy gaan weer pop speel.

Dit gaan nie regtig oor die popspeel nie. Vir my was die ma, ʼn jong vrou wat haar hele jong lewe in demokratiese Suid-Afrika deurgebring het, se reaksie skokkend. Sy’s ʼn onderwyseres, en sy glo nog steeds popspeel gaan haar kind gay maak? In 2019?

En toe kom Aucamp se onderhoud in Rapport, waartydens hy uit die kas klim. Ek ken hom glad nie. Ek weet nie hoe oop hy sy lewe andersins lei nie. Baie bekendes is openlik gay in hul vriendekring en familie, maar maak nie noodwendig bekentenisse in konserwatiewe Sondagkoerante nie.

Ek moet tot my skande erken dat ek dadelik twee goed gedink het. Die eerste: sy kookboek se verkope was seker ʼn oorweging. Na die Bles-Bridges-is-my-pa-episode is ek maar wantrouig as bekendes se keuse om die publiek in hul vertroue te neem, met ʼn nuwe projek saamval.

Die tweede ding wat ek gedink het: Is dit toevallig dat die onderhoud op die laaste dag van Cape Town Pride verskyn? Ek kan net dink hoe crazy die Pride-partytjie daarna geraak het. In Aucamp se guns moet ek byvoeg hy sou seker nie veel beheer gehad het oor wanneer die berig verskyn nie.

En toe wonder ek oor my eie reaksie. Hoekom was ek dadelik sinies? Ek ken hom nie, en die mense wat hom wel ken, stem saam dat hy voor en weg van die kameras ongelooflik gaaf en down-to-earth is.

Maak dit regtig nog saak in 2019 of ʼn mooi man, en Aucamp is dit beslis, gay is? Is dit regtig nog nodig vir bekendes om formele statements te maak oor seksualiteit? Wie gee om?

Gemeet aan die negatiewe kommentaar op sosiale media gee baie wél nog om. Almal van agter die boereworsgordyn, lyk dit. Miskien is dit tannies wat gehoop het hulle kan hul dogters aan ʼn hubare jong man afsmeer. Cheer up, anties, nou het julle seuns ʼn kans!

Die negatiewe reaksie het my diep onder die indruk gebring van hoe dapper sy besluit was. Hy moes tog seer sekerlik die koste bereken het en besef het nie almal gaan bly wees en hom ondersteun nie. Nie in Suid-Afrika nie. Ons word groot op ʼn dieet van onverdraagsaamheid, haat, nyd en onderdrukking van die Ander.

Maar wie weet, dalk is daar iewers in Giepiegorra ʼn jong seun wat homself nie gaan ophang nie, want as Armand Aucamp gay en oukei is, dan is daar hoop vir hom.

Daar is ʼn nuwe Netflix-advertensie wat ek nou vir die eerste keer gesien het, met Uzo Aduba van Orange is the new black. Dit begin met die woorde: “Have you ever walked into a room, and seen nobody who looks like you?” Die advertensie is ʼn uitnodiging tot groter diversiteit in hoe stories vertel word, en meer belangrik, wie toegelaat word om die stories te vertel. Op haar Instagram-profiel sê sy: “Growing up, I never thought there was a seat for me, so I decided to build my own table. Come. Pull up a chair.”

Gesien in daardie lig is Aucamp se onderhoud belangrik. Laat die anties in hul koeksisters stik. Of hy dit so bedoel het of nie, hy’t waarskynlik hierdie naweek ʼn ander tipe tafel begin bou – een wat groter verdraagsaamheid en inklusiwiteit bepleit.

Dis ʼn projek wat ek kan ondersteun. Ten volle. Daarom gaan ek sy kookboek koop. In solidariteit.

#LoveIsLove.

  • 17

Kommentaar

  • Baie dankie vir hierdie insiggewende en roerende rubriek, Bettina. Ek salueer Armand Aucamp vir die feit dat hy openlik oor sy seksualiteit gepraat het (nie dat dit nodig is nie). Hy sal 'n rolmodel wees vir baie jongmense wat met hul seksuele identiteit worstel. Hy is definitief een van my rolmodelle.

  • Uitstekend geskryf, Bettina! Ek sou ook wou hê dat 'n mens se seksuele oriëntasie nie meer moet saak maak nie, maar ongeluķkig is almal in SA nog nie so verlig nie. Ek stem saam dat Armand beslis 'n rolmodel vir baie jong, onseker seuns gaan word!

  • Goed geskryf. Ek klap sommer die boek toe as seksualiteit daarin bespreek word ten koste van oemand se talent en menswees.
    Onderhoudvoerders moet ook hierop let.Hulle is deur die eeue heen so gewoond om vir iemand te vra of hy getroud is of ‘n meisie het. So what? Hulle moet ophou daarmee.
    Ek is enkellopend (nie gay nie) en vererg my as ek lees in iemand se ‘bio’ hy is al 40 jaar gelukkig getroud met San en hulle het 4 kinders wat die of daai beroep het, en 14 kleinders. Wie jy om jou het of waarin ny glo of nie, definieer jou nie. Jy is WIE jy is - nie wie jy in jou lewe het en of jy twee suikers by jou koffie gooi nie.
    Dit was dalk in die ou tyd, die vervelige tyd, van belang - defnitief nie meer in 2019 nie. Die mensdom het sedertdien gegroei en meer/ander vaardighede en lewensinsigte bygekry. Meer as om net in seks alleen belang te stel en te wonder wie is wie se vrou/man en wat fout is met jou as jy nog op die rak sit. Dis outyds. Ons nasie moet bypik.

  • Dit behoort nie eers nodig te wees vir gay mense om dit te 'openbaar' nie. Ek loop nie en publiseer dat ek straight is nie. Wat maak dit in elk geval saak? Mense is mense. En mooi bly mooi.

  • Is gek na hom as akteur. Sy seksuele voorkeure is mos sy saak; dus respekteer hom vir wie hy as mens is. Wie is ons tog om te oordeel?

  • Vir 'n gay mens is dit ongelooflik bevrydend om uit die kas te klim. Ek dink nie almal verstaan dit nie.Mense verstaan dikwels nie hoekom dit nodig was dat hy uitkom nie. Ek verstaan dit baie goed. Daar het 'n groot rots van sy skouers afgeval. Baie geluk Armand. Hy hoef nooit meer te wonder wat sal mense van hom dink as hulle sou weet nie.

  • Linette Sauer

    Ek dink in een opsig hou mense in die kunstenaarswêreld dit stil. Hoofsaaklik word rolle vertolk wat tipiese ouwêreldse romanse tussen mans en vrouens weerspieël. Baie vrouens begin hierdie man as hulle droom sien. So styg gewildheid. Dan kom die realiteit uit en die prentjie is tot niet. Dit gaan oor die rolle wat mense in hulle koppe het en wil hulle held/in ook so sien. As dit nie uitwerk nie verdwyn hulle belangstelling en die aanvraag vir die akteur verminder. Sad but true.

  • Uitstekende artikel. Laat die anties maar skinner ... ek is die ma van 'n gay seun en hy en sy wederhelf is gerespekteerde jongmans in die samelewing.

  • Dit behoort nie nodig in 2019 te wees nie. Maar aan die einde van 2018 het Jack Parow dit nog nodig gevind om te onderskei tussen "Die Manne" en "Die Moffies" in 'n twiet vir sy brandewyn. Dit is dus duidelik nog nodig dat publieke figure opstaan en wys dat jou seksuele voorkeure nie jou "manlikheid" definieer nie.

  • Gustaf Claassens

    O genade, wag dat die "Wagters op Sionsmure" lostrek ...
    Wat Armand Aucamp gedoen het is reg en behoort eintlik geensins snaaks of vreemd te wees nie. Maar o wee, nou gaan die debat weer van vooraf begin. Met dieselfde argumente daarvoor en daarteen. Dis hoe dit is en dis hoe dit vir nog baie jare gaan wees. Soos ou kos wat in 'n mikrogolfoond oor-en-oor warm gemaak word. Die bybel in al sy vertalings gaan bygesleep word en predikante wat stil-stil met hierdie lidmate se teenkanting saamstem gaan sukkel hoe om dit van die preekstoel af te hanteer. Daar's mos baie bydraes ter sprake ...
    Soos Bettina kan mens net jou hande saamslaan. Mens voel lus om aan diegene te sê, "hel man, kry 'n lewe."

  • Linette Sauer, dan raak dit regtig tyd dat mense hul koppe herprogrammeer. In die eerste plek moet mense leer om kunstenaars en hulle kunsvan mekaar te skei. Almal wat wil kan gerus maar die karakter as hulle droom sien.Dis mos net 'n droom, dit kan dus net so bly. Volgende keer speel hy weer 'n ander karakter, dan is hy dalk 'n skelm of 'n boef.

  • Sarie Sitkamer

    Dankie dat jy my laat lag en ampertjies laat huil. Dis so waar hoe baie kinders selfmoord pleeg omdat hulle glo hulle is "van die duiwel" of "nie normaal nie".

    Liefde is inderdaad net liefde.

  • Ek lees oor die opskuddende onthulling van sy seksuele status/oriëntasie. Ek vra myslef af, "so what?" Ek gee regtig nie om wat hy doen in sy vry tyd nie. Dit pla my nie. Ek steur my nie daaraan nie, trouens wat moet ek nou met die informasie doen. Daar is vir my baie meer belangriker kwellings wat my aandag verg.

  • Christiaan Joubert

    Is seksuele identitiet werklik nog so `n kwessie in ons land? Miskien benodig ons `n paradigmaverskuiwing wat eerder fokus op die spirutuele dimensie van menswees.

  • Om uit die kas te kom is voorwaar bevryding...
    Ek was 40 toe ek uit die kas gekom het. Getroud met 'n vrou en drie pragtige talentvolle kinders ... Maar dit het my duur gekos. My hele familie en vriende het teen my gedraai. Vandag is ek 53 en net my een seun en dogter het weer kontak gemaak.
    Geen mens kies om gay te wees nie. Dit hoor ons oor-en-oor ...
    Ek is nie spyt oor die keuse wat ek gemaak het om my seksualiteit bekend te maak nie. Maar die verwerping deur familie en vriende vreet aan my, omdat ons 'n baie hegte familieband gehad het.
    Armand is' n wonderlike akteur ... en verdien dit om ook vry te wees. Wie het in elk geval gekies om "straight" te wees ...
    Ek het 'n wonderlike man ontmoet. Ons sal 1 April 2019 twee jaar getroud wees. Die beste tyd van my lewe ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top