Dink bietjie oor die groot dinge

  • 0

Daar was onlangs ’n paar groot gebeurtenisse gewees wat die queer-gemeenskap direk geraak het: die saga om Pride-vlag by Bishops Diocesan College (hierna Bishops), die aanslag op die bywoners van Berlin Pride, dan die eerste getroude paartjie wat aan die Women’s Africa Cup of Nations (WAFCON) deelgeneem het. Uit die aard van die saak is hierdie gebeure uiteenlopend van aard, maar daar is tog iets wat hulle almal saambind.

Die publiek reageer die afgelope paar jaar besonder negatief teenoor die LGBT+-gemeenskap op sosiale media. Statistiek toon wel dat Suid-Afrikaners meer aanvaarding toon teenoor die LGBT+-gemeenskap oor die afgelope 10 jaar, volgens Business Day. Neville Gabriel, hoofuitvoerende beampte van The Other Foundation, het gesê dis belangrik vir die samelewing om waaksaam te wees met regte wat in dele van die wêreld in die visier is.

Godsdiens, politieke konserwatisme en ou, geykte leuens word herhaal om te protesteer teen iets so onbenulligs soos ’n reënboogplakker op iemand se kar – tot meer beduidende dinge soos protes teen gelyke huwelike (oftewel marriage equality in het Engels). Die woorde van Anita Bryant, wat in die jare 70 dinge gesê het soos: “The homosexuals recruit”, “love the person, hate the sin” en “they’re coming for your children” kan steeds gehoor word. Dit is ook volop op sekere sosiale media-platforms, hoewel daar geen bewyse is dat hierdie praktyke bestaan nie.

Wat mense nie gewoonlik vertel word oor Bryant nie, is dat haar loopbaan basies tot ’n einde gekom het weens haar politieke aktivisme. Haar steun uit vele Christen-oorde het ook tot ’n einde gekom toe sy en haar man Bob Green geskei is. Sy word ook in sekere sirkels onthou as die ouma wat haar kleindogter se troue misgeloop het, juis omdat sy haar geloof bo haar familie gesit het. Dit klink vir my na ’n baie eensame bestaan.

Eensaamheid is ’n snaakse ding. Dis wat baie LGBT+ mense voel terwyl daar ’n gewroeg en gestoei is met kwessies van seksualiteit of gender. Dit is nie altyd ’n lekker pad om te loop nie. Maar die oomblik wat jy jou mense vind, dan raak die lewe soveel beter. Baie soos wat iemand die regte kerk, werk of haarkapper vind. Jy hou daaraan vas.

Dit is eintlik wat al die gebeurtenisse saambind: ’n gemeenskapsin. Bishops wou vir hul LGBT+ leerders wys dat hulle ook welkom is by Bishops, tot die verkramptes dit oor hulself gemaak het. Kinders kan gay of trans wees. Hoe vinniger jy vrede maak daarmee, hoe beter. Dis nie asof ’n queer persoon skielik wakker word op hul 18de verjaardag met ’n reënboogvlag, seisoen 1 van RuPaul’s Drag Race op DVD en ’n T-hemp wat sê “I killed Jenny Schecter” nie. Dit is wat dit is, soos mense wat links is of mense wat groen oë het.

Die aanslag in Berlyn is gruwelik. Maar ’n mens se gees is sterker wanneer daar ’n gemeenskap is. Daar is talle foto’s van mense wat saamstaan teen hierdie aanslag en mense wat medelye het met die gemeenskap van Berlyn. Berlyn se LGBT+-gemeenskap sal voortbestaan en die persoon wat die aanslag gepleeg het, sal vergete wees.

Dit is waar Moodaly en Salgado se huwelik en hul deelname aan WAFCON ook belangrik is. Hulle is ’n toonbeeld van suksesvolle queer vroue en dien as rolmodelle. Hierdie twee sokkersterre se storie is eintlik vir my belangriker as die gebeure by Bishops, juis omdat stories oor diskriminasie en moord so besonder alledaags is.

Dis min dat daar positiewe stories uit ons gemeenskap kom en verder versprei word as bloot ons gemeenskap. Ons moet groter bohaai maak oor die positiewe, wanneer dit kom. Dit beteken nie ons moet die negatiewe afskeep nie. Baie keer kan ’n negatiewe gebeurtenis lei tot positiewe aksie, soos Anton Taylor se reaksie op die hele Bishops-saga, of die mense van Berlyn (en die res van die wêreld) wat saamgestaan het teen die vreeslike aanslag wat gepleeg is.

Die ongeluk is daar sal altyd mense wees wat hulself vaskyk teen ’n dogmatiese beginsel. Hier wil ek weer eens ’n storie deel van ’n vriendin van my. Vir die doeleindes van hierdie skrywe is my vriendin se naam Nina. Nina was saam met my op skool. Ons het grootgeword in dieselfde kerk, ons het soortgelyke belangstellings en soos dit maar gaan met grootmens-wees, sien ons mekaar deesdae baie min. Nina vertel toe vir my wat die een dag by die selgroep gebeur het.

Die onderwerp: homoseksualiteit. Die argument: Dis sondig. Nina vra toe of enigiemand teenwoordig ’n gay persoon ken. Die antwoord was ’n besliste nee. Ek was Nina se troefkaart, want ek is transgender en getroud met ’n vrou. Sy het aan haar selgroep verduidelik hoe gelukkig ek is, noudat ek myself is en nie meer hoef weg te kruip vir die wêreld nie. Helaas het ander in die selgroep voet by stuk gehou, want die Bybel sê so.

Ek wonder hoeveel ander wette in Levitikus so slaafs nagevolg word deur die selgroep. Ek vra mos op ’n dag vir so ’n persoon of hy skulpvis eet. “Ja, natuurlik,” antwoord hy terug, hoewel dit ook deur Levitikus verbied word. Dit was ongelooflik om te sien hoe die persoon vir die eerste keer krities dink oor wat hy blindelings net aanvaar het. Ek het gedink hy gaan ontplof.

Daar’s ’n ou meme op die internet wat elke nou en dan verbykom, wat sê: “If your religion teaches you to hate, maybe it’s time to find a new religion.” Maar dit is nie godsdiens op sigself nie. Konserwatisme is ook nie noodwendig die sondebok hier nie. Dis mense wat nie dink oor waarin hulle glo nie; mense wat oordeel voor hulle enige addisionele inligting het; en mense wat nie hul gemaksone wil verlaat om ander mense binne te laat nie.

Nina het probeer om haar selgroep attent te maak dat LGBT+ mense ook mense is. Hoe suksesvol sy was, sal ek nie weet tot haar volgende verjaardag nie. Maar dis al wat dit regtig vat: een mens wat jou bietjie laat dink oor wat jy glo.

Ek sluit af met die woorde van George Carlin (vrylik vertaal): “As jy gekant is teen aborsie, moet jy pro-gay wees, want wie kry minder aborsies as die gays?” So volgende keer wanneer iemand jou opinie vra oor ’n saak, dink bietjie voor jy slaafs antwoord.

Daar is ook geen skaamte nie om te sê: “Ek weet nie genoeg van die saak af nie.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top