Dinamiese Afrikaans: Riglyne vir Afrikaansonderrig in die Intermediêre Fase deur Elmarie Lubbe en Arthur Hall (redakteurs): ’n resensie

  • 0

Dinamiese Afrikaans: Riglyne vir Afrikaansonderrig in die Intermediêre Fase
Elmarie Lubbe en Arthur Hall (redakteurs)
Lig in Duisternis Uitgewers
ISBN: 9781067221676

Die Suid-Afrikaanse skolestelsel is ’n komplekse landskap wat onder allerlei probleme gebuk gaan. Een van die groot uitdagings is ’n algemene tekort aan onderwysers, veral in sekere onderrigfases en vakgebiede. Moedertaalonderwys is ’n area waar skole reeds uitdagings ondervind weens ’n tekort aan onder andere Afrikaanssprekende onderwysers in die Grondslag- en Intermediêre fases. Opvoedkundefakulteite kan helaas nie voorbly om voldoende Afrikaanssprekende onderwysers, insluitend Afrikaans-vakspesialiste, op te lei om poste te vul nie.

Ter illustrasie sal ek die Nelson Mandela Universiteit as voorbeeld gebruik. NMU is die enigste van vier universiteite in die Oos-Kaap wat Afrikaansvakspesialiste en Afrikaanssprekende onderwysers oplei. Die getalle is egter beroerd. Jaarlikse inskrywings vir die BEd-graad met Afrikaans as onderrigtaal beloop hoogstens 15 eerstejaars per fase. Vir hoërskool wissel die aantal inskrywings vir die Nagraadse Onderwyssertifikaat van 2 tot 8 studente per jaar. Jaarliks word die behoefte aan Afrikaansonderwysers groter, omdat die universiteit nie genoeg aansoeke ontvang nie. Skole sukkel om gekwalifiseerde Afrikaansonderwysers te kry. In die proses dra dit indirek by tot die verlies van Afrikaansmediumskole. In ander provinsies ervaar skole en universiteite soortgelyke probleme, met die uitsondering van enkele universiteite waar studentegetalle vir Afrikaansonderwys nog gunstig daar uitsien.

Dit is dus van kernbelang dat Afrikaansonderwysers met die kennis en nodige vaardighede toegerus word om leerders uit uiteenlopende, multikulturele en sosio-ekonomiese omstandighede te kan onderrig. Een van die aspekte wat vir die doseer van Afrikaans op inhoudelike en didaktiese vlak belangrik is, is ’n goeie handboek wat spesifiek op Afrikaansmetodiek fokus.

........
Dit is dus van kernbelang dat Afrikaansonderwysers met die kennis en nodige vaardighede toegerus word om leerders uit uiteenlopende, multikulturele en sosio-ekonomiese omstandighede te kan onderrig.
.........

In die tagtigerjare was handboeke soos Vakdidaktiek: Afrikaans Moedertaal in die Primêre Skool (1989) asook Vakdidaktiek: Afrikaans Moedertaal in die Sekondere Skool (1985) deur die meeste opvoedkundefakulteite en onderwyseropleidingskolleges voorgeskryf. Omdat kurrikula met verloop van tyd verander, het nuwe en bygewerkte handboeke soos Vuvuzela Afrikaans: Taalonderrig wat nie geïgnoreer mag word nie (2013) en Afrikaansmetodiek deur ’n nuwe bril (2014) verskyn. Laasgenoemde word deur die meeste dosente vir die onderrig van Afrikaansmetodiek aan opvoedkundefakulteite in Suid-Afrika voorgeskryf en gebruik. Albei handboeke het beide positiewe en negatiewe aspekte wat hulle van mekaar onderskei. Voorbeelde sluit in die hoeveelheid inligting wat ingesluit en bespreek word, die prys van die boek, lengte van die boek, asook die grafika, wat in Afrikaansmetodiek veel netjieser en professioneel daar uitsien as in Vuvuzela Afrikaans.

Groot was my vreugde oor ’n nuwe Afrikaansmetodiekhandboek getiteld Dinamiese Afrikaans: Riglyne vir Afrikaansonderrig in die Intermediêre Fase onder redakteurskap van Elmarie Lubbe en Arthur Hall wat onlangs verskyn het. Aangesien studente gereeld kla oor die hoë prys van voorgeskrewe handboeke, probeer dosente om die mees kostedoeltreffende opsies voor te skryf. Naas die prys moet die handboek alle fasette van Afrikaansonderrig dek, terwyl dit in ’n professionele dog toeganklike register geskryf is om studente met wisselende taalvaardighede te ondersteun.

Dinamiese Afrikaans het dadelik my aandag getrek. Die voorblad is modern en skep ’n gevoel van vernuwing in ’n mark wat beperkte opsies het ten opsigte van voorgeskrewe tekste vir die onderrig van Afrikaansmetodiek. Die boek is goed gebind (wat belangrik is vir langdurige gebruik), die grafika is maklik leesbaar en daar is geen onnodige prente of ikone wat die leser se aandag onnodig aflei nie.

Die boek bestaan uit 17 hoofstukke wat al die fasette dek waarin toekomstige Afrikaansonderwysers opgelei moet word. Die vier leeruitkomste, naamlik Luister en praat (LU1), Lees en kyk (LU2), Skryf en aanbied (LU3) en Taalstrukture- en konvensies (LU4), word op geïntegreerde wyse aangebied om onderwysers bloot te stel aan hoe Afrikaans onderrig moet word.

Die handboek is vernuwend in die opsig dat aspekte soos die onderrig van kinder- en jeugverhale ’n hoofstuk dek wat in ander metodiekboeke nie deeglik genoeg aangeraak word nie. Vir die Intermediêre Fase is die onderrig van kinder- en jeugverhale van kardinale belang om lees in die klas te bevorder. Boonop moet onderwysers deurentyd leerders se leesbegripvermoë monitor en strategieë implementeer om dit te verbeter. Wat hierdie hoofstuk laat uitstaan, is die gekose onderwerpe wat ingesluit is om die onderwysstudent te ondersteun. Daar word onder andere gefokus op die klasboekrak, die kriteria vir voorgeskrewe boeke, kinderontwikkeling en leesmotivering. Vrae rondom die wyse waarop onderwysers verhale moet onderrig, die ontleding van tekste en kreatiewe idees soos die maak van ’n flapboekie op bl 416 word behandel.  

Die taalstrukture word ook individueel aangepak deur sintaksis, semantiek, fonetiek en fonologie in aparte hoofstukke te bespreek. Woordvorming, spelling en woordsoorte word ook deeglik in afsonderlike hoofstukke behandel. Die outeurs het deurgaans daarop gefokus dat taalonderrig altyd in konteks en op geïntegreerde wyse onderrig moet word. Hierdie belangrike onderrigtegniek, waarvan sommige onderwysers soms vergeet, word telkens herhaal om die onderwysstudent te herinner aan die onderrigbenadering wat gevolg moet word.

Die 21ste eeu bied nuwe uitdagings aan leerders, studente, onderwysers en dosente. KI se rol word daagliks groter in die klaskamer of lesingsaal. Carmin Smith deel interessante wenke met betrekking tot die wyse waarop KI op ’n positiewe en didaktiese wyse in die klaskamer benader en gebruik kan word, met klem op leeruitkoms 3. Eerder as om op die negatiewe aspekte te fokus, benader Smith KI as ’n hulpmiddel wat met vrug in die klaskamer gebruik kan word. Nuttige wenke van GenKI vir skryfbevordering, asook belangrike inligting waarvan leerders omtrent GenKI moet weet, word bespreek.

Die meeste onderwysstudente sukkel aanvanklik met lesbeplanning. Weer eens bied Smith ’n toeganklike bespreking aan wat stapsgewys met die lesbeplanningsproses omgaan. Hierdie aspek is broodnodig en sal die dosent se werk soveel ligter maak.

Tot sover die positiewe aspekte.

Wat leemtes betref, is aspekte soos taaldiversiteit (met die klem op taalvariasie) nie aangespreek nie. Ook taalgeskiedenis ontbreek, wat in Afrikaansmetodiek wel deeglik behandel word. Die afwesigheid van hierdie onderwerpe is beduidend, aangesien hulle die breër Afrikaanssprekende gemeenskap raak en behoort op te voed omtrent taalvariëteite en die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans. Taalontwikkelingsteorieë word oppervlakkig aangeraak en moet uitgebrei word. Die skrywers het ook nagelaat om studente voor te berei vir gemengde klasse waarin leerders met verskillende leeruitdagings onderrig moet word. In dié opsig is Afrikaansmetodiek veel deegliker.

Daar is egter ’n enorme olifant in die vertrek. Ten spyte van al die positiewe aspekte wat in Dinamiese Afrikaans voorkom, het die skrywers nagelaat om die groter geheelbeeld van die Afrikaanssprekende gemeenskap in ag te neem. Die skrywers het die handboek in sy geheel vanuit ’n uitsluitlik Christelike ideologie geskryf. Indien die boek vir ’n spesifieke opvoedkundige instelling geskryf is sonder om dit aan die algemene boekemark beskikbaar te stel, kan dit met vrug in die huidige formaat gebruik word. Dit is immers ’n goed geskrewe Afrikaansmetodiekboek. Die uitdaging waarmee dosente gekonfronteer word, is die Christelik-ideologiese uitgangspunt van die boek.

Elke hoofstuk word ingelei met ’n paragraaf waarin daar slegs vanuit ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing na die rol van die onderwyser gekyk word. Ongelukkig gaan dit nie in die breër samelewing deug nie. Openbare universiteite respekteer alle geloofsoortuigings, en Afrikaanssprekende gemeenskappe verskil van mekaar. ’n Groot getal Afrikaansstudente in die Wes-Kaap beoefen die Islamietiese geloof, teenoor onderwysstudente in byvoorbeeld Pretoria of Bloemfontein wat meer as Christene identifiseer. Die eerste hoofstuk in sy geheel is van so ’n aard dat nie-Christene aanstoot mag neem, aangesien hulle uitgesluit word. So word daar byvoorbeeld genoem dat daar “in hierdie handboek die woord ‘leerling(e)’ in die plek van ‘leerders’ gebruik [word omdat] dit die Bybelse beginsel van dissipelskap en vorming binne ’n verhouding [beklemtoon], eerder as net selfstandige kennisverwerwing” (bl 25). Die KABV verwys immers deurgaans na “leerders” en nie “leerlinge” nie. Uitsprake soos “die sondeval [wat] ’n beduidende impak op die gebruik van taal het ...” (21) is vanuit ’n akademiese oogpunt problematies en hoofsaaklik op ideologie gebaseer.

Die leser word onder die indruk geplaas dat die Afrikaansmetodiekboek slegs vir ’n sekere tersiêre instansie geskryf is gegewe die skrywers se affiliasie met die betrokke instansie. Dit is ook voordelig om ’n verskeidenheid outeurs te vra om bydraes te lewer vir die samestelling van ’n boek soos hierdie een. Dit sou studente aan verskillende benaderings en kennisnetwerke blootstel. Ek wil egter beklemtoon dat hierdie kritiek nie op individue, ’n spesifieke instansie, of die Christelike geloof as sulks gemik is nie. As resensent en dosent het ek die inhoud van hierdie wonderlike Afrikaansmetodiekboek vanuit ’n streng akademiese oogpunt benader en getakseer. Dit sal ’n jammerte wees dat talle universiteite nie hierdie verfrissende handboek sal kan voorskryf en gebruik nie bloot omdat sommige studente, dosente of die instansie self nie met ’n spesifieke geloofsoortuiging assosieer of daarby aanklank vind nie.

Ten spyte van hierdie bedenkinge hou ek by my punt dat Dinamiese Afrikaans ’n uitstekende en inderdaad “dinamiese” Afrikaansmetodiekboek is. Die benadering ter syde gestel, is die inhoud en uitleg verfrissend en kan die boek met vrug in die Afrikaansklas gebruik word. Dosente sal self moet besluit of hulle die boek wil voorskryf en moontlik die ideologiese afdelings of verwysings wil oorslaan. Die oorgrote meerderheid van die teks is vanuit ’n akademiese oogpunt broodnodig vir enige onderwysstudent wat Afrikaans wil onderrig of daarin wil spesialiseer.Die skrywers verdien ’n pluimpie vir die enorme projek wat hul aangepak het.

Bibliografie

Cloete, D en A Engelbrecht. 2013. Vuvuzela Afrikaans: Taalonderrig wat nie geïgnoreer mag word nie. Hennopspark: Mediakor.

Combrink, JC, JPC Schwellnus en GHJ Coetzee. 1989. Vakdidaktiek: Afrikaans Moedertaal in die Primêre Skool: Pretoria: De Jager-HAUM.

Lawrence, D, M le Cordeur, L van der Merwe, C van der Vyfer en R van Oort. 2014. Afrikaansmetodiek deur ’n nuwe bril. Kaapstad: Oxford University Press.

Meij, K, T Kuhn en R Snyman. 1985. Vakdidaktiek: Afrikaans Moedertaal in die Sekondêre Skool: Pretoria: De Jager-HAUM.

Lees ook:

Boei deur Jean Meiring: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top