Digitale nuusmedia en radioaktiewe afval

  • 2

Die Russiese kernaangedewe duikboot K-159 wat in die Arktiese see gesink het, met radioaktiewe brandstof wat op die seebodem beland het. (Foto: RadioFreeEurope)

Inleiding

Waaraan word tans aandag gegee wat die beriggewing oor kernafval betref? Watter brandpunte word spesifiek in die digitale media gerapporteer?  Sou industriële versnippering (shredding) van vaste kernafval byvoorbeeld ’n veilige metode van kernafvalverwerking beskou kon word? Op watter wyse word die versnippering van kernafval industrieël behoorlik gereguleer?

Met hierdie artikel word ’n poging aangewend om ’n dwarssnit van inligting oor radioaktiewe afvalbestuur te identifiseer en te ontleed. ’n Google Alert (of kennisgewing) met die trefwoorde “nuclear/radioactive waste” is geskep, sodat alle digitale nuusberigte in tydskrifte, koerante en webplatforms wat op die internet verskyn, vir ’n bepaalde periode gemonitor kon word. Soos wat die eletroniese berigte vanaf 28 Mei tot 12 Junie 2020 verskyn het, is die inligting opsommerenderwys in die vorm van ’n tabel gekodifiseer (kyk Tabel 1).  

Die periode van monitering kon verleng of verkort word, maar die omvang van die geselekteerde berigte het vinnig bykans onhanteerbaar geword, daarom is die moniteringsproses vir operasionele doeleindes afgesluit nadat 30 artikels verskyn het.

Die volgende kategorieë is gebruik om die inligting waaroor berig is te orden:  e-verwysingsbron, datums van publikasie; outeurs; bronne waarin die publikasies verskyn het; die spesifieke lande waarna verwys is; kernkonsepte, -begrippe en -idees asook belangrike trefwoorde  wat in die teks van die artikels na vore kom.

Nuusberigte wat in digitale media verskyn is gewoonlik dinamies van aard, maklik toeganklik (accessible) en onmiddellik beskikbaar. Die akkuraatheid en geldigheid van die berigte kan egter nie deurgaans gewaarborg word nie. Spoed kan ’n slaggat vir akkuraatheid wees. Dit is ook nie altyd duidelik of die betrokke joernalis of skrywer van ’n artikel wel kwalifikasies in joernalistiek behaal het nie. In die digitale media word die proeflees van artikels ook anders as in die gedrukte media hanteer.

Doel en fokus van die artikel

Die doel van hierdie artikel is om ’n bondige samevatting te gee van onlangse inligting oor radioaktiewe afval wat gedurende ’n spesifieke periode in digitale nuusmedia op die internet gepubliseer is. Die skrywer van die artikel is in geen opsig óf ’n sterk voorstander óf sterk teenstander van kernkrag nie. Die aanname in hierdie artikel is bloot dat ’n realistiese beskouing van die aktualiteit van kragvoorsiening en die toepaslike gepaardgaande tegnologie in die algemeen noodsaaklik is, en dat alle fasette van energieproduksie (insluitende groenkrag) respek by die meeste belangstellendes behoort af te dwing. 

Metode

Die onderstaande kriteria is gebruik by die seleksie van die 30 artikels wat in Tabel 1 verskyn:

Artikels is ingesluit wanneer die hooffokus primêr op kernafvalberiggewing geplaas is.  Artikels is uitgesluit indien:
• die hooffokus op kernkrag in die algemeen was, sonder verwysing na radioaktiewe of kernafval;
• blote herhaling van inligting voorgekom het wat reeds ingesluit was;
•berigte oor donasies aan organisasies wat hul beywer vir kernafvalbewusmaking;
 •aankondigings van toesprake oor kernbesoedeling;
•bemarkingsartikels;
•polities gemotiveerde of sensasionele uitsprake in beriggewing byvoorbeeld nuclear colonialism.

Vanaf 28 Mei tot 12 Junie 2020 is daar deur middel van daaglikse opdatering, 108 publikasies met behulp van die trefwoorde “nuclear/radioactive waste” geïdentifiseer. Van die 180 publikasies is 30 berigte (29%) op grond van bogenoemde seleksiekriteria vir verdere ontleding ingesluit (kyk Tabel 1).

Laai Tabel 1 hier af.

Bespreking

Wat die outeurs betref is die meeste artikels (soos te verwagte) deur joernaliste geskryf. Enkele artikels is deur ’n redakteur of mederedakteur geskryf, terwyl slegs een artikel deur ’n amptelike personeellid van ’n formele instansie (die Internasionale Atoomenergie Agenskap) geskryf is. Die artikels wat geraadpleeg is berus dus meerendeels op sekondêre beriggewing oor die bepaalde onderwerp.

Die meeste berigte oor radioaktiewe-afvalbestuur en implikasies het oor die Verenigde State van Amerika, Kanada, Japan en Rusland gehandel. Internasionale aangeleenthede het ook heelwat aandag ontvang, veral omdat ’n boekpublikasie oor internasionale markanalise in verband met kern- en radioaktiewe afval onlangs gepubliseer is.

Die volgende blyk uit ’n interpretasie en vereenvoudiging van die gegewens in Tabel 1:

Radioaktiewe afvalberging

In Kanada word pogings aangewend om ’n nuwe kernkrag afvalbergingsterrein in South Bruce, Ontario, te ontwikkel. Teenstand deur gemeenskappe in hierdie omgewing, wat hoofsaaklik uit plase en boerderye bestaan, word ondervind. Die reaksies is gegrond op risiko’s wat radioaktiewe afvalprodukte vir grondwaterkwaliteit en die atmosferiese besoedeling inhou, as gevolg van die moontlikheid van korrosie van die ondergrondse afvalbergingshouers. Die Amerikaanse White Mesa Kernfasiliteit in die Bears Ears Nasionale Park, Utah, kan moontlik binnekort as ’n bergplek vir laegraad uraanafval (uranium-laced waste) wat vanaf Estonië in Europa afkomstig is, ontwikkel word. In Nieu-Meksiko naby Carlsbad word ’n tydelike kernbergingsfasiliteit opgerig vir kernafval wat landswyd oor die VSA geproduseer word. Die berging van kernafval in diep horisontale boorgate of skagte (meer as 1.6 km ondergronds) is ’n interessante nuwe tegnologiese ontwikkeling.

Horisontale skag vir die berging van radioaktiewe afval (Fotobron:Fotobron: Power)

Skeptici

In die VSA hou omgewingsaktiviste in San Clemente paneelbesprekings oor “wat gebeur indien?” ’n ongeluk, sabotasie of enige ander insident by die San Onofre kernkragsentrale sou plaasvind. Indien die boodskap duidelik deur die owerhede oorgedra word dat die volle lewenssiklus van die kernaanleg, sowel as die bestuur en berging van die kernafval deeglik verreken word, kan dit dalk die vrese van menige skeptici besweer. Die omgewingsbewustheidgroep, Beyond Nuclear, het ’n nuwe hofaansoek gebring omdat ’n vorige hofuitspraak waarin hul besware teen die beoogde Nieu-Meksiko kernbergingsaanleg afgewys is. Radioaktiwiteitvrystelling word deur sommige regerings as "beskermende besoedeling" beskou, wat beteken dat vrystelling van lae-vlak radioaktiewe afvalstowwe wel toelaatbaar is.  Dit is egter ’n ander kwessie of hierdie vrystellings "veilig" is.

Nuwe publikasies

Die nuutste uitgawe van die Internasionale Radioaktiewe Bestuursverslag het verskyn. Die omvattende verslag fokus op die nuutste reëls, regulasies en regeringsbeleid wat op kernafvalbestuur, kernturbinegenerators en radioaktiewe lugfiltrasie van toepassing is.

’n Treffende versameling foto’s wat kernkragontwikkeling en radioaktiewe afvalkwessies oor dekades heen uitbeeld, is onlangs in boekvorm uitgegee. Die tema van die publikasie is “radioaktiewe afval as ’n sosiale dilemma”, soos die proses geïnterpreteer is deur die Duitse fotograaf, Bernard Ludewig.

Militêre toepassings

Die ontwikkeling van kernplofkoppe met behulp van fissiebare plutonium vind by die Amerikaanse Savannah River-kernaanleg plaas. Gerugte doen die rondte dat nuwe kerntoetse weer binnekort in Nevada uitgevoer kan word. Openbare teenstand teen hierdie moontlikheid is aan die toeneem.

Positiewe ontwikkelinge

Rusland het wetgewing uitgevaardig wat die opruiming van radioaktiewe afval in die Arktiese seegebied moontlik maak. Die Japanese regering is deur die VVO versoek om hul voorneme om vloeibare radioaktiewe afval in die oseaan te stort onmiddellik uit te stel sodat indringende internasionale samesprekings hieroor kan plaasvind.

Omgewingsopruiming van kernafval word tans by die Hanford-kernaanleg in die VSA gedoen. Deel van die proses is vitrifikasie (verglasuring) van laegraad vloeibare radioaktiewe afval. Twee Sweedse kernkragsentrales, Barsebäck en Oskarshamn, word op grond van politieke druk gesloop. Die Rokkasho-kernaanleg in Japan begin eersdaags met die herprosessering van gebruikte kernbrandstof deur uraan en plutonium daaruit te onttrek. Die Latina-kernaanleg in Italië is in die proses om gesluit en gesloop te word. Die Santa Susana Kern-veldlaboratorium in die Simivallei, Kalifornië (wat in 1959 ’n gedeeltelike kernsmelting beleef het) is geoormerk vir die opruiming van radioaktiewe afval en skadelike chemikalieë.

Die Franse ontwikkel ’n kernfusie plasma-reaktor. Fusie-tegnologie lewer groter hoeveelhede energie, is goedkoper en lewer minder radioaktiewe afval as fissie-tegnologie. Kernfusie beskik oor die potensiaal om ’n oneindige energiebron te voorsien, sonder die vrystelling van koolstofdioksied of dat radioaktiewe afval geproduseer word. Kunsmatige intelligensie word voorgehou as ’n belangrike toekomstige rolspeler om die toepassing en gebruik van kernfusie-tegnologie verder te versnel.

Russiese navorsers het ’n absorberende stof ontwikkel wat oor ’n brons- en tunsten (of wolfram) basis beskik, om vloeibare radioaktiewe afval te prosesseer.

Granietgesteentes beskik oor ’n natuurlike selfverseëlbare eienskap. Kalsium in die graniet reageer met karbonaat in die vloeistof en sodoende word klein kalsietkristalle (calsite) gevorm wat alle openinge en krake verseël om verdere indringing te voorkom. Meer gekontroleerde navorsing oor die berging van radioaktiewe afval in granietgesteentes word in die vooruitsig gestel.

Die Internasionale Atoomenergie Agentskap het ’n nuwe databasis saamgestel vir die wêreldwye dokumentering van gebruikte kernbrandstof en radioaktiewe afval.

Suid-Afrika

Slegs een artikel¹ uit die seleksie van 30 het op Suid-Afrika betrekking. Dit handel oor die Kernenergie Korporasie van SA (NECSA) wat beoog om die heraanstelling van die voormalige afgedankte hoof uitvoerende beampte, Phumzile Tshelane, weer as ’n betaalde konsultant van NECSA in diens te neem.

Slotopmerkings

’n Groot voordeel van digitale nuusmedia is die onmiddellike beskikbaarstelling van inligting. Daar is egter geen waarborg dat alle beriggewing 100% akkuraat is nie. Teen daardie agtergond moet die inhoud van hierdie artikel gelees word.  

Uit die ontleding van die gepubliseerde inligting blyk dat openbare teenstand teen verskeie radioaktiewe bergingsprojekte aan die orde van die dag is. Dit kan nauurlik verwag word, en die voordeel van sulke aktivistiese optredes is dat die waaksaamheid van die betrokke owerhede en privaat inisiatiewe deurlopend verskerp en uitgedaag word.

Nuwe tegnologie wat op die voorgrond tree is onder andere die boor van diep vertikale- en horisontale skagte vir die berging van radioaktiewe afvalprodukte; die ontwikkeling van fusie-tegnologie met die potensiaal om afvalprodukte te verminder of heeltemal uit te skakel, veral omdat kunsmatige intelligensie ook met die proses in verband gebring word. Laastens, die teoretiese moontlikhede wat granietgesteenstes vir die veilige berging van vloeibare radioaktiewe afval in die toekoms bied, sowel as om brons en wolfram as ’n absorbeerder of spons vir radioaktiewe afvalstof te gebruik.

Eindnotas

¹Francois Williams berig in Die Burger van 20 Mei 2020 dat die Nasionale Instituut vir die Bestuur van Radioaktiewe Afval ’n tussentydse gesentraliseerde stoorplek vir gebruikte kernbrandstof deur die Koeberg-kernkragsentrale geïdentifiseer het. Die projek behoort teen 2025 voltooi te wees. 95% van die kernafval wat in SA geproduseer word is laegraads en 5% is hoëgraads. Gebruikte kernbrandstof word op Koeberg se perseel geberg. NECSA (Die Nasionale Kernenergiekorporasie) gee die bestuur van die radioaktiewe bergingsterrein, Vaalputs, aan die Nasionale Instituut vir die Bestuur van Radioaktiewe Afval oor.

²Cas Löttter, privaat praktiserende geofisikus en geohidroloog van Stellenbosch word bedank vir sy bereidwilligheid om hierdie artikel voor publikasie te lees en om toepaslike kommentaar oor die inhoud te lewer.

Vaalputs radioaktiewe afvalbergingsterrein (Fotobron: NRWDI)

  • 2

Kommentaar

  • Charl Cilliers

    Baie relevant, veral om te lees dat slegs een artikel in die steekproef deur 'n vakkundige geskryf is!

  • Arthur Oliver

    Watter beheermaatreels is is ingestel om te voorkom dat Vaalputs n "dumping site" word vir internasionale kernafval. Is daar bvb kontrolering en aanspreeklikheid vir voorrade

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top