Digitale dood

  • 0

Ontmoet vir Persoon 1.0. Hy is van vlees en bloed, hy raak honger en siek, hy ken vrees en hy sterf. En ontmoet vir Persoon 2.0. Hy is geskep en saamgestel uit ’n algoritme en wanneer hy sterf, herrys hy soos Lasarus. Sy lyf flikker, ’n gepikselde weergawe van Persoon 1.0. Persoon 2.0 is tegnologies onvernietigbaar en kan lank na sy dood Persoon 1.0 se stem en voorkoms via kunsmatige intelligensie simuleer. Persoon 1.0 en Persoon 2.0 leef in ’n ambivalente simbiose tot mekaar.

Die afgelope ruk het al wat Facebook-vriend is, gespog met ’n avatar. Dit was pret, maar het opnuut die aandag gevestig op die aanlyn persona as sosiale konstruk van die self. Tydens die grendelperiode het al meer mense noodgedwonge tyd aanlyn bestee vir werk, maar ook as sosiale-media-gebruikers ’n welkome toevlugsoord gevind in Facebook, Twitter of Instagram.

’n Aanlyn persona, of aanlyn identiteit, is ’n sosiale identiteit wat ’n internetgebruiker skep tesame met die reputasie wat die persona vestig en opbou in aanlyn gemeenskappe en webtuistes. Virtuele self en tegnoself is wisselterme wat te doen het met die bestudering van die konsep van die self en hoe dit beïnvloed word deur die snelgroeiende tegnologie van die dag – ’n onderwerp wat sielkundiges, sosioloë en opvoedkundiges interesseer.

Aanlyn identiteite beïnvloed ook vanlyn identiteite. Avi Marciano, wat navorsing doen oor transgender mense, het gevind dat die internet akkommoderende ruimtes aan dié gemeenskap bied. Die vanlyn wêreld het sy beperkinge en pyn, terwyl hierdie aanlyn gemeenskap mekaar bemagtig, bemoedig en bystaan in die vorming van die self. Die keersy hiervan is egter dat gemarginaliseerde subkulture, byvoorbeeld tieners met sielkundige stoornisse soos eetversteurings of selfmutilasieneigings en -gewoontes hulle anoreksie of "cutting" as't ware aanlyn voed.

’n Persoon se verskillende aanlyn personas vereis virtuele rollespel, afhangend van die onderskeie kontekste. Baie bloggers verkies om onder ’n skuilnaam te blog. Maar as dit by werksoek en menslike hulpbronne kom, dan sit jy jou professionele voet voor op Linkedln. Jou personas verskil ook ten opsigte van aanlyn onderrig, of wanneer jy aanlyn besigheid doen. Sosiale media is waarskynlik die nagereg, projeksies van ’n geïdealiseerde self. ’n Uitstalkas vir die ego. Wanneer jy inlog in jou profiel, is jy vry van ’n fisieke liggaam, vry om ’n nuwe of ánder narratief van jouself in die virtuele ruimte te skep. Ons lag vir mekaar se avatars: die molliges is skielik slank, of ’n mens wonder waarom ’n persoon homself so brutaal eerlik herskep het. En ja, ons is ook almal bekend met die keyboard warrior, daardie nerd wat nie ’n vlieg leed sal aandoen nie, maar gee hom net ’n sleutelbord en die buffel in hom ontwaak. “The only journey is the journey within,” lui die bekende aanhaling van Rainer Maria Rilke. En mens sien dit daagliks op Facebook – mense wil hulself bitter graag beter leer ken of verstaan. Geen wonder die quizzes – daardie speletjies wat kwansuis meer oor die self verklap – is so gewild nie. Die resultate mog ’n openbaring wees vir die Facebooker, maar word belangeloos deur sy vriende bejeën.

In The private life of the diary besin Sally Bayley oor Sylvia Plath se dagboekhouding. Facebook skep ruimte vir ’n persoonlike joernaal, vir dagboekinskrywings, fotoalbums en scrapbooking. ’n Dagboek is ’n medium waarin jy jouself kan herontdek, herskep en herdefinieer. Dis ’n ruimte om die ideale of artistieke self te projekteer. En van die artistieke self gepraat: Daar is duisende Facebook-digters en singer-songwriters in Afrikaans. Facebook bied die ruimte vir afstandname van die self, maar óók om die self weer te vind. Jy bly skep en redigeer aan jou eie biografiese geskiedenis. Facebook dien as digitale argivering van herinneringe – ’n rekord, ’n bewys van ’n lewe wat geleef word. Die interseksie tussen Persoon 1.0 en Persoon 2.0 laat grense vervaag – en soms skep die sosiale media die illusie van ’n hiperrealiteit wat op sy beurt meer reëel kan wees as die "regte” lewe. Die sosiale media het ’n nuwe era, die demokratisering van die lewendes, maar ook van die dooies, ingelui.

Die digitale nalewe

Teen 2012 was daar reeds 30 miljoen afgestorwe Facebook-gebruikers op dié gewilde sosiale-media-webtuiste. En teen 2100 sal daar na raming 4,9 miljard oorledenes op Facebook wees, wat mens dadelik aan ’n reuse-Facebook-begraafplaas laat dink. Wel, soort van. Die oorlede gebruikers se profiele is nie begrens in ’n formele ruimte nie – hulle "leef" steeds tussen die lewendes. Facebook bied egter die opsie dat ’n oorledene se Facebook-blad omgeskakel kan word in ’n "memorial page”. Die Facebook-gebruiker moet, terwyl hy of sy nog leef, ’n erfeniskontak (“legacy contact”) aanwys wat deur middel van die memorial page die persoon se Facebook-blad vries in tyd en verder administreer. Niemand kan meer by die profiel inlog nie, alhoewel Facebook-vriende steeds op die blad kan pos. Uiteraard verskyn daar nie meer verjaardagkennisgewings van die oorledene nie.

Om iets van digitale dood te verstaan, is dit noodsaaklik om iets van die verskillende persepsies rondom dood te begryp. Tydens die Victoriaanse tydperk byvoorbeeld was dood ’n alledaagse verskynsel. Mense het op strepe gesterf aan tifus, tuberkulose, difterie of kolera. Mense was gewoond aan – en omring deur – dooies. Victoriaanse postmortemfotografie het hoogty gevier. Die neem van foto's was ’n luukse; ’n skaars kommoditeit. Die dooies is opgetooi en sit- of staangemaak saam met die oorblywende lede van die gesin vir ’n kiekie – met die suggestie dat die oorlede huisgenote nog lewe. Volgens die Australiese filosoof Patrick Stokes soek diegene wat rou, na die beliggaming van hul gestorwe geliefdes. Soortgelyke rougedrag word waargeneem op die sosiale media: Wanneer ’n vriend sterf, pos mense ou foto's van die persoon waar hy of sy gesond en gelukkig lyk, of saam met die vriend poseer. Maar waar die sosiale media die vryheid van ontliggaming bied (soos reeds genoem), verkeer dit ook konstant in ’n polêre spanning met die beliggamingsproses as simboliese rekonstruksie van die dooies. En ja, in hierdie era van digitale inligting het ons véél meer gesensitiseer teenoor dooies/kadawers as tydens die Victoriaanse tyd. Volgens Stokes neem die ritualistiese rougedrag in die kuberruim dieselfde patrone aan as met “reële” situasies. Die eerste ding wat roubeklaers doen, is om mooi staaltjies of anekdotes oor die oorledene te vertel. Dít verskyn nou as kommentare op die sosiale media. Om ’n Facebook-vriend se profiel of gedenkblad te besoek en kommentaar te lewer, is soortgelyk daaraan om deur ’n begraafplaas te loop, of met die graf te praat. Begrafnis- en roudienste word ook lewend gestroom en op ’n Proustiaanse wyse word daar afskeid geneem van die persoon, al leef die sosiale identiteit op dualistiese wyse voort op die internet. In die reël respekteer mense die ongeskrewe etiek rondom die dood, sê Kierkegaard – soos byvoorbeeld die plig om die oorledenes te onthou en te eer, om hulle nie te belaster nie, ens. Maar ’n persoon se digitale nalatenskap lewer soms ook sy kwota (absurde) verrassings op. Só het ‘n twiet van Esther Earl, wat in 2010 haar stryd teen kanker verloor het, ses maande ná haar dood verskyn: "I seriously hope that I'm alive when this posts", vergesel van ’n emoji met ’n sonbril op. Daar bestaan wel ruimtes waar ’n mens boodskappe in die toekoms kan skeduleer. Die boodskap was vir haarself bedoel, maar haar gevolg het hul boeglam geskrik.

Digitale bates

Om oor die voorbereiding van jou eie potensiële digitale dood te praat, bly maar ’n troebel onderwerp. Maar noodsaaklik. En dit klink gewigtig. Dit is eintlik heel eenvoudig, en kom in ’n neutedop op die volgende neer:

* Jy moet ’n testament van jou digitale bates opstel en ’n digitale eksekuteur aanwys.

* Skep ’n inventaris van al jou digitale bates. Dit sluit in foto's, video's, dokumente, speletjies, aanlyn banksake, sosiale-media-rekeninge, Cloud-berging, kriptogeldeenhede, gekoopte digitale inhoud, e-pos-rekeninge, films, musiek-downloads, ens. Jou digitale voetspoor verdwyn nie wanneer jy sterf nie; maak seker jou geheime bly in ’n digitale nis. Die digitale bates wat jy nalaat, kan ’n massiewe kopseer word vir jou familie, vriende of kollegas. Dan is daar verskillende toestelle: rekenaars, tablette en slimfone wat elk toegang met ’n wagwoord vereis. Jou bates moet ook postuum teen krakers beskerm word.

* Daar bestaan nie ’n universele beleid vir digitale platforms nie. Vergewis jou van elkeen se bepalings en voorwaardes. Sorg dat jy die fynskrif verstaan – die meeste digitale downloads behoort byvoorbeeld nie aan ons nie; dit is slegs aan ons gelisensieer.

* Maak ’n gedetailleerde lys van passwords en user names en beskryf wat volgende gedoen moet word.

* Sorg dat die nodige dokumente jou digitale boedel vergesel; ’n ID-dokument – en uiteraard later ook ’n doodsertifikaat. Die regspleging rondom digitale bates is nog in sy  kinderskoene en word drakonies toegepas. ‘n Voorbeeld: Hollie Gazzard, ’n Facebook-gebruiker, is deur haar kêrel, Asher Maslin, vermoor. Haar gesin het haar Facebook-blad laat omskakel na ’n memorial page ... maar daar was een probleem: Hulle kon nie die foto's van Hollie en Asher, in gelukkiger tye vóór die moord geneem, verwyder kry nie. Hulle het nie Hollie se password gehad nie, en ’n petisie met 11 000 stemme later is daar eindelik toestemming verleen om dié gewraakte foto’s te verwyder.

* Ten slotte: Tik jou digitale testament verkieslik op die outydse manier, maak fotokopieë, en bewaar op meer as een veilige plek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top