Dieper as drome: ’n onderhoud met Marko van der Colff

  • 0

Dieper as drome deur Marko van der Colff (Beskikbaar: Boekdiva)

Dieper as drome
Marko van der Colff
Uitgewer: Boekdiva

ISBN: 9780639779546

Dieper as drome speel af teen ’n agtergrond van die diamant-en-goud- stormloop van die tweede helfte van die 19de eeu. Die Skotse immigrant Marcus Moore ontmoet op ’n skip hierheen vir Barney Barnato. Groot woelinge volg in Kimberley en later aan die Witwatersrand met die Empaaier-malles, wat direk tot die Boereoorlog lei. 

Carla van der Spuy gesels met Marko van der Colff.

Jy is bekend onder Suid-Afrikaners as akteur wat in reekse soos Vallei van die sluiers, Transito, Windpomp, Clara Viljee, Die byl en Arende 3 verskyn het. Wat het jou laat besluit om drama te swot? Jy was mos op UK. En sou jy vandag ’n ander rigting gekies het?

Die toneelwêreld het my nog altyd aangetrek. My ouers was albei goeie akteurs, gerekend in amateurteater. (My pa het die rol van Piso vertolk in Germanicus – die openingsproduksie van die destydse Bellville Skouburg. Anna Neethling-Pohl was die regisseur. Ek het byna al die repetisies bygewoon!)

Maar toentertyd was dit mos nou nie juis ’n “loopbaan” nie – verál nie in Suid-Afrika nie. Ek is ’n rasegte “sixties child” – matriek in 1964 – maar het aanvanklik die “veilige” opsie van regte aan die US gekies. Na twee jaar daarvan het ek weldeeglik besef dis nié waar my passie en werklike belangstelling lê nie – ek swot bloot vir ’n kwalifikasie. Toe sien ek, aan die begin van 1966 dink ek, ’n opvoering van Hello and goodbye in die Labia, met Athol Fugard self en Molly Seftel in die rolverdeling. Ek was pens en pootjies uitgeboul! Net daar besluit ek om drama te gaan swot.

Ek is terug Stellenbosch toe en het dié jaar net die vakke waarvoor ek krediet aan UK kon kry, voltooi. Ek kon egter eers die volgende jaar – 1967 – by UK, wat toe die beste dramaskool gehad het, inskryf vir ’n BA Drama. Sou ek vandag iets anders kies? Ek dink nie so nie. Ek sou dalk hier en daar binne my gekose loopbaan ander keuses gemaak het, maar soos Edith Piaf sing: “Non, je ne regrette rien” – “Nee, ek is spyt oor niks.”

Hoe word Dieper as drome tot dusver ontvang? En is mense nie verbaas dat jy tot in jou sewentigs gewag het om jou eerste roman te skryf nie?

Dit lyk, volgens terugvoer, tot dusver heel positief.

.....
Ek was al in my laat sestigs toe die skryfgogga my eers behoorlik gebyt het.
.....

Wel, ja, ek was al in my laat sestigs toe die skryfgogga my eers behoorlik gebyt het. Ek was wel nog altyd ’n leesvraat. Om eerlik te wees, sal ek soos John Lennon destyds moet sê: “Life happens to you while you’re making other plans.” Ek het vroeër baie keer daaraan gedink, maar eers op 65 finaal besluit dis nóú of nooit! My nabymense weet darem al van toeka af dis op my emmerskoplys!

Dink jy daar is meer belangstelling in jou boek omdat jy ’n bekende akteur is? (Dit het my beslis nuuskierig gemaak!)

Dit lyk my so, ja. Ek het nooit tevore só daaraan gedink nie, maar as dit kan help met bewusmaking en verkope is ek dankbaar.

Ek het al opgemerk dat baie kreatiewe mense kreatief op meer as een gebied is. Party is akteurs en hulle skryf, ander akteurs sing of skilder. Ons weet akteurs moet veelsydig wees want die geld (soos die geval met skrywers is) is min. Kommentaar daarop?

Ja, jong, dit lyk beslis so, veral in ’n land soos Suid-Afrika – nood leer bid! Daar is bitter min akteurs wat dit kan bekostig om dié beroep voltyds te beoefen – die mark hier is bloot te klein. Daar is ander faktore ook, soos die 0% tantieme vir akteurs, wat deesdae die norm geword het, maar dis nie deel van dié gesprek nie. Dit is maar die geval met skrywers ook. Hulle kry darem wel hulle regverdige deel van tantieme. Maar daar is seker nie eens ’n handjievol van hulle wat nét voltyds kan skryf nie! Dit hang egter ook baie af van die genre.

Was jy lief vir geskiedenis op skool? Jy het tien jaar lank intensief navorsing oor die diamant-en-goud-stormloop gedoen wat Suid-Afrika se geskiedenis verander het. (Ek dink selfs mense wat nie van geskiedenis op skool gehou het nie, sal die boek geniet omdat dit verteerbaar, toeganklik en met lekker dialoog aangebied word.)

Baie dankie vir die kompliment!

Ek was en is steeds lief vir geskiedenis, maar het dit nie as vak op skool geneem nie. Ek het wel historiese romans verslind en graag oor die geskiedenis opgelees. Ek het veral die deel van die Britse geskiedenis rondom “the wars of the Roses” en die Cromwell-era – die wegbreek van die Katolieke Kerk, ens – uiters interessant gevind.

Uitgewers, boekwinkels en skrywers kry deesdae swaar en manuskripte word streng gekeur. Baie kies die weg van selfpublikasie. Hoe het dit gebeur dat jy by Boekdiva uitgekom het? Dit is mos die uitgewery van Leonie van Rensburg wat so bekend in die boekewêreld is en wat reeds ’n paar suksesvolle boeke uitgegee het.

Ja, Leonie se Graffiti Boeke is ’n ligbaken in die boekewêreld. Sover ek weet, is Dieper as drome slegs Boekdiva Uitgewers se tweede “baba”.

Eintlik het vroeër weergawes van die manuskrip (toe genaamd Empaaier!) reeds ’n (afkeurings-)draai by ’n paar uitgewers gemaak. Die terugvoer uit hulle keurverslae was egter meestal positief en het my aangespoor (en gehelp) om aan te hou en nógmaals te herskryf! Ek dink daar is vyf weergawes oor die laaste ses jaar!

.....
Ek was ietwat op moedverloor se vlakte toe Jonathan Amid (wat deurentyd waardevolle insette gelewer én aan die manuskrip bly glo het) voorgestel ek stuur dit aan Boekdiva. Die res is geskiedenis, soos hulle sê.
.....

’n Raps meer as ’n jaar gelede word die manuskrip toe wel deur ’n uitgewer aanvaar, maar die redaksionele proses het nie na wense verloop nie en het ek dit onttrek.

Ek was ietwat op moedverloor se vlakte toe Jonathan Amid (wat deurentyd waardevolle insette gelewer én aan die manuskrip bly glo het) voorgestel ek stuur dit aan Boekdiva. Die res is geskiedenis, soos hulle sê.

Ek sien Deborah Steinmair was jou redakteur. Sy is baie knap en ook ’n puik skrywer. Was die proses vir jou leersaam? Moes jy dele oorskryf? En het jy die skryfproses moeiliker gevind as wat jy verwag het?

Ja, ek het hoë waardering vir Deborah se vermoëns. Sy was ook voorheen (by ’n ander uitgewer) skrams betrokke by die manuskrip en het toe al daarvan gehou.

Die ganse proses, van navorsing en male se (soms byna totale) herskryf aan die hand van keurverslae, en later Jonathan Amid se uiters waardevolle insette, was soms ’n steil maar uiters leersame proses. Dié ou hond het beslis heelwat nuwe tricks geleer!

Toe die manuskrip uiteindelik weer by Deborah beland, was daar gelukkig nie veel veranderings nodig nie. Sy het ’n paar uiters sinvolle verstellings gemaak en siedaar.

Jy skryf in Dieper as drome oor mense soos die bekende Barney Barnato wat skatryk geword het, maar daar was ook talle ontnugterings en verpletterde drome en mense met “blink klippies” in die oë wat maar die aftog moes blaas. Soos jy skryf; “Almal en sy neef stroom soontoe om hul fortuin te soek.” Hoekom het so baie mense by die diggings afgetjop?

Sjoe, ja ... Ek dink die meeste was totaal onvoorbereid op wat op hulle gewag het. Dalk was daar ook ’n goeie skeut van die “lemming-sindroom” betrokke? ’n Wêreldwye delwerskoors en ’n “op-hoop-van-seën”-tydsgees het sekerlik ook bygedra.

.....
Talle lande het al vroeër in die 19de eeu groot goudstormlope gehad en die stories van vinnige rykdom was vir duisende mense dwarsoor die wêreld (wat geleidelik aan die oorskakel was van ’n agrariese na ’n industriële samelewing, meestal met gepaardgaande verarming en ontworteling) ’n gewaande reddingsboei, ’n laaste uitkomkans.
.....

Talle lande het al vroeër in die 19de eeu groot goudstormlope gehad en die stories van vinnige rykdom was vir duisende mense dwarsoor die wêreld (wat geleidelik aan die oorskakel was van ’n agrariese na ’n industriële samelewing, meestal met gepaardgaande verarming en ontworteling) ’n gewaande reddingsboei, ’n laaste uitkomkans. Die Dunning-Kruger-effek het hoogty gevier!

Die diaspora van daardie tyd moes seker vir diegene wat ander tuislande gesoek het, veel meer traumaties gewees het as wat die geval vandag is wanneer jou geliefdes net ’n WhatsApp ver is. Dink jy nie die leser kan hiermee identifiseer nie, want vandag vra jy nie meer vir iemand óf hulle kinders oorsee het nie, maar hoevéél van hul kinders oorsee is.

Migrasie is natuurlik so oud soos die mensdom self, maar, ja, in daardie tyd – eintlik al van die 17de eeu af met die tagtigjarige oorlog tussen Nederland en Spanje en onder meer die Napoleontiese oorloë daarna én die uitbreiding van koloniale magte se oorsese “besittings” het die stroom gaandeweg al hoe sterker geword.

Die VOC se operasionele bestaan het grotendeels afgehang van oorlogverhongerdes wat as matrose en skeepsbemanning teen ’n geringe betaling in diens geneem is, én (meestal onwillige) huursoldate met geen ander vooruitsigte nie.

Die ganse slawebedryf het ook gesteun op die gedwonge en gewelddadige ontheemding van derduisende mense. Vir die meeste mense was migrasie nie juis ’n keuse nie.

Vandag is dit meestal ’n keuse; óf loopbaangerig óf ’n “die gras is groener/veiliger”- situasie. Maar, ja, ek het self twee kinders oorsee. Die algemene identifikasie loop beslis wyd.

Jou hoofkarakter, Marcus, is ’n Skot wat ook ’n verskriklike belewenis in sy tuisland gehad het waarvan hy wou wegkom, maar is die redes vir emigrasie nie maar vandag weer dieselfde as destyds nie? ’n Soeke na groener weivelde en beter geleenthede? En hoewel Marcus en sy vrou Becky baie gelukkig in Suid-Afrika was, was daar vir ander ook die ontnugtering. Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie. Hoe voel jy oor emigrasie?

Eintlik het ek in ’n groot mate seker met bostaande antwoord die vraag vooruitgeloop, maar die dinge loop vir my hand aan hand met ’n paar ander dinge.

Emigrasie is deesdae meestal ’n persoonlike keuse oor groener weivelde en beter geleenthede, soos jy sê. Daar kan baie uiteenlopende redes en motiewe wees, wat elke mens vir hom-/haarself moet uitklaar.

.....
As ’n mens meertalig is, nie eng Suid-Afrikaans nie en boonop ’n gesogte beroep beoefen, is die speelveld en geleenthede wyd. As iemand wil emigreer om “weg te kom” én hulle tradisionele leefwyse elders wil probeer voortsit, voorsien ek swarigheid vir diesulkes.
.....

As ’n mens meertalig is, nie eng Suid-Afrikaans nie en boonop ’n gesogte beroep beoefen, is die speelveld en geleenthede wyd. As iemand wil emigreer om “weg te kom” én hulle tradisionele leefwyse elders wil probeer voortsit, voorsien ek swarigheid vir diesulkes.

Jy skryf in die boek dat die geluksgodin ’n opperste verleidster is. Die diggers moes ’n taai groep mense gewees het, want een van die karakters in jou boek vertel op die skip op pad na die Kaap van Storms van die diefstal, versengende hitte, vlieë, diarree, stof en sweet en die feit dat jy moet saamleef met 20 000 mense, hul diere, varke en pluimvee sowel as hul organiese afval op die rand van ’n pan wat nie uitloop nie. Dan is daar nie eers genoeg vars water en kos vir almal nie. Dit nadat baie van hulle meer as duisend kilometer verhonger en uitgeput deur woestyne en ruwe gebergtes voortgestruikel het. En vir die meer gelukkiges met ’n wa en osse teen slegs 25 kilometer per dag. Kommentaar?

Daar was talle wat dit glad nie kon hanteer nie. Ander, die kleiner groepie gelukkiges met goeie kleims, kon dit sekerlik langer uithou. Samesmelting was uiteindelik die enigste manier. Die groot visse het die kleintjies ingesluk, tot net ’n paar groot rolspelers uiteindelik oor was. Die res was, soos aan die begin, bloot weer arbeiders.

Soos Barney op ’n kol sê: “Wel, Boykie, die plek is nié almal se speelplek nie. As jy nie vinnige oë, ore, sterk senuwees én ’n bietjie verstand het nie, gaan jy sleg tweede kom, dis vir seker. Ek het gesien daar staan klaar weer ’n lang ry mismoediges by die depot reg om te vertrek.”

Jy kom die Britse Empaaier lekker by met hul geldgierigheid, magshonger, minagting van die Afrikaner en hul uitbuiting van veral die swart mense, wat as pakdonkies, pikkappers en vuilwerkers gebruik moes word. Dis duidelik dat die rassekloof toe al bestaan het. Maar tog knoop Marcus ’n hegte vriendskap en vennootskap met die swart man Isaiah Khumalo aan. Dink jy dit was besonder uitsonderlik vir daardie tydperk? Dit sorg wel vir ’n baie lekker storielyn.

Ja en nee. Dit het baie afgehang van die betrokkenes se onderskeie agtergronde. Marcus was uiters sensitief jeens diskriminasie, met ’n Ierse pa wat dit aan eie bas onder die Engelse gevoel het. Kleur as sulks was meestal nie in daardie tyd juis ’n maatstaf of faktor nie, wel of ’n persoon steeds ’n “barbaar” was of gekersten (bekeerd) was. Die rassekonnotasie – huidkleur – het (myns insiens) daarná gaandeweg sterker geword en toe dit later gedogmatiseer is, was die koeël reeds deur die kerk.

Dis vir my interessant hoe jy historiese karakters soos Cecil John Rhodes, Barney Barnato wat boesemvriende met Marcus Moore word, Olive Schreiner en Paul Kruger in die storie inskryf. Rhodes kom byna verwyfd voor met sy gebrek aan belangstelling in mooi vroue, sy puberstem en hoë laggie. Daar is al dikwels gegis dat Rhodes gay was (nie dat dit saak maak nie – mens is mos maar net nuuskierig). Jy skryf subtiel oor hom, maar mens maak jou eie afleidings. Hy klink ook nie juis na ’n simpatieke karakter nie. Ek neem aan jy hou nie baie van hom nie?

Dit mag nou vreemd klink, maar ek het tog heelwat deernis met Rhodes. Soos enigiemand anders is hy nie nét sleg nie. Dit is, dink ek, die probleem met die “fallist”- en antikoloniale bewegings – die baba word met die badwater uitgegooi.

Reeds in sy eie leeftyd was hy geliefd en gehaat. Mark Twain beskryf hom so: “He wants the earth and wants it for his own, and that, the belief that he will get it and let his friends in on the ground floor, is the secret that rivets so many eyes upon him and keeps him in the zenith where the view is unobstructed.

He raids and robs and slays and enslaves the Matabele and gets worlds of Charter-Christian applause for it. He has beguiled England into buying Charter waste paper for Bank of England notes, ton for ton, and the ravished still burn incense to him as the Eventual God of Plenty. He has done everything he could think of to pull himself down to the ground; he has done more than enough to pull sixteen common-run great men down; yet there he stands, to this day, upon his dizzy summit under the dome of the sky, an apparent permanency, the marvel of the time, the mystery of the age, an Archangel with wings to half the world, Satan with a tail to the other half.

I admire him, I frankly confess it; and when his time comes I shall buy a piece of the rope for a keepsake.”

Dit wil vir my voorkom of die formidabele, feministiese en uitgesproke skrywer Olive Schreiner nie juis ’n kloosterkoek was nie. Maar ek dink jy hou meer van haar as van Rhodes. Is ek reg? En dan het sy ook duidelik nie van Rhodes gehou nie en hom ’n “immorele en amorele tweegatjakkals” genoem. Jou vrouekarakters is almal sterk karakters. Was dit so beplan?

Olive Schreiner was beslis nie alleen in haar latere sterk afkeer van Rhodes nie; sien maar Mark Twain se woorde hier bo!

Ja, ek vind veel meer aanklank by haar as by Rhodes, maar hopelik kon ek darem sy menslikheid ook na vore bring en hom nie net swart smeer nie?

.....
Olive Schreiner as sterk karakter is ’n historiese gegewe. As ek ’n bietjie ekstra lewe aan haar tussen die bladsye kon gee wat van haar vele fasette en menswees ’n geloofwaardige én hopelik onthoubare leeservaring maak, is ek aartsbly.
.....

Olive as sterk karakter is ’n historiese gegewe. As ek ’n bietjie ekstra lewe aan haar tussen die bladsye kon gee wat van haar vele fasette en menswees ’n geloofwaardige én hopelik onthoubare leeservaring maak, is ek aartsbly.

Wat my betref, kan die meeste vroue wel deeglik hulle man staan! Ek kon nog nooit die siening kleinkry – dit kom seker uit my ouerhuis – dat vroue “swakker” as mans is nie, behalwe in die eng biologiese sin.

Jou karakters is veelsydig en uiteenlopend. Die hebsugtige Rhodes, die haatlike Jameson wie se inval ’n reusemislukking was, die koppige oom Paul, Barnato die Boerejood, Olive Schreiner, en Moore, die arm gebore maar later vermoënde Skot wie se simpatie saam met dié van Barney by die Boere is. Dan is daar die slim advokaat en staatsman Jannie Smuts. Interessante gesprekke vind tussen hulle plaas. Het die karakters (dié wat nie fiktief is nie) mekaar werklik in ’n stadium ontmoet en gesprekke met mekaar gevoer of het dit in jou verbeelding en in ooreenstemming met hul karakters plaasgevind?

Die historiese karakters het mekaar beslis geken, maar inhoudelik is al die gesprekke, behalwe natuurlik waar direk na historiese gebeure verwys word, my verbeelding, maar wel hopelik in ooreenstemming met hulle onderskeie karakters in soverre mens dit ook uit ander bronne kan agterhaal.

Jy skryf sonder om erg te swets (boeke wemel deesdae van die f-woord, wat later eenvoudig sy trefkrag verloor) en jou liefdestonele is ook baie diskreet. Is dit outydse ordentlikheid wat jou so laat skryf?

Hoe lekker lag ek nou! Nee, beslis nie outydse ordentlikheid nie. Eerder, dink ek, bloot dat nie een van die karakters eintlik so ’n woordeskat vir alledaagse gebruik sou gehad het nie.

Die liefdestonele spreek (hopelik) vir hulself sonder om onnodig grafies te hoef te raak. Minder is meestal meer, hoop ek?

Kruger met sy pyp en spoegbak (sommer in geselskap) is vir my goed beskryf. Mens wonder net waar hy die tyd gekry het om president van Transvaal te wees, want ek lees op Wikipedia dat hy 18 kinders (genadiglik darem by twee vroue) gehad het.

Die pyp val oral op – by oom Paul, by jou karakter in Vallei van die sluiers en selfs op die foto van jou op die boek se flapteks. Is jy en jou pyp dus onafskeidbaar?

Jy moet darem onthou dat vir ’n Dopper soos Paul Kruger was geboortebeperking destyds ondenkbaar!

Ai, ja, die pyp ... Ek rook al pyp van kort na matriek af en dis (tot my dogters se ergernis!) ’n ingeburgerde deel van my.

Gaan jy weer ’n boek aanpak? Dalk weer ’n historiese roman?

Ja, ek het seker al sowat tagtig persent (and counting) van ’n ander manuskrip geskryf. En, ja, dit is ’n historiese roman. Die hoofkarakters is weer historiese figure, sommiges ’n mengsel van feit en fiksie en ander geheel fiktief. Verder sê ek, soos DJ Opperman destyds: “’n Mens praat nie (eintlik) oor brood in die oond nie ...”

Wat doen jy as jy nie skryf nie?

Bestuur daagliks die finansiële sy van my en ’n vennoot se kroeg – per rekenaar van die huis af. Lees, navorsing, “speel” met my kameras, gesels met my geliefde, luister musiek (nie as agtergrond nie!), geniet ’n whiskey of glasie wyn of wat, verkeer soms lekker met ou vriende, geniet Bettysbaai se omgewing, stilte en weer, en woon te lekker in ’n houthuisie onder ons melkhoutbome.

Lees ook:

Oor Hennie Aucamp en mentors

Vuurvoël deur Elmarie Viljoen-Massyn: ’n resensie

Dwars – rare karakters onder ons deur Daniël Lötter: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top