Titel: Dwars – rare karakters onder ons
Skrywer: Daniël Lötter
Uitgewer: Protea Boekhuis
Resensent: Carla van der Spuy
Die dwarstrekkers was nog altyd tussen ons. Dit word dikwels aan die Germaanse bloedlyn toegeskryf. Ons is mos maar ’n eiewyse, dwarsbeneukte klomp. Veral diegene wie se koppige Nederlandse bloed dik deur die are pomp. Maar daar is ook ander wat hier kom nesskop het en groot marakkas gemaak het. Dalk het hulle roekeloos kom raak onder die genadelose Afrikason?
Op die agterplat van Dwars (’n raakvattitel) lees jy dat Suid-Afrika meer as sy deel van “nonkonformiste, randeiers en buitestaanders” opgelewer het. Hierdie eksentrieke karakters het mense van die vroegste tye af “na hul asem laat snak of verstom agter hul hand laat fluister”.
Van die karakters het ek in my eie leeftyd teëgekom, maar daar is ook ’n hele paar verrassings uit “die goeie ou dae” waar skinderstories amper vinniger versprei het as vandag se fopnuus op Facebook en Twitter.
...........
Van die karakters het ek in my eie leeftyd teëgekom, maar daar is ook ’n hele paar verrassings uit “die goeie ou dae” waar skinderstories amper vinniger versprei het as vandag se fopnuus op Facebook en Twitter.
...........
“Agterklapperij” is dit destyds genoem. Die toppunt van skynheiligheid wanneer jy katvriendelik met jou naaste klets net om kort daarna die allerverskriklikste bog oor die einste persoon te versprei en almal hoog en laag laat sweer om niks van die sappige stories te verklap nie. Geheime wat soos veldbrande versprei het en eeue later weereens opduik. Weliswaar met stertjies by, maar darem. Dis mos die Sondagkoerante wat glo dat die feite nooit met ’n goeie storie behoort in te meng nie.
Lötter “name and shame” lustig. Daar is veral twee tantes wie se geskinder volgens hom tot baie sonde gelei het. Baie slim van hom, want wie wat duskant Jan van Riebeeck se tyd gelewe het, kan hom nou eintlik vir laster dagvaar? Ons eertydse volksheld wat nou vir alles wat skeefloop geblameer word, was glo ook nie heeltemal van onbesproke karakter nie. Hy was glo vrot van die skuld in Holland, dié dat hy sy goed gevat en Kaap toe geseil het.
’n Vrou wat behoorlik keelvol vir een van die skinderbekke was, het haar hof toe gesleep. Toe is sy as straf aan ’n skandpaal op die balkon van ’n halfklaar kasteel vasgemaak en moes sy by elke verbyganger om vergifnis pleit omdat sy ’n skinderbek is.
Nogal kreatief van die landdros, moet ek bysê.
Moet dus nie dink die vroue uit die “goeie ou dae” was almal onderdanige kombuisslawe en broodbakkers nie. Lötter beskryf meer as een helleveeg wat myns insiens die kortlys vir Satan se persoonlike sekretaresse kon gehaal het.
Kwaai vroue
Dit was gewis nie net ’n geval van teepartytjies en vlugsout vir ons oermoeders nie. In die jare veertig in die vorige eeu het 200 vroue byvoorbeeld in Voortrekkerrokke na die hofverskyning van die skoolmeisie Elsa Nel opgeruk om hul politieke solidariteit aan haar te bewys.
“De quade Martha Ferreira” was vir haar wewenaarman die spreekwoordelike “kat in die sak”. Nie net moes hy met asynlappe verpleeg word nadat sy hom met ’n bakskottel afgeransel en daarna in die hoenderhok weggesteek het nie, sy het ook sommer wild en wakker met ’n sambok ingeklim onder diegene wat met haar swaarde gekruis het.
Dan was daar Hannie Wolmarans wat ’n Joodse veekoper met die vuis bygedam het omdat hy haar skape beledig het. Sy het hom darem net een keer geslaan en toe bly lê hy. Maar so harteloos was sy klaarblyklik nie, want sy het in die hof vertel sy het hom orent gehelp! Die onverskrokke riller van ’n tante het selfs ’n gewapende rowersbende stoksielalleen met ’n sambok agternagesit.
Tant Hannie, wat op ’n foto in die boek nie juis ’n skildery van ’n mens was nie, was boonop glo alombekend ydel. So ydel dat sy selfs voor ’n lang spieël in haar lykskleed in haar kis, wat op twee stoele staangemaak is, geklim het sodat sy kon sien hoe sy in haar dood sou lyk. Mens moet seker darem glansryk die hiernamaals betree. Sy wou boonop tussen haar twee oorlede mans ter ruste gelê word sodat sy met die twee “ou bulle aan die arm by die poorte kon instap”!
Asof hulle sou instem. Ou Sewus het hoeka op ’n foto in die boek die gesig van ’n diep beproefde man. Intens verdrietig staar hy voor hom uit.
Lötter skryf ook onderhoudend oor Mary Pagel, “kwaai miesies van die sirkus”. Mense wat haar probeer ondermyn het, is sommer met ’n oop leeuhok gedreig.
Adellikes
Daar is ook fassinerende stories oor Russiese adellikes, soos die geheimsinnige Ouma Alina, wat vertel het sy was die laaste groothertogin van Rusland.
Hy skryf voorts oor José Dale Lace, die “Boerelady van die Bo-Karoo”.
So deftig was sy dat haar perdestalle met kiaathout en matte versier is.
Nie almal kan van bloubloedgedrag beskuldig word nie.
Die hoofstuk oor Katherine Radziwill, die Russiese prinses sonder ’n gewete, was vir my besonder interessant. Lötter beskryf haar met reg as iemand wat vandag moontlik as ’n sosiopaat gediagnoseer sou word. Sy het gelieg en bedrieg en haar sjarme misbruik om selfs vir Cecil Rhodes, wat glo ’n voorkeur vir mans gehad het, te manipuleer en te betower. Sy was ook ’n skrywer wat graag derms oor die Britte uitgeryg het. Haar storie het my nogal aan dié van die destydse Prins van Pretoria herinner – ’n opperste bedrogspul waarvoor almal geval het en hul rooi tapyte uitgerol het, tot slim sy baas gevang het.
Ek het heel eerste uit pure nuuskierigheid die hoofstuk gelees oor Dr James Barry, wat in die 1800’s geleef het, moontlik die eerste vrouedokter was en haar ware identiteit vir drie en ’n halwe dekades weggesteek het. Die storie bly ’n raaisel waarop die skrywer moontlik lig gewerp het.
Selfs heelwat later, in die jare vyftig, het mense nie so maklik uit die kas geklim soos vandag nie. Hans Strijdom se groot verleentheid toe sy aktrise-vrou Marda Vanne hom vir ’n vrou gelos het, is nogal aardskuddend.
Die bisarste storie wat in my tyd afgespeel het, is die een van Elizabeth Klarer met Akon, haar groot liefde uit die ruimte, by wie glo selfs ’n kind verwek is. Hy en sy verre planeetbewoners kon glo darem Engels praat. Daar bestaan ook nie by hulle siekte en veroudering nie. Klink vir my na ’n plek waar botokssalonne bankrot sal speel.
As ek reg onthou, het die storie ook in Die Huisgenoot verskyn. Dus moet dit waar wees.
Misdadigers
Lötter vertel hoe die aartsskurk Willem Goosen meer as een keer meesterlik uit die tronk ontsnap het. Sy pa het hierdie diep skelm van misdaad geleer toe hy skaars uit sy doeke was. Sy ontsnappingstoertjies het van hom ’n legende gemaak.
Die tragiese storie oor Happy Sindane, die “wit” kind wat by swart mense grootgeword het, is ’n vingerwyser na ons vorige politieke bedeling.
Hendrik Biebouw maak ook ’n kleurryke draai in die boek. Die man met die gevleuelde woorde wat in die 1700’s gesê het: “Ek wil nie loop nie. Ek is ’n Africaander. Al slaan die landdros my dood of al sit hy my in die tronk, ek sal nie stilbly nie.”
Manna uit die hemel vir diegene van ons wat ballisties oor Afrikaans raak.
Uitdrukkings
’n Mens wil jou breek vir party van Lötter se beskrywings. So skryf hy dat ene Theuntje Borns, wie se mond blykbaar meer oop as toe was en haar oral losgeskinder het, “met een (skeel) oog na die galg en die ander een na die duiwel gekyk het”.
Hier is nog enkeles:
“Seil, Sewus Wolmarans, seil oor die klippers huis toe. Jou gat is hard genoeg van heeldag stilsit!” – Tant Hannie aan haar long-suffering eggenoot wat by ’n vol rivier wou weet hoe hy by die huis moes kom
“Hy verdwyn soos ’n opslagdwarrel die nag in” – uit die hoofstuk oor Dirk Ligter
“Onkruidsige maters” – Willem Goosen
“Die boswerkers met hul flenterklere en skurfgesukkelde hande” – Tant Sarah, oujongnooi met die blikwinkel
“Taffy met sy donker oë en donker siel steel gewetes so ver as wat hy gaan” – Taffy Long, wat weens hoogverraad aan die galg geswaai het
Hierdie boek toon weereens dat die stories oor kansvatters, booswigte en boereverneukers onder ons net eenvoudig veel lekkerder lees as verhale oor die vromes.
............
Hierdie boek toon weereens dat die stories oor kansvatters, booswigte en boereverneukers onder ons net eenvoudig veel lekkerder lees as verhale oor die vromes.
............
Die skrywer se verteltrant is soos altyd gemoedelik, gesellig en dikwels humoristies.
As jy gek oor geskiedenis is en terugverlang na die outydse kuns van storievertelling, skaf Dwars aan.
Dit behoort egter met ’n waarskuwing uitgereik word dat die uitgewer nie verantwoordelikheid aanvaar as vroue wat vir hul mans die joos in is dink dis ’n boek met wenke nie.