Die Zef-fenomeen: 'n Vraag- en uitroepteken in dieselfde asem

  • 0


Knoffel (heel links), Die Antwoord en Henry Cloete (regs) in die Kaapse middestad na ’n onderhoud.

Ek dink dit was in Februarie 2009. Ek sit in my vriend Sean met die Bril se home studio in Fichardtpark, Bloemfontein. Ons sit en luister na ’n snit getiteld “Doosdronk” en rook een sigaret na die ander. Ek dink daar was ook whiskey teen die middag se verveel.

Die snit eindig met ’n soort grapperige dronkman-gebabbel: “Hei ... hei, waar’sie after-paartie.”

Dan’s dit stil vir ’n rukkie.

Ek hoef nie te sê “Speel dit weer” nie. Die trekklavier-inleiding bons reeds weer van die donker mure af. Ek weet nie waar Sean die snit gekry het nie. Maar ek seerower dit summier en gaan luister weer en weer daarna.

Waar presies lê die verslawende bekoring?

Ongeveer ’n jaar-en-’n-bietjie later sit ek in die Purple Turtle in Kaapstad. Voor my sit ’n getatoeëerde man met groot oë wat onafhanklik van sy emfatiese armbewegings rondskiet. Langs hom ’n kort meisie in ’n rooi dungaree wat tydens ons gesprek doodluiters ’n klein wit rot uit die dungaree se voorste sakkie haal en hom oor haar skouers laat klouter. Dit is net nadat Die Antwoord se musiek soos ’n cluster grenade oor die internet ontplof het. Hulle is world famous soos hulle hier sit.

Waar presies lê die verslawende bekoring?

Ek kan seker nie vir almal praat nie. Maar wat my betref, as ek dink aan die fenomeen wat Die Antwoord is, dan dink ek ook aan van daardie werke in ander genres ... As ek nou so vinnig dink is Edvard Munch se “The Scream” en Steppenwolf deur Hermann Hesse sekerlik onder hulle – daardie werke wat ’n vraagteken en ’n uitroepteken tegelyk is.

Voordat almal begin skel - ek probeer nie nou Die Antwoord in dieselfde klas as hierdie meesters immortaliseer of inforseer nie, maar op die vraag “Wat is zef vir my?” soos deur LitNet gevra is: die huidige fenomeen se aansien gun dieselfde gevoel as daardies.

Ek is nie oorbekend met die zef-fenomeen soos afgelei uit die Zephyr-motor en dies nie. Valiant Swart se “Die meeste mense is maar lekker Zef”-lied het ook nie vir my as sulks inherente imponasie (“imponasie”? blegh!) in dié opsig gedra nie, maar ek’s redelik seker dit was nie die doel daarmee nie.

Ieder geval, die vraag word vir my gekonsolideer na “Wat is die zef-fenomeen vir my?” Toe ek by Leon Botha, oftewel DJ Solarize, wat in Die Antwoord se video “Enter the Ninja” verskyn, aangedoen het, het hy dit eintlik vir my die beste opgesom, en ek het hom as volg aangehaal in ’n onderhoud: “[L]ook at Die Antwoord’s (‘Enter the Ninja’) video. In a way, that video fucks you up completely. You don’t know what to think about it. That’s what it’s about – to create that inner conflict for the viewer. The viewer becomes their own enemy in a sense.”

Ja wel. Die vraagteken en die uitroepteken in dieselfde asem. Harry Haller se asemlose gil.

Daar is mense wat die zef-ding beter as ek kan analiseer, so ek vermy dit eerder. Wat ek wel kan sê, is dat ek onomwonde ’n aanhanger van Die Antwoord, Jack Parow en kie is. Daar is ’n Fight Club-agtige element daaraan. Wie kan nog onthou hoe Tyler Durden in die film vir Edward Norton se karakter sê: “Fuck damnation, man! Fuck redemption! We are God’s unwanted children? So be it!” En later: “You’re not your job. You’re not how much money you have in the bank. You’re not the car you drive. You’re not the contents of your wallet. You’re not your fucking khakis. You’re the all-singing, all-dancing crap of the world.”

Kortom, hoewel die Zef-filosofie dalk juis vet karre, vet beursies en phet klere (of dalk die blote smagting daarna) omarm, is daar net so veel van ’n omarming van verwoesting, dekonstruksie, herkonstruksie en herontdekking daaraan. Dalk is dit die subteks, dalk nie.

Al wat ek weet, is dat die fenomeen soos hy nou staan, nie ’n ellips in het nie. Dis in jou gesig, soos ’n bekskuim-hond wat sy stert swaai, soos ’n galgtou van satyn, soos ’n afgrond vol botterblomme.

Maar nou reën dit en ek luister Miles Davis en dink aan swak besluite.

Alles het sy plek in alles wat ’n mens is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top