Die Woord het geen kaartehuis nie

  • 5

Die fout wat agnostici maak, is om te dink dat as mense die kerk verlaat, dit die Bybel of die Godsdiens is wat ineenstort.

Hierdie proses is egter niks nuut nie. Deur die eeue heen, het baie gekom en daar was nog maar altyd ’n paar wat gegaan het. Wat eintlik gebeur, is daardie inherente suiweringsproses wat plaasvind. Die Woord is die ewige Spirituele Waarheid (Johannes 14:6) en dié Waarheid is beknop in die boeke van die Bybel opgeteken, deur inspirasie. Party mense wat betrokke raak en eintlik maar wolwe in skaapsklere is, kán later nie meer huishou met dye Waarheid nie, omdat daar met hulle ’n botsing in die Gees is. Dan verlaat hulle die Kerk.

Ons as gelowiges, verwelkom hierdie proses en het dit nog altyd verwelkom.

Dit is ook gewoonlik mense wat nie die mas kan opkom nie, weens gebrek aan Spiritualiteit én natuurlik, Spirituele Intelligensie. Op die ou end bevind hulle hul tussen die agnostici en dié haal die uitvallers aan om die ware Godsdiens mee te probeer bykom.

Soos ek sê, dit is ’n antieke proses en het net één gevolg – die ware Godsdiens bly suiwer – want die Woord sal nié gekorrupteer raak nie. Soos die liggaam die onsuiwerheid uitsweer, só maak die Woord proses ook. Die Godsdiens se gewin in die uittrede van die uitvallers, is die agnostisisme se verlies, wanneer dié onsuiweres dan by die agnostici aansluit. Dan, uiteindelik, kom hulle waar hulle nog heeltyd hoort.

Diesulkes is inderdaad ketters en ketters verlaat, Goddank, die Godsdiens. Dit is suiwering. Hulle kan nie die Godsdiens besmet nie, want die Woord waak oor die Godsdiens. Húlle gaan, nié die Woord en die Godsdiens, nie en dit is duidelik wanneer hierdie mense hulself skielik aan die rand van die geloofsgemeenskap bevind.

Ons noem een voorbeeld van die ketters se insigloosheid - Genesis het nié twee weersprekende skeppingsverhale nie. Daar is twee verhale wat op verskillende vlakke van die Skepping konsentreer. Genesis 1 handel oor die oorhoofse skepping en wanneer dinge gebeur het. Genesis 2 konsentreer op sekere grepe uit die skepping, naamlik verse 4-5, gee meer detail oor Genesis 1:1 (om die verse wat in Genesis 2 volg, in ’n sekere perspektief te stel, veral die rede daarvoor daar op daardie stadium, geen reën was, nie); Genesis 2:6 dui aan wanneer dit vir die eerste keer gedou het en daar vir die eerste keer watervog in die lug versamel het (die atmosfeer het inwerking gekom) – pas voor die mens geskape is. Genesis 2 begin dan eintlik hoofsaaklik waar Genesis 1 opgehou het met die skeppingsverhaal en in Genesis 2 konsentreer die Woord op die skepping van die mens en in besonder die mens se verhouding met God, hoe God vir die mens gesorg en voorsien het, met sy omgewing, die Paradys en wat God van die mens verwag het.

Eenvoudig, daar vir almal om te lees, maar ketters sal dit mos nie kan verstaan nie en verstaan dit ook nie. Die obsessiewes onder hulle sal nou weer die kuberruim gaan deursoek na nog insiglose, Spiritueel gebrekkige sekulariste en agnostici om my te probeer weerspreek – só voorspelbaar.

Maar moenie deur die pogings van Angus geflous word nie. Hy doen homself skade aan met sy insiglose geketter, agter ander ketters aan (hy weet in elk geval nie van beter gegewe sy eie oortuigings). Dit doen hy maar net vir een rede en dit is om die aandag te probeer afwend van die eintlike dorings in sy vlees en dit is die ontbloting in die openbaar hier van die stelsel wat hy skynbaar werklik gedink het, bo verdenking staan en toe moes agterkom dat dit ’n klug, ’n fabel is – die darwinistiese evolusieleer.

Soos ek reeds gesê het – ons as gelowiges stel nie in die minste belang in bewys van dít waarin ons glo, nie. Ons beleef die Here en het géén bewys daarvoor nodig nie, want ons geloof is daarmee beloon. Trouens geloof verg geen bewys nie. Daarom maak sulke onkundige en insiglose uitlatings hoegenaamd niks vir ons nie. Dit raak ons nie. Dit demonstreer maar gewoon die agterstand en gevolglike onkunde van die agnostikus.

Maar die agnostikus is nie só gelukkig nie. Hy glo aan niks wat lewe, nie. Hy glo aan dooie darwinistiese hipotese, wat vir sy lewe en vir sy sielerus, van deurgrondelike bewys afhanklik is – bewys wat nie materialiseer nie… en nie kán materialiseer nie.

Dit is die penarie van die agnostikus, wat aan ’n kadawer glo wat hy self moet probeer regop hou, ander val dit op hom en versmoor hom onder die maaiers – die plek van die satan.

“9 Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan.
10 Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword.
11 Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as ’n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking.” – Jesaja 14.

Groete,
Kobus de Klerk

  • 5

Kommentaar

  • Kobus, jou stelling dat die "agnostikus - slegs glo aan 'n dooie darwinsitiese hipotese" verwys. Verduidelik in meer detail? Is jy van opinie dat die agnostikus spesifiek sy hele lewe op darwin skoei, soos wat die christen sy hele lewe op die bybel skoei?

  • Stephan Marcus

    Daar ís twee verhale in Genesis. Om die waarheid te sê mens kan selfs argumenteer dat die Bybelskrywers twee verskillende gode aanbid het: Jahweh en een wat hulle Elohim genoem het. Geen Ou-testamentikus wie die tekste in die oorspronklike Hebreeus lees stry daaroor dat die twee dele in Genesis verskillende name vir hul god gebruik nie en dat op grond van stilistiese kenmerke en woordgebruik deur verkillende skrywers geskryf is en later saam geredigeer is nie.

    Die teologiese beginsel dat die verskillende boeke en onderdele van boeke van die Bybel wat verskillende oorspronge het so gelees en geïnterpreteer moet word om nie teenstrydig te wees nie en 'n samehangende eenheid te vorm is relatief modern en geen so 'n instruksie kan in enige van die Bybelboeke self gevind word nie.

    Mens sou kon argumenteer dat dit eerder lasterlik is om met voorafopgestelde idees die boeke te lees en nie die teks te laat spreek soos wat die skrywer dit bedoel het nie.

  • Kobus de Klerk

    Elke mens het geloof, Johan - jy ook (al is dit verstommend dat jy dit sal wil ontken).

    Maar ek glo dat God die Skepper is. Jy glo dieselfde, maar van toeval. Toeval is jou god. Ek glo die skepping is deur God bewerkstellig soos daar aanduidings van is, in Genesis 1 & 2, die dele wat daarop betrekking het. Jy glo saam met Darwin dat jou toeval-afgod dit gedoen het op die basis van die darwinistiese evolusieleer.

    Ek glo dat my morele standaarde en lewensvreugde van God, deur Sy inspirasie is. Jy glo dieselfde maar vanuit 'n proses waar jou afgod, toeval, die kenmerke evolusionêr ontwikkel het.

    Ek glo in die ultra Intelligente God, van Wie elke iedere intelligente skepsel sy intelligensie ontleen. Jy glo nie dieselfde nie, wat jou afgod, toeval, is nou weer ultra onnosel - meer onnosel as 'n klip, en jy beskou intelligensie as 'n ding wat sommer so langs die pad van evolusie op die wa gespring. het - waar, weet jy en niemand van jou sibbe, nie..

    So glo ek en jy beide, maar heeltemal anders

    Uiteindelik gaan die manier en waarin ons onderskeidelik geglo het , 'n ewige verskil maak, onderskeidelik  van vreugde of smart.

    En op die ou end kan net ek of jy, reg wees daaroor - en dit is ek.

    Groete en sterkte vir jou.

    Kobus de Klerk

  • Spirituele Intelligensie 101 (aanvullend). 

     
    En op die ou end kan net ek of  jy reg wees daaroor - en dit is ek. 
     
    Nieteenstande feite,  ander gesaghebbende opinies, wetenskaplike toetse - Kosie is altyd reg. 
     
    Hel Koos jy is fenominaal!
     
    Thomas
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top