
“Die wind kan skielik draai” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Die wind kan skielik draai
Sy is hier! Hiér waar alles begin het.
Nóg geswelde voete, nóg stywe knieë kan die opgewondenheid blus wat in haar opwel waar sy stadig orent kom uit haar sitplek. Elf uur lank het sy haar gedagtes vrye teuels gegee, haar pelgrimstog in die fynste besonderhede in haar gedagtes sien afspeel – van die oomblik waar sy haar voete op Franse bodem gaan neersit, die Hugenote toer (wat ’n besoek insluit aan die Musée du Protestantisme in Poët Laval) en die laaste been in Frankryk waar sy deur Mer-sur-Loire se straatjies gaan stap en die lug van haar voorsate inasem voordat sy die laaste spore volg tot in Nederland.
Sy raak ongeduldig om uit die vliegtuig te ontsnap. “Francois en Anne was seker nét so haastig en ongeduldig soos wat ék nou is toe hulle hul vaderland ewig vaarwel toegeroep het,” wis sy. Die gedagte aan hulle vlug laat altyd ligte hoendervleis teen haar arms uitslaan en sy is kinderlik-opgewonde toe sy uiteindelik deur die tonnel van die vliegtuig wegstap en haar pad na die karousel vind om haar bagasie te kry.
Die landskap snel by die trein se venster verby in strepe van landerye, bome en hier en daar spatsels kleur van blommeplate langs die spoor. Marié vou die papiersakkie netjies op waaruit sy die pain au chocolat geëet het en maak haar skootrekenaar oop:
Die weersiens:
Ek reken as ek net ’n gewone toeris was sou ek ’n ander dagboekinskrywing gemaak het vandag, maar ek is nie net ’n toeris nie. Ek is die verlore dogter wat teruggekeer het, maar daar is geen oop arms nie, geen kleed of ring en geen vetgemaakte kalf vir die fees om my tuiskoms te vier nie. Inteendeel, die meeste mense in my voorvaders se land is nie eens bewus van die Hugenote se bestaan nie en stel hoegenaamd nie belang in ons, hulle verlore, verlangse familie in Afrika nie ...
Parys se skoonheid bedek al haar krankhede en ek het my laat meesleur soos die vloei van die Seine waarin sy haar voete doop en die water roer. Elke brug en keisteenstegie is ’n verlokking, ’n uitnodiging om die stad verder te verken. Daar is La Sainte-Chapelle, die kerk van lig, waar eenduisend-eenhonderd-en-dertien gekleurde glasruite dit amper regkry om ’n mens iéts van die hemelse Stad te laat sien. Maar daar is ook stemme in die klip van Notre Dame wat my vertel van al die smarte wat sy in haar boesem dra - agthonderd jaar se trane en smeekgebede van dié wat God se stem in klip en hout kom soek. En daar is die Seine - die ewige Chimera wat vir toeriste en verliefdes flikflooi onder die maanlig, maar ook met oop arms die liggame van gefolterde siele gryp en dompel in die ewige slaap. Dieselfde Seine het op 24 Augustus 1572 gulsig bloed gedrink toe Gaspard de Coligny en duisende Hugenote uit hul huise gesleep en wreedaardig vermoor is in die strate van Parys en hul gebreekte, bebloede liggame in haar kolkende duisternis gegooi is. Die groot vervolging het begin - ook vir Francois Retif van die klein dorpie, Mer.
Mer-sur-Loire se horison is ’n nimmereindigende lyn wat die amper kobaltblou lug skei van die groen landskap waarop daar plek-plek ruig en ongetemde bos gedy - ’n wêreld met baie water en moerasse. Die Loire stoot wyd en onverstoord haar water see toe, verby majestueuse chateaux - pêrels aan haar snoer - Chambord, Blois, Amboise. Dié argitektoniese kunsstukke is genestel teen die landskap soos kosbare edelstene aan die hals van ’n beeldskone vrou.
Marié neem ’n foto van haar voete, skoene uitgetrek, en sy voel die warm aarde onder haar voetsole. Só staan sy – oë toe – en gee haarself oor aan die emosies om oor haar te spoel. Haar hart roep na Francois:
Ek staan op jou grond ... Dieselfde grond waar jou voete ook eenkeer geloop het, grond waarin jou hande gegrawe en die vrugte van gepluk het, die grond waarin julle geliefdes se bloed getap is ... Hiérdie grond het vir oulaas jou stem gehoor - gefluisterde planne agter geslote deure - en sy het ook jou laaste voetval op haar boesem gevoel. Het jy gehoor hoe sy na jou roep toe julle gevlug het? Weet jy dat sy steeds haar kinders roep?
Hoe érg moes die wreedheid, die vrees nie gewees het nie wat julle uit hierdie paradys gedryf het – ’n land van oorvloed en skoonheid, ryk aan kultuur, kuns, kos. ’n Taal wat jou meesleur – melodieus, elegant, passievol.
Sy bak haar hand oor haar oë om die landskap om haar te bespied, amper soekend. Haar stem is sag en hees:
’n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie. Die stilte klop. En dan die sussende woorde: Ek hoor ook jou bitter geween, mooie land, en ek voel jou gebroke hart wat trillend onder my voete klop.
Sy is al amper ’n week lank in Mer-sur-Loire en waar sy elke detail gretig indrink, is Marié skielik rusteloos. Het sy gehoop om iets van Francois nog hier te vind? ’n Gewaarwording waar hy miskien geloop het – verby die toring aan die Rue des Coteaux agter die stadsaal met die rooi luike? Sy stem in die Protestantse tempel van Aulnay? Miskien sy voetval al langs die Tronne wat sag kabbel deur die dorp? Het hy, soos sy, die dag in koel vrede gaan ontmoet op die kronkelpaadjies langs die rivier? Miskien, miskien, miskien, maar niks tasbaars om saam met haar terug te neem nie, behalwe ’n paar afskrifte van dokumente – ink op papier wat sê Francois Retif is hier gebore op 2 Februarie 1663.
Dit is ’n wêreld van styl en swier, ’n landskap wat kunstenaars betower en nooi om haar skoonheid te vertoon, ’n kultuur van familie en vriende om etenstafels wat net deur Renoir se kwas lewend kan word op ’n skilderdoek, die streek waar Da Vinci sy laaste werk kom doen het en waar vonkelwyn jou die sterre laat proe. Maar ook ... ’n streek wat soveel bloedvergieting aanskou het - verwoesting, oorloë, rewolusie.
Daar is ’n warboel gedagtes wat deur haar kop maal waar sy op die veerboot sit en wag om te vertrek na Texel, ’n eilandjie noord van die Hollandse vasteland. Die halfuur se bootrit is die laaste deel van haar reis na die plek waar Francois Retif op 6 Januarie 1688 op die Borssenburg na die Kaap de Goede Hoop vertrek het - ’n tyd lank nadat hy en sy suster die Hollandse grens veilig oorgesteek het. Met gemengde gevoelens lees sy haar dagboekinskrywing oor die afgelope drie dae:
In ’n kafee op Place Saint Pierre in Saumur waai ’n ligte reënbui bekende woorde teen my vas: Jakkals trou met wolf se vrou. Dit was soos ’n plaashek wat oopswaai, asof die warm Afrika-son vir ’n wyle oor my kom skyn het! Tipies Suid-Afrikaans het ons begin gesels. Sy is getroud met ’n Fransman en woon ’n klompie jare al in die Loire-vallei. Sy het onder ’n sambreel by die kafee kom skuil toe ’n katspoegie met die son wou meeding en haar oproep met haar suster kortgeknip het. Ons deel ’n belangstelling in geskiedenis, kos en vlooimarkte – en ook Hugenotebloed.
Ná ’n middag se kuier onder die rooi sambreel langs die kafee dring sy aan dat ons die volgende dag saam Chambord toe gaan. “Jy kan nié die Loire verlaat sonder om een van die chateaux te sien nie. En Chambord is ’n juweel!” Sy was reg. Dit wás ’n belewenis, waarna ons een van haar vriende vir middagete ontmoet het – Monsieur Charette, ’n geskiedkundige en afstammeling van een van die oudste adellike families in die Loire-streek. Sonder ’n vertaler sou ek huis toe gekeer het sonder die kennis van goed én kwaad ...
Die wind teen die klein eilandjie langs die ysige Noordsee is die spieëlbeeld van Marié se gemoedstoestand. Sy verken die ou hawedorp, Oudeschild, en dink hoe wrang die naam van die meule is: Traneroeier. Die stukkie water tussen Oudeschild en die vasteland is ’n begraafplaas van skepe en in haar geestesoog sien sy die paniek van mense wat in stormweer – soos skape ter slagting – moes wag om met roeibote na die skommelende, kreunende skepe gepiekel te word. Daar was geen omdraai vir hulle nie, geen huise waarna hulle kon terugkeer nie. Soos met ’n geboorte, moes hulle deur die kanaal van pyn en benoudheid in die hoop om veilig verlos te word aan die wal op die suidpunt van Afrika. Maar hiér moes hulle wag dat die wind in die regte rigting draai en die seile vul wat hulle moes voortdryf op die onvoorspelbare see. Sy onthou woorde wat sy by die Hugenote Monument in Franschhoek gelees het: “You have to understand that no one puts their children in a boat unless the water is safer than the land.” Spookvingers kielie weer hoendervel oor haar arms en sy onthou ’n ou man se onlangse woorde aan haar: “Die wind kan skielik draai ...”
Sy herleef haar gesprek met Monsieur Charette. Hy was verbaas om te hoor dat ’n nasaat van ’n Hugenoot Frankryk meer as driehonderd jaar later kom besoek om in die voetspore van haar voorsate te kom stap. Hy is Katoliek - nie gelowig nie - maar kultureel-Katoliek. Sý woorde toe sy hom vertel het dat die Hugenote se geloof na ál die jare steeds vurig brand in baie van hulle nasate in Suid-Afrika. Hulle het gesels oor die vervolging en wreedhede gepleeg teenoor die Protestante en sy was geskok om te hoor dat hy nog nooit in sy sewentig jaar ’n Protestant ontmoet het nie. Marié wou Francois se stem wees, die onreg uitspel oor die vergrype en wreedhede gepleeg deur sy kerk. Sy wou hom vertel wat ontworteling doen aan mense, hoe – geslagte later – nasate wonder of hulle Europeërs of Afrikane is. Sy wou hom peper met al haar duisende vrae: “Hoekom was hulle so wreed teenoor hulle eie bloed? Hoekom weet hulle niks van ons nie?”
Monsieur Charette het haar hand liggies aangeraak en sag gepraat, met lang tussenposes, sodat sy woorde korrek vertaal kon word: “Die mens is die argitek van die wreedheid in hierdie wêreld en geen politieke party óf kerk óf geloof óf volk was of sal daarvan gespaar word nie. Geweldenaars en moordlustiges het nie spesifieke voorkeure vir kerk of volk nie; hulle verspil bloed net waar hulle hul bevind - van die priester tot die politici tot die hooggeleerde tot die ongeletterde arbeider. Net ’n honderd jaar ná die Protestantse vervolging het die bloedigste teen-rewolusie in Frankryk losgebars ná die Franse Rewolusie. My voorsate was Katolieke monargiste en het die boere in die Loire-streek gelei in ’n guerrilla-opstand teen die Republikeine. In die eerste drie maande van die Vendée-oorlog in 1794 het veertigduisend mense hulle lewens verloor in hierdie pragtige Loire-streek. Die onmenslikheid van broer teen broer is ’n skandvlek op die Franse volk, nét soos die vervolging van die Protestante vantevore. Beide Protestante én Katolieke het hulle monsters opgelewer. ’n Monnik het vertel hoe die Protestante jong meisies verkrag en nakend buite dorpies opgehang het, hoe swanger vroue se lewens bloedig beëindig is in wynparse. Hulle Katolieke volksgenote het mense se koppe op houtpale ten toon gestel. Mense is aan mekaar vasgebind en in die Loire-rivier gegooi. Hierdie wandade is te wreed vir mense om nou aan te hoor, maar om te swyg is om hulle lyding te misken. Daar is historici wat die standpunt huldig dat die Vendéese-bloedbad volksmoord was - ’n volksmoord van ’n volk op haarself ... Mag God die mens red van homself!” Na ’n lang stilte het hy voortgegaan: “Die geskiedenis bewys telkemale: Die wind kan skielik draai. Miskien het die wind tóg ten gunste van jou voorouers gedraai?”
Die wind waai nou sterker en sy weet hierdie is haar laaste tree in Francois se voetspore in Europa. Net soos wat sy dit vantevore gedoen het, haal sy ’n lapelspeld met die Hugenotekruis van haar baadjie af. Daar was een wat sy in die Seine gegooi het en een in die Loire. Een het sy begrawe in die warm, sagte grond net buite Mer-sur-Loire. Sy vryf die speld tussen haar vingers en besef dat sy huis toe verlang. Jare lank het sy haar verbeel dat Frankryk haar ander huis is, maar nou eers verstaan sy die krag van Hendrik Bibault se woorde: “Ik ben een Africaander!” Sy verlang na die son, na die wye vlaktes van die Vrystaat, na die Kalahari se rooi sand, na ’n Karoo-nag met die melkweg teen ’n swart fluweeldak. Sy verlang na die reuk van braaivleis, na die bosveld, Tafelberg en die Drakensberge, na die Kaapse wingerde en fynbos, na boerbeskuit en melktert. Sy verlang na ’n konsertina wat speel, na Sarie Marais en Mannetjies Roux, na kaalvoet loop. Na Koos du Plessis en Laurika wat waarsku: “Jakob, pasop. Die wind kan skielik draai.” Maar meer as dit – sy verlang na haar mense. Mense wat ten bloede weerstand gebied het en steeds bied, mense wat oor en oor weer kan begin, mense uit wie ’n nuwe taal en kultuur gegroei het, mense wat steeds onwrikbaar groei uit die wortel van hulle oorsprong, maar nuwe takke uitstoot en aanpas, mense wat op skepe geklim het en alles agtergelaat het, sodat sy deel kan wees van ’n nuwe stam - ’n stam wat sy wortels respekteer, maar vernuwe in sy groei en in eie reg bestaan.
Dankie, Francois, dankie dat julle ons in ’n nuwe land gaan plant het. Jare lank het ek geglo Afrika se rooi grond roep na bloed. Dit was toe nooit die grond nie. Die grond is ewig trou – nét soos die Franse grond. Dit is die mens wat die duisternis in hom dra, wat die grond benat met bloed. En die grond ween.
Sy laat die blink speld deur haar vingers gly. Dit verdwyn in die troebel see. En skielik draai die wind.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

