
Krys Igirubuntu as Sandra Bollock (links), Asanda Mngadi as Loco Chanelle (middel), Andrew Woods as Laika Virgin (agter) en Andrew Ingram as Tray Sophisticay (regs). (Foto: Michael Dupré)
Die bekroonde West End-musiekblyspel Everybody’s talking about Jamie word vir ’n baie kort speelvak deur die Waterfront Theatre School by die Kunstetkaap op die planke gebring.
Die musiekblyspel is gebaseer op ’n ware verhaal, en soos die persvrystelling verklaar: “Everybody’s talking about Jamie is meer as ’n musiekblyspel – dis ’n viering van self-uitdrukking, aanvaarding en die moed om onapologeties net jy te wees. Dis ’n diep menslike musiekblyspel oor die keuse om luid te leef – in ’n wêrled waar jy stil moet wees.”
En die plakkaat voor die teater gee ’n wenk wat jy te wagte kan wees as die hoofkarakter in ’n skooluniform pryk, maar met bloedrooi fluweek hoëhakskoene.
Die blyspel is geïnspireer deur die 2011 Britse televisiedokkie Jamie: drag queen at 16 wat deur Jenny Popplewell geregisseer is. Die verhaal is gebaseer op die ware lewensverhaal van die 16-jarige Britse skoolseun Jamie Campbell, wat vooroordeel en boelies oorwin het om ’n drag queen te word. Die boek en lirieke is uit die pen van Tom MacRae.
Jamie New is 16 jaar oud. Hy het groot drome. Hy is in die Sheffield-platteland vasgevang in ’n wêreld waar “anders wees” nie toegelaat word nie. Maar hy het sy ma, Margaret, en haar vriendin, Ray, en sy beste vriendin, die skaam slimkop-Moslem, Pritti, aan sy kant. Margaret noem hom nie verniet haar “pragtige glips” nie. En sy vertel ook dat sy haar toekoms sal verruil om vandag tyd saam met hom deur te bring. En so half ongemerk wys hy die wêreld wat gebeur as jy dit waag om hardop te droom – in hoë hakke.
En hoewel die akteurs studente van die Waterfront Theatre School is, is die span wat verantwoordelik is vir die produksie, almal gesoute teatermakers. Dis ook boonop dieselfde span wat verlede jaar die uitverkoopte produksie Heathers – the musical tot lewe gebring het. Die bekroonde Paul Griffiths is in die regisseurstoel en span kragte saam met die ervare musikale regisseur Garth Tavares en die choreograaf Ursula Lubbe.
“Hierdie musiekblyspel is ’n viering van hoe ons dele van onsself in ander kan sien, ons verskille kan omarm en met ons ooreenkomste kan skakel. Ons het ’n oorweldigende kapasiteit om te aanvaar,” sê Paul. “Dis ’n magtige grootword-verhaal, netjies verpak in humor, wonderlike musiek, emosies en uitbundige energie, wat jou terselfdertyd sal inspireer, vermaak en laat lag.
“Soms worstel ons met ’n wêreld wat dinge slegs in ’n spesifieke dimensie sien. Jamie breek dapper deur hierdie grense en word ’n held omdat hy weier om langer in ’n boks geplaas te word waarin hy glad nie pas nie. Hy is die uiteindelike viering van individualiteit.”
Hierdie is jou uitnodiging om by die beweging aan te sluit. En vind uit hoekom almal werklik oor Jamie praat.
Die gaste wat voor die vertoning opdaag, is nie jou gewone teatergangers nie. Daar is mans in rokke; mans in aandpakke met borsspelde en pêrels; ander met grimering.Terwyl ons aan koue vonkelwyn teug en oor versnaperinge met vreemdelinge gesels, kom ’n trots én dankbaarheid opeens oor my. Trots dat ek in ’n stad (en ook gedeeltelik in ’n land) woon waar mense hulself kan wees, sonder vervolging of om in die naaste donker stegie aangeval te word. Dankbaar dat mense veilig genoeg voel om hulself te wees.
Dan Gillespie Sells se musiek is voet-saam-tik lekkerte, amper opruiend op ’n koue wintersaand. Jamie se storie word almal se storie. Want of jy ’n seun in ’n rok is, ’n Moslem-maagd of bloot anders is as wat mense as “normaal” beskou, jy kan identifiseer met die verwerping, skeldname en afkeurende kyke, want almal het ’n stukkie Jamie in hul harte.
Wanneer Jamie vertel dat die lelike woorde van sy pa ’n baksteen geword het, en dat die baksteen ’n muur in jou kop word, en later kan jy glad nie meer bo-oor die muur sien wie jy is of waarheen jy op pad is nie, is daar amper ’n gesamentlike fluister-verstaan onder die gehoorlede.
Daar is waardevolle raad aan Jamie: “Hou op om te wag vir goedkeuring om net jy te wees”. “Jy is uniek en jy weet dit nie eers nie.” “Dis jou storie, skryf dit”. “’n Seun in ’n rok is iets waarvoor daar gelag word; ’n drag queen is iets om te vrees.” En “Jy moet waak daarteen om te vinnig, te hoog te wil vlieg.” Die mense om hom is self deur die meul op hul eie manier, al voel dit vir Jamie hy is totaal alleen op die aarde met sy unieke probleme.
Die blyspel is drie uur lank en word in die Kunstekaap Arena-teater opgevoer. Ons sit in die voorste ry en soms is die aksie amper op jou skoot. Jy word deel van die oproerigheid wat in Jamie se hart woed. Een of twee maal trek ek my voete weg vir die dansende skoolkinders; jy kan nie wegkom van die realiteite nie.
Die eerste helfte is ’n groot toets vir die jong studente: Daar is bewerige hande en soms skuif iemand se swaar Sheffield-aksent oor na ’n mengsel van Australies, Jamaikaans of Suid-Afrikaanse Engels, en hier en daar glip ’n mikrofoon se klank vir ’n wyle weg en bring die akteurs vir ’n sekonde of twee van stryk.
Met die tweede helfte is die selfvertroue onder die groep amper tasbaar. Die bewerige broekspype en hande is stil en die stemme sterk, en selfs die skouers is regopper as minute tevore.
Daar is ’n aandoenlike toneel waar Jamie sy eng onderwyseres, Miss Hedge, vertel dat sy hom heeltyd maan om eg te wees. Hy is in ’n rok, met grimering aan, mooi wenkbroue en wimpers, so eg as wat Jamie kan wees.
Die stuk toets die akteurs op alle vlakke. Dis gou duidelik dat nie almal sterk sangers is nie, ander nie sterk dansers nie. Dis as’t ware ’n reuse sif waardeur net die beste sal deurval vir die uiteindelike suksesresep. Verskeie van hulle se toekomste wink blink, en ek is opgewonde om hul loopbane oor die volgende paar jaar te sien ontwikkel.
Margaret (gespeel deur Danielle Bosman) en Pritti (gespeel deur Kate Lagan) se sang is voortreflik. Veral die liedjies “He’s my boy” (’n lied vir alle ma’s en seuns die wêreld oor) en “It means beautiful” (’n vriendskaphuldeblyk wat jou trane gee) was aangrypend en roerend.
Die spel van John Marshall as Jamie is wêreldklas. Marshall wórd daardie 16-jarige karakter, en mens kan glo dat hy die asdrom tuis sal uitneem in sy rooi hakke. Sing is nie – dalk net nóg nie – sy sterkste punt nie, maar dat hy homself heeltemal in sy karakter se vel inwurm, is gewis.
Ray (gespeel deur Isabella Schnetler) is die vriendin saam met wie jy sal oorlog toe gaan. Sy is gaaf, en hardekwas, en het ’n hart van goud. Isabella speel haar só oortuigend dat ek nie kan glo sy kan anders wees in die werklike lewe nie.
Die musiekblyspel het sedert 2017 uitverkoopte vertonings in Sheffield, die West End, Brittanje, Los Angeles en Londen gehad.
Dis egter die boodskap “Wees ’n individu, moenie almal so dieselfde wees nie” wat inspireer en padkos huis toe – en vir die hele pad vorentoe – is.
- Everybody’s talking about Jamie
- Met: John Marshall, Khanya Gwe, Kate Lagan, Asanda Mngadi, Andrew Woods, Andrew Ingram, Krys Igirubuntu, Danielle Bosman, Azande Dube, Isabella Schnetler en Dante Verona.
- Boek en lirieke: Tom MacRae
- Regie: Paul Grifiths
- Musikale regie: Garth Tavares
- Musiek: Dan Gillespie Sells
- Choreografie: Ursula Lubbe
- Geen kinders onder 12.
- 180 minute met ’n pouse.
- Kunstekaap Arena, Kaapstad
- 9–19 Julie 2025: 9, 11, 12, 16, 17, 18, 19 Julie om 19:30; 12 en 19 Julie om 15:00.
- Kaartjies kos R200 en kan by Webtickets bespreek word.

