Die Wellington Klopse – 100 jaar se onvertelde stories

  • 0

Titel: Die Wellingtonse Klopse – 100 jaar se onvertelde storie
Outeurs: Michael le Cordeur, Marlene le Roux
Uitgewer: Naledi

ISBN: 9780987038821

Die ryk en lang Wellingtonse Klopse-geskiedenis is Dinsdag 30 April by die Breytenbach Sentrum gevier met die bekendstelling van Die Wellington Klopse – 100 jaar se onvertelde stories. Die skrywers van hierdie waardige publikasie, Michael le Cordeur van die Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch, en ‘n voormalige student van hom, Marlene le Roux (nou direkteur van KunsteKaap/ArtsCape), het gesels oor hierdie belangrike deel van ons geskiedenis wat nou, vir die eerste keer, opgeteken is. Drie van Le Cordeur se studente in sy 478-klas van 2012 het gehelp met die navorsing en die transkribering van die onderhoude. Die Drakenstein Munisipaliteit se burgemeester, Gesie van Deventer, het ook die funksie bygewoon en haar ondersteuning van die projek bevestig. ‘n Voormalige burgemeester, Herman Bailey, het as seremoniemeester opgetree.

Die aand het op ’n musikale hoogtepunt afgesluit met die optrede van die Wellington Orkes in die Bergrivier Sekondêre Skool-saal. Hierdie orkes, wat deur die Kunstekaap en die Breytenbach Sentrum op die been gebring is en opleiding aan die jong lede van die verskeie klopse-groepe op Wellington bied, het die entoesiastiese gehoor gaande gehad. Met die musiekvirtuoos Ian Smith se leiding het hierdie groep verskeie bekende jazz-treffers gespeel en het die verskeie jong soliste vir groot vermaak gesorg. Niemand was onaangeraak deur die rou talent wat deur die projek opgelewer is nie! Van die klopse-lede wat nou in die Jeugorkes speel, gaan nou voltyds musiek studeer en sommige is uitgenooi om by die Kaapse Filharmoniese Orkes aan te sluit. Een van die sangeresse het 'n kontrak ontvang om vir 'n jaar by 'n hotelgroep in Spanje te sing.

Le Cordeur en Le Roux het bekend gemaak dat alle opbrengste van die konsert en die boek in trust gehou word vir beurse aan behoeftige studente van Wellington met 'n klopse-agtergrond.

Foto’s en berig: Tessa Louw

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top