
Op 27 April 2025 sal dit 31 jaar wees sedert Suid-Afrika sy demokratiese projek betree het, en die afgelope week was vol van politieke gebeure en innuendo.
Daar was die tragiese afsterwe van pous Franciskus wat die Rooms-Katolieke wêreld in rou gedompel het en sy begrafnis wat op 26 April plaasvind, waar elke wêreldleier gesien sal wil wees. Die spekulasie oor wie die nuwe pous gaan word, het natuurlik ook reeds begin.
Wêreldwyd het ’n paar ander sake ook aandag getrek. Die Internasionale Monetêre Fonds het die groeiverwagtinge van die wêreld afwaarts aangepas as gevolg van die impak wat Amerikaanse tariewe en heffings op die wêreldekonomie gaan uitoefen. Donald Trump het die voorsitter van die Amerikaanse Reserweraad, Jerome Powell, in die openbaar afgekraak as iemand wat te stadig beweeg en eerder moet bedank, wat natuurlik groter wisselvalligheid en onsekerheid in markte tot gevolg gehad het. Sy sekretaris van verdediging, Pete Hegseth, bly in die moeilikheid oor sy sosialemediagebruik, en Harvard-universiteit het besluit om die afsny van federale befondsing aan dié wêreldbekende instelling in die howe te beveg. Meer hieroor met die ontleding van Trump se 100 dae op 30 April.
Twee sake staan egter uit vir ons in Suid-Afrika. Die eerste is dat die BTW-geveg tussen die ANC en “kleiner andere” aan die een kant en die DA en die EFF aan die ander kant, op 22 April in die hof gedraai het. Dit was duidelik dat die saak van die DA, bygestaan deur die EFF, oorweldigende meriete het. Die ANC het in ’n middernagtelike persverklaring op 24 April die handdoek ingegooi en ’n skikking buite die hof aangevra. ’n Deel van die skikking is dat BTW op 15% sal bly, en op 24 April was die politieke lawaai oorverdowend van politieke partye wat nou die krediet wil kry vir die gebeure. Die kort en die lank van wat hier gebeur het, is dat die RNE in sy huidige formaat bly voorbestaan, die begroting ’n derde keer gewysig sal word, en die DA na dese groter inspraak in nasionale finansies sal kry. Die RNE beur dus voort onder hewige konstruksie.
Die tweede gebeurtenis dié week, wat net soveel aandag gekry het, was die besoek van president Wolodimir Zelenski aan Suid-Afrika op 23 en 24 April. Wat die besoek so betekenisvol gemaak het, is die gesprek wat president Ramaphosa voor die besoek met Wladimir Poetin van Rusland gehad het, en toe op 24 April ook ’n telefoniese gesprek met Donald Trump. Laasgenoemde gesprek het oor Suid-Afrika se verhouding met die Withuis gegaan, maar veral ook oor die konflik in Oekraïne. Gedurende die besoek van Zelenski bombardeer Poetin Kijif met vuurpyle en hommeltuie om op dié manier ook aan die gesprek deel te neem, maar om ook die kompleksiteit van die soeke na vrede te herbevestig. Trump het die aanvalle skerp afgewys op sy eie sosialemediaplatform, Truth Social.
Die week voor 27 April kan ons dus sê dat die RNE weer op dreef is, ons ’n begroting sal kry sonder verhoogde BTW, daar nou kommunikasie met die Withuis gevestig is en Suid-Afrika op 25 April met die VSA oor tariewe begin gesels, en die vredesproses rakende Oekraïne een klein treetjie nader aan die eerste stap is, naamlik ’n volhoubare vuurstaking sodat ’n onderhandelingsproses kan begin.

