Die walvisspeurder deur Etienne Lombard: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die walvisspeurder
Skrywer: Etienne Lombard
ISBN: 9781997432661
Uitgewer: Malherbe Uitgewers

Ma en dogter maak ’n nuwe begin in Hermanus. Vir Nicola is dit ’n kans om die verlede agter te laat; vir haar tienerdogter, Sonya, ’n ongewenste verandering wat haar van alles wat bekend is, wegvat. Totdat een woord die hele trant van hul nuwe bestaan verander: solder.

Maar moenie ’n outydse spookstorie verwag nie. Die gevaar in Die walvisspeurder lê veel nader aan die Suid-Afrikaanse werklikheid: korrupsie, magsmisbruik, geld en mense wat bereid is om te ver te gaan om hul belange te beskerm.

Die solder vou dokumente, foto’s en geheime van Sonya se ouma, Corine Marais, oop. Nuuskierigheid verander in ’n ondersoek, en die raaisels begin opstapel; 30 jaar nadat Corine die nes van kokkerotte versteur het, het dit nie verdwyn nie. Dit het net digter en gevaarliker geraak.

Lombard bou die spanning kunstig op totdat dit jou behoorlik vasgryp. Daar is min kans om te ontspan. As ’n ma, wou ek die jongmense vermaan: “Los die grootmensspeletjies! Dit is te gevaarlik!” Maar in hulle onverskrokkenheid lê ’n sterk boodskap van moed: Doen die regte ding.

Interessant genoeg bring Lombard meer as drie dekades se ervaring as kommersiële regspraktisyn na sy skryfwerk. Hy het eers in sy laat vyftigerjare ernstig begin skryf, en sy eerste novelle, Die oeroue, het in 2025 verskyn, gevolg deur Die walvisspeurder in 2026. Voor dit het hy kortverhale in onder meer Huisgenoot en op LitNet gepubliseer.

Vir my is die deeglikheid waarmee die leidrade versamel en aanmekaar geweef word, opvallend. Ek kan net aanvaar dat daardie noukeurigheid spruit uit sy loopbaan in die regspraktyk.

Ek vra vir Etienne in ’n persoonlike gesprek: Hoekom Hermanus?

“Alhoewel ek nie in Hermanus gebore is nie, het dit my dorp geword – vanaf 1980 was dit elke jaar ons gesin se vakansieplek. As tiener was die rotse, see en walvisse my en my maats se speelterrein. Ek het Hermanus sien ontwikkel van ’n vissersdorpie tot wat hy nou is.”

Dat Lombard op hierdie stadium van sy lewe ’n geslaagde tienerfiksie op die tafel kon sit, verdien erkenning. Die walvisspeurder bewys dat ’n skrywer nie noodwendig jonk hoef te wees om die wêreld van jongmense geloofwaardig te betree nie. Soms bring lewenservaring juis die perspektief wat ’n verhaal nodig het: spanningsverhaal vir oud en jonk.

Ek is nie ’n tiener nie. Dekades nie meer nie. Daarom verdien dit om te meld dat ek as volwassene die boek baie geniet het. Dit beteken dat oud en jonk Die walvisspeurder gerus nader kan trek. Al verskil van ander spanningsverhale is dat die karakters jongmense is.

Ek het oor een ding gewonder: die skoolkinders wat nie uniforms skool toe dra nie, maar sivvies. Gelukkig nie iets om die kop oor te breek nie.

’n Heerlike novelle wat jy in ’n naweek kan kafdraf, maar met genoeg moed om die spanningslyn te hanteer – en ’n paar slapelose ure, omdat jy nog ’n hoofstuk wil lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top