Die waarde van ’n lewe

  • 3

Meer filosofiese tyd is bestee aan die betekenis van Lewe, en gepaardgaande daarmee sy tweeling, Dood, as aan enige ander konsep. Behalwe miskien Tyd, en is tyd nie maar net die tussenpose tussen lewe en dood nie?

Hierdie week was een van verlies, van dood, van treur. Verlede naweek het ons geleer van die sterftes van twee boere op hul plase, in verskillende voorvalle van geweld. Ons het gelees van die liggaam van ’n sesjarige dogtertjie wat naak in ’n vlak graf gevind was nadat sy soek geraak het.

Gewelddadige dood laat sy eie unieke eggo agter, ’n skaduwee wat die oorlewendes altyd teister, veral as die geweldenaars nie aan die pen ry nie. Daar is altyd onvoltooide besigheid met die oorledene, goed wat gesê of gedoen moes word, maar waarvoor die geleentheid, die tyd, hulle ontneem is. Daar is die skok van die onverwagsheid en die wreedheid van die wyse waarop die oorledene aan hul einde gekom het. Ons wil tog maar almal net in ons slaap wegraak, soomloos oorgaan van die een fase na die ander. Wreedaardige dood herinner ons dat dit nie altyd so gebeur nie, dat dit nie altyd maklik of sag of met waardigheid gepaard gaan nie.

Selfs wanneer die dood nie heeltemal onverwags is nie, kom dit steeds as ’n skok, want daar is altyd hoop dat die persoon gesond kan word. My pa het gesterf toe ek tien was. Hy’t longkanker gehad, maar is uiteindelik aan ’n hartaanval dood. Hy was maande lank siek. Ons het gesien hoe hy swakker en swakker word. Ons het gesien hoe hy sy hare verloor as gevolg van die bestraling, hoedat hy snak na asem omdat sy longe nie meer kon nie. Ons het berading gekry om ons voor te berei op sy dood. Ons het geweet hy word nie beter nie. Dis nie daardie tipe kanker waar herstel sommerso gebeur nie. En tog. Hoop. Ten spyte van die feite. Steeds het sy dood as ’n skok gekom.

Sondagmiddag is my tante oorlede. Hartaanval. Dinsdag is ’n joernalis wie ek ken, se sewejarige susterskind dood in ’n motorongeluk.

Soms is Dood nie net iets wat met ander gebeur en waarvan mens op afsydelike afstand in die koerante lees nie.

In die geval van die plaasboere was daar dadelik kommentaar gelewer oor aan hoeveel mense hulle werk verskaf het, asof dit hulle enigste waarde was. Ekonomiese verskaffer. Broodwinner. Hul sterftes word vir politieke gewin gebruik. Asof hulle geen intrinsieke waarde het nie en net simbole is. Plaasmoorde.

Die sesjarige dogtertjie word as simbool gebruik, asof sy geen intrinsieke waarde het nie. Geweld op die vlakte. Geweld teen vroue en kinders.

Die sewejarige seuntjie word ’n simbool. Padveiligheid.

Sosiale media maak dit erger. Nuus versprei soos ’n veldbrand. Partykeer is dit akkuraat, meer kere nie. En tog versprei dit. Wat twintig jaar terug ’n skokkende voorval sou wees wat ’n dag of twee in die koerante sou wees, bombardeer ons nou daagliks in die privaatheid van ons huise. Koerante kon weggegooi word. Die internet is vir ewig.

Waar laat dit die oorlewendes? Wat doen dit aan hulle om daagliks herinner te word aan hul verlies? En oor ’n jaar of twee of vyf sal Facebook hulle herinner aan hierdie dag en hierdie tyd en hierdie verlies.

Ons familie is gelukkig. Daar was niks sensasioneel aan my tante se dood nie, al was dit onverwags. Daar is geen Facebook-aantekeninge waaraan ons in die toekoms herinner gaan word nie. Doelbewus. Soms is dit net nodig om buite sosiale media tot verhaal te kom, om ’n tussenpose te kry, om sin te maak van ons eie droefheid en ons eie verlies.

Vir die families wat nie daardie luukse gegun word nie, wie se droefheid elke dag uitbasuin word, kan ek net innerlike vrede toebid en die vermoë om midde-in die dood ook die lewe te kan vier.

Mag hulle toegelaat word om hul verlies te hanteer sonder dat hul geliefdes as simbole gebruik word deur persone wat hulle nie geken het, of vir hulle omgee nie.

Mag ons as ’n gemeenskap terugkeer na ’n punt waar ons die intrinsieke waarde van elke lewe erken, en ophou ’n lewe meet in terme van welvaart of ekonomiese bevoegdheid.

Doodskleed het nie sakke nie, dit het die oumense ons tog geleer. Kom ons onthou daai les.

  • 3

Kommentaar

  • Baie goed gestel. Vir my, veral die volgende (nie dat die ander voorbeelde onbelangrik is nie):

    "In die geval van die plaasboere was daar dadelik kommentaar gelewer oor aan hoeveel mense hulle werk verskaf het, asof dit hulle enigste waarde was. Ekonomiese verskaffer. Broodwinner. Hul sterftes word vir politieke gewin gebruik. Asof hulle geen intrinsieke waarde het nie en net simbole is. Plaasmoorde."

  • Mense se droefheid is soms nodig om ons publiek, simbolies, profeties te herinner dat "dit" nooit (weer) mag wees nie. Soms lê die troos juis in die herinnering van die sinloosheid van die onreg. 'n Dachau of meer resent, 'n Hector Peterson-memorial.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top