Die vyfde Aspoester deur Jan Vermeulen: ’n lesersindruk

  • 0

Die vyfde Aspoester
Jan Vermeulen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799387544

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

“Ons samelewing het die monsters onder ons self uitgebroei,” sê Jasmyn, “en hulle hans grootgemaak. Hulle sluip tussen ons rond, met verskillende gesigte en maskers.” (263)

Jan Vermeulen se Die vyfde Aspoester (2018) speel af in Port Elizabeth, Suid-Afrika. Dit handel oor reeksmoorde van 20-jarige vrouens wat tydens die 16-dae-veldtog van bewustheid oor geweld en misdaad teen vrouens en kinders plaasvind. Die forensiese sielkundige Olaf Demeyer word genader vir die ondersoek van dié moorde, omdat dit blyk dat daar ’n verband tussen hom en die slagoffers is. Met die verloop van die roman word dit duidelik dat die moorde deel van die reeksmoordenaar se eie veldtog teen geweld op vrouens en kinders is. Elke moord word gesien as ’n tipe offer vir iemand wat deur die samelewing in die steek gelaat is. Die reeksmoordenaar gebruik sosiale media om die gemeenskap en die wêreld se aandag op hierdie moorde te plaas en kommentaar te lewer oor die geweld teen vrouens en kinders.

Die titel, Die vyfde Aspoester, verwys na die kinderstorie oor Aspoestertjie wat na haar pa se dood deur haar stiefma en stiefsusters mishandel is. Die verwysing speel ’n groot rol in die manier waarop die slagoffers in die roman gemartel word. Talle ooreenkomste met die Grimm-broers se weergawe van Aspoestertjie is sigbaar:

“Kyk saam met my na die bed, Jan. Sien jy hoe lê Jenny met haar hande op die bors gevou? Dit kan ’n offerhouding wees. ’n Aspoester wat ’n soenoffer word.”

Jan snork deur sy neus. “Aspoester?”

“Laat die glasskoentjie en die uniform julle nie ook aan Aspoester dink nie?” (68)

Die verwysing na die kinderstorie sluit ook aan by die tema van geweld teen kinders. Net soos Aspoestertjie is daar verskeie karakters in Vermeulen se roman wat ook in hulle jeug op een of ander manier mishandel is. Die karakter Franci Demeyer, wat deur haar ma se woorde afgebreek word, is een van hulle:

Gedempte stemme klink vanaf die onderste deel van die huis op. Hy draai om en sien hulle onder in die kombuis. Al kan hy nie die strekking van hul gesprek uitmaak nie, herken hy Isabel se aanvallende en verwytende stemtoon. Franci kap terug. Arms en hande gesels saam.

“Ek is nie soos Mamma nie!” gil Franci in ’n huilstem op Isabel. (22)

Olaf Demeyer, wat deur sy pa psigies gemartel is en in die kas weggekruip het terwyl sy pa met ’n mes op soek was na hom:

“Jy het geweet ek kruip in die besemkas weg,” [...] “Jy het net gemaak of jy na my soek.” Soos ouers sal maak as hulle met ’n sesjarige speel. “Jy was nooit van plan om my dood te steek nie, maar jy wou my lewenslank martel met angs.” (292)

Dan is daar ook sersant Jan Blomerus wat in sy kinderdae seksueel deur sy ma mishandel is:

Die sersant se kop ruk op. “Los my moeder hier uit. Laat haar onder die kluite rus.”

“Rus sy regtig, Jan, of spook sy by jou? Sien jy haar, hoor jy haar by jou?”

Jan verkleur. “Jou agtste sintuig maak jou mal.”

“Jy moet vry kom van haar,” gaan Olaf rustig voort. “Sy kan jou nie meer mishandel nie. Op geen manier nie.”

Nou versteen Jan se gesig ... “Wanneer het sy met jou begin? Toe jy nog klein was? Het sy gesê sy gaan jou vrou word? Het sy jou verkleineer as jy met meisies uitgaan?”

Jan voer ’n rukbeweging met sy hand uit.

“Sy het mos met jou gepeuter, nè, Jan?” (250–1)

Die titel van die roman fokus dan ook spesifiek op Olaf Demeyer se dogter, Franci Demeyer, wat die vyfde slagoffer in die reeksmoordenaar se veldtog is. Franci is dus die vyfde Aspoester. Dit plaas haar en haar pa as twee van die hoofkarakters in die roman. Dit maak dan later sin wanneer Vermeulen tussen hierdie twee karakters se perspektiewe wissel. Franci is een van die slagoffers wat geweld ervaar en wat deur die reeksmoordenaar as ’n voorbeeld geoffer wil word. Olaf is verantwoordelik om die moorde op te los, omdat al die slagoffers met hom ’n verbintenis het.

Hierdie twee perspektiewe dien dan as agtergrond vir hoe die slagoffers moontlik kon voel en om ’n bietjie konteks te skep oor die reeksmoordenaar se motivering agter die moorde. Daar is egter ander karakters wat ook op tye as fokalisators optree, byvoorbeeld speurder Jan Blomerus en speurder-kaptein Jasmyn Oktober. Met Jasmyn en Jan as fokalisators kan die leser tydens die ondersoekende proses van die moorde ’n vlieg teen die muur wees, byvoorbeeld tydens die ondervraging van getuies en moontlike verdagtes en die lykskouing van die slagoffers.

Jan Vermeulen bewerkstellig versnelling in sy verteltempo, veral in tye van hoë spanning, wanneer hy meer gereeld tussen hierdie verskillende fokalisators wissel. Dit word hoofsaaklik in die tien laaste hoofstukke toegepas.

Verder word inligting gebroke en op verskillende maniere aan die lesers deurgegee, byvoorbeeld via die karakters se denke, dialoog en sintuie, wat bydra tot Vermeulen se goeie skryfstyl. Vermeulen se skryfstyl behels dat hy nie die leser wat gebeur nie, maar deur die karakters se denke, dialoog en sintuie wys wat gebeur. Hierdie skryfstyl hou die leser aktief betrokke. Mens moet aktief die dialoë volg en dit skakel met die gebeurtenisse en die denke van ander karakters. Verder is Vermeulen se spel met woorde een van die mooiste verskynsels in sy roman. Nie net dra dit by tot die visuele aspekte van die roman nie, dit beklemtoon ook die manier waarop die leser na die gevolgtrekkings gelei word. Weer eens wys Vermeulen wat gebeur eerder as wat hy dit sê:

Die warm water en die badsout dreineer die ergste gevoel van spasma uit Franci se liggaam, maar die drukking op haar hart bly. Sy lê op haar rug in die bad sodat net haar kop bokant die skuim uitsteek. (49)

Vermeulen gebruik woorde soos “warm water”, “badsout” en “dreineer” om die beeld aan die leser te skep dat Franci in die bad lê, waarna hy dit eers later bevestig deur uitdruklik te sê “sy lê op haar rug in die bad”. Verder: in plaas van om te sê Franci lê in die bad en dink oor wat gebeur het, skep Vermeulen hierdie visuele beeld van warm water, badsout en die spasma en drukking op Franci se hart wat in die bad gedreineer word. Dit is uitstekend gedoen en dit is nie die enigste geval waar dit voorkom nie.

In die geheel is Vermeulen se roman ’n baie goeie speurverhaal wat sy lesers elegant na die antwoorde toe lei, maar wat terselfdertyd ook die leser míslei. Die roman bevat ook ’n universele boodskap van hoe monsters in die samelewing gekweek word en ongesiens kan rondloop. Die monsters is alledaagse mense wat in hulle jeug mishandel is en wat later in hulle lewens die samelewing “terugkry”. Dit is ’n bose kringloop wat deur die samelewing ongesiens voortgaan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top