Die VSA se middeltermynverkiesing

  • 1

Die reaktiewe aard van politieke opposisie deur die Demokratiese Party sedert oudpresident Barack Obama die Withuis in 2017 verlaat het, sal Dinsdag tydens die middeltermynverkiesing min of geen bydrae maak tot die sukses van die Demokrate by die stembus nie.

Dié party is sedert Obama se presidentstermyn wat agt jaar geduur en op 20 Januarie 2017 geëindig het, leierloos en ly aan ’n algehele gebrek aan oorspronklikheid, kreatiwiteit, rigting en loods liewer hul aanvalle gebaseer op die indiskresie van President Donald Trump.

Die lewe van Trump word oorspan deur drama, spanning, dilemmas, konflikte en krisisse wat veral groot eise aan die Republikeinse Party stel. Om verkiesings te wen – soos dié een van môre – maak Trump dit nog moeiliker vir die Republikeine.

Op die flaters en beperkte wêreldbeskouing van Trump roem die Demokrate en beroep hulle hul telkens op die aanvaarbare beginsel van ’n grondwetlike demokrasie dat indien ’n leier, in dié geval Trump, sy nasie in die steek gelaat het, hy liewer bedank. Of anders word hy in ’n staat van beskuldiging geplaas. Van dié aandrang het daar tot op hede nog net dadels van gekom en dit blyk dat die Demokrate min antwoorde of alternatiewe hierop het. Dié party beskik immers oor ’n minderheid in die Amerikaanse kongres.

Verloor Trump Dinsdag se middeltermynverkiesing, die eerste na sy verkiesing as president twee jaar gelede, kan dit sake vir hom en sy party deurmekaar krap.

Die VSA se federale wetgewende gesag is gesetel in Washington en staan bekend as die Amerikaanse Kongres. Dit bestaan uit twee huise – naamlik die huis van verteenwoordigers (wat bestaan uit 435 lede) en die senaat (wat bestaan uit 100 senators). Boonop moet 36 uit die 50 state nuwe goewerneurs verkies.

Die president het die steun van albei huise van die kongres nodig as hy sy beleid wil deurvoer. Verloor die Republikeine die kongres, of net een van dié twee huise, kan dit Trump in dieselfde benarde politieke posisie plaas waarin Obama vir amper sy totale sy agtjaarlange termyn was – naamlik om nie die steun van die kongres te hê nie. Die Republikeine het Obama se presidentskap uiters bemoeilik deur byvoorbeeld Obama-wetgewing meermale te veto.

Verder is Obama aan bande gelê omdat daar ’n gevoel onder sommige Amerikaanse kiesers was dat hy nie heeltemal Amerikaans is nie. Reeds daarom is dit moeilik om nie die afleiding te maak dat dit ten minste gedeeltelik is omdat Obama swart is nie.

Soos een ontleder dit gestel het: “Sommige mense is ongemaklik met ’n intelligente swart leier wat kompromis-ooreenkomste met twyfelagtige Moslem-karakters aangaan.”

Hier kan verwys word na die kernwapen-ooreenkoms met Iran en die sukses van die normalisering van Amerika se verhouding met Kuba.

Obama het ook die Amerikaanse ekonomiese insinking van 2008 reggeruk en sodoende ook die ekonomie verder globaal van ineenstoring gered. Sy “Obamacare” (inklusiewe en bekostigbare gesondheidsorg) het aan nagenoeg 20 miljoen armes vir die eerste keer toegang tot bekostigbare mediese versekering besorg.

Tog is daar min waardering, veral uit verregse politieke kringe vir Obama, maar die Demokrate volhard wel met Obama as hul hoofverkiesingsindoena.

Ou en onoorspronklike verkiesingstaktiek – soos om gedurende Hillary Clinton se mislukte presidensiële verkiesingsveldtog swart celebrities soos Oprah Winfrey deel van die Demokrate se verkiesingsarsenaal te maak – word weer ingespan. Boonop het Clinton (waarin politieke egoïsme gelees kan word) aangekondig dat die moontlikheid bestaan dat sy weer in 2020 as presidensiële kandidaat kan staan. Dit doen verdere afbreuk aan die Demokrate se verkiesingsveldtog. So asof sy nie haar eie kwota skandale het nie.

Die grootste olifant in die “verkiesingsvertrek” is egter “onwettige” immigrante en die algehele stand van die Amerikaanse ekonomie. Dié kwessies is egter nie net beperk tot die VSA nie, maar dryf die politieke narratief oorkant die Atlantiese Oseaan en wêreldwyd.

Die duidelikste verskynsels van dié nuwe politieke fenomeen was alreeds sigbaar in die Europese parlement se verkiesingsuitslae in 2014 waarin die regs-populistiese Front National (FN) van Frankryk en ander regse partye groot welslae behaal het.

Gedeeltelik kan dié paradigmaskuif na regs die afgelope 15 jaar in die Europese politiek ekonomies begrond word omdat die “regses” die verdere “ekonomiese verval” van Europa wil stuit. Dit is reeds daarom dat die sosialistiese Britse Arbeidersparty in 2010 uitgestem is ten gunste van die Tories as teenvoeter vir sosialistiese en sentrum-linkse groeperinge.

Wêreldwyd ervaar werkers en die middelklas ’n “ekonomiese verval” hoofsaaklik omdat hulle voel dat hulle weens globalisering ekonomies agtergelaat word. Dié gevoel was veral sterk onder gemarginaliseerde kiesers in Amerika in 2016. Dit was deurslaggewend in Trump se verrassende sege oor Clinton.

Teen 2016 was die Amerikaanse ekonomie 149% groter omdat produktiwiteit met 64% toegeneem het. Ten spyte van dié sukses het die gemiddelde Amerikaanse werker op ’n uurlikse grondslag steeds omtrent dieselfde salaris as in 1979 verdien. ’n Duidelike ontkoppeling tussen produktiwiteit en inkomste vir die middelklas. Ongelykheid het ook in dieselfde tydperk die hoogte in geskiet. Dus, al werk jy harder, bly jou inkomste dieselfde. Dié situasie bots lynreg met die “Amerikaanse Droom” wat mense tradisioneel aangespoor het om ’n hoër lewenstandaard na te streef.

Teen 2012 het altesaam 23% van alle inkomste in Amerika aan die rykes gegaan en moes die armes toekyk hoe die rykes al hoe ryker word. Dit tesame met die agternasit van ekonomiese hulpbronne deur immigrante uit arm lande na Amerika het Trump met sy selfsugtige beleid van “Amerika eerste” die Withuis besorg.

Amerikaanse werkers en die middelklas voel bedreig deur die toestroom van veral Meksikaanse immigrante op hul ekonomiese hulpbronne. Trump se ontplooiing van nagenoeg 15 000 troepe langs die Meksikaanse grens om immigrante uit te hou, is ’n duidelike vertoon van ’n “sterkmanleiersindroom”.

Verder is Trump rof en onbeskof en beskuldig hy die media van “fopnuus”. Hy betoon min respek teenoor vroue en minderhede en ignoreer aardverwarming omdat dit volgens hom nie bestaan nie.

Hierop slaan die Demokrate terug deur sterk waardevrae te vra wat vraagstukke aanroer aangaande moraliteit, estetika en sosiale en politieke kwessies. Op watter politieke beginsels politieke agente soos Trump se handeling gebaseer behoort te wees, kom hier sterk na vore. Wanneer is politieke handeling rasioneel of irrasioneel?

Hoe dit ook al sy, dié waardevrae van die Demokrate is hoofsaaklik reaktief van aard omdat dit geprikkel word deur Trump se politieke handeling van hoofsaaklik slegsê en algehele onfatsoenlikheid. Proaktiewe politieke strategie deur die Demokrate ontbreek omdat Trump hoofsaaklik op die brood-en-botter-issues van die werkers konsentreer.

Die verwagting is dat die Demokrate vordering in die huis van verteenwoordigers kan maak deur die meerderheid setels (218 uit 435) in te palm, maar die senaat – waar 35 van die 100 senators Dinsdag verkies moet word – sal verloor. Die Republikeine het tans ’n meerderheid van twee in die senaat en boonop is altesaam 27 uit 35 van die huidige senators wat verkies moet word Republikein.

Die verkiesing gaan oor die verkiesing van senators en lede van die huis, maar word ook allerweë gesien as ’n referendum oor Trump en sy beleid.

Al wen die Demokrate een huis of miskien beide huise van die kongres, sou dit kwalik gesien kon word as ’n oorwinning bewerkstellig deur die oninspirerende Demokrate, maar liewer ’n selfgemaakte disintegrasie van Trump en sy ondersteuners omdat hulle na my mening skandalig sonder enige verfyndheid en integriteit optree.

  • 1

Kommentaar

  • #straight red ticket.
    Die "demokrate" (nou sosialiste in alles maar naam) gaan kry wat hulle toekom. Hopelik gaan hulle dan die weg van die Whigg Party nl disintegrasie volg; OF dit kan 'n wekroep vir hulle wees dat hulle, hul huis in orde moet kry en weer die behoedende aan fiskale verantwoordelikheid, kleinregering, logika, werklikhede en rasionalisme, en belangrikste van alles PATRIOTIESE) party van Kennedy moet word ... slegs die tyd sal leer.
    Ek vermoed egter dat hulle verby die punt van omkeer is wat betref hulle linkse swaai en dat lg scenario nou byna onmoontlik is!
    Die GOP ry die kruin van 'n Rooi Golf, wat swaar op die "demokrate" gaan neerplof op 6 November 2018, en dis net reg so, hulle en President Trump verdien dit, want 'n reisende gety lig alle bote.
    Die "demokrate" gaan vermorsel word by die stembusse.
    My voorspelling:
    SENAAT:
    GOP: 56
    Demokrate: 44
    HUIS VAN VERTEENWOORDIGERS
    GOP: 223
    Demokrate: 212
    Dws beheer van kongres word behou, en President Trump se asemrowende agenda om die VSA weer "great" te maak (en waarin hy tot dusver nodeloos om te sê uitstekend in gevaar het!) kan onverwyld en ongestoord en met die teenwoordigheid van VEEL minder "Republicans in Name Only" WERKLIK en KRAGDADIG in werking gestel word.
    Ameri"CAN"
    Republi"CAN"
    Democ.."RAT"??
    MAGA
    Dankie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top