Die VSA-RSA-bilaterale-verhoudingswetsontwerp: nog ’n speek in die wiel? (6 Mei 2025)

  • 0

Op 3 April het kongreslid Ronny Jackson, Republikein van Texas, ’n wetsontwerp by die Huis van Verteenwoordigers in die VSA ingedien met die titel: “The U.S.-South Africa Bilateral Relations Review Act of 2025”. Hierdie wetsontwerp volg op ’n inisiatief van ’n soortgelyke aard wat in 2024 plaasgevind het onder die leiding van kongreslede John James (Republikeinse Party) en Jared Moskowitz (Demokratiese Party). Die 2024-inisiatief, met die identifikasie nommer HR 7256 (118), het nie verder as die Huis van Verteenwoordigers gevorder nie en sou waarskynlik onder die Biden-presidentskap gesneuwel het. Die omstandighede en politieke klimaat in 2025 is egter heeltemal anders.

Die wetgewing beoog om die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA onder die soeklig te plaas en om sekere ingrypende aksies van stapel te stuur. Die wetsontwerp lys ’n reeks vergrype waaraan die Suid-Afrikaanse regering hom skuldig gemaak het en wat ’n bedreiging vir Amerikaanse staatsveiligheid inhou, lui die motivering van die kongreslid. Dit noem onder meer Suid-Afrika se verhouding met die Palestynse vraagstuk, vyandigheid teenoor Israel, verhoudinge met Iran, Rusland en China. Die ontwerpwet sal, indien dit aanvaar word, beleidsinstrumente in die hande van die Amerikaanse staatshoof plaas om teen die Suid-Afrikaanse regering op te tree, maar veral gemik op sanksies teen ANC-leiers. Dit sal ook gemik wees op ’n beëindiging van die handelsvoordele wat Suid-Afrika tot nou toe onder die Afrika-Groei-en-Geleenthede-Wet (AGOA) gehad het. (Sien https://jackson.house.gov/uploadedfiles/jacktx_035_xml.pdf)

Wat moet gebeur vir die inisiatief om ’n wet te word in die Amerikaanse Kongres? ’n Hele aantal stappe en hekkies sal oorkom moet word, soos om die wetsontwerp te inisieer (wat reeds gebeur het), dan word dit na die relevante komitee verwys waar dit gedebatteer word en daaroor gestem word. Die bespreking in die komitee, waarskynlik die Buitelandsesakekomitee (House Foreign Affairs Committee), is die platform waar die meeste bespreking en voorleggings sowel as getuienis aangehoor sal word. Die voorsteller van die wetsontwerp, Ronny Jackson van Texas, is ’n lid van die komitee. ’n Soortgelyke proses sal ook in die Senaat afspeel. Beide die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat moet afsonderlik daaroor besluit en indien daar verskille tussen die twee weergawes is, moet dit weer na ’n gesamentlike komitee verwys word en dan moet dieselfde wetsontwerp deur beide huise aanvaar word. Nadat beide huise die wetgewing goedgekeur het, moet dit na die Withuis vir ondertekening deur die president. Die president kan drie aksies neem: Hy kan die wetsontwerp teken en dan word dit wet; of hy kan dit veto en dan gaan dit terug na die Kongres; of hy kan niks doen nie en as die Kongres in sitting is, word dit outomaties wet na 10 dae.

In die konteks van Donald Trump se regering deur uitvoerende bevele en politiek-georiënteerde tariewe en heffings, is die politieke klimaat baie gunstig vir die wetgewing om te slaag, omdat beide huise in die Kongres onder Republikeinse leierskap is en Suid-Afrika se verhouding met die Trump-administrasie nie op ’n goeie voet is nie. Alles dui ook daarop dat Suid-Afrika se voordele onder AGOA gaan verval met die nuwe tariefregime uit die VSA. Indien hierdie wetgewende inisiatief nog gedurende 2025 van stapel gestuur gaan word, gaan dit ook die glans van Suid-Afrika se G20-jaar verder verdof. Net soos met die moeisame pogings van die RNE om die begroting goed te keur, gaan hierdie Amerikaanse inisiatief die ANC verplig om sy hegemonie oor buitelandse beleid te laat vaar en meer deursigtigheid, minder ideologies-gedrewe en baie meer pragmatiese verhoudings te ontwikkel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top