God het aan die mens ’n perfekte vrye wil gegee. Vrye wil, gesien en inhoud gegee, in die konteks van die werklikheid waarbinne dit moet funksioneer.
Angus, as ateïstiese agnostikus, betwis hierdie werklikheid. Hy meen dat die mens nié ’n vrye wil het, nie, en gruwelik lasterlik soos dit is, dat mense se sondes aan God toegeskryf kan word omdat God hul geskape het soos hul is en dus kan God Hom nie van hul sondes distansieer nie en dan is die uiters lasterlike insinuasie dat God eintlik só daarom dat die mens ook só, is. Na gedetailleerde bespreking en kommentare oor die onderwerp, is daar steeds die tipiese agnostikus wat sy vrye wil-verantwoordelikhede en die gevolge daarvan, op spottende wyse aan God wil toedig. Die universeel aanvaarde beginsel van optrede-en-gevolg, oorsaak-en-gevolg, is skielik nie meer van toepassing, as hulle God daarvoor kan blameer, nie. Ek wou daaroor uitbrei, maar Angus het juis toe ’n poging geplaas wat presies die punt vir my maak – lees dit gerus. Lasterlik is dit vir seker, veral ook die gebruiklike sinnelose kommentaar van sy spotter (nog nooit iets meer substansieel van hóm hier gesien, nie) sielsgenoot Thomas, agterna.
Daar is van alle kante ander kommentaar gelewer hieroor wat ook die kwessie bespreek.
Angus se opmerking in ’n kommentaar van hom dat dit is juis die deur-God-ingestelde parameters waarbinne die mens slegs sekere permutasies van keuses het, is, wat ’n determinisme skep wat onversoenbaar is met die vrye wil, is uiters onverskillig en ook natuurlik onjuis – mens wonder of hy ernstig kan wees met só ’n kritiek. In geen samelewing waarin daar meer as een mens lewe, sal die konsep van vrye wil die onsinnige onbeperktheid aanneem wat Angus daaraan wil toeken in sy kommentaar, nie.
Vrye wil word altyd, maar altyd, gedefinieer en beperk in terme van die ooreenkomstige vrye wil van die ander met wie die mens moet spasie deel. Dus, in enige samelewing het die vrye wil daardie beperkings wat die uitoefenaar belet om onredelik inbreuk te maak op die mede-bewoner se vrye wil, of regte. Selfs die eerste mens, Adam, was ook nie alleen nie, want hy moes God in ag neem (Genesis 3:8), soos al sy nasate vandag steeds moet doen – en natuurlik ook mekaar. Hierdie beginsel geld in alle samelewings te alle tye. Dit is juis op hierdie beginsel van die universele natuurlike Geregtigheid waarop God se twee Gebooie (Mattheus 22:37-40) gebaseer is, en is God se Gebooie, wat die uitoefening van die individu se vrye wil ten aansien van sy interaksie met God, in die eerste plek, maar ook sy medemens, in die tweede plek, reguleer, is dus perfek en absoluut sinvol en regverdig.
Angus se onbeperkte definisie van vrye wil het dus geen substansie en plek in die werklikheid, nie – dit is onbruikbaar teoreties en onsinnig filosofies (’n kenmerk wat dit deel met die meeste teorieë van die darwinisme) en doen hy dit klaarblyklik bloot net omdat hy God daarmee probeer kritiseer.
Dan is daar ook Angus se bewering dat, as God keuses vooruit beplan, hoe wyd ookal, dan het HY reeds beplan wat die enkele keuse gaan wees, want HY is ’n alwetende God en dan is dit nie meer ’n keuse nie en ook dus nie meer vrye wil, nie. Die konsekwensie van dié bewering van Angus, is ewe onsinnig en is dit natuurlik gestel in die lig van Angus se onsinnig onbegrensde definisie van wat vrye wil vir hom beteken. Die feit dat daar, argumentshalwe, ’n permutasie van miljoen enkele keuses is en God weet uiteraard van al die moontlike permutasies wat daardie miljoen keuses behels, verhoed nie die vrye wil van die mens om self te kies uit daardie miljoen, nie en het God se voorafkennis dus géén inwerking op die mens se keuse wat hy vryelik in daardie verband maak, nie.
Die onsin van hierdie bewering van Angus blyk uit die blote ontoepaslikheid daarvan in die werklikheid. Die ateïstiese agnostici met hul darwinisme is te gewoond aan onpraktiese, onbewysbare teorieë en hipotese wat nooit die lig van lewe sal of kan, sien, nie.
God, daarenteen, is nié ’n teoretiese of hipotetiese God, nie – God IS werklikheid.
’n Praktiese voorbeeld sal dus doen.
Die feit dat ’n kind in ’n huis grootword waar hy ’n vrye wil kan beoefen – onderhewig natuurlik aan die gesin se huisreëls wat al die gesinslede sy vrye wilsuitoefening binne gesinsverband reguleer – beteken nie dat hy daar kan maak soos hy wil nie. Dit weet en aanvaar ons as ’n regverdige beginsel en is dit nie nodig om dit verder te motiveer, nie. Dieselfde beginsels word hier toegepas op klein gesinsverband, as wat hierbo in gemeenskapsverband bespreek en toegepas, word. Maar weens ervaring, weet die vader en moeder van die huis veel meer as die kinders, met die gevolg dat die vader en moeder dikwels weet watter tipe besluite ’n kind sal maak in besondere omstandighede. Maar die feit dat die ouers die wete en kennis het, maak nié die kind se uitoefening daarvan, minder vry, nie. Maak nou hierdie van toepassing op God as Huisvader en die aarde met al sy bewoners is die (yslike groot) gesin in hul huis. God is egter alwetend, ja en HY is bewus van al die verskillende keuses wat die massa mensekinders algar individueel kan uitoefen. Dus, wanneer ’n mens dan ’n vrye keuse doen, sal dit God nie verras óf onkant vang, nie. Die feit dat God voorafkennis het daaromtrent, maak nie die mensekind se keuse minder vry, nie, want God meng nie direk met dit in, nie. Dit is nie asof God sê “maak daardie keuse uit die miljoen wat jy kan maak”, nie. God laat daardie keuse aan die mensekind oor. Vooraf is die mensekinders algar egter opgevoed om te weet watter keuse hulle nie behoort of self mag, maak, nie. Daarbenewens is daar positiewe leiding gegee oor welke keuses vir hulle voordeel sal inhou en sal bydra, nie net tot hulle gemeenskaplike voordeel nie, maar tot individuele voorspoed, ook (Deuteronomium 28).
Afhangende van die aard van die keuse, sal dit óf voordeel (seën) óf nadeel (straf) vir die mensekind inhou – steeds die mensekind se vrye keuse en dié word baie duidelik nié aan bande gelê deur God se vooraf wete van die moontlikheid of waarskynlikheid van só ’n keuse, nie.
Dus, die mensekind se vrye keuse is sy eie besluit ooreenkomstig sy vrye wil, maar nie sy reg, nie. Sy vrye wil is die unieke instrument wat God hom gegee het om sinvol en voorspoedig te lewe in sy aardse huisgesin in erkentlikheid en eerbied teenoor sy Skepper, maar nie ten koste van sy Skepper se eer en sy mede-mensekind se belange, nie. Die mensekind weet vooraf watter konsekwensies ooreenkomstig die beginsel van oorsaak en gevolg (teenoor God – Deuteronomium 28; Mattheus 10:28-40; teenoor die medemens – Mattheus 7:12) vir hom daarop sal volg.
Maar die tipiese agnostikus sal die verantwoordelikheid vir die gru gevolge van die afvallige mensdom se onverantwoordelike uitoefening van sy vrye wil oor die jare heen, eerder op God wil projekteer óf hul nie-bestaande evolusiegot, as om self pa te staan vir wat hulle self doen. Dít is een van die kenmerke van die tipiese agnostikus. Hy sal eerder wil hê God moet soos ’n slaansak-buffer tussen hom en die gevolge van sy eie gewilde gruweldade kom staan … lees weer Angus se lasterlike ‘dialoog’ met God. Wat ’n sinnelose, onverantwoordelike lewensbeskouing. G’n wonder, hulle is agnostici, nie.
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
Nee wat, Kobus, baie belangriker as die vrye wil storie is die vraag oor wie se knaters hier vasgegryp deur die vrou. Is dit die van haar man of die van die ou wat teen haar man baklei?
Deuteronomy 25:11: If men get into a fight with one another, and the wife of one intervenes to rescue her husband from the grip of his opponent by reaching out and seizing his genitals, 12 you shall cut off her hand; show no pity.
Kobus
Deur die sinnetjie: "god is werklikheid" te verander na "God IS werklikheid" maak ongelukkig nie die stelling waar nie.
Soos ek al so dikwels vir jou gesê het: miskien in kammaland ................
Al gedink aan daai universiteit waar hulle kreasionisme gebruik as basis vir die aanbied van biologiese wetenskappe? Jou dawerende stilte is amusant, maar tog so veelseggend!
Groetnis
Thomas
Beste Kobus,
Ek lees toegewyd elke tiksel wat jy op die werf blerts.
Desnieteenstaande, telkens waar jou erge onthutste goed soos "ateïstiese agnostikus" tref vervaag alle belangstelling eenvoudig tot iets soos mis voor die son.
Vir iemand wat soveel jare omstrede dog staande sensasie op die werf besorg; is dit werklik so vergesog om ’n bietjie taalsin van jou te verwag?
Nee wat ou Kobus, maak nie saak HOE groot jy tussen diegene wat daarmee wil spot land nie, jy bly ’n absolute erge Spirituele Intelligente.
"Ateïstiese agnostikus" is so bisar soos ’n vierkantige sirkel.
Jou amigo in Adam,
Cornelius
Kobus,
Soos gewoonlik, het jy alweer ’n begripsprobleem. Nêrens het ek beweer dat die mens nie ’n vrye wil het nie. Soos gewoonlik maak jy ’n verkeerde aanname en dan skiet jy die strooipop van jou af. Dis mos maar Christene se ou laai.
Die mens het ’n vrye wil, te danke aan die feit dat daar nie ’n alwetende, almagtige, vooruitsiende god is wat vir hom voorskryf wat om te doen nie. Dis hoe elke regdenkende persoon dit sal insien.
Volgens die Christelike teologie is dit onmoontlik vir die mens om ’n vrye wil te hê, hoeveel duisende woorde jy en predikante ook skryf om die teendeel te probeer bewys.
Volgens die Christelike teologie is die mens deur ’n alwetende en almagtige god geskape. God weet m.a.w. wat die mens se toekoms inhou. Indien die mens anders sou reageer, verbreek hy mos God se wil.
Nee, wat! Julle kreature is behoorlik geknoop.
Groete
Angus
Angus, die begripsprobleme is maar jou las, nie myne nie. Kyk hoe moet mens sukkel om die mees opsigtelike wete, naamlik dat God leef, vir julle aan die hart te bring. En dan werk dit nie eens altyd nie. Daarom verstaan jy nie as ek sê dat mens wel in God se bestel 'n vrye wil het, nie, maar jy ontken dit, en verstaan weereens nie wat ek sê, nie. Jy meen 'n mens het net 'n vrye wil sonder God.
Dit is so dat God die toekoms en uiteinde van elke mens se lewe ken omdat daardie mens op 'n koers gaan wat God alleen die uiteinde van ken en dat die onverskilliges en verwaandes onder hulle op rampspoed vir hulself afstuur, terwyl God wil hê dat hul eerder hulself in SY wil en leiding, moet voorberei op 'n sinvolle vervulde lewe hiernamaals. Daarom is dit nie verbasend dat God so baie dienaars het wie voortdurend die spulletjie, wat dink dat hulle alle lewenskennis en -insig self in pag het, tot orde laat roep, nie.
Jy sien, God weet, maar jy nie, dat die 'vrye' wil wat jy dan voorstaan, 'n roekelose en onverantwoordelike spel met jou eie lewe, is, want sonder God in jou toekoms in die hiernamaals is dit wat vir jou voorlê weens jou swak en onverantwoordelike keuses, pure hel...
Kobus de Klerk
Thomas,
DIe ware christelike geloof se geloofwaardigheid word nie bepaal deur skynbaar "hoogeleerde" professore aan erkende universiteite nie. Nee-nee, God self het dit ingestel - deur en in Sy Seun, Jesus Christus! Soek jy dalk bewyse vir Christus se bestaan?
Nee wat, hoekom fokus jy nie eerder op Duitswester se vraag oor die "oerknal" nie en dan ook op Kobus en my vragie oor die bewys van die essensie van die evolusieteorie - waarop jul totale verbale gebabbel berus - nie?
Kyk of jy die antwoorde vir ons by een van jou erkende en hooggeagte universiteite kan kry - probeer hulle net vang voordat die evolusieleer teorie en hipotese weereens "evolueer" in nuwe vars onbewysde teorie en hipotese!
Sterkte
Dolf
Nee, wat, Kobus. Jou gebabbel sal niemand oortuig nie behalwe vir Dolf.