En God spreek tot die mens en sê: “Ek is die Here jou God, en ek is, almagtig, barmhartig en alwetend.”
“Sekerlik nie,” antwoord die mens, “as ek om my kyk, sien ek hongersnood, verskriklike siektes, pes, moord en doodslag, verminktes, kreupeles, sielsiekes, tsunami’s, aardbewings en oorlog. Tussenin word ons ook bedreig deur komete en asteroïdes. Jy doen niks daaraan nie. Is dit omdat jy nie kan nie? Dan is jy mos nie almagtig nie? Is dit miskien omdat jy niks daarvan weet nie? Dan is jy mos nie alwetend nie? Of miskien wil jy niks daaraan doen nie? Dan is jy mos nie liefdevol nie?”
“Sulke vermetelheid, en dan hou jy jou nogal domastrant ook,” raas God. “Vir jou informasie, dis beter vir jou as ek nie al hierdie onheil beëindig nie, want dis goed vir jou. Nou kan jy moreel en spiritueel groei. Daarvoor het jy ’n vrye wil nodig om goed sowel as kwaad te kan doen. Jy moet ly en swoeg en swaarkry, dit louter jou. Hoe sou ek anders ’n beter wêreld kon gemaak het sonder om jou vrye wil van jou af weg te vat?”
“Dis maklik,” sê die mens. “In die eerste plek kon jy ons ontwerp het dat ons nie pyn voel nie. Jy kon ons gewrigte so gemaak het dat knie- en heupvervangings onnodig sou wees. Kyk hoe vrot is die oog ontwerp: dit het brille, kontaklense en katarakverwydering nodig. Buitendien is dit ook nog onderstebo en agterstevoor. Om nie te praat van die hart nie. Kort-kort moet iemand se borskas oopgesaag word vir ’n omleiding of hartoorplanting. Dan kon jy seker gemaak het dat ons meer liefdevol is, sodat ons nie ander kwaad sou aandoen het nie. Mense haat mekaar, besteel mekaar en vermoor mekaar. Dan kon jy die wreedheid van die natuur weggeneem het. Leeus byt bokke dood, hiënas vreet hulle slagoffers terwyl dié nog lewe; wil jy nog meer hoor?”
“Mannetjie, nou gaan jy te ver. Jy belaster my mos nou, en daarvoor is die straf die ewige vuur waar daar vir ewig wenende en knersende der tande is. Het jy dan g’n geloof nie?” brul God.
Groete
Angus


Kommentaar
Angus
Nee, wag – nou gaan jy te vêr. God het ons goed geskape (hy sê mos self so in Genesis).
Kyk hoe perfek het hy jou ore en neus geposisioneer sodat jou bril goed kan sit – alles perfek uitgedink om te kompenseer vir die effense onderontwerp op die oë.
Groetnis
Thomas
Nee, wat, Thomas! Jy sal my tog nie met jou ou fabeltjies oortuig nie. Orraait! Ek sal jou die bril en die neus en die ore toegee aan die kopkant. Maar wat doen daadie Intelligente Ou aan die anderkant? Hy laat sowaar ’n hele rioolstelsel deur ’n plesieroord loop.
Groete
Angus
Angus,
My aanvanklike gedagte, nadat ek nog een van jou lasterlike skrywes gelees het, was om jou te besweer omdat dit my ten diepste bedroef wanneer enigiemand God ons Skepper en Vader só durf belaster. Ek kan verstaan hoekom die Bybel ons waarsku om eerder nie in argumente met ateïste betrokke te raak nie, omdat dit sulke lasterlikhede, onder andere, tot gevolg kan hê. Miskien het ek jou hiertoe uitgelok? – indien wel, vra ek daarvoor om verskoning. Aan die ander kant weer, is sulke lastering ’n tipiese reaksie van ateïste wat nie meer met hul eie argumente oor die weg kom nie en hulself eerder wend tot lastering teenoor God omdat hulle weet dat dit ware gelowige christene diep raak.
Hoe dit ookal sy en jy sal my nou nie glo nie – alhoewel daar wel deeglike bewyse is (kyk maar na ons skrywes) dat ek en jy nie om dieselfde vuur sit nie en daar maar gedurigdeur ’n oor-en-weer moddergooiery is, – ja-ja, van ons albei se kante af – het ek “actually” tot die gedagte gekom dat daar tog dalk ’n lang verlore sweem van sinvolheid in jou is, eerder as in die ander ateïs/evolusie bendelede, in dié sin dat jy in staat is om tot beter insigte te kom of dalk oortuig te word van beter insigte? Probeer jouself weerhou daarvan om te beweer dat jou “beter insigte” die evolusieleer is. Jou skrywes insinieer die teenoorgestelde, alhoewel dit wil voorkom dat jy dit probeer onderdruk met forseerde gedetermineerde pogings om die evolusietoerie as die “alfa en omega” voor te hou en terselfdertyd God te belaster.
Jy sien, ek is onder die indruk dat daar wel by jou – soos hulle sê, diep binne waar dit saak maak – ’n mate van ernstige twyfel oor die evolusieleer is en dat jy wel vrae oor God het wat net nog nooit beatwoord is nie of nie ten volle beantwoord is/was nie. Hierdie vermoede word dan ook weer bevestig met jou skrywe hierbo wat, alhoewel dit uiters lasterlik is, duidelik komende van iemand is wat glad nie God verstaan of enigsins begrip in/van Sy Woord het nie. Jou huidige“geloof” is duidelik geskoei op die evolusieleer – en alhoewel onbewys met geen vaste basis en daar geen doel, geen hoop, net niks is nie – bied dit vir jou ’n alternatief om aan vas te hou met die hoop dat dit tog eendag as waar bewys kan word. Of jy dit nou wil weet of nie, die evolusieleer is ’n afgodsdiens en niks meer nie.
Omdat jy nie God, Sy Liefde en Sy Woord verstaan nie, is dit – alhoewel totaal onaanvaarbaar – te verstane dat jy sulke lasterlikhede soos in jou skrywe hierbo (en elders) sal kwytraak. Jy sien, jy het – sonder dat jy dit werklik weet en kan begryp – ’n obsessie met God en Sy Woord. Jy verstaan Hom nie, maar jy wil? Terselfdertyd wil jy Hom blameer vir alles wat verkeerd is in hierdie wêreld om sodoende Hom te probeer weg wens of skryf, om juis jou gewete te sus, maar hierin slaag jy ook nie, want jy verstaan ook nie God se Sowereiniteit, Almag én Liefde in teenstelling met die mens se selfsugtige “eie ek” en sondige natuur nie. Verder verwar jy ook die tydelike met die ewige. Ek weet jy soek bewyse vir God se bestaan, maar jy kan net tot God nader as jy glo Hy bestaan – Nader tot God en Hy sal tot jou nader! Jy hoef ook nie vêr te soek nie, Hy is net ’n opregte gebed weg van jou af!
Net soos wat God my gemaak het, het Hy jou ook gemaak. Ja-ja, ek weet jy erken Hom nie hierin nie – maar die punt is dat Hy (God) jou nét so lief het soos wat Hy my het – glo dit of nie, maar dit ís ’n voldonge feit. Jy sien, Jesus Christus se verdienste aan die kruis én Sy opstanding, is nét soveel vir jou as vir my en hiérin lê ware hoop en redding! Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek het nie nou eweskielik “sag” geword en probeer jou oortuig om die ware christelike geloof aan te neem en tot bekering te kom nie (ek kan in elk geval nie – dit is die Heilige Gees wat bekeer). Nee-nee, al wat ek probeer vermag is om jou tot beter insig te bring tot wat die Waarheid en wat Ware Geloof is. Jy praat van vrye wil – jy is reg, dié keuse is joune.
Ek is ook ten volle bewus daarvan dat my skrywe heel moontlik met afkrakery, vervloeking, verkleinering, lastering en ander derglikhede (of selfs met “die evolusieteorie weereens bewys” bewering ala Thomas styl), aangeval kan word en/of met dié bewerings dat “ons was ook eens christene” en “ons ken die Bybel” en dies meer, versuur kan word – nie net deur jou nie maar ook vanaf jou ander ateïs bendelede – maar ek is heeltemaal voorbereid en opgewasse teen enigiets wat na my kant toe geslinger kan word. Jy sien, ek het geen vrees nie, want ek is ín Christus waar daar ware liefde is, en ware liefde verdryf alle vrees.
So, alhoewel die keuse joune is, wil ek tog daarop by jou aandring dat jy jouself eerder weerhou van enige opinies oor sake Gods en defnitief ook van enige verdere lastering teenoor God en Sy Woord – jy weet nie met Wie jy te doen het nie – en dít kan én gaan katastrofiese gevolge vir jou inhou, tot in der ewigheid – of jy dit nou glo of nie! Hou op om jouself te mislei – ongeloof vrywaar jou nie van God se heerskappy nie – almal van ons sál eendag verantwoording vir ons dade moet doen!
Sterkte
Dolf
Beste Dolf,
Hulle vertel my as julle Christene iemand besweer, dan maak hulle so ’n poppie, en steek elke aand ’n speld in hom. Is dit waar?
Volgens die woordeboek beteken belaster kwaadpraat van iemand. Nêrens het ek kwaadgepraat teenoor die God van die Bybel nie. Ek belaster jou ook nie, want nog nooit het ek enigiets, soos jy sê, na jou kant toe geslinger nie. Ek sou eerder sê dat jy my belaster, elke keer as jy iets skryf, soos bv. bogenoemde.
As jy nie saam met my om dieselfde vuur wil sit nie is dit jou saak. Vir jou is dit ’n kwessie van dat God vooraf beplan het dat jy nie om dieselfde vuur as ek wil sit nie; vir my as evolusionis is dit vrye wil, of dalk nog kunsmatige seleksie. Ek en my Christen-vriende sit soms lekker om die vuur en vleis braai en gesels oor die Bybel, evolusie, motors, mooi meisies, wat in die politiek aan die gang is, die dag se hofverrigtinge, ens.
Jy verstaan die hele debat verkeerd. Dit is al eeue aan die gang van die dag toe Copernicus en Galileo dit durf waag het om ander waarnemings te maak wat hulle in die natuur gesien het as wat die Bybel sê. Die evolusieteorie is ook maar net ’n poging van wetenskaplikes om die geskiedenis van die lewe te verstaan. Hulle gevolgtrekkinge berus op waarnemings, nie op hoorsê soos in die Bybel nie. Al wat die Christen daarteen het, is dat dit nie met die Bybel ooreenstem nie.
As die Bybel sê die verhouding tussen die middellyn van ’n sirkel en sy omtrek is 1 tot 3, en ek gaan meet dit en sien dis 1 tot 3.14159265359, het ek dan verkeerd gemeet omdat die Bybel sê dis verkeerd? Gaan jy my veroordeel as ketter omdat ek kwansuis teen die Bybelse voorskrif handel, en vir my die ewige brand in die vuur voorhou? As jy konsekwent wil wees dan moet jy dit doen, en sommer ook alle wiskundiges wat met pi werk, besweer. Hulle belaster mos God met hulle berekeninge, en dit kan en gaan, volgens jou, vir hulle tot in der ewigheid katastrofiese gevolge inhou.
Dis my en alle ateïste se siening dat die bonatuurlike nie bestaan nie, maar slegs ’n skepping van die mens se verbeelding is. Dit druis in met jou siening en daarom noem jy ons bendelede. Dan het ek mos die reg om Christene ook bendelede te noem, want hulle beskouing kom nie ooreen met myne nie.
Soos natuurlike seleksie die dryfveer is van die evolusie, so is vrees die dryfveer van die religie en dus ook van die Christengeloof. Hulle, of moet ek sê, julle, kruip op julle knieë rond en bid en gaan gereeld kerk toe, en loop met die Bybel onder die arm rond om die bose en ateïste te besweer, net omdat julle bang is dat julle dalk in die ewige vuur kan beland, en om geen ander rede nie.
Groete
Angus
Angus,
Dankie vir jou reaksie op my skrywe. Dit is opvallend hoe jy moedswillig begin met die Vodoo tradisie en sommer dít aan Christenskap heg (soek jy vir trefkrag of is jy maar net jou sarkastiese self?) – dít nogal terwyl jy van beter behoort te weet – of dalk weet jy nie? – ek probeer nie snaaks wees nie – dit is duidelik en verstommend dat jy werklik nie God, Sy Woord én ware christen geloof verstaan nie!
Verder verstaan jy ook die (jou?) woordeboek verkeerd en probeer ook jouself verontskuldig ten opsigte van jou uiterse laster teenoor God en christenskap (is jy seker jy het “christen” vriende?). Jy neem my skrywe hierbo as voorbeeld dat ek jou belaster? Jy bedoel seker die feit dat ek jou gesien het as iemand wat dalk tot beter insig kan kom? Baie jammer man, ek was verkeerd – ek sal nie weer dié fout maak nie, siende dat jy die teendeel bewys het! Jy is korrek dat ek nie saam jou om dieselfde vuur sit nie – dié kring van die spotters is nie vir my nie!
Jy sien, Angus – mense wat in glashuise woon, gooi nie met klippe nie – hou op om jouself te mislei of te ontken dat jy sonder blaam is wat jou eie moddergooiery en laster aanbetref. Jy het jou lastering teenoor God en christenskap al baie verfyn en mislei miskien sommige van jou niksvermoedende “christen ” vriende, met jou selfregverdiging en ontkenning van jou subtiele manier van lastering, maar ek lees jou raak! Jy is ‘n tipiese ateïs en evolusionis wat wéét dat die “pogings” (soos jy dit noem) van jou “wetenskaplikes” om deur middel van die illusie van die evolusieteorie, die “geskiedenis van die lewe” te verstaan, júis menslike verbeelding is wat jare gelede deur jul hoëpriester en afgod, Darwin, daar gestel is én wat, tot vandag toe nog, nooit bewys is nie en nog steeds net ‘n spul onbewysde saamgeflansde teorieë en hipotese is. Die snaakste van alles is dat dít vir julle evolusioniste ‘n “geloof” is (julle ontken dit hewig) en slegs as teenvoerder dien vir die ware christen geloof – niks meer nie! Ai, die evolusioniste se selfregverdigings drang darem!
Om aan te sluit by jou bewysde absolute verwarring van ware christen geloof en jou totale misverstand en insigloosheid teenoor sake Gods – Jy het geen idee waarvan jy praat waar jy beweer dat die dryfveer vir die christelike geloof vrees is, nie. Jy het geen “clue” wat God se Liefde beteken nie en verwar weereens die tydelike met die ewige! Ek dui jou graag weer daarop dat ware christene ín Christus is én GEEN vrees het nie omdat ons WARE LIEFDE ken én beleef! Die dryfveer vir die ware christen geloof is dus LIEFDE! – nie vrees nie! Ware geloof ken GEEN vrees nie! GOD Regeer! Kom oor jouself en besef dít!
Jy is egter reg dat die dryfveer vir die evolusieteorie, “natuurlike seleksie” is – dit is slegs ‘n verandering (“evolueering”) van jul vorige groot woorde “by chance” en niks meer nie! Jy steun ook, só tipies van evolusioniste, op sogenaamde “ wetenskaplike” waarnemings en navorsing as basis vir jou evolusie geloof - ala Thomas styl - (waarvan ek nog steeds wag vir die bewys van die essensie daarvan - dié afwesigheid het die evolusie teorie al lankal in mekaar laat tuimel), en waanneer jy weereens vashaak in jou redenasies, maak jy eenvoudig gebruik van die spreekwoordelike “agterdeur ontsnapping” deur in jou eie wanhoop te gryp na die “evolueering” self van die oorspronklike onbewysde evolusieteorieë en hipotese in “nuwe” onbewysde teorieë en hipotese (en so voorts en so aan), waar en wanneer dit jou (en jou “wetenskalikes”) pas – hoe doelloos, rigtingloos en onbewys díe nuwe ge-evolueerde teorieë en hipotese ookal is.
Terloops, ek hoef nie die bose en ateïste te besweer nie – kom ek help jou gou reg – Christus het KLAAR die bose en dood oorwin! Weereens – ek ken geen vrees nie! Dit is egter insiggewend dat jy self die woorde, bose en ateïste, in een sin gebruik!? Maar dan weer is die Bybel duidelik oor die boosheid in die wêreld en die rol van die antichris daarin!
Sterkte
Dolf