Die vrou in die hek

  • 4

Prent: https://pixabay.com/photos/candle-wick-water-wax-candle-mood-1042087/

...........
Die biometriese stelsel by ons hek werk net af en toe. Tússen beurtkrag, natuurlik.
............

Die biometriese stelsel by ons hek werk net af en toe. Tússen beurtkrag, natuurlik. Nie dat die sisteem baie doeltreffend was om mee te begin nie – wanneer ek my wysvinger, soos versoek, oor die Morpho-glasie gerol het, het dit die meeste van die tyd bloot nie my identiteit gelees nie. Dit het die vermoede dat ek dalk alien is, versterk. Daarom, toe die stelsel uiteindelik twee weke gelede met ’n upgrade gespog het, was die inwoners van die De Goede Estate in hulle noppies. Nou was alles funksioneel en gesofistikeerd en ’n splinternuwe androïedstem het na ’n gebiep vriendelik gesê: “Ac-cess-gran-ted-Ni-ni-Ben-nett.” Die probleem is net dat die biometriese sisteem met elke nuwe sarsie beurtkrag van voor af sy gat sien. Die voetgangers wat gou oor die straat wil draf na die klein shopping mall, moet dan aantou by ’n weggesteekte syhekkie waar ’n sekuriteitswag een-vir-een-een vra: “Bly jy in De Goede?” (Nee, ek dwaal maar sommer op eie houtjie hier rond. Vir die pret, sien. Nee, eintlik beplan ek ’n rooftog in een van die luukse eenhede. Néé, ek is die local spook, die een wat jy elke dag sien.) Dan byt ek maar my sarkasme terug en beantwoord vriendelik ook vraag nommer twee – “In watter eenheid bly jy?” – met “232”, en ná ’n lang, suspisieuse kyk laat sy my deur. Elke dag gaan ons deur dieselfde ritueel en dieselfde kruisverhoor, en elke dag lees ek dieselfde moedswil in die wag se oë. “Loooooadshedding!” sou sy soms ongevraagd uitroep – die selfverduidelikende towerwoord wat alle potensiële vrae voortydig in die kiem smoor. Die volgende stap is om na die eiland vol Delicious Monsters te hardloop tot die inkomende (en uitgaande) stroom van karre bedaar alvorens jy veilig oor die voetoorgang kan glip. En só het dit vir weke aangehou met die sekuriteit wat clueless, maar baie vernaam, ons inwoners ondervra.

Met die voorlaaste beurtkragepisode het die spook in die masjien, die deus ex machina, heel surrealisties sy opwagting gemaak. Toe ek my vinger oor die glasie rol, het “access”, gevolg deur my naam, in Chinees op die skermpie verskyn. Die androïedstem: “Hô njang ku we Nini Bennett.” Die sagtewareprogram was op die koffie. Die enigste troos was dat die sisteem nog gewerk het ... al was dit dan ook babels. Die volgende dag was dit Georgies. Ek het my verkyk aan die Arkadiese en blommerige letters, amper soos katspoortjies (die Georgiese alfabet is besonder mooi), voor die hek geskree en oopgegaan het. Die androïedstem was nou baie meer aggressief en het ’n oktaaf hoër gepraat, soos iemand wat helium gesnuif het. ’n Cartoonstem. Op die derde dag was die stem weg, en het die skerm my naam in Cyrillies (jirre, bestaan die taal nog?) uitgegooi; en op dag vier het die glasskerm botweg geweier om enige vingerafdruk te lees, nevermaaind nog iemand deurgang te gee. Die draaiwielhekkie was dood. En van draaiwielhekkies gepraat: Dis die storie wat ek eintlik wil vertel.

Hannatjie Loots is my buurvrou. Sy is ’n skaam, verskrikte mens wat loop met ’n swik in die een knieg en ’n linkeroog wat onbedaarlik begin spring wanneer jy haar groet. Hannatjie is lewensku en bring haar dae deur met Bybel-Scrabble en deur haar te beywer vir die voortbestaan van die ietermagog. Sy stuur petisies aan al wat leef en beef. Maar sy is ’n skadelose siel, dié Hannatjie, en sal die spreekwoordelike vlieg geen skade berokken nie. Gistermiddag was dit dan ook Hannatjie, van alle mense, wat vasgeval het in die hek. Want sien, die spognuwe biometriese stelsel het klopdisselboom gewerk. Hannatjie het haar vinger oor die glasie gestryk en deur die draaiwiel beweeg. En nét daar trip die krag, Hannatjie se linkerarm nog teatraal in die één afskorting en haar regterarm teen haar heup in die vólgende afskorting, soos ’n verbete aflosatleet. Gestol soos ’n hotnotsgot in barnsteen met haar linkeroog wat nou vir ’n vale fladder.

“Hannatjie,” het ek gesê. “Pssst.” Dis toe dat ek agterkom ek fluister.

Geen reaksie.

“Hánnatjie!” Dié keer onnodig hard.

Die vrou in die hek het verstar. Dis eers toe die oog ophou knipper dat ek begin worry het. Dit was donners koud – 8 °C – en ek was bevrees dat my buurvrou sou verkluim tydens haar twee en ’n half uur lange skof daar in die hek. En om alles te kroon het die Kaapse winterreën van voor af neergesif. Ek het ongemerk saam met ’n motor onderdeur ’n slagboom geglip – en tien minute later was ek terug van Pick n Pay met ’n polistireenbekertjie dun groentesop. Ek het Buurvrou slukkie vir slukkie met ’n strooitjie déúr die hek se tralies gevoer. Die hekkie het soos ’n psigedeliese winkeltrollie gelyk, die staal van dieselle fatsoen. Na die voersessie het ek huis toe gedraf en teruggekeer met ’n brandweerrooi braaisambreel wat ek tussen die tralies in manoeuvre het, sodat Hannatjie darem beter beskut was teen die elemente.

Dis tóé dat ek haar talent as mimiekkunstenaar raakgesien het. Sy het nie ’n ooglid verroer nie, maar die hele beurtkragonderbreking deurgewag. Waardig. Of katatonies. Of mistiek. Ek weet nie presies watter byvoeglike naamwoorde om hier te gebruik nie, want só ’n verskynsel het ek nog nooit voorheen aanskou nie. En toe die krag eindelik juigend aangaan, het sy bloot soos ’n time traveller in ’n sci-fi movie vorentoe beweeg, deur die hek en oor die straat, asof daar absoluut niks gebeur het nie.

***

Ek het ’n probleem met die woord beurtkrag. Dit het so ’n gemoedelike ubuntu-klankie. Ons, as liefdevolle Suid-Afrikaners, deel ons krag met mekaar. Nee! Die woord is ’n semantiese wanvoorstelling. Loadshedding se vertaling, ladingstorting, gaan ook nie werk nie; dit klink soos iets uit ’n pornografiese grufilm.

.........
Ek het ’n probleem met die woord beurtkrag. Dit het so ’n gemoedelike ubuntu-klankie. Ons, as liefdevolle Suid-Afrikaners, deel ons krag met mekaar. Nee! Die woord is ’n semantiese wanvoorstelling. Loadshedding se vertaling, ladingstorting, gaan ook nie werk nie; dit klink soos iets uit ’n pornografiese grufilm.
...........

Nee; miljoene mense swets en vloek as beurtkrag toeslaan. Want dis ons onvervreembare demokratiese reg om te moan en te bitch oor Eskom, net soos dit hulle onvervreembare demokratiese reg is om ’n klaaglike en korrupte mislukking te wees. Daar bestaan ook nie akkurate beurtkragroosters nie: google jy vir inligting, word jy beswaar met die tegniese detail oor hoeveel MWh nou kwansuis geshed word. Dis nie wat die gewone verbruikers wil hoor nie – hulle wil weet wanneer, en vir hoe lank, hulle kragteloos gaan wees. Nie al hierdie obskure Babiloniese maankalenders nie.

Ja, en daar is mense wat nou beurtkrag begin verromantiseer. Die wit utopie van plaasopstalle uit vergange se dae, kompleet met die reuk van uitgebrande kerse, kragopwekkers en oorvol spense vol ingelegde vrugte wat nooit opraak nie. Landelike Afrikaner-idilles van dekades gelede, heeltemal uit wans met die ekonomie van die hede.

Ek sit graag saans op ’n bankie buite iewers in die landgoed en kyk hoe die krag afgaan. Een vir een doof die ligte in die geboue se eenhede, soos ’n blokkiesraaisel wat homself delete. Skielik die skoon klank van stilte; sereen en sonder enige white noise. En o, daardie elektrogasme – die oomblik wat die krag weer aangaan! Mens hoor dit van ver af aankom met so ’n fyn fluitgeluid. Dan swaai my geliefde sy hand teatraal soos ’n dirigent: een, twee drie ... Maar wag, laat ek my nie skuldig maak aan beurtkrag-blues nie. En gepraat hiervan: Daar doen ’n conspiracy theory die rondte dat ons almal kwansuis aan Stockholm-sindroom ly. Ons word gyselaar gehou deur Eskom en ontwikkel mettertyd ’n liefde-haat-verhouding met die kragreus. (Dankie dat die beurtkrag dié keer net een en ’n half uur lank was. Dankie, liewe Eskom, dat julle omgee.)

...........
Helaas, nuus oor die Eskom-staking is skaars. Ek weet nie of beurtkrag met ons gaan wees teen die tyd wat dié stuk op LitNet verskyn nie. Maar dit maak nie saak nie. Beurtkrag is reeds ’n ingeburgerde kultuur onder Suid-Afrikaners.
..............

Helaas, nuus oor die Eskom-staking is skaars. Ek weet nie of beurtkrag met ons gaan wees teen die tyd wat dié stuk op LitNet verskyn nie. Maar dit maak nie saak nie. Beurtkrag is reeds ’n ingeburgerde kultuur onder Suid-Afrikaners. En google jy die jongste nuus oor ons kragvoorsiener, dan loop jy jou vas in ’n argief van ou nuusberigte. Die jongste nuus, soos ek hier sit en skryf, was 4 dae gelede en met die vermaning: Ons kan dankbaar wees as ons fase 8 of 10 vryspring. As Eskom nie heeltemal in duie stort nie. Wat my daaraan herinner: In distopiese films brand die ligte tot in die heel laaste scene, die Groot Apokalips, die Grand Finale. Dan eers is dit die einde. En skielik pak die angsgedagte my: Het ons die Rubicon reeds oorgesteek? Wie sê ons het nie? Het ons?

 

  • 4

Kommentaar

  • Hoe het ek hiérdie nou geniet, Nini. Dit is voortreflik, nes die Prof sê. Van die begin tot die einde. Dankie!

  • Ai, hoe het ek dit nou geniet. Blote genot. Maar: "Ons kan dankbaar wees as ons fase 8 of 10 vryspring." 'k sal graag 'n opvolg essay van Nini wil sien oor so 'n jaar of wat, eina! Groot probleme. Die ou masjienery is gaar verby. Hulle is soos my ou lyf, wag net om finaal die gees te gaf. Intussen geniet ons wat ons kan, ook Nini se skrywes. Dankie Nini. (Taalkenners help asseblief. Moet die k in '(e)k hierbo 'n hoofletter wees of kleinletter aan die begin van die betrokke sin? Wonder maar net.)

  • Andries G H van der Walt

    Toemaar moenie bekommer nie. Jou kragdadige, gesofistikeerde beurt sal nog kom. Moet jou nie te veel aan fopnuus steur nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top