Vat jou hele hart: Kom saam na die Middelkoninkryk
Elkarien Fourie
Uitgewer: Naledi
ISBN:9780928316469
Elkarien Fourie se joernaal, Vat jou hele hart: Kom saam na die Middelkoninkryk, handel vernaamlik oor die skryfster se ervarings in die Volksrepubliek China, hoewel sy ook oor byvoorbeeld ’n besoek aan Japan skryf.
Die boek is onderhoudend geskryf en het ’n persoonlike waarde vir my gehad omdat ek soortgelyke ervarings in ongeveer dieselfde tyd in China beskore was. Ek sal my bespreking aanpas by die persoonlike oog waarmee ek die boek gelees het. Ek was immers ook daar waar Elkarien Fourie ryke stof vir ’n dik boek gevind het.
Die joernaal dek ’n tydperk van ongeveer nege jaar, rofweg van die middel van die vorige dekade tot die middel van die huidige dekade. Ek het in min of meer dieselfde jare soortgelyke indrukke in China opgedoen. Vir sewe jaar, in die periode 2007–2014, was ek diplomatieke gade in Sjanghai. Ek was deel van my vrou se "diplomatieke bagasie", soos ’n konsul se eggenoot en kroos soms genoem word.
Fourie sal hierdie gade-rol in die vreemde maar alte goed ken, want sy het vroeër met haar gesin in Engeland, Oostenryk en die VSA gewoon waar haar man, Tienie, aan ons buitelandse missies verbonde was. Sy het Afrikaans aan die Universiteit van Wenen gegee en as vrywilliger die nuusbrief van die United Nations Women’s Guild behartig. Min of meer soos ek wat Nederlands aan die Universiteit vir Internasionale Studies in Sjanghai doseer het en redakteur was van die nuusbrief, eintlik ’n klein tydskrif, van die vereniging Consular Spouses of Shanghai (CSS).
Die verskil tussen ons posisies in China was dat ek in beskermde en bevoorregte omstandighede gewoon het, ’n "voël in ’n goue kou" soos ons "consular spouses" in Sjanghai soms gelag het. Elkarien was uit dié diplomatieke kou losgelaat en kon in ’n groter mate as ek op voetsoolvlak met China kennis maak.
Die verskil geld ook vir my werk aan ’n universiteit eerder as by ’n skool.
Fourie het aan verskillende skole onderwys in Engels aan Chinese leerders gegee, en ook opgetree as IELTS-toetser, dws iemand wat vir die International English Language Testing System, gereël deur die British Council, nasienwerk doen. Sy sou dit swaarder as ek met haar skoolkinders gehad het, want kinders is oral in die wêreld ewe gehoorsaam en ook ewe ongehoorsaam, afhangend van wie skoolhou.
Ek het met onskuldige maar soms stout of onverskillige laat tieners in hulle eerste jare op universiteit te doen gehad. Op ’n dag het ek gedreig om te loop tensy hulle hul klaskamer skoon en netjies te hou. Vir ’n tyd lank is die groen bord met die meisies se sneesdoekies skoongevee en die snippermandjie se kospapiere buite in ’n vuilgoeddrom gestort. Totdat die higiëniese verrotting van voor af begin het.
Fourie sou nog meer probleme van dié tipies onvolwasse aard op skool meegemaak het. Juis dit sou haar as waarnemer van veelseggende besonderhede en as dagboekskrywer egter ten goede gekom het.
Sy het waarskynlik minder geld en spesiale voorregte in China gehad as toe sy diplomatieke gade was. Maar dit het vir ’n ryker ervaring en beter materiaal vir ’n boek gesorg, daarvan is ek seker.
Die Shanghai Women's Federation, een van die eindelose instellings van die Chinese Kommunistiese Party, en ook die buitelandse kantoor van die stadsregering van Sjanghai, het my as lid van die CSS of as menslike bagasie van die konsul op die hande gedra en op luukse uitstappies geneem. Elkarien Fourie moes haar man staan in die wêreld van gewone Chinese mense en haar in heelwat minder-gesofistikeerde plekke as Sjanghai tuismaak. Vir ’n skrywer ’n veel beter opset.
Tydens vakansies het Fourie met ’n byna verbete nuuskierigheid en toewyding plekke verken wat ons nooit so intensief sou sien nie. Ons kon wel plekke soos Noord-Korea en Tibet besoek wat vir die skryfster miskien ontoeganklik was. Maar dit is wat sy gemaak het van haar verblyf in China self wat tel. Haar bergklimprestasies in China is al genoeg om my op die Japannese manier te laat buig voor haar moed en deursettingsvermoë.
As diplomatieke gade het ek my nie vry gevoel om ongehinderd oor alles wat ek in China waargeneem het, te skryf nie. Fourie was egter wel vry om dit doen. Die resultaat is ’n eerlike, deurleefde boek van 433 bladsye wat baie aangenaam is om te lees en ’n mens werklik in die hoekies en gaatjies van die hedendaagse China invat. Selfs vir my, wat in min of meer dieselfde periode in China gewoon het, bied Vat jou hele hart plek-plek ’n ontdekkingsreis.
China is ’n "snaakse", vreemde land, ’n ander planeet byna, wat ’n mens nie goed kan verstaan voordat jy ’n paar jaar met oop oë en ore daar gebly het nie. Chinese skryfkarakters (logogramme) is reeds sowat 5 000 jaar gelede op rotswande geteken, wat ’n mens ’n idee gee van hoe ver die gewoontes, lewenspatrone en denkbeelde van dié wêrelddeel in die tyd teruggaan.
China het oor ’n tydperk van 5 000 jaar gaandeweg tot ’n beskawing met gevorderde tegnologie, ’n unieke kulturele styl en ’n eie politieke geskiedenis ontwikkel.
Die Weste het skaars 200 jaar gelede eers taamlik gereeld kontak met en insae in die Chinese beskawing begin kry. Daar was slegs indirekte of sporadiese kontak in die voorafgaande eeue en millennia. Die Romeine was byvoorbeeld slegs weens die vloei van handelsware uit die Ooste van China bewus.
China het ’n geslote boek vir die Weste gebly, en omgekeerd. Die resultaat hiervan is dat China tot vandag toe vir oningewyde buitelanders ’n mynveld van misverstande en struikelblokke kan vorm. Die vreemdheid van China laat hom nog steeds geld.
Vandag is China met ’n proses van industrialisering, modernisering, verstedeliking en aansluiting by die res van die wêreld besig. Die proses stroop die ou, eksotiese China van sy eiesoortige karakter, wat egter nog steeds op voetsoolvlak voortleef en dit vir ’n Westerling nog steeds moeilik maak om vinnig aan te pas, ten volle aanvaar te word en te weet wat presies aangaan.
Ek sal nie maklik vergeet hoe "geweerskote" of "knetterende dinamietontploffings" ons in die eerste weke kon laat wakker skrik in die nag nie. Ons sou weldra uitvind dat iemand bloot besig was om bose geeste met klappers te verjaag. So kon ons, een stap op ’n slag, in die rigting van begrip vir die oeroue China ontwikkel. Met die klappermisverstand opgeruim, kon ons beter slaap, in die nogal gerusstellende wete dat die bose geeste in ons kontrei goed onder beheer was.
In haar boek bespreek Fourie talle eienaardige verskynsels waarvan mense soos sy (en ek) dalk die laaste Westerse getuies is, veral wat die 15 megastede met bevolkings van meer as 10 miljoen mense aanbetref.
Uit die tyd van Mao Zedong, of dalk reeds uit die feodale era met sy arm, onderdrukte kleinboere, kom byvoorbeeld die kommunale spoeltoilet. Dit behels ’n kamer met ’n kraan wat water langs ’n slootjie na buite laat spoel. Die slootjie is langs vier mure aangelê. Elkeen wat die toilet besoek, trek eenvoudig broek af, hurk oor die slootjie, en deponeer ’n bydrae tot wat onder sy of haar sitvlak verbyvloei. Van privaatheid geen sprake nie. Ek moes my in 2007 by ’n pretpark uit die Mao-era in Sjanghai van hierdie gerief bedien. Maar later het ek dit nooit weer gesien nie. Weggemoderniseer.
Dieselfde geld vir die oud-Chinese gebruik om alle stowwe en gasse wat aan ’n menslike liggaam wil ontsnap, vryelik hulle gang te laat gaan, uit gesondheidsoorwegings. Slym in die neus of keel, maag- of dermgasse, alles moet uit, ongeag die omringende volksmassas wat dit alles moet sien of inadem.
Fourie het ook verskeie konfrontasies met die afvalstowwe van die menslike liggaam in China beleef, waarvan sy ons in haar boek vertel.
In 2010 het die regering in Sjanghai ’n veldtog met onder meer plakkate op moltreine teen gewoontes soos slym-spuug en winde-laat gevoer. Die bevolking moes voorberei word op 2010 se Wêreld-ekspo in Sjanghai, met sy internasionale besoekers wat dalk skeef kon opkyk. ’n Goeie rede waarom gewoontes wat dalk duisende jare oud was, uitgeban moes word.
Teen 2014 het byna almal hul slyme en gasse reeds keurig ingehou, ongesond soos dit mag wees, en sover ek kon sien. Dit is wat ek bedoel wanneer ek Elkarien Fourie se boek beskryf as getuienis van ’n era wat besig is om verby te gaan. Eintlik is daar sprake van ’n kunsmatige poging van die Chinese owerhede om 5 000 jaar van soms onaptytlike eienaardighede (in Westerse oë) in die kiem te smoor.
Op wat goed is uit die verlede, soos die uitgeslape, indirekte manier om te onderhandel, en die "sagte mag" waarmee berge byna onopgemerk versit kan word, word die toekoms wel gebou.
Fourie vertel van ’n program in Beijing in 2008 wat klaarblyklik daarop uit was om die stadsbevolking minder eienaardig-Chinees te laat optree. Internasionale besoekers aan die Olimpiese Spele moes die plaaslike Chinese nie snaaks of vreemd vind nie, in soverre ’n kits-gedaanteverwisseling moontlik was of georganiseer kon word.
Een van die opdragte was dat wit sokkies nie met swart skoene gedra moes word nie. Ek kan hierdie opdrag verstaan weens die profilering van verdagte visum-aansoekers in Sjanghai. Die vere vertel soms iets van die voël. By my maters in die klub vir diplomatieke gades het ek gehoor die wit sokkie by die swart skoen is ’n aanduiding van ’n aansoeker met ’n twyfelagtige agtergrond.
Een van die snaaksighede van ’n ouer China waarvan die skryfster mooi voorbeelde gee, is Chinglish: ’n vreemde verdraaiing van Engels wat nietemin verstaanbaar is. Sy noem ’n geval wat aandui dat ons mekaar in ’n sekere straat in Sjanghai onbewus moes of kon raakgeloop het. Ook ek het byna daagliks die volgende advertensie by ’n bepaalde restaurant in Pudong opgelet: "Smart noshery makes you slobber."
"Slip and fall down carefully," het ons as waarskuwing êrens gesien. Fourie wys op ’n minder duidelike beskrywing van ’n gereg: "The turnip fucks to fry the cured pork."
Chinglish het sy eie bekoring en kan, met ’n bietjie verbeelding, selfs as een van die dialekte van Engels beskou word. Dit word egter nou ook uitgeban ten einde China se soms amusante vreemdheid – vir die wêreld agter die Chinese Muur – te verminder.
In ons jare in Sjanghai is die bekoorlike koddigheid van Engelse onderskrifte by kunswerke, foto's of relikte in museums, gaandeweg heeltemal verwyder. In Beijing, rondom die tyd van die Olimpiese Spele, kon buitelanders die stadsregering glo as vrywilligers help om die Chinglish-verleentheid uit die weg te ruim.
Onder die eienaardighede wat Fourie met voorbeelde toelig, of wat dalk eerder uit my eie herinneringe aan Sjanghai opstaan, tel die verskynsel dat niemand maklik iets van jou sal steel nie. Hulle sal eerder jou beursie na jou aandra as jy dit per ongeluk laat val. Dit het meer as een keer in Sjanghai met my gebeur.
Kul is egter ’n ander storie. Indien jy R200 betaal vir iets waarvoor ’n verkoper of werksman R20 sou aanvaar het, dra jou eie onnoselheid die skuld. As jy in ’n sogenaamde "fake market" meer as ’n kwart van die vraagprys vir ’n namaak-item betaal, kan iemand wat ingewy is in die weë van China maar net sy oë rol en hoop dat jy iets uit die kullery kon leer. Fourie vertel van ’n hele paar geleenthede toe goedgelowigheid haar skoolgeld gekos het.
Die skryfster gee ons die "snaakse" maar dikwels vindingryke China presies soos ek hom ook leer ken het. Soos fietse en motorfietse omgebou tot taxi's, bussies, vragmotortjies. ’n Fiets word soms selfs omgebou tot ’n reisende poelierswinkel, kompleet met hoenderhok op die bagasiedraer en emmer om die bloed van ’n varsgeslagte hoender op te vang.
Fourie vertel ook van tafels met ’n ronde, draaiende glasskyf belaai met bakkies waaruit eksotiese happies met eetstokkies opgepik kan word. Skilpadjies, eendtonge, potblou gekookte eiers, lotuswortels.
Die guānx-kultuur word in haar boek verduidelik: jy aanvaar ’n guns wat jou opneem in ’n netwerk van mense wat mekaar gunste skuld.
China staan met een voet agter die waterbuffelploeg en die ander voet op die maan, skryf Fourie. Jy sien ’n oeroue telraam by een winkel; ’n rekenaar wat optel, aftrek en boekhou by die winkel daarnaas.
KFC, McDonald’s en Starbucks is alomteenwoordig, vertel Fourie. Ek het ’n keer ’n Burger King-kitskosrestaurant gesien met langsaan ’n inheemse restaurant wat ’n kommetjie varkbloed op die spyskaart aanbied.
Ten spyte van hipermoderne treine en wolkekrabbers wat soos paddastoele opskiet, is baie mense nog baie bygelowig. Chinese Boeddhiste, of eintlik mense wat hoop dat ’n Boeddhistiese gebaar goeie geluk sal bring, verbrand klein woonstelle of motors van karton by tempels, met die hoop dat die rook opstyg en hierdie items dan in die hiernamaals op hulle wag.
Die skryfster gee telkens die historiese agtergrond van verskynsels wat sy beskryf sodat diepte-inligting aan haar joernaal toegevoeg word. Soms gee sy ’n feit wat die hele situasie van China se heropstanding en Wirtschaftswunder na die dood van Mao Zedong in enkele woorde opsom. Byvoorbeeld: meer sement is tussen 2011 en 2013 in China gebruik as in Amerika gedurende die hele 20ste eeu.
Vat jou hele hart is nie in die eerste instansie ’n politiekgedrewe boek nie. Omdat die kommunistiese eenpartyregering die vanselfsprekende status quo in China verteenwoordig, en ernstige politieke kritiek of debat nie in die Chinese media toegelaat word nie, is die meeste Chinese burgers op die oog af nie geïnteresseerd in politiek nie.
Elkarien Fourie gee wel aandag aan die stryd van separatiste, soos die periodieke opstand van Moslems in die Ürümqi-gebied waar sy op besoek was. China verkry belangrike grondstowwe soos olie uit die betrokke gebied.
’n Ander gebied wat separatistiese weerstand bied, is Tibet, met sy "lewende Boeddhas" wat die land tradisioneel geregeer het.
Die owerhede in Tibet, ’n land wat China in 1951 beset het en sedertdien onder sy duim hou (maar wat hy ook met noodsaaklike ontwikkeling en modernisering help), laat eintlik alles toe – alle Boeddhistiese kuriositeite – wat nie staatsgevaarlik is nie, soos ek met my eie oë kon sien. Die verkeerspolisie in die hoofstad Lhasa reël byvoorbeeld die verkeer sodat pelgrims wat op hulle mae na die heilige Potala-paleis wil kruip, die strate veilig kan oorsteek.
Daar is dus nie van opvallende verdrukking sprake nie. Maar daar is ook geen praktiese manier om die mag van die Chinese kommunistiese regering oor gebiede soos Ürümqi en Tibet te breek nie. Die periodieke opstande, wat soms honderde lewens kos, dien as gewetensprikkels en om die verset permanent gaande te hou. Dit is asof die rebelse gebiede rebelleer sodat hul siele nie verlore sal gaan nie.
Elkarien Fourie skryf met eindelose nuuskierigheid, wakker intelligensie en stamina oor China. Sy is ’n woelwater wat die aansienlike moeite wat dit kos om die yslike China te verken, vir ons gedoen het. Ek beveel die dik boek van harte aan.
Naskrif
Wanneer mense uit die Weste, soos Elkarien Fourie of ek, oor China skryf, is daar ’n neiging om aan die "snaakse", vreemde verskynsels taamlik breedvoerig aandag te gee omdat dit die dinge is wat jou self verstom het en misverstande of moeilikhede tydens jou verblyf veroorsaak het. Hierdie soort verskynsels is ook goeie stof vir ’n artikel of boek, omdat dit Westerse lesers amuseer en hul vooropgesette opvattings bevredig.
Wat in so ’n artikel of boek nie altyd genoeg beklemtoon word nie, is die ekonomiese wonder en veral die ingenieurswonder wat China vandag is. Ek staan byvoorbeeld eenkeer met ’n gas uit Amerika in ’n volkswinkeltjie waar lekkernye soos ’n varksnoet of hoenderpoot in vakuumverpakking verkoop word. Nie ver van die winkeltjie nie, verrys ’n futuristiese gebou met meer as 100 verdiepings, byna ’n halwe kilometer hoog. Die varksnoet en hoenderpoot was vir die besoeker uit Amerika veel interessanter as die asemrowende gebou. Dit was iets wat mense by die huis sou geniet om te sien, iets wat die besoeker graag in haar bagasie na Amerika wou smokkel.
Is ’n vakuumverpakte varksnoet regtig meer afgryslik, "erger", as byvoorbeeld “jerky”, Amerikaanse biltong? Dit is maar ’n kwessie van waaraan jy gewoond is.
Elkarien Fourie besondig haar nie aan ’n bespotting of onderskatting van China nie. Inteendeel, haar boek getuig juis van die manier waarop China ’n mens kan aangryp, hoe lief jy vir die land en sy mense kan word.
Ek wil maar net sê: ons wat oor China verslag probeer doen, moet gereeld ook die oog slaan op die ongelooflike treine wat teen byna 400 km per uur voortsnel, die magtige, pragtig-ontwerpte brûe wat groot stukke see oorspan, die duiselingwekkende geboue waarin jy ’n wêreld van die toekoms betree.
Foto: Elkarien Fourie
Lees ook
Elkarien Fourie Elkarien Fourie het jare lank in China gewoon, Vat jou hele hart geskryf en deel hier sommige van haar foto’s van dié land. |