Die Voortrekkermonument: ’n onderhoud

  • 1

Van links: Voortrekkermonument en Piet Retief

“Die Voortrekkermonument se verheerliking van die mens en daardie mens se geregverdigde geskiedenis, is klakkeloos ‒ sonder om bedag te wees op die kwaad, die donker, ongeregtigheid en verdorwenheid wat altyd bly kleef aan die mens se lewe en werke. Die veelvuldige onvolmaakthede wat soos die duisternis anderkant die ligkring van ’n kers (om by Karel Schoeman te leen) aanwesig is, tree terug uit die monumentontwerp. ’n Mens soek vergeefs na uitbeelding waarin die Voortrekkers met onreg en in ongeregtigheid gehandel het. Is dit kenmerkend van hierdie monumente-tradisie om aan eie onregmatigheid, eie skeefgroei voor die voet verby te gaan en nie in te werk op die gestaltegewing van die verlede nie?” ‒ Dolf Britz

Waarom is monumente belangrik en wat word deur hulle bereik

Ek antwoord die vraag uit ’n Suid-Afrikaanse perspektief wat ingelig is deur die geskiedenis van monumente in ons land. In die algemeen is monumente gestaltes wat oomblikke uit ’n verlede vir ons verteenwoordig. Dit is ’n geskepte vashoupunt, ’n berekende poging om die verlede in die hede oor te plant, om ons nie net aan daardie verlede te herinner nie, maar in ons geestesoog daarheen te vervoer, en, afhangend, óf meestal in verwondering óf soms in verwonding daarmee te laat vereenselwig. Monumente is dus nie neutraal nie en staan ook nie op neutrale grond nie. Hulle is desnieteenstaade begrensd en as menslike interpretasie is hulle uitgepak of opgestapel of uitgelê in stellings, en moet dus met herinterpretasie tot singewing gebring word. Monumente inspireer dus ’n beweging tussen hede en verlede, sonder dat die verlede ten volle uitgebeeld of ten volle deur middel van monumente begryp kan word.  

Monumente in ons land dateer uit die laat 19de eeu en het ’n geskiedenis wat vatbaar is vir ondersoek en ondervraging. Monumente (soos elders in die wêreld) het ’n eie ontstaansgeskiedenis, ’n historiese oprigtingsmoment en, daarna, ’n geskiedenis van interpretasie en waardering. Dit kan en moet uiteraard krities ondersoekend beskryf word. Die keuse vir en oprigting van monumente is immers belyn met die tradisie waarvoor dit staan. Gaan ’n mens dit na, is ons monumente gestaltes van die omstrede geskiedenis wat ons deel. Daar is dus monumentreekse uit teenoorstaande tradisies wat mekaar ignoreer, weerspreek, en selfs van ’n bestaansmoontlikheid ontneem. In die afgelope tyd is monumente opgerig wat op ’n inklusiewe manier versoening en heling aan die hand doen. Hierdie faktore speel ’n rol wanneer ’n mens oor monumente nadink.

Om die vraag meer konkreet te antwoord, word vervolgens toegespits op monumente wat as deel van ons monumentegeskiedenis geassosieer word met die groep mense in ons land wat hulle in die 20ste eeu gaan onderskei het as die Afrikaners. Hulle het klippe gestapel, beskeie obeliske hier en daar opgerig, maar die merk is ongetwyfeld gemaak in die 1913-Vrouemonument in Bloemfontein en in die Voortrekkermonument (1938‒1949) van Pretoria. Die Vrouemonument, met die Afrikaner se eie piëta as middelpunt, dra verwonding oor. Die brons reliëf links, waarin ’n tweede kind sterwend lê, het ’n bekende Bybelse teks uit Josua 1:5 as opskrif: “Ik zal u niet begeven en u niet verlaten”. Teen die voetstuk is nog ’n Bybelse toespeling, hierdie keer uit die bekende Onse Vader-gebed: “Uw wil geschiede”. Die regter-reliëf word gekroon met ’n populêre politieke aanspraak: “Voor vryheid volk en vaderland”. Die oorsprong hiervan lê in die Bataafse Republiek as die manier waarop Nederland tot ’n vergelyk met die Franse Rewolusie gekom het. Dit het aanklank in Suid-Afrika onder die Nederlands-Afrikaners (veral in die noorde) gevind en het hom ingegrawe in die nasionalisme van ’n volk wat homself in die 20ste eeu na binne begin vind het. In hierdie monument loop dus drie lyne: ’n nasionalisme wat om die offer van lewe en dood vra, ’n Christelik-Bybelse belofte en belydenis, en die beeldegroep sélf.

Die begeleidende tekste uit die Christelike Bybel én uit die politieke en filosofiese intellektuele geskiedenis maak sekerlik aanspraak daarop om die boodskap van die monument rigtinggewend te vertolk. Ek laat die vraag of hiermee reg geskied aan die oorspronklike betekenis van die Bybeltekste eers in die midde. Dit is genoeg om hier net vlugtig op te merk dat die woorde uit Josua 1:5 in die konteks van 1913 (na alles) sin kon maak, maar dat die oorspronklike bedoeling daarvan, en die uitleg-tradisie daarvan in die Christelike kerk, nie hierdie besondere toepassing ondersteun nie. Boonop is die aanhaling uit die Onse Vader (betekenisvol) gewysig. Die oorspronklike is: “Láát U wil geskied”. Dít, terwyl die filosofies-politieke teks, bokant die “intog na die konsentrasiekampe”, wel na sy oorspronklike bedoeling van toepassing is: dit dra nie die belofte van lewe met hom saam nie, maar van ’n offer, tot die dood as dit moet. Vir volk, vaderland en vryheid sal ons lewe en sterwe. In hierdie geval is daar ’n aanspraak wat gevolge het, wat nie die geval is by die Vrouemonument met sy uitsonderlike beeldegroep nie. Dié behou ’n eie seggenskap wat bokant die tekste uitstyg.

Toe die Voortrekkermonument sowat twintig jaar later beplan word, was die ontwerp uitsluitlik bedoel om te bewonder. Hier was dus ’n ontwikkeling: van verwonding (Vrouemonument) na bewondering en verheerliking (Voortrekkermonument). Vir die oprigters van die Voortrekkermonument moes mense (die “Voortrekkers”), wat volgens hulle ’n ongeëwenaarde daad sou verrig het, naamlik die vestiging van ’n wit beskawing in die binneland, geëer, en dus verheerlik, word. Die verheerliking val dus nie uit die bloue hemel nie. Dit is ’n gegronde verheerliking, ’n verdiende loon vir wat die Voortrekkers vermag het en wat ’n monument regverdig. Omdat dit in hulle oë so ’n grootse daad was, moet die monument dienooreenkomstig ewe groots wees.

Verheerliking en regverdiging loop dus hand aan hand. Daarom word bewondering afgedwing, terwyl diegene wat op hierdie uitgebeelde geskiedenisdaad inkyk, bereik word met ’n teks wat op alles beslag lê: “Ons vir jou Suid-Afrika”. Die moderne charismatiese Afrikaner-weergawe van “Voor vryheid volk en vaderland”. Die verwonding van die onnodige lydensdood eie aan daardie oorlog vergete. Dié grootse monument is dus uit ander klip gekap as die Bloemfontein-suil. Nie van Kroonstad se sandsteen wat mettertyd verbrokkel nie, maar uit klipharde graniet, losgeskiet en gekap in groewe van die Noordelike provinsie, wat duisende jare behoue sal bly. Die Voortrekkers van die Voortrekkermonument is geregverdigde en geïdealiseerde mense. Is dít wat die monument so aantreklik (of aanstootlik) maak? Maar, ’n mens moet dus wéét dat die Voortrekkermonument hom grond in ’n bespiegeling oor volmaaktheid, wat hom diep in die verlede anderkant die onvolmaaktheid van die hierdie lewe sou bevind.

Die Voortrekkermonument se verheerliking van die mens en daardie mens se geregverdigde geskiedenis, is klakkeloos – sonder om bedag te wees op die kwaad, die donker, ongeregtigheid en verdorwenheid wat altyd bly kleef aan die mens se lewe en werke. Die veelvuldige onvolmaakthede wat soos die duisternis anderkant die ligkring van ’n kers (om by Karel Schoeman te leen)[i] aanwesig is, tree terug uit die monumentontwerp. ’n Mens soek vergeefs na uitbeelding waarin die Voortrekkers met onreg en in ongeregtigheid gehandel het. Is dit kenmerkend van hierdie monumente-tradisie om aan eie onregmatigheid, eie skeefgroei voor die voet verby te gaan en nie in te werk op die gestaltegewing van die verlede nie?

Die Voortrekkermonument is desnieteenstaande deeglik bewus van die onreg en kwaad in die geskiedenis. Die blaam daarvoor word op die teenstaanders van die “Groot Trek” geplaas. Daarvan getuig die opvallende uitbeelding van Piet Retief, wat gewelddadig gesterf het op “Dingaan’s Golgota” (soos Langenhoven dit vergrypend noem)[ii], en Bloukrans, byvoorbeeld. So bereik die monument sy doel om die Voortrekkers, sonder blaam, te verheerlik. Dit vra van jou om jou hoed vir hulle af te haal.

Natuurlik is hierdie houding noodwendig wanneer dit om verheerliking gaan. Maar, dit veronderstel die vraag: het hulle dan nêrens en nooit iets verkeerds gedoen nie? Dit lei na ’n volgende ongemaklike vraag: Word dit wat “verkeerd” was in wat hulle gedoen het, nie dalk in die geïdealiseerde inbeelding verdoesel of selfs reggepraat nie? En, is die verheerliking van die Voortrekkers nie dalk geskoei op die selfverheerliking en regverdiging waarna die opkomende nasionalisme van die 1930’s so naarstigtelik op soek was nie? Is die monument nie gekniehalter aan eietydse ideale nie?

Daar is dus in die Voortrekkermonument ten minste ’n dubbele boodskap. Die verheerliking waardeur dit gedra word voed ’n vereenselwiging waaraan hierdie ophemeling heerlik afvryf. Vir diegene wie se oë daarvoor oop is, of op besoek oopgaan, bereik die ooglopende verheerliking heeltemal iets anders. Iets wat, as dit jou lotsbeskikking is om deel van die tradisie te wees waaruit dit ontspring, net in taal van oormoed beskryf kan word. Nie net omdat jy ’n afkeer aan verheerliking het nie, maar veral omdat jy nog soveel van die verheerliking in jouself ontdek. In die raaksien van die skaduwees anderkant die ligkring van die monument, is ook dáár oorblyfsels van eie ongeregtigheid. Meer nog. As die regverdiging van jou bestaan hier nie in verheffing lê nie, waar lê dit dan? Jy kom dus hoed in die hand by die monument uit. Verwond.

Daarom is ons monumente, ook dié wat uit die Afrikaner se geskiedvertolking voorspruit, so belangrik, en veelseggend. Selfs al breek jy hulle af, gooi hulle weg, óf selfs al hou jy met idealisme vasberade daaraan vas, of bou ’n ander een, neem dit niks weg van die gemeenskaplike en gedeelde ongeregtigheid en aanspreeklik nie.

Waarom wou jy as kerkhistorikus en as persoon die artikel skryf? 

Die Voortrekkermonument van Pretoria is onteenseglik een van die merkwaardigste geboue en monumente in ons land. Die gebou maak eenvoudig ’n stelling wat reaksie oproep en navorsing inspireer. Dit word verdag gemaak (’n Vrymesselaarstempel), afgemaak (’n fascistiese struktuur) en opgehemel (vergestalting van die Afrikanerroeping). In die literatuur duik verwysings na die religieuse aard en simbole van die gebou op, maar dit word nie uit die bronne beskryf en beoordeel nie. Te midde dus van verskuilde gerugte, vermoedens, oordeelsuitsprake en omhelsing, is daar ’n duidelike gaping in die navorsing, te wete wat die bronne self sê oor die veelseggende religieuse stelling wat die gebou maak. Gevolglik was dit voor die handliggend om op hierdie aspek van die gebou in te gaan en dit te beoordeel.

Die artikel (en wat DV hierop volg) moet ook in ’n breër konteks gesien word. Dit staan in verband met die aard van die inslag van die Christelike geloof in Suid-Afrika, en met name ook by die mense wat hulle gedurende die 20ste eeu (en ná die Anglo-Boere Oorlog) as die Afrikaners geëien het, en derhalwe monumente begin bou het. Dit is nie gedoen sonder om daarin die oorgelewerde Christelike geloof te verwerk nie. Die ervaring van die oorlog (1899‒1903) het myns insiens baie hiermee te make. Die gevestigde kerklike lewe in die toenmalige kolonies, die georganiseerde beoefening van die Christelike geloof in die krygsgevangene- kampe, in die konsentrasiekampe, by die kommando’s en die spontane uiting daarvan by die vredesonderhandelinge het destyds in geloofs- en intellektuele trajekte weë gebaan wat nog nie behoorlik beskryf is nie. Hoe dit vertolk is in die groot en verslae stilte onder diegene wat die oorlog veral in die konsentrasiekampe meegemaak het, bly nog steeds buite die bereik van singewende navorsing. Is hierdie stilte onder die tweede en derde na-oorlogse geslag verbreek in die opwellings van ’n ongekende nasionalisme waarin nie die oorlog nie, maar die Groot Trek na 1930 uitgebeeld en belewe is? Is dit geestelik versterk deur ’n Afrikaner-herlewing van die Christelike geloof, sosiologies en kultuur-histories bepaal? Word die Voortrekkermonument by uitstek segsman hiervoor? Soos hierbo opgemerk, is by die Vrouemonument ’n aanhaling uit die Christelike Bybel ingeskryf. By die Voortrekkermonument, ten spyte van sy religieuse inslag, ontbreek enige tekste uit die Bybel. En tog is die hoeksteen midde in ’n geïmproviseerde gereformeerde erediens gelê, is die toeëiening van die gebou en sy boodskap diep beleef as ’n konstituerende moment in die Afrikaner se godsdienstige en nasionale spiritualiteit, wat as uiting van haar/sy (vorm van die) Christelike geloof opgevat is.  

Die Voortrekkermonument van 1938‒1949 maak dus teologies, histories en intellektueel aanspraak op ondersoek en uitklaring. Die veelvuldige stelling wat die gebou maak, die begeesterde vertolking, uitgebeeld en ingebeeld, van wat gesien word as die hoeksteen van die Afrikaner se geregverdigde geskiedenis in en van hierdie land, is ’n geskenk om tot ’n vergelyk te kom met ons 20ste eeuse geskiedenis. Immers, die gebou, sy ontwerp, sy aanspraak sê ongetwyfeld meer oor die tyd waarin dit bedink is, as oor die tyd wat dit probeer in herinnering roep.

Hierdie besondere vertolking - in ontwerp, sirkels, simbole, reliëfs, die senotaafteks, die statuur - konfronteer ’n mens met die vraag na reg en geregtigheid, na die sin van die geskiedenis en dwing jou om in die aangesig van die geskiedenis eerlik te wees, in die vergelyking waarmee ons in elk geval tot die geskiedenis moet kom om sinvol te lewe, en te sterwe. As ’n mens dus alles daar sien, al die gebeure wat in wit Italiaanse marmer uitgekap is, die konflikte in beeld vasgevang, die oop Bybel in meer as een toneel, die weglatings, die ruimtes en stilte beleef, oorweldig word deur statuur en graniet, moet jy op ’n eksistensiële vraag onvermydelik antwoord: wat is dan reg en geregtigheid? En, vrede?

Dit is die boeiende van die monument. Wie dus entoesiasties en selfgenoegsaam teen die talle trappe wat na die tempeldeur lei, oploop, verskyn inderdaad voor die aangesig van ons regverdigbare geskiedenis, máár, in die vereiste eerbied daarvoor, weergalm ’n teenspraak. In die tese wat daar in stilte gestel word, eggo ’n anti-tese. In die aanspraak klink ’n teenspraak, ’n weer-woord op. Die eensydigheid en ongelooflike weglatings uitgebeitel op die historiese friese, is geskiedenis in gevangenskap wat uitroep om bevryding. Meer nog. Hier is en word ’n verband tussen die Bybel en ons geskiedenis gelê. In die legkaart van historiese friese in die monument duik die Bybel immers op: in Grahamstad by die afskeid, tussen Sendeling Smit en Goewerneur Retief, en in die hande van Sarel Cilliers. Maar, geen teks uit die Bybel word aangehaal of op gesinspeel nie. Die enigste teks is op die senotaaf diep in die hart van die gebou: “Ons vir jou Suid-Afrika”. Die laaste reël van die eerste vers van Langenhoven se 1918-gedig: Die Stem. Onlosmaaklik verbind aan die allesseggende en derhalwe allesbepalende aanspraak op die hoogste offer van menslike lewe: “Ons sal lewe, ons sal sterwe”.

Maar, dit is ’n teks wat die Voortrekkers nie geken het nie. Dit vertolk ’n land en volk wat hulle (na my mening) nie (kon) voorsien het nie. En tog: dit is die voorkeurteks waaromheen die monument vorm aanneem. In die Afrikaner van destyds se vroomheid het dit ’n uitgangspunt geword. Ook hierdie teks, gebore in en vir die eietyd, het sy teenpool in ’n ander ewe bekende Christelike teks, met Skrifverwyings, naamlik Vraag en Antwoord 1 van die Heidelbergse Kategismus. Destyds sou die meeste Afrikaners uit huis uit bekend wees met die openingswoorde van die Heidelbergse Kategismus: in lewe en sterwe behoort ons nie aan onsself nie, maar aan ons getroue Verlosser Jesus Christus. Die Stem se aanspraak roep ’n Bybelse teenspraak op. En tog is dit gesluk. Hoe werk dit? Waarom het dit gebeur? Hoe diep het die Christelike geloof wat in en rondom die monument herleef het en gevier is, werklik gegaan? En, hoe diep was dit deurdrenk met die Bybelse uitgangspunte, met name soos dit in die (algemeen) aanvaarde gereformeerde belydenisskrifte uitgespel is?

Selfs vir “gesonde” mensverheerliking laat hierdie belydenisskrifte nie ’n deur oop nie. Verheerliking van die Voortrekkers was die uitgesproke motivering vir die oprigting van die monument. Dit was tot hulle eer. Waarom het niemand teen hierdie verheerliking standpunt ingeneem nie? Of, is verheerliking van die mens juis skering en inslag van alle vorme van herlewing, of beter gestel, die bring tot ’n nuwe kultuurvriendelike lewe van die Christelike geloof? Is die fondament hier gelê vir ’n volksteologie en –godsdiens? Met ander woorde: hoe Christelik was die herlewing van die geloof waarmee die ontwerp en bou van die monument begelei is? Hoeveel van die Christelike geloof is prysgegee in hierdie proses van inkulturasie? En, wat sou die gevolge hiervan wees? Die punt wat ek dus maak is dat daar ook binne die religieuse stelling wat die gebou maak ’n weerklank is. ’n Teen-woord. Dwing die reuse en imponerende gestalte van die gebou, die groot vrouefiguur reg voor, jou nie eerder om behoedsaam soos ’n boeteling die trappe op te kom na die tempeldeur nie?

Vir die teen-woord moet jy jou ore spits en jou oë kalibreer. Want as jy dít nie gehoor en gesien het nie, was jy nie by die hart van hierdie merkwaardige gebou suidwes van Pretoria nie.

Dit is waarom ek hierdie artikel geskryf het. En, nie omdat dit vanjaar 80 jaar gelede is dat die hoeksteen in die plegtige stilte van ’n erediens, wat deur die spontane sing van Die Stem onderbreek is, gelê is nie.

Die oprigting en inwyding van die Voortrekkermonument was ’n kern-oomblik in die politieke geskiedenis van ons land. Die monument was of is nog vir vele inderdaad ’n heiligdom. Jou artikel oor die monument onthul egter hoe politieke en kerklike leiers saamgespan het om die oprigting daarvan te manipuleer om uiteindelik met die Bybel en godsdiens die absolute mag van een groep in ons diverse samelewing bo ander te regverdig en te bevorder. Sommige lesers sal dalk nou ná jou artikel met ander oë na die Voortrekkermonument kyk en dit sien as ’n simbool van faksionele denke, as nog ’n verdere teken van ’n misbruik van godsdiens vir politieke doeleindes. Dit word dan inderdaad vir hulle ’n struktuur wat min ruimte laat vir wat jy beskryf as ’n “helende sny aan eie vlees”. Die vraag is nou hoe verder? Dit is soms die geval dat iets wat in sonde ontvang en gebore is, sy oorspronge kan oorleef en later ’n heel ander, selfs kontrasterende beeld kan uitstraal. Dink maar aan sekere koerante in ons land wat ’n hoogs bedenklike ontstaan gehad het, maar tog vandag sosiaal en polities aanvaarbaar is, selfs deur hulle vroeëre kritici. Is die monument deur sy verlede verby alle herstel gekontamineer? Is daar enige praktiese manier waarop die Voortrekkermonument bevry kan word van die las van sy ontstaansgeskiedenis en sy rol in die sakralisering van die apartheidsisteem?

Billiksheidshalwe moet ’n mens erken dat wat uiteindelik oor die betekenis en simboliek van die gebou geskryf is, nie noodwendig met die oorspronklike bedoeling ooreenkom nie. Die oorspronklike gedagte om met ’n monument versoening tussen Engelse en Afrikaners te bewerk, is byvoorbeeld in die wiele gery deur die Simboliese Ossewatrek (1938) wat met die waens op Die pad van Suid-Afrika (Langenhoven, 1921) met Die Stem as die lied in die hart, ’n eksklusiewe nasionalistiese singewing daarvan aangery het. Hierbenewens het ’n meer radikale politieke party (wat later die Nasionale Party geword het) die projek vir eie gewin benut. Dit het meegebring dat die destydse Eerste Minister Hertzog nie teenwoordig was by die hoeksteenlegging nie. So ook was Engels daar onwelkom, en natuurlik ook “God save the King”. En, na my mening het die argitek die golf gery in sy verduideliking van die simboliek en betekenis van die gebou, soos hy dit met verloop van tyd in een rigting aangedik het. Die skuif is egter toegelaat en aanvaar. Daarby kom jy nie verby nie.

Hoewel die ontwerp van die gebou geïnspireer is deur die antieke Egiptiese tempelargitektuur, is die toegekende betekenis en simboliek daarvan gevorm deur ’n vertolking en uitbeelding van ons geskiedenis, sodat dit toegeëien kon word deur die Afrikaner. Dit sluit aan by ’n populêre mening in omloop, naamlik dat ’n mens uit die geskiedenis die goeie moet neem en die toekoms daarop moet bou. Hierdie mening is fundamenteel ondeurdag. Dit rus op die waan dat die mens die reg aan sy kant het om die geskiedenis te beoordeel en te versnipper. En net die “goeie” daarin op te hef tot ’n status wat gesagdraend die toekoms, en dus die lewe, bepaal. Is dit in die monument, sy ontwerp, sy statuur, sy religieuse stelling, reggekry? Die besoeker verskyn inderdaad voor die aangesig van hierdie soort beoordeelde en noodwendig vertolkte en dus toeëienings-vriendelike geskiedenis, én die gevolge daarvan. Hierdie aanspraak is destyds sondermeer en met vreugde toegeëien. Dan was daar diegene wat getwyfel het. Dit anders gesien het. Ander het as buitestaanders op ’n afstand vreemdelinge gebly. Vir nog ander is slegs een dag per week gereserveer om die gebou te besoek. So is die toeëiening en boodskap van die gebou met assosiasie en aannames die samelewing ingedra. Vandag, na alles, word verantwoording gevra. Dit moet gegee word. En, die gebou self moet tereg staan. Daarin lê die behoud.

Die behoud of “bevryding” van die gebou lê myns insiens in hoe daar omgegaan word met die historiese, kulturele en religieuse stelling wat dit maak. In wat dit op ’n bepaalde wyse sê. En, ook nie sê nie. Dit verg uiteraard kennis, en die vaardigheid om hierdie kennis singewend te verwerk. Hiervoor moet by die gebou voorsiening gemaak word.

Ek dink dit is nodig om die punt te illustreer. Die gebou was bedoel om mense, en wat hulle gedoen het, te verheerlik. Klinkklaar. Gevolglik: waarom is gelade taal soos “verheerlik” en “eer bring aan wie eer toekom” (sinspelend op Psalm 115:1?) juis in daardie jare gevind om die monument te konseptualiseer? Kom dit na selfverheerliking se kant toe? Omdat die gebou so ’n sterk religieuse aanspraak maak, is dit gepas om op te merk dat in hierdie vertolking en uitbeelding, niemand op hulle hoede was vir ongeregtigheid in en van daardie geskiedenis nie (Ps 18:24). Dit geld ook vir die tyd waarin die monument uitgedink, geskep en tot vertolking gekom het. Die aandrang om die geskiedenis te verheerlik en dus te regverdig was eenvoudig te sterk om bedag te wees op die skeefgroei daarvan. Op wat die Christelike Bybel sonde noem. Wie die Bybel ken, sal opeens ook weet dat na sy gereformeerde interpretasie, daar geen volhoubare gronde is in enige vorm van menslike regverdiging en geregtigheid nie.

Dit is ter saaklik om die Bybel op hierdie wyse aan die orde te stel, omdat dit destyds, met die hoeksteenlegging en inwyding van die gebou, die algemene en gangbare vertolking van die Skrif onder die Afrikaners was. So is die Bybel ook destyds in die openbaar gebruik. Tog moet versigtig gehandel word met die aanname dat die Bybel sonder meer ingespan is om die regverdiging van hierdie heiligdom na te praat. Dit het gebeur, maar daar was ook ’n teenstem. Die hele saak rondom die prediking en uitleg van die Bybel by die monument, wag nog op behoorlike ondersoek. Wat hier beoog word, is om te wys op die onderliggende, naamlik dat die verheerliking van die Voortrekkers waarmee die regverdiging van hulle geskiedenis bekroon is, op sigself reeds uiting van ongeregtigheid is.

Daarom is die vraag na geregtigheid onvermydelik. En konfronterend. Daarmee moet gehandel word, en op grond hiervan tot ’n singewende vergelyk gekom word. Juis omdat die gebou, teen sy bedoeling in, presies hierdie probleem so uitstekend illustreer. Dit geld vir almal wat deur die gebou ’n geskiedenis sien om op te bou, en vir diegene wat daarin ’n geskiedenis sien om af te breek. Eie en gedeelde ongeregtigheid sny enige vingerwysing in die wortel af. Vir almal, maar in die besonder vir die Afrikaner, word dit só ’n sny aan eie vlees.

Gebeur dit nie, bly die gebou stom. In die skadu van ’n ander monument op die oorkantste heuwel, en net maar ’n gebou langs die eertydse nasionale pad na die noorde. Gebeur dit wel, is die sydelingse terugkyk met die afstap van die groot trappe, ’n blik op iets wat lyk soos na bo geboë kerkvensters.

Op ’n heel praktiese vlak roep selfs iets so eenvoudig soos die voorkoms van die monument vrae op. Dit roep heelwat vrae by ’n mens op: Hoe sou jy oordeel oor uitsprake van kritici wat sê dat die massiewe ontwerp en opvallende plasing van die Voortrekkermonument fascistiese denke weerspieël en eintlik op sigself gewelddadig is? Hoe dink jy oor sulke sieninge wat die monument as ’n magsgreep beskou wat net groepsbelang wil bevorder. Hoe sou jy reageer op menings van mense dat die monument ’n pynlike simbool van ’n donker verlede is en op een of ander manier geneutraliseer of selfs verwyder moet word? Hoe sou jy reageer op menings dat die monument byvoorbeeld ook ’n voorbeeld is van die massiewe standbeeld van Saddam Hussein wat met die revolusie in Irak afgebreek is? 

Ek kan my nie deur iets anders laat lei as die bronne nie. Wat daarin verborge lê, moet beskryf word, al bied dit weerstand teen populêre aannames en opvattings. Die bronne is duidelik: die ontwerp van die monument is geïnspireer deur die antieke Egiptiese argitektuur, wat volgens die argitek daarin geslaag het om nie deur die uitgestrekte grootsheid van die Afrika-landskap verswelg te word nie. Daarby het Moerdyk beklemtoon dat hy geïnspireer was deur die Zimbabwe-ruïnes. Vergelyk ’n mens die eerste verduidelikings van sy ontwerp (1932) met die gespierde taal van sy laaste uiteensettings (1949), is dit egter opvallend dat daar momentum in sy uitleg opgebou het om die mag en magsvertoon van ’n bepaalde groep mense se nasionalisme te weerspieël. Maar, daarmee is toegelaat dat die oorspronklike bedoeling van die projek in die steek gelaat is. Met verloop van tyd het ’n Afrikaner-nasionalisme, wat in die Simboliese Ossewatrek tot uiting gekom het, die “eie-ek” van “die volk” weerkaats. Dit is dus volkome begryplik dat die statuur van die gebou en sy plasing, juis in Pretoria, aanstootlik en pynlik ervaar word.

So ’n ervaring is egter rede genoeg om die gebou nou eers behoorlik te ondersoek. Deur al lopende te soek na die ontbrekende geregtigheid, maar dan sonder dieselfde fout te maak, naamlik om óór geregtigheid heen oor die geskiedenis baas te speel en self spelreëls daarvoor op te stel. Die vrae moet reguit gevra word. Was dit onbedoelde profesie dat die Afrikaner se nasionalisme ’n praalgraf (mausoleum) moes ontvang as monument? Hoe kry ’n eietydse teks (Die Stem) die ereplek in die monument? En, waarom? Waarom is geweld en doodslag afgesonder tot een groep mense? Hoe laat ons toe dat die gebou ons aan die hand vat om beter mense te wees? Wie help ons hierin? Maar genoeg. Die afrekening wat gedoen moet word, lê nie in die toesluit van die gebou nie, maar om die blywende seggenskap daarvan te bepaal. Eers dan sal reg daaraan geskied. Immers, wat is dan per slot van rekening geregtigheid? Hierby kan niemand van ons verbykom nie. 

Hiermee word my argument nog ’n keer aan die orde gestel en ’n verdere aspek daarvan, wat ek tot hier toe doelbewus onderspeel het, te ontwikkel. Dít naamlik, dat die Afrikaner, of diegene wat tot daardie tradisie behoort, nie alleen die verantwoording kan en mag behartig nie. Net so min as wat mense kan weier dat enige “vreemde” stem die uitlê van sy monument mag deel, net so min kan hulle dit vir hulle toeëien. Maar, deelname aan hierdie uitleg berus op wedersydse begenadiging.

Standbeelde soos dié van Hoessein, Lenin, Stalin en simbole (dink aan die Hitler-tyd) val tog in ’n ander kategorie as die Voortrekkermonument, soos blyk uit byvoorbeeld die frekwensie en die posisionering van sulke standbeelde op staatsgeboue, openbare ruimtes, ensovoorts. Gewoonlik word nie die verlede nie, maar die hede en haar maghebbers deur hulle uitbeeld. Dié soort beelde word ook met staatsmag orent gehou, en in ’n omwenteling vernietig, verwyder of verplaas. Miskien sou dit goed wees om oorblyfsels hiervan in ’n plek soos ’n museum te bewaar. Waar dit toeganklik is as simbole van ’n tyd wat nie weer moet gebeur nie. Ek dink nie dit is van pas om die verlede toe te hou, of die simbole daarvan weg te steek nie. Laat ons hulle selfs letterlik op hulle plek sit waar mense hulle kan sien en beleef, en dan gemeenskaplik oor hulle tot ’n vergelyk kan kom.

Die manier waarop die Bybel gebruik is in die ontwerp vir die Voortrekkermonument wys hoe sterk politieke en sosiale vooroordele en oortuigings ons godsdiens bepaal. Wanneer word so ’n politieke gebruik van die Bybel ’n vergryp teen die samelewing en teen die kerk? Hoe nodig en prakties is dit dat kerke oor hul aandeel aan die oprigting van die monument herbesin?

Die 1936-dokument van die Sentrale Volksmonumentekomitee, waarin die ontwerp van die monument verdedig word teen onder andere kritiek gegrond op die uitgangspunte van die Christelike geloof, is seker die mees beduidende dokument in die lang trajek waarin die simboliek van die gebou uiteengesit is. Hier word vir die eerste keer ’n aanknopingspunt vir die monument-ontwerp in die Christelike Bybel aangedui, naamlik die altaar wat Abram, uit Ur van die Chaldeërs, gebou het. Vroeër is daar geen verwysing na die Bybel nie, alhoewel die kern van die betekenis en simboliek van die gebou in (nie-Christelike) religieuse konsepte verpak is: ’n mausoleum, heldegraf, tempel en heiligdom.

Wat my betref is die bronne (weereens) duidelik: Moerdyk het opsetlik ’n religieuse struktuur gekies om die roemryke Voortrekkers in beeld en klip in herinnering te roep. Daarvoor put hy uit die antieke Egiptiese boukuns. Maar, in 1936 word Bybelse gegewens bygebring, as motivering vir die ontwerp. Dit kom op die volgende neer: Soos Abram ’n altaar gebou het waar hy gekom het in ’n nuwe land, so sou die Voortrekkers (as hulle daaraan sou gedink het) eweneens ’n altaar bou. Ons doen nou presies dit. Ons bou ’n altaar, sê hy. Maar, die Abram-altaar word vervang  met ’n heiligdom, en word getransubstansieer tot ’n “sarkofaag”. Die Bybel, en die boodskap van die Bybel, word dus hier letterlik met iets vervang wat nie in die Bybel staan nie. Hoe goed die bedoeling ook al, hoe prakties die toepassing, dit is ’n uiterste vorm van sekularisasie. Die konsekwensie is dat die Bybel van sy seggingskrag in en aan die gemeenskap (en geskiedenis) beroof word. Die vergryp is aan die Woord (Bybel), wat nie anders kan as om in skuld en ongeregtigheid bely te word nie.

Die kerklike blaaie en vergaderings (sinodes) van die drie Afrikaanse kerke van gereformeerde belydenis, het destyds bloedweinig aandag aan die monument-projek bestee. Die drie kerke is eers met die hoeksteenlegging (16 Desember 1938) en die inwyding (16 Desember 1949) amptelik by die program ingeskakel. Daarmee is die toeëiening van die gebou Christelik-teologies begelei. Maar, dit is nie krities gedoen nie. Hoe die Bybel oorgeneem is, en daarna weer die deur gewys is, het niemand blykbaar opgeval of gehinder nie. In hierdie verband moet latere insigte as handige en altyd toegewende vriend nie te hoog ingeskat word nie. Ek weet dit maar te goed. Die vraag is uiteraard wat sou mens self gedoen het in daardie omstandighede en tyd. Sou jy bokant die gebeure uitstyg en die groot profeet wees? Téén die stroom gaan staan het? Die enigste konkrete besef is dat jy nie op hierdie manier op ’n afstand kan staan nie. Mens kan eenvoudig nie aangaan en oor die monument praat asof niks in hierdie land gebeur het nie. Hierdie soort Skrifhantering en -beskouing het elders afmetings aangeneem wat die hele land diep sou raak en stukkend breek. Ek bedoel die teologie van apartheid...

As jy dus as aangesprokene en aandadige moeisaam teen die trappe – een vir een ‒ oploop, dra jy aan hierdie las: hoe op hierdie aarde en in hierdie land het dit gebeur? Sonder meer? Sonder dat die aanwesige teen-woord duidelik en luid geformuleer kon word? Hoe kón dit? En, waarom?  

Die Afrikaanse kerke van gereformeerde belydenis, wat hulle in hierdie soort Skrifverklaring laat vind het, het uiteindelik in die jare tagtig daarop teruggekom. Teologies en histories het dit te na aan die oppervlak gebeur. Die geleentheid om diep in te vra na die betekenis en singewing van die Skrif, het na my beskeie mening in die praktiese geharwar om relevansie vir die kerk te herwin, verlore gegaan. Hier is ’n uitstaande rekening wat nog vereffen moet word. Die vervanging van sinodebesluite met nuwe besluite is nie genoeg nie. Mense se lewens en lewensuitkyk (ook dié van lidmate) is te diep daardeur geraak om te dink dat die hersiening genoeg was. Miskien kom die tyd nog dat sinodes, wat hulleself as predikant-gedomineerde gesagsinstellings namens die kerk opgestel het, lidmate, ouderlinge en diakens (en sekerlik ook dominees) om vergifnis vra vir die sinodaal-kerklike geskiedenis waaraan húlle beslag gegee het.

Wat dink jy is die lesse wat die kerk kan leer uit hierdie geskiedenis oor die verhouding tussen staat, kerk en godsdiens? Hoe sien jy die verhoudinge?

Die koloniale geskiedenis waaruit ons kom het die templaat voorsien waarmee ons die verhouding staat, owerheid, regering (wat saam met die owerheid nie dieselfde is as die staat nie), kerk en godsdiens aftas. Die verhouding het eintlik iets vanselfsprekends geword. Kerk en godsdiens speel daarin ’n gewaardeerde, waardevolle en praktiese rol. Dit het aan die kerk die statuur van ’n instelling (en regspersoon) in en vir die samelewing besorg. En, juis dít het aan die kerk ’n selfverstaan gegee wat byvorbeeld in optrede, seggenskap, deelname aan die bestel, boodskap, sinodale identiteit, tot uiting gekom het. Daar het ’n kolonialiteit aan die kerke afgesmeer waarop hulle nie bedag is nie. Ons, met name die historiese Afrikaanse kerk, kan ons dus skaars ’n situasie indink waar die kerk in ’n totaal ander verhouding met die staat, en godsdiens in die algemeen, moet oorleef nie. Soos natuurlik by (veral) die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument, het ’n gemaksone ontstaan waarin die kerk graag in die openbare ruimte saamgepraat en leiding gegee het. Die optrede daar, gerugsteun deur die begeleiding van die opkomende nasionalsime, is uiting van ’n kerklike selfbegrip in terme van ’n praktiese, openbare teologie. Daarmee is ’n die kerk ’n hanetreetjie van ’n omvattende politieke teologie, soos uitgewerk in die teologie van apartheid.

Dit is sekerlik oorbodig om die ter saaklike teologiese dwalinge nou weer hier soos wasgoed op ’n lyndraad uit te hang. Ons koloniale konteks, en ons kolonialiteit, bring ’n kerklike selfverstaan mee wat uiting vind in ons teologie. Ons is deeglik bewus daarvan hoedat ’n teologiese skuif hom in bogenoemde teologie voltrek het en dat in die plek van die Skriftuurlike verkondiging, makliker as wat jy dink, iets anders ingeskuif word. Soos wat in die plek van die Abram-altaar ’n heilige sarkofaag vir die Voortrekkermonument gekom het. Soms wonder ek of die argitek self die konsekwensies van hierdie omgang met die Bybel besef het. Sover ek kon vasstel het niemand hom ook daarmee gehelp nie.

Ek diep hierdie skuif ter wille van ’n openbare teologie uit ons geskiedenis op, nie om daarmee te beskuldig of te verontskuldig nie. Dit gaan oor ’n voorbeeld om ’n meer omvattende probleem te belig, naamlik dat, in ons konteks, in ons tradisie met sy koloniale verlede en voortgaande kolonialiteit, die kerk in die algemeen (nie net die Afrikaanse kerke van gereformeerde belydenis nie!) hierdie soort skuiwe maak, en gemaak het.

Wanneer dus oor die verhouding staat, owerheid, samelewing en kerk gedink word, en aan- of uitsprake gemaak word, of met aannames gewerk word, moet daar ’n vlaggie opgaan. Wees bedag daarop om nie met teologiese regverdiging weer ’n keer die integriteit van die Christelike geloof en kerk te kompromiteer nie. Word dit raakgesien?, is die vraag. Wat moet ons daarmee maak? Hoe moet ons vorentoe? Is hier ’n les te leer?

Die kerk sal haar geskiedenis en die geskiedenis van haar teologie in en van ons land ernstig moet opvat. Sy moet leer uit die oorspronklike bronne, wat na die aard van hulle teologiese bedoeling en aanwending krities aan die hand van die Skrif verstaan en beskryf moet word as geskiedenis van die kerk van Christus. Dit behoort dus duidelik te wees dat ek die verhouding kerk, staat, owerheid en godsdiens nie van steierwerk voorsien om die kerk as (gewaardeerde?) instelling (en gesagvolle mag?) binne hierdie ander instellings orent te hou nie. Die kerk van Christus opereer in ’n ander orde en het ’n unieke bediening. Gegewe ons tradisie, ons konteks, ons situasie, is hierdie verhouding tradisioneel en aanvaar as deel van die kerk se identiteit. Maar, as teoloog is ek nie bereid om dit te verdedig en as normatief te aanvaar nie. Dit leer die geskiedenis van hierdie land ons dubbel en dwars.

Jou artikel wys hoe die ideologie van ’n meerderwarige Westerse beskawing in die naam van die Christendom verdedig en bevorder is. Dit was ’n benadering wat besonder prominent in die groot en omvattende proses van kolonialisering oor die wêreld heen was. Jou artikels toon hoe ironies dit is dat die Afrikaner se stryd teen die magsbehepte koloniale magte uiteindelik ook weer self deur ’n kolonialistiese denkpatroon bepaal is. Kan jy vanuit jou kennis van die geskiedenis meer insig gee in die gevolge van hierdie houding op die inheemse groepe in Suid-Afrika? Was daar vir jou iets positiefs aan kolonialisering? 

Kenmerkend van ons geskiedenis sedert 1652 is die teologiese begeleiding en regverdiging van die bestaansreg van die opeenvolgende bestelle waarin ons politieke geskiedenis uitgemeet is. Allereers was daar ’n corpus Christianum, vergestalt deur die Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap (1651‒1795). Tweedens het die Brits-Christelike koloniale gemenebes hom aangekondig (1795‒1948). Daarna was daar die Christelik-nasionale bestel (1948‒1976). Die oorgang na die huidige bestel is eweneens teologies gemotiveer en verdedig, maar het uitgeloop in ’n grondwet wat alle godsdienste erken. Hier by ons het kolonisering dus inderdaad op ’n unieke manier help beslag gee aan ons geskiedenis.

Kyk ons die (vertolkte) verlede in, dan word die aandag vasgevang deur die momentum van en verset teen kolonisering. Dit is aggressief en uitdagend: vol geweld, oorloë, lyding, oorlewing, oorwinnings. En, begelei met konsepte wat gedoop is in die ink van regverdiging, geregtigheid, opvoeding, beskawing, Christendom, heidendom. Daarom is daar donder in ons geskiedbeeld. Dit is die konteks waarin die Kerk van Christus haar boodskap laat bedien en gekonkretiseer het. Hier was en is dus ’n samehang tussen die konteks (kolonialisering) en die Christelike geloof waaroor ’n mens nie kan spring as jy die verlede wil ontsluit nie. Tog moet jy daarop bedag wees dat die twee nie met mekaar geïdentifiseer word nie. Al is daar bronne wat dit doen, of veronderstel, of selfs opeis. Ek dink aan John Philip, Calvinis, gereformeerd in sy denke, wat onvergeetlik die ongeregtigheid in die Kaapse (Christelike) samelewing aan die kaak gestel het. Maar, terselfdertyd was die Empire volgens hom dié middel om beskawing en dus ook die evangelie hier tot hulle reg te laat kom. Dit moes net op die regte manier gedoen word.

Uit die kerke en onder Christene was daar egter gemotiveerde ondervraging, ’n teenstem en selfs protes. Hier duik die name van byvoorbeeld Van der Kemp, Hallbeck, Arbousset, Casalis, Wuras, Lindley, almal uit die 19de eeu, op. Dit is hulle, en die baie ander medestanders, wie se stem gedra het tot by die georganiseerde verset in die vroeg 20ste eeu. Byna almal betrokke by die stigting van die ANC in 1912 het skool- en tersiêre opleiding aan Christelike instellings ontvang wat deur kerke of sendinggenootskappe gestig en opgebou is. Later, uit die mees Christelike universiteit in ons land (ten minste tot ongeveer 1954), is intellektueel vorm gegee aan die argumente wat die Christelik-nasionale bestel sy morele en teologiese regverdiging ontneem het. Ek bedoel die Universiteit van Fort Hare, wat uit die Skotse Presbiteriaanse sending ontstaan het.

As kerkhistorikus gaan ek dus nie op soek na goed en sleg in ons geskiedenis nie. Oor dié kennis beskik ek nie. Ek vra liewer ’n ander vraag aan die verlede, naamlik, waar was die kerk getrou aan die Woord en die Here van die Woord? En, waar nie? So kan jy die teologie op die weegskaal plaas wat kolonialisering omhels het, of wat met goddelike aanspraak die hele samelewing omvat en geskei het, of wat met nog hoër opgaaf verset daarteen gaan opstel het.

Hierdie benadering tot ons geskiedenis het wel gevolge. Dit bring die kerkhistorikus op daardie punt om te besef dat sy/hy self aangesprokene is, omdat sy/hy ewe aandadig is. In terme van die Christelike geloof beteken dit dat alle regverdiging, geregtigheid, versoening, vergifnis, of hoe ’n mens die vergelyk met die geskiedenis ook wil omskryf, buite jouself lê. In Christus. In die Christelike geloof beteken dit dat jy vir jou aandadigheid, of vir dit waarvoor jy aandadig gehou word, kan vergifnis vra, sonder om daardeur enige morele hoë grond te verwerf, of te verdien.

Jou artikel toon dat die Voortrekkermonument opgerig is met die omstrede idee om die Afrikaner uit te beeld as toonbeeld van hoë beskawing wat onbeskaafde groepe moes ophef. Hoe oordeel jy oor die groeiende oortuiging dat die historiese wetenskappe ’n etiese plig het om ook die oogklappe van ’n Westers-geörienteerde benadering tot die geskiedenis uit te wys en om alternatiewe stemme oor die verlede aan die woord te stel. Kan jy vertel wat verder gedoen word in jou navorsingsveld om die inheemse geskiedenis anders voor te stel, of ook om die donker kante van die Afrikaner se eie geskiedenis uit te lig, soos wat jy ook ’n bietjie in jou artikel doen?

Vir my gaan dit om ’n metode en oor eerlikheid. Daarmee bedoel ek dat al die bronne bestudeer moet word. Nie net die helfte nie. Ál die bronne, na hulle aard, in hulle tyd, aan die hand van ’n behoorlike en begronde vraag. As dit bronne met ’n teologiese strekking, bedoeling en aanspraak is, moet daardie bronne teologies-krities verstaan en ondervra word. Bronne moet ook nie gemuilband word nie. Laat hulle praat. Hierbenewens moet op ’n begronde manier met bestaande geleerdheid (sekondêre bronne) omgegaan word. Hulle is gedateer, staan in skole van denke, en is beïnvloed deur die tyd waarin dit geskryf is. Wie die (kerk)geskiedskrywing van ons land ken, sal weet hoedat reekse feite in die boeke oorgeneem en sondermeer herhaal word. Myns insiens moet ons nou werklik terug na die bronne. En, dat die antwoord op die vrae daarop in alle nederigheid beskryf moet word sodat dit sal help met die singewing aan die lewe.

Eerlikheid (integriteit) kom aan op die een wat die geskiedenis beskryf. Met voorveronderstellings, en met tekorte. Hieroor is ek duidelik: ek is ’n teoloog, wat uit gereformeerde en ortodokse hout gesny is. In my beoordeling van die geskiedenis, soos dit, gebind aan die bronne, in my denke gevorm en deur my hand beskryf word, is daar ’n norm aan die werk, naamlik die Woord van God en wat hierdie Woord oor Christus sê. Hierdie uitgangspunt maak my bedag op die “donker kante” van ons geskiedenis. Ek huiwer nie om dit oop te spit nie, al beteken dit die pynlike sny aan eie vlees. Ek dink nie ’n mens kan op ’n ander manier die kerk van Christus se geskiedenis beskryf nie.

Iets heel anders: Ek het op ’n stadium ’n bekende buitelandse teoloog na die Voortrekkermonument geneem. Ek was verbaas oor hoe hy deur die vrouebeeld by die ingang beïndruk of selfs oorweldig is. Hy kon nie dink aan enige monument wêreldwyd waar ’n vrouebeeld so prominent uitgebeeld word nie. ’n Mens hoor in die verband ook dikwels dat die Vrouemonument in Bloemfontein vir baie besoekers ’n unieke en selfs aangrypende ervaring bied. Die reaksies laat ’n mens ook met baie gedagtes: hoe oordeel jy oor die opvallende plek en rol van die vrou in ons monumente? Wat is die positiewe, maar ook die negatiewe kante van die besondere aandag aan die nagedagtenis van vroue in die Afrikaner se geskiedenis en sy monumente? Word die vrou byvoorbeeld nie te veel tot ’n onderdanige, lydende slagoffer gemaak nie? Is daar ’n ander vrouebeeld, van vroue se inspirerende, geharde, selfs onverbiddelike rol in ons geskiedenis wat iewers in monumente of historiese beskrywings na vore kom? Sou ’n mens die plek van die vrou in ons monumente kan lees as ’n aanduiding dat Afrikaners eintlik ’n matriargale groep is? Weerspieël ons monument manlike patronisering of sou ’n mens, soos baie dink, dit inderdaad as ’n teken van die verskriklike ontberings van vroue as die mees weerloses in die stryd teen koloniale magte moet sien? Laastens: bied die dominerende narratief van Afrikaanse vroue as uitnemende helde in die vryheidstryd onder baie waarnemers die volledige beeld op ons geskiedenis? Ek dink hier aan die hoogs emosionele debat van enkele jare gelede waarin heftige menings uitgewissel is oor navorsing omtrent die onhigiëniese toestande onder vroue in die konsentrasiekampe wat sommige mense as ’n aantasting van die vrou se rol in die oorlog beskou het. Wat is jou mening hieroor?

Die geskiedenis van vroue in en van ons land wag grootliks nog op beskrywing. Daar is natuurlik al deeglike werk in hierdie verband gedoen. Ek dink aan Karl Schoeman, byvoorbeeld. Maar, hier is baie nuwe grond wat geploeg moet word. ’n Studie van Elizabeth Lyndall (1803‒1901) gaan die geskiedenis van die Vrystaat en Lesotho in ’n ander lig stel. Ek sien uit daarna. Sy moes sien hoe ’n Boerekommando haar skool, en die kerk, op Bersheba afbrand (1858), om nooit weer opgebou te word nie. Tog het haar onderwysmetode uiteindelik die grondslag van die onderwyssisteem in Lesotho geword. En, o ja, Samuel Rolland (1801‒1873) was, terloops, haar getroue eggenoot. Hierdie soort geskiedenisse moet uit die bronne opgetel word. Dit gaan ons lewe verdiep en verruim om hier, in hierdie omstrede land, saam te kan woon. Hierteenoor kan ons maar die tradisionele “vrou en moeder van haar volk”-idee, wat vroue as randfigure in ons Afrikaanse geskiedskrywing laat figureer en oproep, om diens te lewer wanneer dit nodig is, eens en vir altyd uit die geskiedskrywing weer. Juis omdat die bronne dit nie staaf nie.  

Die aangrypende beeld wat opgebou is rondom die lyding en sterwe van vroue en kinders in die vlugteling- of konsentrasiekampe gedurende die tweede helfte van die Anglo-Boereoorlog, is die belangrikste rede waarom vroue so prominent in die Vroue- en die Voortrekkermonument is. Hierdie beeld het sy eie geskiedenis en is mettertyd kontekstueel aangepas en uitgebou. Dit het die onomstootlike waarheid van die oorlog geword, die sleutel om alle kennis oor en van die oorlog mee te interpreteer, terwyl die werklike geskiedenis nog nie daarin kon slaag om hierdie beeld van sy inbeeldinge, mites, vergesogte aannames, ensovoorts, te stroop nie. Trouens, hierdie beeld het self nie geskroom om die vraag na reg en geregtigheid te opper nie, én daarmee ook die “Engelse” verdoemend by te kom en onder ons van geslag tot geslag in kwade reuk te hou nie. Gegronde navorsing wat die werklike geskiedenis oopmaak, word gevolglik dikwels as ’n steen des aanstoots ontvang. Maar, ons moet dit doen, omdat juis hierdie beeld met sy impak op ons intellektuele en emosionele lewe gedurende die 20ste eeu, ons van ontsaglik veel van ons menswees beroof het.

Miskien het hierdie beeld ons ook geleer om in taal oor die geskiedenis te praat wat nie uit die geskiedenis self opkom nie. Minder so in 1913. En tog word die vroue op die voetstuk van die beeldegroep “onze heldinnen” genoem. Hier word reeds beeld gevorm, terwyl die beeldegroep self ver bokant die “heldinnen”-beeld uitgaan. Vra sy (en haar kind) nie dalk waarom nie? Veral ook aan dié wat met insig en wysheid haar kind se lewe kón gespaar het deur met die val van die hoofstede die einde van die oorlog (soos baie ander) te herken het. ’n Mens sien in haar oë waar die werklike bittereinde vir altyd sou tuiskom. Verontskuldiging is hier nie moontlik nie.

By die Voortrekkermonument kry die vrou ’n ereposisie. By die ingang van die monument. Daaroor was die argitek uitgesproke. Die rede waarom hy dit gedoen het, het egter nie veel met haar heldhaftigheid te doen nie, maar met haar vrugbaarheid as moeder, met haar wil om met haar man saam te gaan en sy kinders in die lewe te bring en so die volk se bestaan en voortbestaan verseker het. Alhoewel hierdie redes bedenklik is, staan die vrou tog daar, met haar twee kinders. Beeldhouer Van Wouw moes op aandrang haar gesigsuitdrukking verander, meer “gepas” maak. Sou dit die rede wees waarom haar gelaat byna onverbiddelik en hard (en bitter dalk?) in brons vasgevang is? Word sy hier by die heiligdom iets gemaak wat sy nie is nie, en ook nie wil wees nie? Idealiseer sy die eietydse inbeelding van hoe en wie die Afrikaner volksvrou, die “Moeder van ons nasie”, behoort te lyk. Soos uitgespel in die toespraak van Mevrou Judith Pellisier op 14 Desember 1938? In hierdie opsig is die vrouebeeld by die ingang dus ook nie niksseggend nie. Maar sy praat heeltemal ’n ander taal as die verlate vrou in Frans Soff se monument in Bloemfontein.

Moet ’n mens in die prominente aanwesigheid van vroue in hierdie twee uitstaande monumente (en miskien ook die Hugenotemonument op Franschhoek) tipiese trekke van die Afrikaner inlees? Die vraag moet ons liewer aan die geskiedenis self, as aan beelde van aspekte van daardie geskiedenis, vra. Wat ek wel in my swerftog deur primêre bronne teëgekom het, lewer beduidende verhale van en oor vroue op wat myns insiens nader staan aan ons eie Madonna en kind in Bloemfontein. Maar, baie ver van die stroewe beeld van ’n Afrikanermoeder, staangemaak voor die ingang van daardie eiesoortige tempel-monument van Pretoria.


 

[i] Schoeman, Karel, 2009, Titaan. ’n Roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti, Kaapstad, Human en Rosseau, 559.

[ii] Langenhoven, C.J., 1921, Die pad van Suid Afrika, Kaapstad, Nasionale Pers, 115.


 

Lees ook

Historical monuments: an interview with Lize van Robbroeck

  • 1

Kommentaar

  • Wat my opgeval het tydens my laaste besoek aan die monument was die sentrale uitbeelding: Dingaan wat Piet Retief en sy manne verraai en vermoor. Moet dit die sentrale punt van ons rasseverhoudings in SA wees?

    Die NT beklemtoon die eenheid van gelowiges oor alle menslike grense heen. Dit was nooit deel van die Christelik Nasionale godsdiens nie, en word vandag nog weerhou uit die Afrikaanse kerke deur predikante wat ’n groter vrees het vir, en solidariteit het met die Christelik Nasionale beweging wat deur koverte groepe in stand gehou het.

    Dit is die wesentlike oorsaak van die verswakking van die tradisionele Afrikaanse Kerke sedert die 1980’s, en die oplewing van "New Generation Churches" onder die jeug in SA. Die Afrikaanse Kerke het nie die gedaante van die liefde van Christus gedra nie, maar die brutale gesag van ’n polities-godsdienste institusionele sisteem wat regeer.

    Die Heilige Gees - die Gees van liefde - gaan nie Sy teenwoordigheid betoon in 'n kerk wat die Saak van Christus verloën ter wille van 'n volksideaal nie.

    Die Christelik Nasionale beskouing het op die manier die getuienis van gelowiges beperk tot die eie groep. Gal 5: 22 was vir die eie groep, en nie vir die wêreld waarin ons leef nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top