Die volstruis en die panfluit

  • 0

Ulrich en sy Vriend is beide onderlê in die aardwetenskappe en het kort voor aftrede besluit om hulle nuuskierigheid uit te brei na ʼn ondersoek van die heelal. ʼn Middelslag-teleskoop (Schmidt-Cassegrain 4.5-duim-lens) is aangeskaf wat uiteraard gedeel gaan word, want hulle is ook spaarsamige mense. Ondanks die effens lomp driepoot het die naam Schmidt Ulrich oortuig dat dit ʼn goeie produk moet wees. Die keuse van ʼn geskikte plek om die ruimte te bestudeer, was eenvoudig. Sutherland in die Karoo met sy wêreldberoemde sterrewag, was duidelik die aangewese plek. Dit is daar waar die najaarsnagte so skoon en helder is dat ʼn mens tot kort duskant die hiernamaals kan sien, is al grappenderwys opgemerk. Sommige bemarkingsgerigde sektariese groepe beweer dat hulle op ʼn besondere helder aand al ʼn kort voorskou daarvan gesien het. Die versiende kurator van die sterrewag, prof dr Vladimeer Otjokopf ( ʼn post-struggle-dankie-sê-aanstelling vanuit ʼn destydse Oosblokland) het met sy diep stem en vreemde aksent op nasionale televisie verduidelik dat dit onwaarskynlik is dat van die sektariese groepe dit wel kon gesien het. Daar is in hoogs tegniese terme aangedui dat die huidige tegnologie en veral die optiese gedeelte van die teleskoop nie daartoe in staat is om so ver te sien nie. Soos ʼn ware wetenskaplike, wat altyd ʼn agterdeur ooplaat, het hy bygevoeg dat met die astronomiese ontwikkeling van kragtige rekenaars en gevorderde lensstelsels, is die moontlikheid nie uitgesluit dat dit in die toekoms en selfs relatief nabye toekoms, wel kan realiseer nie.

Die doel van Ulrich en sy Vriend was egter nie om die uitstappie ʼn geestelike ervaring te maak nie, maar om meer te leer van die geheime van die buitenste ruimte. Toelating tot ʼn kamp op die plaas Onverwachts, net suid van Sutherland, is met die eienaar Kepler van der Merwe gereël. Die noordelike helling van ʼn lae koppie is uitgesoek as die ideale opstelling vir so ʼn sterrekykery en teen sonsondergang was die twee in hulle stellings. Ulrich, wat ietwat meer tegnies aangelê is, het die teleskoop opgestel en georiënteer in die regte rigting. Met groot presisie is die fynere verstellings gemaak om optimumgehalte beelde te verseker. Kampstoele met ‘n tafel en noodbeligting is netjies en ordelik in ʼn halfmaan gerangskik en die geel 1970-kombi-bussie (Ulrich koop hoofsaaklik Duitse produkte want dit is net soveel beter) is strategies opgestel om die snydende suidewind te keer ingeval dié laatnag sou opkom.

Ulrich het die selfopgelegde voorreg om eerste te kyk. Daar is deurlopende kommentaar gelewer oor die verstommende beelde en kort-kort is daar kantnotas gemaak in die handleiding “Discover the Universe – a pocket guide for the serious amateur“ vir latere verwysing. Intussen het Vriend hom gemaklik gemaak in een van die kampstoele. Sorgvuldig het hy ʼn splinternuwe panfluit uit sy rugsak gehaal, nog in sy oorspronklike verpakking. Hy het redelik ervaring van ʼn agt-pypie fluit maar sy nuwe aankoop is die professionele model, ʼn Planschke G, met ʼn volle vier-en-twintig geel bamboespypies. Hierdie model sluit ook halwe note in, so à la Gheorghe Zamfir, die befaamde Romeense fluitspeler. Sy heupflessie het die nodige vloeistof om die lippe te olie, want so ʼn geblasery half verby die bamboes kan selfs tot koorsblare lei. Die olie help ook om die liggaamstemperatuur in stand te hou, want in hierdie wêreld kan dit koel word teen die laatnag. Ulrich is gesondheidsbewus en ‘n geheelonthouer. ʼn Thermosfles met warm Sederbergse heuningbostee is voldoende en word aangevul met ʼn reeks eksotiese neute en sade, alles anti-oksidante teen die aankomende veroudering. Vriend is anders ingestel, hy kan maar oksideer of oproes soos hy tergend daarna verwys en sy cholesterolprobleem word versoen met ʼn paar repe maer  volstruisbiltong.

Terwyl Ulrich die wondere van die buitenste ruimte waardeer, begin Vriend opwarm deur toonlere van links na reg sen dan weer terug oor die pypies te hardloop. Aanvanklik sukkel dit en daar word gereeld gestruikel oor die  halfnote. B-mol bly ‘n hardnekkige een om raak te blaas. Maar met die hulp van nog ‘n titseltjie olie word die 24-pyp monster stadig getem en dis nie lank nie of die mooiste en suiwerste klanke trek die lug in. Die repertoire is nog  beperk en Beethoven se Maanlig-sonata, gelukkig net die eerste beweging, word oor en oor geoefen. Die herhalings  val Ulrich goed op die oor, hy hou van die Duitse meesters.

In die verste onderste punt van die kamp staan ʼn volstruismannetjie buite sig van Ulrich en Vriend. Hy is een van die min volstruise wat die virus-slagting van die vorige jaar oorleef het en is rateltaai, maar gefrustreerd. Deeglik bewus van die vreemde bewegings in die kamp trap hy effens ongeduldig rond. Solank hulle net nie met sy nagrus sukkel nie sal daar vrede wees, beloof hy ingedagte. Toe alles stil en rustig raak, word dit tyd om sy nek neer te lê. Met sy een oog half oop en die ander toe, ʼn voël weet nooit wat die mense daar anderkant kan aanvang nie, gly hy droomland binne.

Die laaste jaar of wat was sy drome maar saai en teleurstellend. Altyd oor dieselfde vaal wyfie met die lang wimpers en dieselfde verloop van sake. Dit is ʼn geflankeerdery op ʼn afstand en nog voordat daar van ʼn betekenisvolle verhouding gepraat kan word, verdwyn sy soos mis voor die son en word sy nog een van die virus-slagting statistieke. Vanaand was geen uitsondering nie, of so het hy gedink. Dit was weer dieselfde vaal wyfie, lang wimpers en al, maar dié keer met agtergrondmusiek. Strelende blaserige klanke trek oor die vaal vlakte en dit lyk of die wyfie swewend nader kom. Met haar bek effe oop en oë halfmas voel dit asof sy met ʼn hees stem (dalk die eerste tekens van die virus, dink hy pessimisties) onverstaanbaar maar tog verleidelik met hom praat. Sy wink hom met ʼn grys wollerige vlerk in haar rigting. Eers twyfel hy aan die werklikheid van wat hy sien, maar die musiek en haar hees stem hipnotiseer hom tot beweging en haar ydele bevel word gehoorsaam. Sy vere word netjies reggeskud met net genoeg wit wat onder die swart uitsteek om op sy beste te lyk. Met afgemete treë beweeg hy, soos ʼn slaapwandelaar, stadig in haar rigting. Tergend sweef sy voor hom uit terwyl die musiek meer duidelik en mooier word. Hy slaan oor na ʼn swierige drafstap en later word dit ʼn naelloop, met die vlerke gesprei vat hy net hier-en-daar grond om meer spoed op te tel, want dié keer gaan hy haar vang.

Die stop van die musiek en die verdwyning van die vaal wyfie het gelyk gebeur en skielik bevind Mannetjie hom agter ʼn kombi teen ʼn skuinste in die kamp. Die wakkerskrik en ontnugtering was ewe traumaties. Met rukkerige kopbewegings kyk hy verward om hom rond. Sy oog val op ʼn vaal figuur so vyftig meter of wat voor hom. Dit wil lyk soos ʼn volstruiswyfie maar die vere is te yl en die geluide wat dit maak, onbekend. Onseker of hy droom of die werklikheid ervaar, besluit hy genoeg is genoeg en dit maak nou ook nie meer saak hoe sy lyk nie. Hy slaan sy linkergroottoonnael die klipperige grond in en bestorm haar met ʼn ooglopend wilde maar beheerste vermakerigheid.

Onbewus van die gebeure wat agter die kombi afspeel, bly Ulrich vasgenael kyk na die uitspansel. Om so gebukkend agter die teleskoop te staan gee sy rug opdraende en die vinnig dalende temperatuur dra nie veel by om die pyne te verlig nie. Vriend het besluit om die panfluit ʼn blaaskans te gee en is besig om sy lippe te diens vanuit die  heupflessie. Sy gedagtes maal rondom nuwe musikale toevoegings tot sy repertoire en sy toenemende selfvertroue laat hom besluit om weg te beweeg van die klassieke na die meer moderne genres.

Dit is onduidelik wie vir wie eerste gesien het of wie die grootste geskrik het, maar die gefladder en gebrom van die aankomende volstruis het Ulrich laat opkyk vanaf die teleskoop.

Met sowat twintig meter tussen hulle word daar direkte en deurdringende oogkontak gemaak. Mannetjie, nou meer verward as ooit, skrik toe die wyfie opstaan sonder haar nek wat oënskynlik parallel met die grond bly staan. Hy twyfel vir ʼn oomblik en met hernude ywer, maar die keer goed befoeterd, storm hy op ʼn stomgeslane Ulrich af. Die mannetjie se wyfeling het Ulrich ʼn geringe voorsprong gegee en hy het besluit om die veiligheid van sy kombi op te soek. Die twee het byna gelyk by die voordeur van die voertuig aangekom met Ulrich ʼn kort-kop voor. Die deur word oopgepluk en met sy bolyf duik hy oor die voorste sitplek. Daar was nie genoeg tyd om sy onderstel ook binne te kry nie, want met ʼn gefladder stamp Mannetjie die deur toe. Halflyf in die kombi en sy kop net-net vensterhoogte kyk Ulrich die volstruis vas in die oë en vinnig word ʼn oplossing bedink om uit die penarie te kom. Daar word op ʼn diplomatieke roete besluit, dialoog, want hy is ook ʼn diereliefhebber. As hy twee weerbarstige Duitse herdershonde tot orde kan praat, is hierdie uitgegroeide prehistoriese hoender kinderspeletjies. Praat kan hy, dis immers sy werk as lektor en daar is al spottenderwys na hom as ʼn monoloog in plaas van ʼn geoloog verwys. 

Hy begin stadig, afgemete in taalkundig-korrekte Afrikaans met ʼn effense aksent soos ʼn predikant wat in Nederland gestudeer het, met die voël te praat. Eers oor koeitjies en kalfies en daarna simpatiek oor die klein volstruisies en hulle toekoms in die Karoo na die vernietigende effek van die onlangse virus-epidemie. Dit lyk of Mannetjie begrip het vir die situasie en dit wil-wil voorkom of hy met kop effens skuins, instemmend vir Ulrich knipoog. Sodra hy egter die deur wil oopdruk bied Mannetjie weerstand en begin die gesprek van vooraf. Die mooi empatiese woordjies word nou vervang met ʼn meer gebiedende aanslag. So ʼn “weet jy wie is baas hier?” maar die voël reageer nog steeds nie. Met die spanning wat oploop, slaan Ulrich instinktief oor na Suidwes-Duits, die Kaiser se Duits. Die versoek om pad te gee, word nou ʼn bevel en die woorde volg op ʼn staccato manier opmekaar, een toonhoogte hoër en byna luidkeels. Mannetjie is duidelik nie ingenome met die stemtoon nie asook die manier waarop daar van hom en sy voorvaarders gepraat word nie. Hy is besig om stadig maar seker sy humeur te verloor. Sy drukkery teen die deur word meer heftig en hy trap-trap met sy skerpgemaakte linkergroottoonnael na Ulrich se bene.

Dit is duidelik dat die dialoogbenadering nie gewerk het nie en nou, baie benoud, skree Ulrich vir Vriend om dringend iets te doen. Vriend het die situasie stomgeslaan dopgehou en Ulrich se noodkreet ruk hom tot besinning. Die eerste waaraan hy dink is sy panfluit, hy gaan musiek maak en dalk trek hy die voël se aandag weg van die kombi af. Die olie is onnodig want die angs laat sy speekselkliere op ʼn knop trek en die oorvloed laat dit klink of hy die fluit soms onderwater speel. Hy spring weg met Sarie Marais, want dit is plaaslik en almal ken dit. Die voël reageer nie en hy besluit om op te staan en die pas te markeer met knieë gelig tot byna onder sy ken, op die maat van die musiek. Hopelik kry die voël die boodskap dat hy moet begin saamloop. Sonder enige reaksie van die voël se kant af, besluit hy om internasionaal, maar tog landelik te gaan en sit in met The Sound of Music. Nou met sy bolyf al swaaiend hoop hy die voël gaan aangetrokke tot hom voel en word hy dalk verruil vir Ulrich. Uit desperaatheid met ʼn byna histeriese Ulrich in die kombi bring hy sy musiek terug na suidelike Afrika met ʼn keurspel van die Duitswes-lied en Aanstap Rooies. Die tempo is nou vinniger en militaristies. Hy besluit om vooruit te marsjeer en hoop die voël volg hom. Dit het al voorheen iewers anders gewerk, maar met muise onthou hy. Detail is nou van minder belang. Met die panfluit netjies voor hom, rug reguit en knieë hoog, marsjeer hy al spelende eers om die kamptafeltjie en daarna die veld in en die donker nag binne. Die oefening is meerdoelig. Eerstens om Mannetjie te laat aantree en die veld in te marsjeer en tweedens om self ʼn beskaafde uittog te maak, weg van die gevaarsone. Dit is duidelik hier kom groot moeilikheid.

Mannetjie het die musiek met misnoeë aangehoor, veral met die nag se verraderlike gebeure nog vars in sy beperkte geheue. Hy het besluit hy laat hom nie ʼn tweede keer vang met die fluitjie nie. Met die fluitspeler die nag in en Ulrich aan sy lot oorgelaat kan hy sy volle aandag aan die situasie gee. Daar word met mening ingeklim en die trappery word nou lelik. Met sy been wat aan flarde getrap word, besef Ulrich desperate maatrëels is nou nodig, want hier gaan hy nie lewendig uitkom nie. Die kombi-venster word saggies en stadig oopgedraai en voordat Mannetjie besef wat aangaan, gryp Ulrich hom aan die nek met die een hand. Hy vat hier en vat daar en wurm hom uit die kombi. Die volgende oomblik staan hy buite met beide hande om Mannetjie se nek. Met byna bomenslike krag begin hy sy wurggreep verstewig terwyl Mannetjie trap vir sy lewe. Met ʼn swaai van sy lyf weg van die pote kry hy die nek in ʼn halwe Nelson, ʼn greep wat hy onthou uit sy dae as stoeier in die laerskool. Hy dwing die ondier grond toe en half bo-op hom klou hy tot die voël se veglus begin meegee en finaal oorgee.

Met Mannetjie buite weste word ʼn vinnige opname van die skade gemaak. Veral die linkerbeen lyk gehawend en hospitaal toe, die naaste een, is al uitweg. Vriend jaag met die kombi dat die klippe spat en terwyl Ulrich byna buite beheer ronddobber op die middelste sitplek en sy linkerbeen probeer horisontaal hou. Dit is onduidelik waarom dit horisontaal moet wees, maar hy onthou vaagweg dat die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga se gids aanbeveel dat beseerde bene horisontaal gehou moet word of in ernstige gevalle, teen vyf-en-veertig grade die lug in. Gelukkig word die plaaslike kliniek gou opgespoor. Die assistant-leerling-verpleër aan diens, Herklaas Paulse, het die voertuig al van ver hoor aankom en toe die kombi stop, is hy gereed om te help. Dis sy tweede pasiënt hierdie maand op nagdiens en hy is ywerig om soveel as moontlik ervaring op te doen. Ulrich is versigtig na die ondersoektafel gehelp en die aan-flarde kakiebroek is behendig weggeknip om die skade bloot te stel. Herklaas sis-fluit deur die gaping waar sy twee voortande eers was. Die rooi-pers bebloede been wat duidelik aan die swel is, val buite sy gebied van kundigheid. Die aandklasse wat hulle op Laingsburg bywoon het, het die menslike liggaam tot net bokant die naeltjie gedek en eers volgende jaar vat hulle dit ondertoe. Dit sukkel soms om die Kubaanse dokter te verstaan en so tussen die Spaanse Engels en sy Karoobegrip van die taal, raak daar soms van die inligting verlore. Dalk het hy al iets oor bene gesê, maar dit is duidelik nie iets wat in hierdie geval gaan help nie. Die opdrag wat hy het, is duidelik: in komplekse gevalle moet Staf Matjie (voorheen Meitje) Links, onlangs oorgeplaas vanaf Garies, op die dorp gekontak word. Na die vorige oggend se minder suksesvolle inspeksie-besoek van die distriksgeneesheer is haar Namakwalandse humeur aangetas en wil hy nie graag sy loopbaan op die spel plaas deur haar in die vroeë oggendure ook nog lastig te val oor ʼn been nie. Soos ʼn gesoute geneesheer neem hy self die besluit. Die pasient word verwys. Die been word so losserig verbind en met ʼn panado in sy kies vir die pyn en een in die hand is Ulrich terug die kombi in. Vriend skiet sommer grondpad Tankwa Karoo deur en Ceres oor Stellenbosch toe.

Die dokter aan diens in die kliniek was eers onseker of hy die twee stowwerige en onvas manne wat uit die kombi rol moet opneem of hulle wegwys met ʼn geestelike traktaatjie. Die noodgeval is egter gou behandel en Ulrich is dadelik opgeneem. Vriend is inderhaas terug om van die agtergelate toerusting te gaan haal. Die dooie volstruis het vreedsaam in die oggendson gelê en in sy lang nek, so word beweer, was daar ʼn skuifknoop wat hom vermoedelik versmoor het. Taai, maer biltong was sy voorland, goed vir mense met hoë cholesterol. Die panfluit was egter skoonveld.

Ulrich het mooi aangesterk na drie weke in die hospitaal. Die geringe letsels aan sy been was die laaste tekens van sy wedervaring. Tog word daar beweer dat die uit-fase geknip van sy linkeroog en trekking om sy mond ontwikkel het na die volstruis-episode. Hierdie onwillekeurige geknip is soms verkeerd geïnterpreteer deur van die jong vroulike studente en van die manne agter in die klas het hom gou gedoop tot dim-en-bright. Met die bynaam is hy sy aftrede in.

En Vriend? Hy het die teleskoop by Ulrich oorgeneem en later ingeruil vir ʼn groter model, ʼn agt-duim-Maksutov. Hy het later selfs sy eie lense geslyp en ʼn ernstige belangstelling in astronomie ontwikkel, tot dié van ʼn kenner. Die ontwikkeling van superrekenaars en ingewikkelde lensstelsels is fyn dopgehou en daar is al hoe verder die ruimte in gesien. Soos ʼn ware wetenskaplike het hy stilweg gehoop om iets nuuts te ontdek ... dalk daardie eerste kort voorskou van die hiernamaals.

Lees ook

Vervaldatum

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top