Regsmening: die volkslied vir die volke

  • 0

Owen Dean en Cobus Jooste klaar die kwessie van outeursreg rondom "Nkosi sikelel’ iAfrika" op.

Bron: South African History Online

 

Verskeie artikels het oor die naweek van 17 Junie 2012 verskyn, in onder meer City Press en Rapport, waarin die lot van “Nkosi sikelel’ iAfrika” bespreek word nadat dit aan die lig gekom het dat ’n rits partye na bewering outeursreg in hierdie lied besit en dus geregtig is om tantieme daarvoor te eis, of reeds geëis het, wanneer dit in die openbaar uitgevoer word. Hierdie geskrifte hou voor dat die Suid-Afrikaanse regering, anders as ondernemende derde partye, telkens die kans verby laat gaan het om die geweldige tantieme in te samel wat verskuldig is vir die uitvoering van hierdie lied tydens groot internasionale sportbyeenkomste.

Met alle agting gesê, hierdie artikels sit die pot ver mis en is sprekend van ’n droewige onkunde van die outeursreg. Hulle is nie alleen misleidend, emotief en ongegrond nie, maar ook potensieel ontroerig.

Die onkunde waaruit hierdie joernaliste geskryf het, is van so ’n mate dat dit hulle, en moontlik die meeste ander joernaliste, sou baat om in te skryf vir die inleidende kortkursus oor intellektuele goederereg. Hierdie gesamentlike kursus van die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad is juis gemik op nieregsgeleerdes in ’n poging om soortgelyke verleenthede uit te skakel. (Meer inligting oor die kortkursus is beskikbaar op die webtuiste van die Anton Mostert Leerstoel in Intellektuele Goedere.)

Benewens die tekort aan regskennis is hierdie artikels ook maar lig in die broek wanneer dit kom by kennis van die geskiedenis en agtergrond van “Nkosi” en, inderdaad, die Suid-Afrikaanse nasionale lied (die volkslied).

Duidelik kan so ’n ellendige situasie nie langer geduld word nie. Daarom sal die Leerstoel in die res van hierdie artikel bogenoemde tekortkominge regstel.

Eerstens, ’n kort lesing oor die basiese beginsels van die outeursreg (oftewel kopiereg vir die oningewyde). Mits die lied of ander werk oorspronklik is en in stoflike vorm vervat is, sal dit feitlik wêreldwyd deur outeursreg beskerm word sonder enige verdere formaliteite soos registrasie. Die outeursreg in ’n werk word nasionaal gereguleer deur die betrokke land se nasionale outeursregwette. ’n Werk word gereken “oorspronklik” te wees vir outeursreg-doeleindes indien dit die produk van die outeur se eie inspanning en deskundigheid is. Dit hoef dus nie in enige mate uniek of innoverend te wees nie. Vandaar die algemene beginsel dat ’n werk nie oorspronklik kan wees indien dit bloot ’n afskrif van ’n bestaande werk is nie. Ewewel, ’n werk sou wel oorspronklik wees (en gevolglik kwalifiseer vir outeursreg) ten spyte daarvan dat dit ’n gedeelte, of selfs die geheel, van ’n bestaande werk inlyf, solank as wat die jonger outeur iets nuutskeppends daaraan toegevoeg het wat uit sy/haar eie inspanning spruit.

Die outeursreg wat onder hierdie omstandighede gevestig word, is egter maar dun en omslaan slegs die jonger outeur se bydrae tot die saamgestelde werk en skep hoegenaamd geen regte vir die jonger outeur met betrekking tot die voorafgaande werke of bestaande materiaal nie. Hierdie sogenaamde afgeleide outeursreg is van so ’n aard dat dit sal bestaan selfs waar die jonger outeur die outeursregte van ander outeurs (soos dié van die voorafgaande werke) geskend het tydens die skeppingsproses. Die feit dat ’n afgeleide werk afsonderlik beskerm kan word, beteken egter nie dat die outeur van die afgeleide werk die gebruik van die bestaande materiaal of voorafgaande werk kan verhoed of beheer nie, aangesien dit nie oorspronklik aan hom/haar behoort nie.

Die regte van enige outeur is beperk, en die tydsduur van outeursreg wissel van een land na die ander volgens die bepalings van elke land se outeursregwette. Die meeste lande, waaronder Suid-Afrika, verleen beskerming aan werke vir die lewensduur van die outeur en ’n verdere tydperk van 50 jaar na sy/haar dood. In sommige ander lande is hierdie tydperk verleng tot 70 jaar na die dood van die outeur. Sodra die termyn verstryk het, val hierdie werk in die openbare domein, waaruit dit vryelik deur enigiemand gebruik kan word. Die eertydse outeur het dus geen reg om hierdie werk verder te beheer of ’n inkomste daaruit te maak nie.

Die outeur kan wel eienaarskap van sy/haar regte oordra aan ’n ander party, wat dit op sy/haar beurt verder kan oordra by wyse van ’n skriftelike dokument wat die oormaking bewerkstellig. Oor die algemeen beskou, sodra die oordrag van regte voltooi is, behou die vorige eienaar of oordraggewer geen regte in die werk nie. Daar is egter ’n uitsondering op hierdie algemene reël wat spruit uit ’n obskure bepaling in die Britse Imperiale Outeurswet. Hierdie wet is aan die begin van die 20ste eeu in alle lidlande van die Britse Gemenebes (die destydse Britse Ryk) geproklameer en het gevolglik in Suid-Afrika van krag geword. Hierdie wet was van toepassing in Suid-Afrika tussen 1916 en 1966, en reguleer daarom steeds die eienaarskap en termyn van outeursreg in alle werke wat gedurende hierdie periode geskep is.

Die wet bepaal dat in die geval waar ’n outeur tydens sy/haar lewensduur oordrag van sy/haar outeursreg aan ’n ander bewerkstellig het, die outeursreg terugval aan die outeur se erfgename. Hierdie regte vestig egter eers in die erfgename 25 jaar na die dood van die oorspronklike outeur. Dit was hierdie einste posduif-bepaling wat ’n paar jaar gelede die deurslag gegee het in die beroemde saak tussen die Solomon Linda-boedel en Walt Disney vir outeursregskending in die lied “Mbube”, oftewel “The Lion Sleeps Tonight”.

Volgens die outeursreg bestaan ’n lied (of ’n koorsang) uit ’n samestelling van twee aparte werke (woorde en musiek) wat elk afsonderlik deur outeursreg beskerm word. Die melodie van die lied word geklassifiseer as ’n “musiekwerk” terwyl die woorde of lirieke daarvan as ’n aparte “letterkundige werk” bestaan. Aangesien elke komponent afsonderlike outeursreg geniet, word die eienaarskap en termyn van outeursreg in elke komponent afsonderlik bepaal deur die omstandigheidsfaktore wat van toepassing is op daardie komponent. Aldus is dit moontlik dat die outeursreg in die musiek en die lirieke van ’n spesifieke lied aan twee verskillende eienaars kan behoort, en dat outeursreg in een van die werke die ander mag oorleef.

Tweedens, die feite met betrekking tot die Suid-Afrikaanse volkslied. Die huidige nasionale lied is ’n saamgestelde werk met drie komponente. Die eerste gedeelte bestaan uit “Nkosi sikelel’ iAfrika” met Xhosa-, Zoeloe- en Sesotho-woorde, terwyl die tweede en derde dele bestaan uit die musiek van “Die Stem” met onderskeidelik Afrikaanse en Engelse woorde. In hierdie vorm is die volkslied geproklameer as die nasionale lied deur die voormalige staatspresident, Nelson Mandela, in opdrag van die destydse Kabinetsminister op 10 Oktober 1997.

“Nkosi” is in 1897 gekomponeer deur Enoch Sontonge, ’n Suid-Afrikaanse onderwyser. Die melodie is gebaseer op die Walliese himne “Aberystwyth”, wat deur Joseph Parry geskryf is. Sontonge het die eerste vers in Xhosa geskryf, waarna die digter Samuel Mqhayi die ander verse bygevoeg het. Joseph Parry is oorlede in 1903, Enoch Sontonga in 1905 en Samuel Mqhayi in 1945. Aangesien ’n tydperk van meer as 50 jaar reeds verloop het na die dood van al hierdie outeurs, bestaan daar geen outeursreg meer nie en val hierdie lied dus in geheel (beide werke) nou in die openbare domein.

Die woorde van “Die Stem” is in 1918 geskryf as ’n gedig deur Cornelis Jakob Langenhoven. Hy is in Julie 1932 oorlede en daarom het die termyn van outeursreg in sy gedig ook reeds verstryk en is die werk nou in die openbare domein. Langenhoven se gedig is later getoonset deur Marthinus Lourens de Villiers en die saamgestelde werk (lirieke en musiek) het die Suid-Afrikaanse volkslied geword in 1928. De Villiers is in Mei 1977 oorlede en die termyn van outeursreg in die musiekwerk sal dus eers in 2027 verstryk. Die musiek van “Die Stem”, afgesien van die lirieke, word gevolglik steeds deur die outeursreg beskerm.

Op ’n stadium voor die dood van Langenhoven in 1932, het De Villiers die outeursreg in die musiek van “Die Stem” aan Langenhoven oorgedra. In Junie 1957 het Langenhoven se erfgename en die administrateur van sy boedel die outeursreg in beide dele van “Die Stem” (woorde en musiek) aan die Suid-Afrikaanse regering (die Staat) oorgedra. Om regstegniese redes is hierdie oordraggewing deur die parlement tot ’n wet bekragtig genaamd die “Stem van Suid-Afrika” Outeurswet, Nr 2 van 1959.

Maar die Staat het nie die outeursreg in die musiek van “Die Stem” behou nie. Ondanks die amptelike oordraggewing, en om dieselfde redes as wat van toepassing was in die Solomon Linda-saak (sien OH Dean, “Stalking the Sleeping Lion” in De Rebus (16) 2006), het die outeursreg in die musiek van “Die Stem” teruggeval in die boedel van Marthinus Lourens de Villiers. Daarom is die boedel van De Villiers en/of sy opvolgers sedert 2002 in titel die regmatige eienaars van outeursreg in hierdie werk.

Die huidige volkslied is saamgestel deur Jean Zaidal-Rudolph. Sy het ook die woorde van die Engelse gedeelte van die lied geskryf. Aangesien Zaidal-Rudolph steeds leef, sal outeursreg in haar werk vir minstens nog 50 jaar bestaan. Dit is belangrik om daarop te let dat die saamgestelde werk wat deur Zaidal-Rudolph geskep is, ’n oorspronklike werk is en daarom deur outeursreg beskerm word. Maar haar outeursreg dek slegs daardie bydrae tot die saamgestelde werk wat sy gemaak het, te wete die wyse waarop die afsonderlike gedeeltes in verband gebring is en inmekaar skakel. Ewewel, wat die Engelse woorde betref, is dit ’n afsonderlike letterkundige werk wat uit eie reg en ten volle deur outeursreg beskerm word.

Zaidal-Rudolph se regte sluit egter nie “Nkosi” of “Die Stem” in enige mate in nie, en elkeen van hierdie werke word nie deur haar outeursreg geraak nie. Tensy die Staat die nodige stappe gedoen het om eienaarskap van outeursreg in die saamgestelde nasionale lied by Zaidal-Rudolph oor te neem, wat skynbaar nie die geval is nie, vestig outeursreg steeds in haar.

Ter opsomming: daar bestaan geen outeursreg in “Nkosi” (woorde of musiek) of in die woorde van “Die Stem” nie en hierdie werke mag vryelik en sonder perke deur almal gebruik word. Daarteenoor is die wysie van “Die Stem”, die woorde van die Engelse gedeelte van die huidige volkslied, asook die samestelling van die werke soos dit in die huidige volkslied voorkom, steeds onderhewig aan outeursreg, en daarom kan dit slegs met toestemming van die eienaar of op grond van ’n lisensie gebruik word.

Met die oog op die besonder obskure bepalings van ons outeursreg waarvolgens die outeursreg in die wysie van “Die Stem” in die boedel van Marthinus Lourens de Villiers vestig, is dit egter te betwyfel of enigiemand (insluitend De Villiers se erfgename en die Staat) besef dat hierdie regte aan private individue behoort en dat hul by magte is om tantieme te eis vir die gebruik en openbare uitvoering van die werke as deel van die huidige nasionale lied.

In die praktyk word tantieme uit die musiekbedryf deur ’n invorderingsgenootskap ingesamel vir die gebruik van alle werke wat deur outeursreg beskerm word. In Suid-Afrika word hierdie werk deur die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (SAMRO) gedoen. ’n Internasionale netwerk van nasionale invorderingsgenootskappe is werksaam op ’n wederkerige grondslag met dieselfde oogmerk. ’n Outeursreg-eienaar wat van ’n invorderingsgenootskap se dienste gebruik wil maak, moet sy outeursreg laat registreer by sy nasionale genootskap.

Maar hierdie wyse van registrasie het hoegenaamd niks met die bestaan of eienaarskap van outeursreg te doen nie, aangesien dit deur die outeursreg bepaal word. Registrasie by die genootskap reflekteer bloot dit wat as die waarheid voorgehou word deur die outeurs. Dit staan enige outeur steeds vry om self die tantieme vir gebruik van sy/haar werk in te samel indien die werk nie by ’n invorderingsgenootskap geregistreer is nie.

Gevolglik is dit irrelevant vir doeleindes van die outeursreg of ’n spesifieke komponis of outeursreg-eienaar se werk deur ’n invorderingsgenootskap gelys word as ’n geregistreerde werk of nie.  

Nuwe beryminge van bestaande werke kan kwalifiseer vir onafhanklike outeursreg in die mate wat hier bo bespreek is (naamlik dat slegs die individuele nuwe bydrae beskerm word) en kom daarom ook in aanmerking vir tantieme waar daardie spesifieke weergawe (insluitend die nuwe bydrae) gebruik word.

Teen hierdie agtergrond lewer ons vervolgens kommentaar op die inhoud van die koerant- en aanlynartikels onder bespreking.

Die artikels wil te kenne gee dat die Suid-Afrikaanse regering die spoor kwyt geraak het deur nie die volkslied by ’n invorderingsgenootskap te registreer nie en sodoende sy outeursreg verbeur het. Ten eerste besit die regering duidelik nie outeursreg in die volkslied nie, en ten tweede is die afwesigheid van registrasie by ’n genootskap irrelevant vir die bestaan van outeursregte of die reg op tantieme. 

Verder word daar genoem dat sowat 61 eisers reeds ’n reg op “Nkosi sikelel’ iAfrika” geregistreer het en gevolglik tantieme verdien vir die gebruik daarvan. Ten beste kan sodanige eisers slegs aanspraak maak op regte in hul spesifieke weergawes of verwerkings van Nkosi (op voorwaarde dat dit oorspronklik is), aangesien die gebruik van “Nkosi” per se nie binne die bestek van die regte van enigeen van die eisers val nie. Indien enige van die eisers hom byvoorbeeld daarop beroep dat die insluiting van “Nkosi” as deel van die volkslied op sy regte inbreuk maak, sou so ’n eis totaal ongegrond wees.

Die Belgiese sanger Helmut Lotti word uitgelig as een van die eisers wat aanspraak maak op regte in “Nkosi” op grond van sy weergawe op die album Out of Africa. Met die nodige agting, Helmut Lotti is welbekend daarvoor dat hy op bedenklike wyse vals aanspraak gemaak het op verskeie ander Suid-Afrikaanse liedere, waaronder “Thula Baba”. Om die waarheid te sê, Lotti is ook in ’n Belgiese hof skuldig bevind aan outeursregskending vir die gebruik van daardie liedere op hierdie einste album (sien OH Dean, “Golden Oldies”, IPStell Blog [blogs.sun.ac.za/ipstell]).

Waar iemand dus goeie geld betaal het as tantieme vir die gebruik van “Nkosi”, verdien hy om besteel te word. Dit is inderwaarheid ’n verneukspul, aangesien daar geen regte is waarvoor betaal moet word nie, behalwe indien dit vir ’n besonder moderne weergawe van “Nkosi” is. So iets is egter in die huidige geval grotendeels onwaarskynlik.

Daar word verder voorgestel dat dit noodsaaklik is om by die Staatsheraldikus aansoek te doen vir toestemming om die huidige volkslied te gebruik. Afgesien van die feit dat die Staat nie enige regte in die volkslied gevestig het nie, wat nog te sê van “Nkosi”, is die Staatsheraldikus slegs gemoeid met heraldiese voorstellings soos familiewapens en moontlik, in ’n mate, die nasionale vlag.

Om skande by skade te voeg, word daar ook aan die hand gedoen dat elkeen van die weergawes van “Nkosi” wat by internasionale invorderingsgenootskappe geregistreer is, daardeur afgeleide name van die volkslied geword het. Hierdie stelling verwar oënskynlik die beskerming van name, wat niks met outeursreg te make het nie, met die beskerming van letterkundige of musiekwerke. Die afleiding van ’n naam het volstrek niks te doen met die betaling van tantieme vir die gebruik van ’n werk wat deur outeursreg beskerm word nie.

Dus: kortweg kom dit daarop neer dat niemand, insluitend die 61 “geregistreerde” eisers, geregtig is op enige regte in, of tantieme uit, die gebruik van “Nkosi” as deel van die volkslied nie. Die enigste persone wat wel regte het, en daarom wel geregtig is op tantieme, vir die gebruik van die huidige volkslied, is die erfgename van Marthinus Lourens de Villiers en Jean Zaidal-Rudolph vir onderskeidelik die wysie van “Die Stem” en die Engelse woorde soos dit in die saamgestelde volkslied voorkom, asook die huidige samestelling self.

As ’n feitevraag wil dit voorkom asof geeneen van hierdie reghebbendes hul bestaande outeursregte uitoefen nie. Die Leerstoel is van mening dat hierdie versuim inderdaad betaamlik is, en ondersteunend van die openbare beleid. Maar ter wille van regsekerheid behoort die Suid-Afrikaanse regering die nodige stappe te doen ten einde hierdie outeursregte by Jean Zaidal-Rudolph en die erfgename van Marthinus Lourens de Villiers te bekom. Op hierdie wyse kan die regering verseker dat die volkslied vir altyd vry sal wees as ’n nasionale bate ten gunste van almal.

“Nkosi” is nie ’n nasionale kontantkoei, soos dit neerhalend genoem word, nie. Dit is nie die Suid-Afrikaanse regering se reg om daarmee te woeker nie. Dit behoort ook nie aan enigiemand anders nie. Dit mag wel deel wees van ons ryke, saamgesnoerde en gemene erfenis, maar dit behoort gratis en onbeslommer beskikbaar aan almal en tot voordeel van almal te wees. Niemand kan dit monopoliseer of vaslê nie – nie die regering nie en ook nie die 61 huigelaars nie. Lank lewe “Nkosi”!

Hierdie is die vertaalde en verwerkte weergawe van materiaal wat op die Anton Mostert Leerstoel (US) se blog vir regskommentaar, analise en hersiening (IPStell) gepubliseer is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top