
Titel: Die vloek van Levitikus
Skrywer: Ben Viljoen
ISBN: 9780624092858
Uitgewer: Tafelberg
...
Ek het egter my God leer ken in die tye toe alles om my inmekaar getuimel het. Hy het my lewe geensins makliker gemaak nie, maar wel draaglik. Ek het sy onverdiende genade leer ken, en sy onblusbare liefde vir my as individu, nes ek is, met al my diagnoses en bagasie.
...
Hier gebeur dit wraggies weer. Ek gaan weer oor ’n boek met jou gesels wat handel oor ’n seuntjie, ’n seun, ’n jong man, wat homself probeer vind in ’n lewe wat mense uitspoeg, wat anders gerat is as die sogenaamde normaal.
Voordat ek begin, moet ek jou vra om die Bybelverse te lees.
Hierdie boek se titel is immers Die vloek van Levitikus.
Maar om dinge in konteks te sien, gaan ek jou moet vra om meer as net een vers te lees; om die waarheid te sê, meer as een skrifgedeelte.
Levitikus 18:22–26 (AFR83)
“Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.
“Jy mag met geen dier geslagsgemeenskap hê en jouself so besoedel nie. ’n Vrou mag dit ook nie doen nie. Dit is iets afskuweliks.
“Julle moet julle op geen van hierdie maniere verontreinig nie, want dit is wat die heidene gedoen het wat Ek voor julle verdryf. Hulle het die land verontreinig en Ek het die land daarvoor gestraf sodat hy sy bewoners uitgespoeg het. Julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge by julle, moet my voorskrifte en bepalings gehoorsaam. Julle mag geen van dié afstootlike dinge doen nie.”
En ook:
1 Korintiërs 6:9–11 (AFR83)
Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.
En:
1 Timoteus 1:8–16 (AFR83)
Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is, volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.
En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het, my wat vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof. En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is. Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ’n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe.
Hoe lyk jy as voorbeeld?
Het jy al ooit oor iemand kwaad gepraat?
Het jy al gejok?
Het jy by ’n stopteken nie dood gestop nie?
As jy sonder blaam of skuld is, mag jy jouself verontskuldig van hierdie Skrifgedeeltes. Ek kan dit ongelukkig nie doen nie, omdat ek op industriële maat sonde pleeg, bewustelik en onbewustelik.
Ek is vir seker pikgitswart van al my oortredinge. Ek is nie gay nie, maar wat my gesondheid betref, is ek ’n klompie slegte kaarte gegee. Ek is al deur menige bevrydingsessie. Al wat demoon is, is al uitgedryf, en steeds is ek nie genees nie.
Christene is die mense wat my die hardste gemoker het. Ek is veroordeel en vrygespreek en weer veroordeel. Daar is vloeke verbreek en sielsbande losgemaak, en steeds is ek nie genees nie. As mens het ek alles moontlik gedoen, gebid, en gevas. My medisyne al meer as een keer gestaak, en daarna elke keer in die hospitaal beland.
Wat probeer ek vir jou sê? Ons as mense ken ten dele, en verstaan ten dele. Jesus het self gesê ons oordeel volgens die vlees, met ander woorde uit dit wat ons sien en beleef. Die waarheid is egter dat dit wat sigbaar is, net die punt van die ysberg is van ’n mens se bestaan; 90% van jou bestaan is binne-in jou hart en gedagtes.
Ek het egter my God leer ken in die tye toe alles om my inmekaar getuimel het. Hy het my lewe geensins makliker gemaak nie, maar wel draaglik. Ek het sy onverdiende genade leer ken, en sy onblusbare liefde vir my as individu, nes ek is, met al my diagnoses en bagasie. Wat ek wel geleer het, is, dat ek ’n keuse het. En ek kies om mense onvoorwaardelik te respekteer, en om nie my pyn en frustrasie op mense uit te haal nie. Kry ek dit altyd reg? Nee. “Some days are diamonds, some days are stone,” soos John Denver gesing het.
Ek moes aanpas by my werklikheid. Meer as een keer het ek gevoel dat ek nie meer kan nie. Wat maak mense wat volgens alle Bybelse reëls en wette reguit op pad is hel toe? Is daar groter en kleiner sondes? Sover my kennis strek is geen mens volmaak of foutloos nie. Ons streef na volmaaktheid en heiligheid, maar misluk klaaglik, keer op keer, dag na dag.
Wat ons bring by die boek.
Jakkie verstaan nie waarom sy familie hom wil oortuig dat hy van goed moet hou waarvan seuntjies hou nie. Hierdie dilemma is ’n daaglikse werklikheid in ons huise.
Jakkie se ma probeer verstaan, maar sy vat nie strooi van kabouters nie.
Oom Giel, Jakkie se stiefpa, doen als in sy vermoë om vir Jakkie ’n pa te wees.
Jakkie se hormone is allesbehalwe goedgesind teenoor hom (nie dat hormone al ooit vriendelik was teenoor homo sapiens nie) en hy word ’n man met borste. Die huisdokter sê dit sal vanself, met tyd, reg kom.
Jakkie is mooi, en hy hou van mooi goed. Hy is mal oor Melissa, sy sussie se pop.
Hy weet alte goed dat hy anders is as sy medeskoliere. Skool is vir hom niks anders as hel op aarde nie. Hy ontmoet Eric, en ontdek sy seksualiteit. Hy is homoseksueel.
Skool word draaglik omdat hy en Eric pouse kan wegglip huis toe vir ’n vrysessie.
Daar is egter ’n probleem: Eric is in matriek, en sy ouers gaan hom oorsee stuur vir ’n gap-jaar. Hy ervaar dit as verwerping, en dit is vir hom ondraaglik by die skool.
Jakkie dros en klim eerder elke dag op die trein Kaap toe, en vind liefde en aanvaarding by Meinie, al besef hy dis moontlik eensydig. Hy besef dat hy geskors sal word indien dit op die lappe sou kom dat hy gay is. Die geleentheid vir hom om uit te kom teenoor sy familie, daag nooit op nie.
Hy word opgeroep om sy twee jaar verpligte diensplig te gaan doen. Die army is mos die plek waar muise in manne verander word. Daar word deur sekere mense en organisasies geglo dat alles reg gebliksem kan word, en tyd vir poefters is daar nie.
Hierdie strategie werk nie soos geadverteer nie.
Hy awol en bevind hom tussen die mense van Pinkadilly’s. ’n Hemelse hawe vir gay mans. Hy wen die een drag queen pageant na die ander, as Melissa.
Melissa se waagmoed is egter een van die redes vir Jakkie se uitlewering aan die MP’s (militêre polisie). So vind sy ma en oom Giel uit dat Jakkie homoseksueel is en Jakkie gaan DB (dissiplinêre barakke) toe. Hier bevind hy hom in ’n rehabilitasieprogram wat hom sal bekeer van sy homoseksualiteit. Alles word egter omvergegooi wanneer ’n pasiënt die hoof van hierdie sogenaamde rehabilitasiesentrum skiet. Dit gebeur tydens een van Jakkie se terapiesessies. Die program is toe van die baan, en die pasiënte word van hul diensplig kwytgeskeld, met al die nodige non-disclosure dokumente se ondertekening.
Jakkie keer terug huis toe, en sy vriend Jon word op ’n manier deel van die gesin.
Meinie word wreed vermoor, en dieselfde gebeur met ander vriende van Jakkie. Een na die ander word hulle afgemaai, in so ’n mate dat Jakkie die hoofverdagte word. Hy bevind hom in die tronk en verhoorafwagtend.
Hoeveel Jakkies is daar wat ’n daaglikse stryd voer, net om die volgende dag weer voor dieselfde vuurpeloton te gaan staan? Mensmissiele wat jou daagliks tref, selfs in jou veiligste vesting – veral daar.
Op enige goeie dag is die lewe geen walk in the park nie. Hoeveel erger is dit vir diegene wat nie in die hoofstroom kan of wil swem nie? Die vloek van Levitikus spreek die kwessie van gaywees aan, maar dit kon enige ander “afwyking” gewees het – ’n gebrek, ’n siektetoestand, ’n kultuur, ’n geloof, die ervarings van ‘n enkelkind, armoede of iets dergeliks. Die lys is onmeetbaar lank.
Verwerping en veroordeling is ’n daaglikse realiteit.
Daar is ’n spektrum, en as jy op hierdie spektrum is, het jy ’n probleem, al is jy nie bewus hiervan nie. Die lewe het nie handskoene aan nie en staan slaggereed om alles en almal by te kom wat nie by die norm inpas nie.
Jy hoef nie gay te wees om te verstaan waardeur die lewe se Jakkies gaan nie.
*
In die media word ons blootgestel aan alles wat moontlik kan wees, maar hoe maak ek my kind groot om met onvoorwaardelike respek teenoor alles en almal te handel? Gaan ek my kind weggooi of wegjaag as hy of sy gay is? Gaan ek deel wees van die probleem, of die oplossing? Wil ek reg wees, of gelukkig wees? Spreek ek dood, of spreek ek lewe? Waarvan spreek my lewe? Liefde of haat?
Dit is gesprekke wat ons met onsself moet hê, en belangriker nog, met mekaar.
Met skrywers soos Ben Viljoen word daar geleenthede en platforms geskep om hierdie gesprekke te voer.
Raak deel van hierdie game. Hou asseblief op om op die kantlyn te staan en skree; niemand hoor wat jy sê nie, en die afleidings wat gemaak word, kan letterlik aanleiding gee tot die dood van ’n persoon. Luister hoe jy praat en wat jy sê. Woorde is soos tandepasta – as dit eers uit is, kry jy dit vir geen geld in die wêreld weer terug in die buisie nie.
Dit is jammer dat die mense wat weet waarvan hulle praat, nie veel sê nie. Ben bly genadiglik nie stil nie. In Die vloek van Levitikus plaas hy jou in Jakkie se skoene, sodat jy die pad van verstaan kan loop sonder om ’n tree te gee.


Kommentaar
Bybelvertalings het stellings oor seks geïnterpreteer soos ingepas het in die MENSE EN SAMELEWING VAN DIE TYD. Wat veroordeel was is getroude mans wat seuns gekoop het en hulle ontman het. Sy vrou was net 'n "broeikas". Lees Mattheus 19 in 'n baie nuwe vertaling en Engelse Bybels. Homoseksuele KIES nie hul oriëntasie nie. Hulle word so gebore. In Bybelse tye het dit nie gegaan oor twee mense van dieselfde geslag wat 'n liedesverhouding het nie, maar wel oor die misbruike van heteroseksuele getroude mans wat seuns en mekaar misbruik het.
Die gesprek wat mense nie wil hê nie, is die een oor die Bybel. Die onderdrukking van gay mense sal nooit verander so lank as wat die Bybel as god se woord en wetboek gesmous word nie. Die onkritiese manier waarop so baie mense die Bybel se gesag aanvaar, sonder om te vra waar kom die Bybel vandaan, wie het dit geskryf, wie het besluit wat word opgeneem in die Bybel en wat nie, en so voorts en so meer, dit is vrae wat vermy word. Dan is daar derduisende sektes, of te wel denominasies, wat elkeen die Bybel anders interpreteer. Wat ek altyd wonder oor Christene is: pla dit hulle nooit dat daar soveel uiters uiteenlopende interpretasies bestaan nie? Hoe seker is jy dat jou interpretasie so kosher is? Laat staan nog die verdagte samestelling en ontstaansgeskiedenis van die Bybel, wie besluit wat is wet en wat nie? En hoe seker is jy van jou saak? Is die duisende der duisende uiteenlopende interpretasies van dieselfde boek dan vir jou geen rooi lig nie? Vir my was dit 'n baie groot rooi lig.
Mens moet jouself afvra of jy deel wil wees van 'n organisasie wat anti-wetenskap is. Ek het op daai manier verdwyn uit die kerk, na jare waarin ek alles moes hoor van dat my denominasie nie ware Christene is nie tot by die aanklag dat ons die verkeerde soort Bybels lees. Om nie te praat van al die ander kerkdramas nie, van kelkies teen bekers tot of die duiwel 'n stert het en of vroue in die ampte mag dien of nie. Dan lei dit mens tot die vraag, is die Bybel werklik 'n lewende, liefdevolle god se boek as dit dan glad nie daarin slaag om eenstemmigheid by mense te bewerkstellig nie? En as daai vraag beantwoord is, wat vertel dit ons van god? Die god wat so selfversekerd afgekondig word as die enigste waarheid?
Barend, baie dankie vir jou kommentaar! Jy is die eerste persoon wat my gevoelens en gedagtes so duidelik en presies verwoord!
Welgedaan Barend, ek kan dit nie better stel nie. Ons het 2 seuns, in alle opsigte eners grootgemaak. Die een is gay, die ander nie. Ons vorm 'n hegte gesin waar almal mekaar met liefde en respek aanvaar.
Eenvoudig gestel: die wortel van ALLE kwaad, is religie (religion).
Hetta Pieterse bevraagteken die korrektheid van die vertaling van sommige skrifgedeeltes in die Bybel, maar dan moet sy die betrokke Hebreeuse en Griekse woorde, frases en verse aanhaal en ons vertel - aan die hand van betroubare gesag - wat die korrekte vertaling van elke woord, frase of vers is.
Ek dink ook Barend van der Merwe verwoord die Bybel se onsamehangende prekerasies uitstekend.
Dit is ook ongelukkig so dat ongelowiges eweneens soms misdadige dade kan aanvang, en gelukkig is dit so dat gelowiges soms goeie dade verrig en verandering probeer bewerk, of net: nie stilbly nie.