Die Viserektor van die UV se reaksie op Breytenbach se US Konvokasietoespraak

  • 16

Jonathan Jansen (foto: Facebook)

Hiermee kommentaar op die toespraak van Breyten Breytenbach wat op Januarie 2016 op LitNet se webtuiste gepubliseer is.

Ek het die toespraak wat Breyten Breytenbach by die Universiteit Stellenbosch gelewer het en wat op 26 Januarie 2016 op u webtuiste gepubliseer is, gelees. Hoewel ek daaraan gewoond is om baie aanvalle op Jonathan Jansen in die Afrikaanse media te hoor en te lees, is dit meestal afkomstig van mense wat ek nie moreel of intellektueel respekteer nie en ek het dit voorheen dus nie die moeite werd geag om by enige van die gepubliseerde venyn betrokke te raak nie.

Mnr Breytenbach se kommentaar oor Jonathan Jansen se Knowledge in the blood vereis egter 'n antwoord, aangesien dit afkomstig is van 'n belangrike skrywer en denker wie se siening oor Suid-Afrika nie altyd so eng was soos dit nou blyk nie. Dit is deels uit respek vir mnr Breytenbach dat ek besluit het om hierdie brief te skryf.

Om te sê die argument van die boek is dat Afrikaners rassisme in hulle bloed het, is so verregaande dat ek vermoed Breytenbach het óf nie die boek gelees nie óf ons het te doen met 'n ernstige geval van beneweling. In die lig van die feit dat ek ernstig twyfel of die meerderheid van u lesers al ooit die boek onder hande gehad het, blyk dit noodsaaklik te wees dat mnr Breytenbach se opsomming reggestel word.

Die boek is 'n navorsingsgebaseerde studie om te probeer verstaan waarom 'n geslag van jong wit Suid-Afrikaners wat nog nooit apartheid of die mees traumatiese aspekte van die Afrikanergeskiedenis beleef het nie, so gegrond is in 'n diskoers van identiteit, vrees, wanhoop en bitterheid. In sy soeke ontleed Jansen die oorsprong van dit wat hy indirekte kennis noem deur die verskillende instellings te ontleed wat op een of ander wyse bydra tot 'n verhaal oor die geskiedenis van Suid-Afrika en die rol van Afrikaners daarin, wat uit pas is met sowel ons tye as die werk van hedendaagse geskiedkundiges. 

Knowledge in the blood is nie 'n verwoording wat 'n oordeel oor Afrikaners fel nie: “Hulle het rassisme in hulle bloed”, asof dit (a) onveranderlik en (b) deel van die wese van 'n Afrikaner is. Inteendeel. Knowledge in the blood is 'n konseptuele instrument wat dit moontlik maak om die “gewoonte- en roetine”-kennis wat 'n tweede geslag oor hulleself het – soos afgelei en opgeneem deur verskillende stadiums en ervarings van hulle lewens – te verduidelik. Vir Jansen is Knowledge in the blood 'n stelling (sorgvuldig gedokumenteer oor 200 bladsye) en nie 'n oordeel nie; dit is, bowenal, 'n vraag (bl 171).

Jansen is 'n pedagoog in die oorspronklike sin van die woord.  Die feit dat “kennis in die bloed” 'n vraag is, beteken nie vir hom dat die Afrikanerjeug verwerp, of erger nog, afgeskryf moet word nie; inteendeel, hy gebruik dit as 'n beginpunt vir 'n pedagogie van verdeeldheid wat gegrond is op empatie en geloof in die goedheid van die menslike natuur. Waar Jansen vir Knowledge in the blood gekritiseer is, was dit juis omdat hierdie gebaar van empatie vir sommige geblyk het te gereed te wees om te vergewe en te omhels.

Die boek het lof ontvang as 'n “daad van empatie” en in 2014 is dit met die Britse Akademie se Nayef Al Rodhan-prys vir Transkulturele Begrip bekroon “ter erkenning van 'n publikasie wat die drie dimensies wat in die beoordeling van die prys in aanmerking geneem word – akademiese vakkundigheid, affektiewe potensiaal op 'n breë leserspubliek en 'n verbintenis met die kwessies – kombineer. Dit dui op die skrywer se persoonlike betrokkenheid by transkulturele begrip in die Suid-Afrikaanse konteks.”

Daar is iets diep hartseer daarin om nie te weet of hierdie ongelooflike strydigheid tussen 'n boek en die interpretasie daarvan 'n geval is van verkeerde uitleg of een van opsetlike wanvertolking nie.

Lis Lange

Viserektor: Akademies, Universiteit van die Vrystaat

 

The art of saam-mekaar-andersmaak: Breyten Breytenbach in response to Lis Lange's letter

Breyten Breytenbach

"Now why would South Africa decide to go the opposite, reactionary, outdated, self-negating way of trying to impose the hegemony of the imperial tongue? As if that would somehow hide the real problems that we avoid facing at our peril!"

 

  • 16

Kommentaar

  • Lis , as ek jou reg verstaan is "Knowledge in the blood" "bowenal ’n vraag" maar in dieselfde asem "Vir Jansen ... ’n stelling". As ek dit reg verstaan, is die stelling dan ’n antwoord op die vraag. Hoe anders? En as ek dit reg verstaan, moet ek met Breyten saamstem, dat ’n redelike afleiding is om te maak dat prof Jansen na sy "navorsingsgebasseerde studie" tot die slotsom gekom het dat "Afrikaners rassisme in hul bloed het".
    Is rassisme in die Afrikaner se bloed of is dit nie? Wat sê prof Jansen nou eintlik? Want as dit is, is Breyten reg, maar as dit nie is nie, hoekom impliseer prof Jansen dit met die "stelling" "Knowledge in the blood" as titel sonder ’n vraagteken en hoekom sê hy veralgemenend dat die tweede geslag Afrikaanssprekende ’n "gewoonte- en roetine"-kennis oor hulself het, amper soos ’n natuurlike instink wat tog in ’n lewende wese "se bloed" is? As hy dit positief en simpatiek bedoel het, hoekom heet sy boek nie "Knowledge NOT in the blood" nie?
    Verder wonder ek of dit dan net die tweede geslag Afrikaners is wat met hierdie groot probleem sit wat hul dan die oorsaak van al ons probleme maak, terwyl die meerderheid ander tweede geslag Suid-Afrikaners by implikasie dan daaronder ly - of het die navorsing slegs op die Afrikaner gefokus? Hoe wetenskaplik is dit dan?
    Nee wat Lis, al het prof Jansen dit nie bedoel nie, stem ek, selfs op jou vertolking van die boek, saam met Breyten. Prof Jansen het ons met die bevindinge van sy diepgaande wetenskaplike studie dan ten minste laat voel soos ’n "onrein ras". Ek wonder as prof Jansen dieselfde stelling oor die tweede geslag Zulu - of Engelssprekendes sou gemaak het, of dit in SA en deur die Britse Akademie besing sou word as ’n "daad van empatie"?
    Lis , dit het hoogtyd geword dat al die kleure in die reënboog op die ander kleure se positiewe fokus. Deur die een kleur heeltyd swart te smeer gaan die hele reënboog dalk soos mis voor die son laat verdwyn, want ’n reënboog is nie ’n reënboog sonder AL sy kleure nie - ja selfs die waarvan almal nie eintlik altyd hou nie. Ons kan een wees sonder om almal dieselfde te wees - die skoonheid van ’n reënboog lê juis daarin opgesluit.

  • Avatar
    Rusty van Druten

    Well, madame, Breyten perhaps just gave the piece cursory attention based entirely on its controversial title aimed at stirring up perfectly understandable distaste in the minds of some intellectuals and other 'lesser beings'. Why plough through something that creates such distaste at the outset, just rather avoid and allow it a natural death lest it girds the loins of the growing anti-Afrikaner lobby. That she should stoop to break her intellectual silence for Breyten and discard the rest provides enough impetus in at least my book to ask the question "Who is she anyway, never heard of her".

  • Avatar
    ms. drs. yvon vandersteen

    The collective conscious of a people, community or nation. It's in your blood or genes. Being aware and sensitive about it makes the concept easier to aproach and move forward as a nation.

    • Hierdie bewering van dr Vandersteen is net so absurd as die bewering dat krewe al daaraan gewoond is om lewend in kookwater gedompel te word.

  • As 'n wit persoon 'n navorsingsgebaseerde studie gedoen het om te probeer verstaan waarom 'n geslag van jong swart Suid-Afrikaners wat nog nooit apartheid of die mees traumatiese aspekte van die Afrika-geskiedenis beleef het nie, so gegrond is in 'n diskoers van identiteit, vrees, wanhoop en bitterheid, sou hy as rassis gebrandmerk gewees het, sou enige kritiek geregverdig wees het en sou die ANC hom waarskynlik aangekla het.

  • Avatar
    Philippus Janse van Rensburg

    My persoonlike waarneming laat my dink dat die ontnugtering wat jongmense het dat hulle nou die ontvangers van die "wraak" van regstellende aksie en die klaende mislukking van soveel pogings om "beter te doen" deur die nuwe politieke bestel, terwyl hulle en hulle toerusting op die kantlyn gelaat word, hulle laat terugval op die skanse van die verlede.

    • Dit lyk of ons een vorm van geïnstitusionaliseerde rassisme vervang het met ‘n ander. As voorbeeld: By die mediese fakulteit van ‘n universiteit was ‘n “wit” leerling met ‘n matriekgemiddeld van 90% afgekeur omdat die kwota reeds vol was. ‘n “Swart” leering met ‘n gemiddeld van 50% was egter aanvaar. Hierdie, uit die oogpunt van die wit skolier, is ongebreidelde rassisme.

  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Geagte dr. Lange, ek weet dat u nie met 'n blou lig op u kar se dak in Bloemfontein rondry wanneer prof Jansen ook op die pad moet wees nie. Dus, baie dankie vir die inligting oor die boek "Knowledge in the Blood." Maar ek sien u vind glad nie fout met die provokatiewe titel van sy boek nie, en dit is net hier waar 'n probleem lê. Vir my lyk die betekenis van die frase "Kennis in die bloed" of dit uit 'n gedateerde konteks gelig is, nl die van Hitler-hulle se fokus op die rol van Ariese bloed in die gerigte verloop van die geskiedenis, en word ek aan Jung se idee van 'n rasse-geheue herinner. Dit is vir my jammer dat u nie noem of prof Jansen bv Evans se "The Coming of the Third Reich," of Hannah Arendt se "The Origins of Totalitarianism" en 'n ander relevante werk van haar, "The Life of the Mind" benut het in sy navorsing oor die denke van jong wit Afrikaanssprekendes nie. Ek sal graag van prof Jansen self wil hoor hoe hy sy keuse vir die titel kan motiveer. Die feit dat dit sonder 'n vraagteken staan, terwyl u aandui dat die frase as 'n vraag gelees moet word, verander tog niks aan die semantiese strekking daarvan nie. Voorspoed vir u.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Kontrasteer Jansen se verduideliking met wat ek destyds op LitNet geskryf het: "Jansenisme tref die Universiteit Vrystaat" (21.10.2009) en "Jansenistiese bloedkennis" (27.10.2009).

  • Die viserektor van die UV, Dr Lis Lange, verwys na Breyten Breytenbach as 'belangrike skrywer en denker wie se siening oor Suid-Afrika nie altyd so eng was soos dit nou blyk nie' - besef sy hoegenaamd oor wie dit gaan? Watter
    enorme bydrae hierdie digter, skilder, aktiwis tot 'n vryer Suid-Afrika vir almal sowel in hierdie land, die res van die kontinent en wêreldwyd gemaak het en steeds maak? Dit klink asof sy geen benul het nie.

  • Avatar
    Herkie Stadler

    Mense, julle moet julle kommentaar in Engels lewer. Die vrou is 'n uitlander, 'n Argentyn soos ek verstaan, wat nie eers 'n woord Afrikaans verstaan nie. Eienaardig dat diegene wat nie enigsins Afrikaans magtig is of hier gebore is nie, altyd die meeste te sê het oor die haatlike Afrikaner en sy afstootlike krapperige (in 'n letterlike en figuurlike konteks) ou kombuistaaltjie. Dit is waarom Breyten haar in Engels geantwoord het. Haar skrywe is verseker in Afrikaans vertaal deur een van haar onderlinge (ook seker een met rassisme in die bloed), weliswaar maar papperige Afrikaans.
    Ek sal graag die oorspronklike Engelse teks van Dr Lange se skrywe onder oë wil kry. Heel moontlik is dit nog meer kras en uitlokkend as die Afrikaanse vertaling.

  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Dit lyk my of die boonste stilte by die Vrystaatse Universiteit kraakvars bly, byna soos die gesamentlike nuwe stomheid van 'n paar Filosofie Departemente.

  • Avatar
    PJ van Staden

    Dis altyd beter vir 'n skoenmaker om skoene te maak. Die literatuur behoort aan intellektuele bevoegdheid, nie skoenmakers nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top