Die Viёtnamoorlog en George Floyd

  • 4

Danie van Wyk op toer in Viëtnam (Foto’s: verskaf deur Danie van Wyk)

"Black lives matter" en "I can’t breathe" is slagspreuke wat die afgelope week nie slegs in Amerika weergalm het nie, maar ook in die meeste groot wêreldstede. Die fokuspunt was die brutale dood van George Floyd deur die toedoen van ’n polisieman, Derek Cauvin, in Minneapolis, Minnesota. Hierdie daad het rassespanning in Amerika tot die uiterste gedryf en bewys hoe Afro-Amerikaanse burgers se grondwetlike regte vertrap en geïgnoreer word deur Amerikaanse polisie. Hierdie tipe voorvalle het opnuut die pleidooi van swart mense op die voorgrond geplaas. Dit kan moontlik gesê word dat dit die laaste strooi was wat die spreekwoordelike kameel se rug gebreek het, of dat dit die vonk in die kruitvat was wat rasseverhoudinge in die VSA totaal vertroebel en tot die uiterste gedryf het.

Dit is asof daar ’n regstelsel en geregtigheid is wat verskillend toegepas word op swart mense, het Andrew Cuomo, goewerneur van New York, vandeesweek gesê.

Ek het verlede jaar Desember 2019 besoek afgelê in Viёtnam as deel as ’n vakansie, maar ook omdat ek ’n besondere belangstelling in die Viёtnamese oorlog het. Dit was nie slegs ’n waardevolle ervaring nie, maar het my ook die geleentheid gebied om eerstehands kennis te maak met wat daar plaasgevind het tussen 1965 en 1975, met die Amerikaanse ondersteuning aan die destydse Republiek van Suid-Viёtnam om te verhoed dat die land deur die kommuniste oorgeneem sou word. By my terugkeer het ek meer oor die oorlog opgelees en was dit opvallend hoeveel erge rassediskriminasie gedurende daardie tyd teenoor swart soldate gepleeg was.

My besoek het in die noorde van die land begin in die hoofstad, Hanoi, waar ek verskeie geskiedkundige plekke besoek het, onder andere die mausoleum waar Ho Chi Minh se gebalsemde liggaam in staatsie lê, asook die Maison-gevangenis waar Amerikaanse krygsgevangenes onder haglike omstandighede in aanhouding was. Die bekendstes was die oudminister van buitelandse sake, John Perry, en senator John McCaine. Hulle was nie as oorlogsgevangenes gesien en behandel nie, maar as oorlogsmisdadigers omdat, daar volgens die Viёtnamese nie ’n oorlogsverklaring tussen die VSA en Viëtnam bestaan het nie.

In Da Nang en kleiner stede soos Hue en Hoi An is daar ook oral tekens van die oorlog en verwoeste Amerikaanse wapentuig. By Da Nang was ’n groot lugmagbasis wat tans as ’n lughawe in gebruik is. In Saigon, wat vandag bekend staan as Ho Chi Minh City, die hoofsetel van die destydse Suid-Viёtnamese Republiek, het ek besoek afgelê by die museum waar alle soorte wapentuig uitgestal word. Gedurende hierdie oorlog het meer as 58 000 Amerikaanse soldate en ondersteuningspersoneel gesterf, van wie ongeveer 25% swart soldate was. In Washington is ’n gedenkmuur opgerig wat hulde aan hierdie gevalle soldate bring: die Vietnam Veterans Memorial waarop die name van alle gesneuweldes aangebring is.

Foto’s verskaf deur Danie van Wyk

Dit was gedurende hierdie tyd dat afkeer van die oorlog in Amerika begin opbou het. Muhammad Ali het konskripsie teengestaan en in die openbaar sy afkeer van die oorlog uitgespreek. "I ain’t got no quarrel with them Viet Cong," het hy gesê. Hierdie uitspraak het hom sy titel as swaargewigbokskampioen van die wêreld gekos. Wat aanvanklik geheim gehou was, het meer duidelik begin word. Die getal gesneuwelde soldate wat in lyksakke terug gestuur is, het by die dag vermeerder en die Amerikaanse regering kon dit nie meer geheim hou nie. Die soldate wat teruggekeer vanaf die slagvelde het ook vertel wat die ware toedrag van sake daar was, en baie van hulle het hul teenkanting teen die oorlog openlik bekend begin maak. Dit was veral swart soldate wat hul ervaring gedeel het van die rassediskriminasie teen hulle in weermagbasisse en op die slagveld.

Dit het veral toegeneem na die sluipmoord op dr Martin Luther King jr. Daar was vertel hoe wit soldate hulle verlustig het in die dood van King en openlik die vlag van die destydse Konfederasie, wat gekant was teen die vrystelling van slawe en die toekenning van gelyke regte aan swart mense, tentoongestel het op helikopters en op weermagvoertuie. Offisiere in beheer het dit nie aangespreek nie en het hulle oë daarvoor gesluit. Afgesien van optimistiese verslae van rasseharmonie op die slagveld, het diskriminasie teenoor swart soldate al hoe meer toegeneem, soms met die ondersteuning van senior wit offisiere.

In 1967 het ’n NBC-joernalis, Frank McGee, spesifiek berig oor die ondervinding van swart troepe. Die weermag was veronderstel om ten volle geïntegreerd te wees, maar in die praktyk was dit nie die geval nie. Soldate van veral die suidelike state het bevele van hul swart offisiere in baie gevalle geïgnoreer omdat hulle nie swart bevel aanvaar het nie. Rassekonflik het begin toeneem in die weermag en swart soldate het dit aan hul bas gevoel omdat hulle gewoonlik die soldate was wat eerste in die slagveld ingestuur is. Baie van hulle het begin muit en is swaar strawwe opgelê.

Tuis het die weerstand teen die oorlog begin opbou, veral tydens die termyn van Lyndon Johnson en daarna onder Richard Nixon. Deur Nixon se beleid het die oorlog geёskaleer en in felheid toegeneem, en die protesaksies tuis het ook geïntensiveer. Uiteindelik het die rassespanning oorgespoel tot op die slagvelde van Viёtnam. Swart soldate het hulself in groepe en ordes georganiseer om hulself te beskerm en mekaar te ondersteun te midde van die naakte rassisme van die Amerikaanse weermag. Hulle het die ondersteuning van die Black Panthers-beweging en die Civil Rights Movement tuis gehad. Die Amerikaanse regering het met volle mag teen hierdie bewegings opgetree, wat tot die dood van vele gelei het.

Foto’s verskaf deur Danie van Wyk

Die sluipmoord op King was die katalisator van gewelddadige opstande in meer as 60 Amerikaanse stede. Die protesaksies was tweёrlei van aard: vir die swart Amerikaners het dit grootliks gegaan oor rassediskriminasie en die ontkenning van hul burgerregte, en vir hul wit eweknieё was dit meer as net ’n ekonomiese probleem wat hulle wou aanspreek. Hul jong seuns het óf vermink óf dood van die slagvelde teruggekeer, en dit het hulle tot verdere protes gedwing, maar nie op die vlak van swart Amerikaners nie.

George Floyd se dood het die swak tektoniese rasseplate in die VSA blootgelê. Sy dood is die kantelpunt in Amerikaanse rasseverhoudings waar dit byna al geïnstitusionaliseerd geword het en waar daar ’n duidelike patroon te bespeur is in die ongelykhede en armoede in die geledere van swart mense in die Amerikaanse samelewing. Voormalige president Barak Obama het gesê dat hy nog nooit so ’n versetaksie onder gemiddelde Amerikaners gesien het nie. Hierdie keer neem nie slegs swart mense daaraan deel nie, maar word die protesaksies deur groot getalle wit Amerikaners ondersteun.

Die vraag is of die huidige vlaag van onrus en protesaksies ook, soos die politieke en sosiale omwenteling van 1968, fokus gaan plaas op die situasie waarin swart Amerikaners en ander minderhede hulle bevind. Die "land of the brave and land of the free" is steeds na hóéveel dekades nie die land van die Amerikaanse droom nie. Wat vir sommige ’n droom is, is vir ander ’n nagmerrie.

Die wêreld se oё is op Amerika. Sal hierdie protesaksies daarin kan slaag om die VSA van sistemiese rassisme te stroop, om die spoke van die verlede trompop aan te pak en die nalatenskap van rassepolarisasie soos veroorsaak tydens die Viёtnamese oorlog en die destydse bewind van presidente Lyndon Johnson en Richard Nixon aan te spreek? Daar lê nog ’n lang pad vir die Amerikaners voor.

Dr Martin Luther King jr se woorde is so gepas vandag as hy sê: "Our lives begin to end the day we become silent about things that matter."

  • 4

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Dankie vir jou interessante skrywe oor swart Amerkaanse soldate, ook tydens die Amerikaanse oorlog in Vietnam. Ook verneem ek dat jy n besoek gemaak het by die oorlogsgedenk museum in Ho Chi Minh City. Daar word mens bewus van die totale boosheid en afgryslikheid van die Amerkaanse geweld en sy militëre moordmasjien teen n klein volkie wat veg vir julle self selfbestaan. Nooit sal ek vergeet die foto van n 8 jarige kind wat op sy 3 jarige broer lê en hom probeer beskerm teen n aankomende Amerikaanse soldaat wat hulle sou doodskiet. Voorbeelde van sulke boosheid (dink ook aan die slagting van die inwoners, nl. vrouens, kinders, en ou mense in Mai Lai) laat my dink dat ons Westerse ideale en waardes tydens oorlog leeg klink, so ook ons Christelike godsdiens.

  • Johann Basson

    Hoeveel miljoene mense is nie al deur hul eie soortiges aan slawehandelaars as slawe verkoop nie? Hoeveel miljoene mense is nie al deur kommuniste vermoor nie? Hoeveel miljoene mense is nie al in die naam van godsdiens of ’n ideologie vermoor nie? Hoeveel mense het nie al “Died for King and Empire” met sy imperialisme en kolonialisme nie? Hoeveel duisende swart mense is nie al in Suid-Afrika deur swart mense vermoor nie? Hoe ouer ek word, hoe meer raak ek ontnugter in die mensdom en medemens. Elke mens se lewe is kosbaar. Geen mens kan ’n ander lewende mens uit atome maak nie. So, wie gee die mens die reg om ander te dood op welke wyse ookal, selfs deur “necklacing” met brandende motorbande?!
    Maar ons lewe in ’n wêreld deurtrek met die DNS van ongeregtigheid, gierigheid en magshebsug. En die oningeligte denkslawe word deur die groot leuens meegesleur tot die moorddadige en onmenslike handelinge. En vele mense is apaties en neem geen sigbare standpunt in teen onregte nie. Tragies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top