Die vertreksaal

  • 7

LitNet se Stemme | Voices | Amazwi is ’n reeks van 15 kort, kragtige monoloë deur gevestigde en opkomende dramaturge geskryf, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV.

In Dana Snyman se monoloog Die vertreksaal vertolk Chris van Niekerk die rol van ’n man wat die hel van Covid-19 oorleef het, en gereedmaak om op ’n hengeluitstappie te gaan. Wessel Pretorius is die regisseur.

Hier gesels Chris van Niekerk en Wessel Pretorius oor hoe hulle Dana Snyman se monoloogteks aangepak het.

Die vertreksaal

Die oubaas links van my is eerste weg. Oom Danie. Wat sy van was, weet ek nie.

Hy het geglo ons kan nog gaan visvang, ek en hy. Of dis wat hy al hygend vir die verpleegster gesê het nadat hy sy masker afgeruk het: “Ek en hierdie man gaan môre dam toe!” Toe kyk hy na my, en mompel: “Nè, my ou maat? Hulle kan ons nie teen ons wil hier aanhou nie.”

Hulle moes hom inspuit en sy hande vasbind dat hy nie weer sy masker afpluk nie. Op sy bedkassie was ’n Bybel en ’n Stywe lyne … die hengeltydskrif. Met ’n ou wat ’n reusegaljoen vashou op die voorblad. Verder weet ek byna niks van oom Danie af nie.

Die volgende dag is hy weg.

My suurstof was toe nog hier in die lae 80’s rond.

Jy lê daar. In die bed langs joune is oom Danie, en aan die ander kant van jou lê die vrou wat knaend wil hê die verpleegsters moet die lakens van haar bene aftrek sodat haar hondjie by haar op die bed kan spring en teen haar voete kan kom lê.

Oral beddens. Rye beddens. En op elke bed lê ’n mens met ’n masker op – ’n masker gekoppel aan ’n suurstofmasjien. En jy is een van daardie mense. Julle kan nie met mekaar deur die maskers praat nie. Ander is op ventilators. Dis stil. Jy hoor net hartmonitors gesels: Piep-piep-piep, piep-piep-piep … Piep-piep-piep, piep-piep-piep.

En dan vries een: Piiieeeeeeeppp. Soos in ’n soppy Hollywood-fliek.

Eers kom ’n verpleegster verby, dan ’n dokter. Hulle trek die gordyne rondom die bed toe. “We lost him,” hoor jy die verpleegster sê.

“Rus in vrede, oom Danie,” sê jy met jou swaar lippe in jou masker. Maar niemand hoor jou nie.

’n Rukkie later stoot hulle hom by die deur uit, met die boonste laken oor sy hele lyf getrek.

Ek het as kind laas visgevang.

Ek kan nie onthou wie ná oom Danie weg is nie. Dit kon die jongman gewees het met die tatoe van ’n samuraiswaard op sy voorarm. My vergeet het gou begin. In oom Danie se plek het ’n Engelsman gekom, dit weet ek.

Daar was altyd een gereed om jou plek te vat.

En toe begin my suurstof te daal. 80, 79, 78 … Hulle kom druk naalde in jou om iets in jou te kom soek of om iets by jou in te tap. My arms is voos.

Niemand mag besoekers ontvang nie. Niemand mag ’n selfoon gebruik nie.

Jy wil die son op jou vel voel. Jy wil nie in jouself wegsak nie; jy klou vas aan wat jy rondom jou sien.

Die ligte brand pal. Elke dag is dit heeldag dag, en dan word al die dae een lang nag, terwyl jy tussen slaap en wakker dobber … en ’n vuur in jou keel en borskas smeul. En die hoofpyn. En die dors.

Jy hoor vaagweg hoe die vrou oorkant jou wéér vir ’n verpleegster probeer verduidelik: Trek tog net die lakens van my bene af dat my hondjie by my voete kan kom lê.

En rondom jou fluister die masjiene steeds: Piep-piep-piep, piep-piep-piep …

En dan: Piiiieeeepppppppp … En dan, ’n rukkie later, kom hulle met die jongman met die tatoe van ’n samuriaswaard op sy voorarm verby … Piiiieeeeeeppppp … En dan stoot hulle die ouma uit wat geglo het een van die skoonmakers het haar pantoffels gesteel.

Ek het probeer tel hoeveel vertrek. Daar was baie.

Die meeste van hulle se name ken ek nie.

Die Engelsman links van my wat in oom Danie se plek gekom het, is weg voor ek sy naam kon uitvind.

Jy laat kom ’n verpleegster. Jy probeer vir haar sê jy is dors, maar sy verstaan nie. Jy skreeu vir haar: “Ek’s dors, man!” Maar jou lippe maak net so: “Wi, wi, wi …”

Dit is asof almal kan aanvoel wanneer een gaan vertrek: Die verpleërs beweeg vinniger en meer vasberade – dís wanneer party hul maskers afruk, en dan moet hulle ingespuit en hul hande vasgebind word. Want niemand wil vertrek nie.

Soms sien jy mense by die venster: ’n vrou, ’n seun, ’n meisie. ’n Man. ’n Gryskop tante … Hulle kyk na een van die beddens en waai en waai, maar niemand waai terug nie.

’n Verpleegster kom vat aan my. Dit was ná byna ’n maand.

“Your vitals are getting beter,” sê sy. “You’re going to be fine.”

Ek kan darem weer op my eie stap. En ek kan nie genoeg van die son kry nie. En water.

En ek probeer onthou.

Om te onthou – om te probeer onthou – is al manier wat vir my oorgebly het om afskeid te neem.

 

Stemme | Voices | Amazwi is supported by the National Arts Council.

Stemme | Voices | Amazwi is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar:

Stemme | Voices | Amazwi

Kyk hier na LitNet en die Suidoosterfees se eerste Stemme-reeks wat in 2021 aangebied is:

Stemme

  • 7

Kommentaar

  • Ongelooflike patos! Ons het die beste akteurs en skrywers ... My hart is stukkend ... Hoe maklik vergeet ons nie die hel wat was ...

  • Dana kruip diep in 'n mens se hart. As mens en as skrywer. Baie dankie, Dana, jy het die vermoë om mens te laar besef hoe dankbaar jy moet wees vir al die genade wat jy ontvang.

  • Hoe aangrypend is die monoloog nie. Hoe gou het ons vergeet van daardie verskriklike tyd toe die wrede Covid sy sekel geswaai het. Toe ons geliefdes gesterf het. 'n Jaar gelede het die piiiieeeepp my man se einde ook aangekondig. Sommer so vinnig, net toe ons afgetree het en so baie planne gehad het. Dankie, Chris, vir die hartseer onthou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top